Nuuskommentaar: Wat laat ʼn selfmoordterroris ‘tik’?

Die twee mans links op die foto is vermoedelik dood in die bomaanval op Brussel se lughawe op 22 Maart 2016.  (Foto: Belgian Federal Police via AP)

Die twee mans links op die foto is vermoedelik dood in die bomaanval op Brussel se lughawe op 22 Maart 2016. (Foto: Belgian Federal Police via AP)

Kort na die selfmoordbomaanslae in Brussel, kom die nuus dat minstens 70 mense die lewe gelaat het toe ’n selfmoordterroris hom of haar tussen ’n groot groep Pakistanse Paasfeesgangers opgeblaas het. Die Taliban het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Dit is te wagte dat vrae gevra sal word oor wat iemand tot so ’n daad dryf, en ’n interessante artikel oor die navorsing van Rico Sneller, ’n filosoof van die Universiteit van Leiden verskyn vandag in Trouw. Die 72 beloofde maagde wat op die “suksesvolle” selfmoordbomaanvaller sou wag, word glad nie in die artikel gemeld nie.

Voor daar in meer detail na Sneller se navorsing gekyk word, is dit nodig om ’n breër historiese verband te trek. Tussen 1981 en September 2016 was daar meer as 4 800 selfmoordaanvalle in 40 lande waartydens byna 50 000 mense die lewe gelaat het. Tussen 1961 en 2006 het dit net 4% van alle terreuraanvalle uitgemaak, maar 32% van die lewensverlies tot gevolg gehad.

Altesaam 90% van alle aanvalle het gewoonlik in Afganistan, Pakistan, Irak, Israel, die Palestynse gebiede en Sri Lanka voorgekom, maar sedert die middel van 2015 vind driekwart van alle aanvalle in Pakistan, Irak en Afganistan plaas. Die weste het ’n groot hap van die aanvalle buite die “tradisionele lande” begin trek.

Hoewel selfmoordterrorisme vandag byna uitsluitlik met Islamitiese fundamentalisme geassosieer word, was daar bekende nie-Islamitiese groepe wat hieraan meegedoen het. Trouens, dit word as feit gestel dat die Tamil-terroriste van Sri Lanka (meestal Hindoes) die “kuns vervolmaak” het en so ander geïnspireer het om dieselfde tegniek in te span.

Veel is al geskryf oor die verband tussen selfmoordterreuraanvalle en die radikale Islam. Hoewel die spoor nou byna soos klokslag na groepe herlei word wat onder die ideologie van die neo-Salafiste-sekte van die Soenie-Islam staan, was daar in die geskiedenis tye waar ook Sjiïtiese Moslems hulle op georganiseerde wyse tot selfmoordaanvalle gewend het.

Dit kan egter nie betwyfel word dat die huidige probleem hoofsaaklik tot hierdie neo-Salafistiese groepe soos die Taliban, Al Kaïda, die IS, Al Shabaab, Boko Haram en ander beperk is nie.

Hoewel Sneller die rol van radikale Imams erken, wat die Koran in ’n ander konteks uitlê, kyk hy na ander faktore. Hy gaan steek onder meer by Freud kers op, en onderskei tussen die twee drifte van mense, die lewensdrif en die doodsdrif. In laasgenoemde geval het ’n drang om jouself uit te wis; een van selfvernietiging, die oorhand.

Gewoonlik word die lewensdrif by mense gestimuleer. Iemand wat homself op ’n dwelmpad van selfvernietiging bevind, word gehelp sodat die lewensdrif weer die oorhand kry.

Maar in die hande van radikale Imans en ander geestelikes word dit juis nié omgekeer nie. Die doodsdrif word gestimuleer en die Koran só uitgelê dat dit die drif tot selfvernietiging stimuleer. Hulle word gebreinspoel dat hulle geen weerstand meer ervaar nie.

Met ’n onlangse onthulling van IS-ledelyste, het dit geblyk dat voornemende jihadgangers ook die take kan lys wat hulle graag binne die organisasie wil verrig. Een hiervan is om ’n selfmoord-aanval uit te voer. Die probleem is dat iemand reeds “reggemaak” kon wees om ’n selfmoordaanval te loods – hy hoef nie nog deur die IS “reggemaak te word” daarvoor nie.

Die “voorbereiding” is dikwels in Westerse lande reeds onder die neuse van die owerhede gedoen. Webwerwe en ander moderne tegnologie word ingespan om hierdie proses te bewerkstellig.

In nog ’n artikel in Trouw word ’n onderhoud met jong Nederlandse Moslems geplaas, waaruit dit duidelik word hoe verskillende sienings binne die Islam teen mekaar te staan kom, soos dat die Koran leer dat Moslems nie ander mag dood maak nie. Baie beskou aanvalle soos die aanvalle op die Twin Towers en Charlie Hebdo as die gevolg van sameswerings om die Islam in ’n slegte lig te stel.

Volgens dr. Martijn de Koning, ’n gedragswetenskaplike van die Universiteit van Amsterdam, speel onsekerhede oor eindtydprofesieë ook ’n rol om veral jong mense in ’n onseker samelewing te radikaliseer.

In geheel beskou is dit ’n komplekse probleem, wat nie maar sommer as ’n sikliese verskynsel wat soos in die verlede sal oorwaai, afgemaak kan word nie. Nog heelwat kopkrap lê voor om die doeltreffendste maniere te vind om die probleem aan te spreek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Breytie ·

Ek wonder of die impak van oorbevolking al verreken is deur mense wat hierdie soort verskynsels bestudeer. Ons fokus op die selfmoord bomdraers, maar selfmoord as sodanig het wêreldwyd toegeneem en individue wat by ‘n plek instap en sommer doelloos mense doodskiet is nie meer verbasende nuus nie terwyl padsterftes hier by ons nie mense oortuig om versigtiger te wees met bestuur op die langpad nie.

Daar is mos onder soogdiere ‘n natuurlike neiging tot selfvernietiging as oorbevolking te erg raak. Dalk is dit iets wat in die mens se psige ingebou is wat hedendaags na vore tree terwyl die omstandighede nog nooit voorheen van die aard was om so’n sneller te laat afgaan het nie. Oorbevolking bedreig immers voortbestaan. Is fatalisme dalk ‘n eerste stap tot vermindering van die spesie?

Tommie du Preez ·

Al wat die artikel vir my se is dat selfmoordterrorisme ‘n komplekse probleem is, dit beantwoord nie die opskrif se vraag nie. Lees navorsing deur Zilmer (2006) & Pape (2003;2005) wat die probleem aanspreek.

Veritas ·

Mnr Sneller se teorieë maak dalk sin in ‘n wetenskaplike wêreld maar nie in ‘n geloofswêreld nie. Die oorgrootste meerderheid van selfmoordbomaanvalle word deur lede van die Islam geloof uitgevoer. As dít nie iets verduidelik nie, twyfel ek of enige wetenskaplike navorsing, enigsens sal.

Daleen ·

My vraag is: hoe lank vat dit vir een mens om ‘n ander een te so te domineer en sy psige so aan te tas dat hy homself gaan opblaas? Dis ‘n bitter pil om te sluk. Moord is moord of dit nou die buurman of jouself is, dit bly moord.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.