Nuuskommentaar: ‘Wat rook jy?’

President Jacob Zuma aan die lag tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

As jy jou vir ’n toffie uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word. Maar om kommentaar oor ’n politikus, en veral ’n regeringshoof, uit te spreek verg dat die kiesers hul menings darem binne die perke van redelikheid moet lug. Dis ook reg dat deelnemers aan kommentaarkolomme kan deurloop oor dit waarmee hulle hul pype gestop het, maar weer eens is dit darem nie nodig om die varkpak daarvoor aan te trek nie.

“Wat rook jy?” wil een kommentaarskrywer by ’n nuuskommentaar van ’n ander weet. Hy soek ook van daai goed sodat hy ’n meer idilliese Suid-Afrika kan raaksien en beleef. Kru, maar ’n verwoording wat pas by die era van fopnuus en ontkenning wat mense se logiese denke nou gereeld maan toe stuur.

Sonder om op die meriete van die geval hierbo in te gaan; dit is inderdaad skreiend tot watter mate sommige lesers in hul kommentaar die kluts kan kwytraak, en dikwels in die proses ander wat werklik goeie, beredeneerde kommentaar lewer, vanuit ’n onkantposisie plettervat. Wie het nou eintlik snaakse goed loop rook?

As die ANC met sy koppestamp met Jacob Zuma vir iets gesorg het, was dit dat daar in die warboel van bontpratery ruimte geskep is dat al wat leef ’n opinie oor die saak kan hê.

Zuma self probeer om in die doolhof van die Reg – grondwetlikheid, gemene reg, wette wat gemaak is, internasionale reg, en selfs hier en daar die tradisionele reg – op hoogs tegniese punte sy dag in die hof vry te spring. Maar dis ’n baie duur opsie, wat natuurlik nie ’n probleem is as die belastingbetalers daarvoor instaan nie. As die howe egter nou al plek-plek die kostes aan hom in sy persoonlike hoedanigheid begin toestaan, kan dit ’n gesonde neseier verwoes. G’n wonder nie hy soek nou, na berig word, eers waarborge hieroor voor hy bedank.

Juridiese akrobasie en die rek en rek van regstegniese kwessies bied ook waarborge dat regskostes enorm kan raak. En Zuma kom nie alleen nie. Hy wil daardie beskerming aan sy harem en kinders herskryf hê.

Die kuns om die land in onsekerheid te dompel en die kiesers aan onsekerhede te onderwerp het ook ’n prys, soos die rand wat weer verswak het terwyl daar dié keer eers gewag word om te sien of Zuma werklik gaan bedank.

Zuma kry darem erkenning vir die feit dat hy rubriekskrywers en ander toegelaat het om byna enigiets oor hom te skryf. Dit was nie altyd so nie en hy het vroeër lastersake probeer maak. ’n Verbyganger wat sy konvooi met ’n “vingerwysing” begroet het, is opgepik en redelik gekarnuffel. Trouens, daar was ’n tyd toe van sy voorste ondersteuners, soos dr. Blade Nzimande, wetgewing voorgestel het om dit strafbaar te maak om die president te beledig. ’n Paar jaar later was hy op die voorpunt om Zuma met die teerkwas by te dam.

Laat ons hoop dat die politieke lig voor sononder vandag nog helder sal skyn, en ons dadelik kan begin voorberei op die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Mensig, ek het my absoluut verkneukel in die woordgebruik in die eerste 4 paragrawe!
Afrikaans is absoluut n wonderlik veeldoelige, beskrywende instrument om feite, gevoel, werklikheid, drome en slae in mee uit te deel.
Dit is artikels soos hierdie wat skropwerk op hierdie nuuswerf so aangenaam maak. Groot waardering .

Estelle ·

Eish ja, kan net met jou saamstem. Heerlik gelees aan Herman Toerien se opvolg op sy vorige artikel en die kommentare daarop.

CAROL ·

Wat rook jy??? Hoop nie dis dagga nie – want dis nog onwettig in ons land!!!!

Estelle ·

Ek voel regtig al wat hier gerook behoort te word is dat ons land vandag die pyp rook en beter anderkant uitkom!! Al gun ek elke mens sy mening en gevoel hieroor weier ek om net eenvoudig in swartgalligheid en bitterheid te verval en sal niemand persoonlik aanval nie. Sela.

Waarheid ·

Hierdie “koruptepolitieke gemors” is outyds en moet UIT dis onnodig.
LandsWETTE, die gereg(wetgewing) ipv honderde politieke partye, dienaars ipv kommerade en parlementslede NEE!!! WERKERS — vir die gereg met een gesamentlike DOEL VÓÓRuitgang “REGVERDIGHEID” gelykheid. Dàn sal dit gaan oor gesamentlike Dóél vir mens en LAND geen enkel een vat besluite oor niks, net deur volks stem, word wet verander, in-uit-of afgestel. Hoekom kan ons nie die voortou neem id wêreld en raak ontslae van BOLLIPARTYE nie.
Alle aksies gedoen deur ‘n “geslote” elektroniese baie unieke stemstelsel.

John ·

In ‘n hondegeveg sal selfs ‘n pienk poedel as sy bygekom word nogal seer kan terugbyt. In goeie Afrikaans kan ‘n witoog dieselfde kwytraak as ‘n outjie met ‘n spanner in sy vuil hand, maar albei weeg dieselfde op die groot skaal. Vroomheid is vreeslik gewigtig maar ‘n duur sydas pas nie by alle geleenthede nie. Preke ook nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.