Nuuskommentaar: Wat ná Jacob Zuma?

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Flickr/GovernmentZA

Met die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak vandag en steeds nuwe Gupta-onthullings wat die media haal, verhoog die kanse dat die ANC binnekort plan sal moet maak om te red wat te beredder is … sonder pres. Jacob Zuma.

Seker die grootste vrees by baie Suid-Afrikaners is die kommer dat die ANC die land met nog ’n ramp as president kan “beloon”.

Waarskynlik die beste waarop die land kan hoop, is dat die verwydering van Zuma op so ’n wyse sal geskied dat adjunk-president Cyril Ramaphosa as waarnemende president sal optree, en genoeg tyd in hierdie posisie sal kan beklee dat hy hom as bekwame en waardige president kan vestig om sy party se keuringsmasjinerie te oorleef.

Nie dat almal hiermee sal saamstem nie.

Die ander opsies wat tot dusver genoem word, boesem nie veel vertroue in nie.

Maklik sal dit nie vir Ramaphosa gaan nie. Die ANC-Vroueliga staan volgens uitsprake nog bankvas agter Zuma, en sal waarskynlik moeilik ’n opvolger steun wat gesien word as deel van die groep wat Zuma uitgewerk het. Veel eerder sal die Vroueliga na ’n kandidaat uit eie geledere kyk, en dit is waarskynlik Nkosazana Dlamini-Zuma.

Voorts is Ramaphosa ’n Venda, een van die kleinste volke in die land. Om vanuit so ’n posisie verkies te word is nie onmoontlik nie. Nadat die argaïese Yomo Kenyatta Kenia se politieke toneel verlaat het, is Daniel arap Moi as president van die land aangewys. Groot verwagtinge is gekoester dat hy as lid van ’n klein stam goed geplaas is om nie persepsies te vestig dat een van die groot stamme deur die president se stamverwantskap bo ander bevoordeel sal word nie. Hy het egter die de factoeenpartystaat goed benut om nie net sy eie posisie jare lank sterk te verskans nie, maar sy stam se mense mildelik voorgetrek. Nadat hy die politieke toneel verlaat het, het die groot stamme weer om die septer begin baklei, en ná 2007 se verkiesing was daar ’n inter-etniese bloedbad. Kortom, dit is nie so eenvoudig om Ramaphosa se stamverband as voordeel te beskou nie, hoewel Ramaphosa sal moet uithaal en wys as hy by Zuma se Zoeloefikasie sal wil byhou.

Die hele debat oor Zuma se opvolger geskied teen die agtergrond dat Suid-Afrika in baie opsigte ’n de factoeenpartystaat is. Die probleem word verdiep deurdat die kiesers nie, soos in onder meer Frankryk en die VSA, die president regstreeks verkies nie, maar dat dit suiwer huishoudelik deur die regerende party hanteer word.

Die frustrasie hiermee het reeds daartoe gelei dat daar in baie kringe ’n versugting uitgespreek is dat Suid-Afrika, soos die VSA, ’n de facto-tweepartystaat word. Almal wat onvrede met die ANC het, kan as verenigde magsblok die ANC doeltreffend opponeer, word geredeneer.

Die opkoms van die EFF het egter getoon hoe onmoontlik so iets sal wees. Die VSA het wel ’n magdom politieke partye maar is meestal te klein om hond haaraf te maak. Omdat die stelsel van koukusgebondenheid in die VSA baie losser is as in SA, word belange en idees veel eerder deur belangegroepe en lobbies bevorder, wat bepaalde kandidate voorkeur gee.

Die stelsel skep weer ander probleme, soos dat daar deurlopend probeer word om kongreslede se stemme op ’n onbehoorlike wyse vir sake van eiebelang te koop. Dit het tot ’n magdom kodes en wetgewing aanleiding gee om dié tipe optredes, wat aan die beweerde Gutpa-invloed hier herinner, hok te slaan.

Die stelsel in die VSA lewer ook verskeie probleme op, soos dat die meerderheid kiesers ontevrede is met die kongreslede wat hulle self verkies het. By tye gaan dit so beroerd dat peilings toon die meerderheid kiesers glo mense wat lukraak uit ’n telefoongids as kongreslede aangewys sou word, sal beter werk verrig as die verkose verteenwoordigers.

’n Onlangse peiling toon 54% van die kiesers wil hê die regering moet minder geld spandeer, maar net 29% glo dat dit wel sal gebeur.

Die interessantheid is dat daar vanjaar ’n derde party nie net tot die presidentsverkiesing toetree nie, maar dat peilings toon dat een van die kandidate, Gary Johnson (goewerneur van New Mexiko), 11% van die stemme kan trek. Dit terwyl verreweg die meeste kiesers nog nie weet wie hierdie persoon is nie. Die party, die Libertarian Republic, beywer hom juis vir minder staatsbetrokkenheid by sake waar die staat se rol nie absoluut noodsaaklik is nie.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat sowel die Republikeine (Donald Trump) as die Demokrate (Hillary Clinton) se kandidate met ongewoon baie teenstemme te make het. Johnson bied nou ’n alternatiewe opsie.

Tot die ANC se parlementêre meerderheid weggewerk is, kan veral opposisiekiesers bloot hoop dat die ANC se ringkoppe dinge binne die ANC so kan bestuur dat ’n soortgelyke ramp soos Zuma se verkiesing nie weer gebeur nie.

Terselfdertyd beklemtoon dit die belangrikheid dat ander fasette van grondwetlike demokrasie behoorlik gerugsteun word, soos ’n vrye pers en sterk burgerlike instellings, soos Freedom Under Law, Outa, AfriForum en ander. Dit is kwalik denkbaar waar die land sonder hulle sou wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

m ·

Hier kom probleme maak nie saak watter nar aangestel gaan word in sy plek nie. Hierdie mense weet ma net nie hoe om hierdie land te regeer nie en dis dit.

Philip ·

Hierdie April grap is `n dag te vroeg geplaas. maar as dit so is sal ek graag so af en toe in die Nkandla swembad my humeur wil afkoel.

CAV ·

Hy sal nog steeds aan bewind bly. Die ANC in geheel het voordeel uit Gupta,s se geld ontvang, net net hy nie.
As JZ gaan, sal dit baie hoog geplaastes ook in die gedrang bring, en die ANC sal dit nie toelaat nie

John ·

Dit wil voorkom asof sekere faksies al klaar begin om Ramaphosa in diskrediet te bring deur hom met die Ruperts ens te verbind. Nog ‘n Zuma is oppad. Op hierdie manier sal die Zuma-dinastie voortduur. Die groot netwerk van buitelanders wat hul kloue diep in die Afrika-grond geslaan het sal nie maklik bes gee nie. Dis te lekker hier. Solank as wat Afrika maklik omgekoop kan word, sal die kontinent se skades en skandes bly ophoop. Wat is laer as rommelstatus? Toe Vasco da Gama op sy reis om die Kaap in die wilde stormsee beland het en sy matrose wou muit, het hy ‘n vreemde visioen gesien (Van Wyk Louw het daaroor geskryf) van ‘n reuse donker figuur wat oor Afrika verskyn. ‘n Groot vrees en angs het hom oorweldig. Die sg Adamastorfiguur. Hierdie donker dae het aangebreek. Lees tog “A Scramble for Africa” deur ‘n Engelse reisiger wat so 200 jaar gelede bo in Afrika besoek afgele het. Dis baie insiggewend.

Marous ·

Die kultuur van wanbestuur , korrupsie en magsmisbruik is reeds vir langer as 2 dekades aan die gang. Diegene wat die staatskas bestuur vir eie gewin gaan nie nou in feetjjies verander nie. Dit gaan net vererger want die geld is klaar..maak nie saak of hulle vir Ramaphosa of Mmuyimane of sels weer FW aanstel nie , die koeel het die hele kerk platgeskiet….

m ·

Sterkte aan die opvolger. Hierdie nar het hierdie land so afgebreek dat ek nie weet waar die volgende persoon gaan begin met opbou nie………… Mens haal nie 20 jaar se agterstand en afbreek oornag in nie….. en so gaan ons ma net meer agteruit…………….. Hulle gaan ook ma net solank wegkom met die apartheidskaart wat gespeel word.

Lucas ·

Dlamini Zuma. Wat ‘n grap vir ‘n President sal sy nie wees nie!! Erger as haar gewese man!!

Amelia ·

Om te weet sy tyd is verby is nie net nodig om na sy stem te luister nie, sy gesig lyk ook al soos ‘n rosyntjie!
Iets wat ek nie kan verstaan nie is die feit dat jy (gewone mens op straat) as oud beskou word en op pensioen gesit word op 60-65. Geen mens maak nie saak hoe gesond en fiks en slim, kry dan nog werk nie, maar die gees lyk soos ‘n gees en HY werk nog. Dalk moet vir die politieke poste ook verpligte pensioen gegee word as hul nie meer reguit en vars dink nie.

Stoffel ·

John, ek stem 100% saam met jou – en dan het BAIE swartes in 20jr ryker geword as enige ‘wit’ regering ooit; die ‘agtergeblewenis’ en ‘armes’ is nou ryker as die blanke armes in die land. Daar is nie meer iets soos ‘n middelklas nie. Al Zuma se pelle is in sy kabinet en hulle sal hom daar hou anders moet hulle ook uit!

m ·

Die opvolger het nou weer sy eie familie en vriende wat poste moet kry.

Annie ·

Nkandla het gebeur toe R adjunk president was. Het hy nie daarvan geweet nie of het hy? Dis die vraag wat my pla. As hy geweet het hoekom het hy nie opgetree nie?

Rupert Ashford ·

Jy se die party stel hom/haar aan. En die ouens wat al vir 20 jaar gelukkig is met die party sal aanhou vir hulle stem of vir iets erger soos die EFF. Maak dan van daar afleidings oor wat kom na Zuma. Dit gaan slegter word…ongelukkig.

Gemsbok ·

Pasop vir Ramaposa. Hy maak klaar geluide oor “Wit oorheersing” in die ekonomie wat moet stop gesit word. Hy het lekker geld gemaak uit tenders en sy “wit” vriende. Wees versigtig!! Hy is dalk ‘n tweede Mogabe. Die rot van ‘n Mogabe was ook in die begin die blankes baie goedgesind.

Liza ·

Dit is so vreeslik hartseer dat ‘n mooi land so verwoes word. Ons weet dit gaan net erger word, gaan kyk wat gaan aan in Witbank…. mense wat afgele is het geen heenkome nie. Matrikulante van verlede jaar wat nie kan gaan studeer nie, as gevolg van ouers wat agteroor buig om belasting onder meer te betaal, sit by die huis, en kry nie werk nie. My dogter nou 17, waarheen gaan sy? Oorsese vriende se sy moet soontoe, hulle sal help, sien geen ander uitweg nie….

Anie ·

Wou nou die dag sê, hy lyk té bekend: “Bennie Boekwurm” van Wielie Walie het regtig mooier gelyk!

Veritas ·

Moet nie ‘n fout maak nie. Oom Jacob laat hom nie deur ‘n hofbevel afskrik nie. Hy het té veel om te verloor. Hy besef maar alte goed dat die hof, en moontlik die tronk, sy voorland is wanneer hy nie meer die septer swaai nie. Sy oom Robert, in die noorde, het hom mooi geleer hoe om die opposisie te hanteer. Kyk maar wie is die ministers van polisie en die weermag.

m ·

Jy het n punt beet Gemsbok. Ek het my respek verloor vir hom oor sy uitlatings. Dit wys ook ma hoe rassisties hy is en ook ma baie lae IK het. Ten minste was daar darem ‘n ekonomie, nou lyk dinge maar beroerd agv hierdie narre.

Minx ·

Eish die duiwel is los maar kan jy dink as Zuma tot 90 daar moet sit. Ek stem saam gaan af op 60 -65 dit geld vir die meeste pensioenarise wonder of Zuma pensionaris afslag eis? lol

Pieter ·

Passop vir Ramaphosa. Ek ken hom van sy vakbond dae af. ‘n Jakkals van vele gedaantes. Jy kon hom destyds nie vertrou nie en ‘n jakkals verander van haar maar die ding se streke bly dieselfde.

Rupert Ashford ·

Ja ne. En hy is voorgehou as Roelf se maatjie vir wie ons kon vertrou tydens die onderhandelinge.

Wilma Hanekom ·

Ramaphosa het sy ware kleure getoon deur sy onverantwoordelike uitspraak oor die ekonomie wat nou lank genoeg in die hande van blankes sou wees. Buiten dat dit in n tydvak geskied waar SA alles probeer om die beeld na buite goed te hou, hou hierdie stelling groot belofte in vir die swart bevolking. Ramaphosa sal dit gestand moet doen as hy homself as n leier met integriteit voorhou, verkiesingsretoriek of te nie.

Johann Smith ·

Ons kan bespiegel wie sal waarneem as Zuma onder sy agterend geskop word. Ek bring net iets onder die aandag nan mense waaroor hul in tussen kan dink. Siener van Rensburg het genome dat daar slegs 3 swart regeerings sal wees. 1, Mandela, 2. Mbeki/Motlanto(visi president) waarnemend , en 3. Zuma (‘n geel persoon.) ‘n Mens hoef nie ophol te raak oor profetiese redes as jy nie glo nie, maar oordink bietjie wat sover in ons land gebeur het wat deur Siener voorspel was, en wat ook in die res van die wereld waarvan hy eintlik niks van geweet het nie op die oomblik gebeur.

John ·

Ja, Johann, maar Oom Siener het nie noodwending die antie-tannies ingesluit nie. Hulle is tog ‘n heel ander spesie., nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.