Nuuskommentaar: Wat om in 2016 te verwag

President Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

President Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Uit heelwat van die nuusopskrifte op Nuwejaarsoggend lyk dit asof 2016 in baie opsigte ʼn naatlose voortsetting van 2015 se minder aangename aspekte sal wees, soos ʼn knellende droogte wat voortduur en so ook internasionale terreur. Die geheim is dat die positiewe aspekte soos ʼn gesonde kerkgemeente, die Solidariteit Beweging se Plan B en ander ondersteun moet word om sin aan elkeen se bestaan te gee en Godgegewe talente te benut.

Dis nou komkommertyd en die nuus is aan die skraps kant, maar as mens na die beskikbare nuus se opskrifte wêreldwyd kyk, lyk dit asof 2016 in baie opsigte ʼn naatlose voortsetting van 2015, vir baie ʼn annus horribilis, sal wees. Plaaslik lyk dit nie of die droogte gou gebreek gaan word nie en die Franse president, François Hollande, waarsku in sy Nuwejaarsboodskap die terreurbedreiging is nog lank nie verby nie.

Die ANC het (alweer) die geledere agter pres. Jacob Zuma gesluit, wat beteken die land sal tot minstens 2017 met Zuma as president opgeskeep wees, wat op sy beurt die vertroue in die ekonomie sal bly knou, soos ʼn dalende rand en stygende rentekoerse. Selfs al kry die ANC Zuma nou aan ʼn baie kort leiband beet en sy onvanpaste laggie oor ernstige sake gesmoor, sal die momentum onstuitbaar wees. Minstens een ekonoom verwag dat minstens een graderingsagentskap vanjaar rommelstatus aan die land sal toeken.

Uit Zuma se Nuwejaarsboodskap kom ook gans te veel gemengde seine om optimisme te sien. Hy bly nog ekonomies suiwer wanneer hy, weliswaar op ʼn lomp manier, die staat se rol in die skep van ʼn klimaat gunstig vir ekonomiese groei en werkskepping stel, maar saboteer alles weer deur die inhoud, soos die verskerping van SEB. Lees ook Media24 se berig hieroor hier. Onder aan Maroela se berig het lesers skerp op die boodskap gereageer, veral oor Zuma se “storie” oor al die vooruitgang wat die land in 2015 sou beleef het. 2016 is immers verkiesingsjaar …

Die feit dat die land vanjaar in die landswye munisipale verkiesings opruk stembus toe, is waarskynlik die vernaamste rede waarom die ANC Zuma nie met die Nene-debakel “herroep” het nie. Analiste is dit min of meer eens dat die ANC baie moeilik nié gaan agteruit boer nie. ʼn Onverkwiklike leierstryd en ʼn klomp dikbek Zuma-ondersteuners en -beskermlinge sou moeilik bestuurbaar wees. Een rede waarom die ANC waarskynlik heelwat setels gaan inboet (en dalk van die ander ook), is dat die EFF met die vorige munisipale verkiesing nie deelgeneem het nie, maar met die vorige algemene verkiesing as jong en onervare party reeds taamlik goed gevaar het.

Op die oog af lyk dit asof die ANC genoeg steun gaan verloor en die EFF genoeg steun gaan kry sodat verskeie munisipaliteite, ook metropole, ʼn ooreenkoms met die EFF sal moet aangaan om ʼn munisipale regering te kan vorm. Vir die meeste partye, soos die ANC en die DA, is so iets ʼn klip in die maag. Ook die EFF lyk nie te entoesiasties om met die ANC en die DA koalisieregerings te vorm nie. En onregeerbare situasies is iets wat die land en sy munisipaliteite nie kan bekostig nie. Vra maar die ouditeur-generaal en Eskom wie se rekeninge nie aldag so lekker betaal word nie.

Daar is nog geen teken dat plaasaanvalle met die nodige erns deur die regering bejeën gaan word nie. Dit lyk ook nie asof die aanslag teen Afrikaans verslap gaan word nie.

Nog voor die uitrol van die Solidariteit Beweging se Plan B, was dit al duidelik dat dit reeds ʼn belangrike rol speel om moedeloosheid onder Afrikaners te verdryf. In plaas van die gevoel van afgekapte hande, word hande uit die moue gesteek op groot skaal en hulp op enige denkbare terrein word aangebied. Dit sal interessant wees om te sien of dit in 2016 momentum sal kry, gepaardgaande met nog ʼn tikkie meer histerie in die stemme van die Seunse Weenkoor.

Die #ZumaMustFall-veldtog sal waarskynlik in 2016 voortgesit word. Aangesien dit tot dusver met die verskerpte veldtog teen korrupsie verweef is, skep dit vir die ANC ʼn dilemma. Dit is jammer dat dit vanuit die geledere van ʼn groep swart mense ʼn rasse-kleur aangeneem het.

Deur die loop van 2015 het die stemme oor die hervatting van die Koue Oorlog en selfs die Derde Wêreldoorlog, stiller geword, maar die kwessies wat dit onderlê het, is steeds op groot skaal beduidend aanwesig en wag net vir ʼn vonkie in die kruitvat.

Al word die IS in Irak militêr verslaan, lyk dit asof die IS nog lank grondgebied in Sirië sal beset. Maar selfs al word die IS daar ook verslaan, het Al Kaïda getoon hoeveel skade internasionaal aangerig kan word sonder dat eie grondgebied beset word. Dit lyk asof die wêreld nog lank met terreur te kampe sal hê wat deur radikale godsdiensopvattings gevoed word. Terwyl kerke in baie lande leeg loop, skiet die een moskee na die ander in daardie lande op. Binne die strukture van sommige van hierdie moskees is radikale Islam aan die roer om veral jong Moslems vir die saak van die IS te werf. Werkloosheid en die gevoel van uitsluiting maak van hierdie jong mense ideale vangste wat dan in ʼn euforiese waas daarvan om iewers behoort, “Jihadiste” word. Met hul terugkeer is hulle dikwels ideale vyfdekolonners.

2016 gaan bepaald nie maklik wees nie, maar as behoorlike historiese perspektief gehou word, sal dit waarskynlik vanuit ʼn globale perspektief ook nie slegter as in enige ander tyd van die geskiedenis gaan nie. Slegs deur ʼn gees van optimisme kan ons 2016 met die nodige vertroue aanpak om met ons Godgegewe talente tot ʼn beter wêreld by te dra – in belang van ons kinders.

Die Bloeddiens het byvoorbeeld op Oujaarsdag ʼn beroep op skenkings gedoen omdat nog net twee dae se bloedvoorraad beskikbaar is.

Elkeen kan verantwoordelik agter die stuurwiel plek inneem en so help bydra daartoe dat ʼn ander gesin nie nou in rou gedompel word nie. Help bou aan u gemeente sodat ʼn gespook om finansieel te oorleef, nie die belangrike werk van geestelike opbou, die versorging van minderbevoorregtes en sending agterweë laat bly nie.

Help om van Plan B ʼn reuse sukses te maak.

Dit beteken nie dat mense met hul koppe onder die sand moet leef om nie te weet van die slegte aspekte om ons nie. Dit moet ons inteendeel nie in moedeloosheid verswelg nie.

ʼn Voorspoedige 2016 word u almal toegebid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frederik ·

Goeie opsomming. Net jammer van die foto. Ek kan nie glo dat enige van U lesers op Nuwejaarsdag graag ‘n foto van die nar wil sien nie. Dit nogal in ‘n kantoor vol boeke, terwyl ons almal weet hy kan nie lees nie.

Jacoba ·

Soos Frederik het ek ook al mooi gevra los z se foto die berig is erg genoeg.

Johann Marx ·

Alles baie mooi en logies……tot by “help bou aan u gemeente sodat ‘n gespook om finansiële oorlewing nie die belangrike werk van geestelike opbou, versorging van minderbevoorregtes en sending agterweë laat bly nie.” Baie gemeentes se “gespook” is deur hulle self veroorsaak, deur onophoudelik te vergader en te kef oor verskillende belydenisse, mense se seksuele voorkeure, en ‘n klomp nonsens vat NIKS met ‘n God-mens-verhouding uit te waai het nie. Dan boonop vat hulle ons hard verdiende inkomste en gaan gooi dit in die bodemlose put van informele nedersettings, waar hulle weining sukses behaal, en waar daar ‘n konstante geveg is vir “grondgebied” tussen al die kerke wat daar teenwoordig is, sodat hulle kan “kwalifiseer” vir al die geld wat van die internasionale gemeenskap af instroom………..sonder dat die skenkers daarvan enigsens belang stel in die “verandering” wat hulle geldelike bydrae maak……….solank hulle net “goed voel” oor hulleself omdat hulle so “gee, NG, en gee, NG, en gee….” Ek is moeg ge-ubuntu, moeg ge-transformeer, moeg ge-kerk, moeg uitgereik en opgehef en van myself gegee……om die waarheid te sê, ek is Afrika versadig. My voorneme in 2016 is om dinge te sê soos wat hulle is, te hel met politieke korrektheid, en om binne 12 maande die volgende besluit te maak: Bly….of gly.

Bets Rademan ·

Ek weet van baie gesinne en vereensaamde bejaardes in ons omgewing wat ‘n daaglikse oorlewingstryd voer. Die kerksusters is egter te besig om Xhosa te probeer aanleer vir hulle sendingwerk in die plakkerskampe! Dan sms die dominee mens nog uit Bali om jou te herinner aan sy bankrekeningnr.!

Marius ·

Ons Woord sê vir ons om nie moeg te word om goed te doen nie. Ek het self beleef hoe die omgee van bevoorregtes soos ek en jy groot verandering in die rigting van minder bevoorregte anderskleuriges gebring het. God se genade is vir almal, en jy en ek weet dat as God se Gees waarlik in mense werk kom daar ‘n totale verandering in die lewens van mense. Ons doen nie genoeg moeite om te verstaan hoe die fyner nuanses en verskille in kulture ons dikwels verhoed om regtig die hartstaal van mense te praat nie. ‘n Vriend van my doen sendingwerk in Libië van alle plekke. Hy en sy vrou moes vir baie lank leer hoe om Arabies te praat, maar spesifiek in Libiese dialek in die streek waar hulle gaan sendingwerk doen. Dis nie anders vir ons hier waar geen vervolging is nie. Ons werk is om duisternis te verdryf, ja selfs hier in ons “Christelike” Suid Afrika. Moenie moeg word nie. God wil ons as Sy kinders gebruik om dit te doen. Jesus het dit gedoen deur uit Sy kultuur en gemakzone te gaan en Sy eie mense kwaad te maak in die ongee en hulp vir ander. Hy het ons beveel om dieselfde te doen. Dis ons Christelike plig.

Gerhardt ·

Johann Marx, ek voel presies soo jy. Afrika suig ‘n mens leeg. Onthou jy die fliek “Blood Diamond”? Daar is ‘n gesegde dat Afrkia nie kan verander nie want TIA. This is Africa. Mens kan net soveel gee.

Langtand ·

Ek wonder wie maak sy kantoor reg, want nie JZ of die “official” het agtergekom dat die een groen boek agter hom in die rak, onderstebo staan nie! Dalk lees hy so!! Dalk kinderensiklopedieë??

Bets Rademan ·

Edel voornemens. Ek skenk egter nie bloed nie omdat ek te veel mense sien sterf het wat nie die bloedbank se buitensporige pryse vir die geskenkde bloed betyds kon betaal nie. Ek betaal ook nie my tiende aan die kerk nie omdat dominee ruiterlik erken het dat dit aangewend word vir sy eie persoonlike uitgawes soos vakansies in eksotiese plekke en duur klere en juwele vir vroulief. Ek koop eerder maar vir die arm mense wat deur die kerk geïgnoreer word brood, koffie, melk en suiker. Soms vleis en groente as die Here so wil. Ek sal egter plan B ondersteun en veilig bestuur. Voorspoed vir 2016 aan almal. Ons gaan dit nodig hê.

Henry ·

Mooi so Bets!
Jy doen al die regte dinge!
Ek hoop ook vir die beste in 2016, want dit gaan inderdaad ‘n rowwe en onbeskofte jaar wees. Sal ook Plan B ondersteun.
Intussen is my pelle en ek reeds vir ‘n tydjie met Plan C doenig. Wat beteken dat ons geen koerante koop, geen ‘leiers’ of ander politieke semels se gesmous met perdekluite koop nie, met een oog oop slaap, nie langer in die bestaan van die tandemuis glo nie en het uiteindelik vasgestel dat die Skim nie meer in die grotte bokant Pretoria se Moot bly nie.
Voorspoed en vashou!

Henry ·

En nou wonder ek waarom die voorafgaande soveel ure bestudeer moes word, alvorens dit uiteindelik goedgekeur en geplak is.
Is dit omdat ons die tandemuis te na gekom het???

Grassie ·

Herman – ek is bly jy is darem nog so ‘n bietjie optimisties. Ek sien in ons land se toekoms net donkerte, so donker dat dit eintlik pikswart is. Ek druk nie my kop soos ‘n volstruis in die sand nie, ek steek my hande uit my moue en doen wat ek kan want ek weet die Skepper gaan niemand help wat te lui is om ook sy plig te doen nie. Ek glo egter ons land het tot so ‘n mate verval dat net ingryping van Bo ons nog kan help. Maar so ingryping gaan nie gratis kom nie.

Grassie ·

Herman – ek het probeer kommentaar lewer maar die mod-gestapo het my gelooi.

Rupert Ashford ·

Voorspoedige 2016 met goeie gesondheid vir jou en jou mense Herman.

Johannes Meintjes ·

Dit is inderdaad al die 2de dag van 2016 en almal is nog rustig. Ons sal moet roer in gemeente en gemeenskap om almal op een of ander, direkte of indirekte, wyse aktief en doelgerig aan Plan B te begin deelneem – veral as ons werklik ernstig is oor vrugte wat sal hou!

Sarie ·

Baie dankie Herman vir jou weldeurdagte artikels wat ons elke dag kan lees. Dis verfrissend as ons ‘n vergelyking met die probeerslae van die Seunse Weenkoor tref.

Miskien moet ons eerder die woord gemeenskap as gemeente gebruik. Gemeente verwys na kerkgangers en alhoewel hulle ‘n groot gedeelte van ons gemeenskap uitmaak, sluit dit nie almal in waarmee ons elke dag te doen kry nie.

Ek stem saam met Bets dat kerke en veral die NG Kerk ‘n groter rol kan speel in die geestelike sowel as fisiese verso raging van hulle lede. Hierdie mense was die wat die kerk deur die jare gedra het en baie sit vandag alleen in hulle huise of te huise, want hulle kinders moet oorsese werk a.g.v. diskriminerende wette. In ons dorp het ‘n dokter vir my vertel hoe die ou mensies hom kontak dan is hulle nie eers siek nie, net alleen. Hy het gesê hy is nie opgelei om sterwensbegeleidimg te doen nie , maar omdat die leraars nie meer huisbesoek doen nie, het dit dikwels sy plig geword.

Ek stem saam met Marius dat ons nie moeg moet word om die woord van God te versprei nie, maar daar kom ook ‘n punt soos die Woord sê dat jy jou voete moet afstof en verder gaan as daar nie vrugte gedra word nie. Die uitreikaksies moet ook nie ten koste van die eie geskied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.