Nuuskommentaar: Wat sê die rookseine uit die hoofstad?

pretoria-betoging-1Wat “vertel” die “rookseine” wat uit die hoofstad opgaan? Daar is nog vele onduidelikhede oor waarom die ANC juis vir Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat “per valskerm” ingestuur het, veral nadat dit vooraf uitgelek het en dit toe reeds duidelik was dit sou moeilikheid afgee. En hoe ʼn groot rol speel die feit dat Thoko ʼn Zoeloe is en dat pres. Jacob Zuma volgens onder meer die DA, die dryfkrag is agter haar ontplooiing?

Die hoofredakteur van Netwerk 24, Johanna van Eeden, skryf vanoggend insiggewend onder die titel: “Die ’rookseine’ dui op krisis.” Sy het tevore ook die tema aangeraak onder die titel: “Kyk uit vir die ’rook wat roep’.” Al drie Netwerk 24 se dagblaaie se hoofartikels handel vandag oor die Tshwane-onvrede. (Die Burger deel Beeld se hoofartikel. Dit kan hier en hier gelees word).

Die mense wat omtrent alles wat sal vlamvat aan die brand steek, stuur so ʼn boodskap uit, want dis al manier hoe diegene wat die boodskap moet kry, daarop ag slaan.

Ontleders moet nog behoorlik sin maak oor waarom die aanwysing van Thoko Didiza as die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Tswane Metro, so ʼn reaksie ontlok het. Nie dat ontleders nie al met groot stelligheid ingeklim en aan die hand van die bekende aspekte, soos die afdwing van veral senior kandidate van bo af verklaar het, of faksiegevegte-uitlegte gee nie, maar nog min word gerep oor ʼn string politieke inkorrekte aspekte.

Dat Didiza ʼn Zoeloe is en daarom as ʼn probleem ervaar word, is vreemd genoeg nog eintlik net deur die SAUK aan die groot klok gehang. “Tribalism” is wat openbare uitlatings betref, ʼn vernederende, primitiewe saak binne die ANC. Oud-pres. Thabo Mbeki en ander het die duidelike manifestasie daarvan betreklik onlangs erg gekritiseer. Hiermee wys hulle die vinger minder subtiel na pres. Zuma, die “100 percent Zulu boy” wat sedertdien ook geleer het om sy mond baie diskreet hieroor te rek, maar in die praktyk sy Zumafikasie lustig met Zoeloefikasie (en skynbaar Guptafikasie) aangevul het.

In dié stadium sou dit wel sin maak dat die “inbring” van ʼn Zoeloe (Thoko) met ontsteltenis as deel van die Zumafikasie gesien word, synde dat Zuma nie uitermate populêr in Gauteng is nie. Verder was Thoko een van die ontevrede ministers wat na die aanwysing van Zuma as nuwe ANC-president uit die kabinet bedank het. Sou Didiza ondertussen ʼn Zuma-patronaat geword het, is sy ʼn uitsondering onder die klompie wat bedank het. Volgens ʼn verklaring van die DA, het Zuma wel ʼn groot rol gespeel in Thoko se ontplooiing.

Tog was Thoko effens eenkant onder diegene wat uit die kabinet bedank het. As minister van landbou het sy ʼn ook vermaningsbrief van die destydse minister van finansies, Trevor Manuel, gekry oor die wyse waarop die Land Bank roekeloos die afgrond in bestuur word. Manuel word as veel meer verteenwoordigend onder die ministers wat bedank het, gereken.

Trouens, haar reputasie as minister is van so ʼn aard dat die DA meen sy gaan nie daarin slaag om die korrupsie wat onder haar voorganger, Sputla Ramokgopa gedy het, om te keer nie: “With 44 days to go before the elections, the move is a desperate attempt by Luthuli House to stop the ANC from haemorrhaging any more support after the dismal showing by Sputla’s destructive government. But the truth is that installing Didiza will not end the corruption that infected the ANC in Tshwane under Sputla’s watch.”

Nog ʼn variasie waaroor bespiegel word, is of Ramokgopa soveel steun het dat sy ondersteuners moles sou maak. Dit sal ʼn groot verrassing wees as die ANC Ramokgopa vir die wolwe gooi, al is dit ook deur en deur op verdienste. Die kanse is goed hy is reeds die pos beloof waarin hy herontplooi gaan word en na al die houe wat hy as burgemeester weg het, sien hy in alle waarskynlikheid baie na dié pos uit. Maar sou sy ondersteuners dit weet? Die feit is egter die PEU-kragmeterkwessie, wat deur AfriSake gedryf word, is besig om in ʼn skandaal te ontaard wat groter is as die Nkandla-skandaal. Daar is geen manier waarop die ANC dit kon oorweeg om hom in die amp te hou nie.

Het die ANC se ringkoppe werklik glad nie so ʼn uitkoms (dat selfs gedreig word om die weermag in te roep sou sake vererger), of ʼn reaksie van selfs ʼn tiende so erg, wat steeds onaanvaarbaar erg sou wees, voorsien nie?

Dis bykans onmoontlik en beteken ook die land se veiligheidsdienste moes vas aan die wakker gewees het.

Adv. Alberts, die Vryheidsfront Plus se burgemeesterskandidaat vir Tshwane, sê die ANC moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweldpleging en moet sy lede onverwyld in bedwang bring, aangesien die beelde van oproer en brandstigting die wêreld ingestuur word en Suid-Afrika se beeld in die buiteland groot skade berokken.

“Dit is ʼn skreiende skande dat Gwede Mantashe, wat die aankondiging gedoen het, ontken ANC-lede het ʼn aandeel het in die oproer. Net soos Hlaudi Motsoeneng, wat diensleweringsprobleme in die land ontken, leef Mantashe klaarblyklik ook in ʼn staat van totale ontkenning van die werklikheid.

“Dit is ook duidelik dat Motsoeneng se besluit, om nie geweld op die SAUK se kanale uit te saai nie en nou ook geen nuusdekking aan die Tshwane-geweld te verleen nie, oënskynlik geen indruk op die onrusstokers maak nie.”

Die ontevrede inwoners sal hul ontevredenheid uitbasuin – as die TV dan die werklikheid smoor, sal die rookseine die ding moet doen.

Die Rooihuide, wat bekend was vir die gebruik van rookseine, het egter besef dat die seine oor deur die vyand “gelees” kan word en het daarom vooraf ʼn nuwe ontledingskode op ʼn ander manier aan die bedoelde teikengehoor gestuur. ʼn Paar seine, soos dat gevaar dreig, het egter taamlik universeel gegeld.

Die molesmakers se “rookseine” is ook taamlik universeel in Suid-Afrika. Dit dui op frustrasie en ontevredenheid (geregverdig of ongeregverdig), dit dui op kriminaliteit (wat te maklik oorgesien word) en dat politici nie net moet luister nie, maar ook iets daaraan moet doen.

Dit strook nie met die demokrasie nie, al voer Kovsies se omstrede studenteraadsvoorsitter aan dit is deel van hul grondwetlike reg om te protesteer – hy lees skynbaar die bepaling dat dit vreedsaam moet wees, mis. Of anders verstaan hy vernietiging van eiendom en intimidasie as vreedsaam.

Wat ook al die ANC se ringkoppe besiel het om Thoko so te ontplooi (veral nadat dit vooraf uitgelek het en dit toe reeds duidelik was dat dit onlekker sou afgaan); die feit is hul besluitneming het die land op verskeie maniere onberekenbare skade berokken.

Voorts dui syfers oor die aantal gewelddadige protestoptredes in die land, soos met diensleweringsbetogings, daar is ʼn sterk potensiaal dat die brandende proteste van die hoofstad af landwyd kan uitkring. Daar het trouens reeds verskeie opstootjies plaasgevind oor die ANC se kandidatelyste weens min of meer dieselfde redes.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

m ·

So ok, as ek nie van iemand se aanstelling in die werkplek hou nie moet ek nou die hele gebou afbrand en chaos veroorsaak. Is dit die nuwe mentaliteit in SA?

GJ de C K ·

Net ‘n suggestie: “People’s war and ANC Hegemony” – deur Anthea Jeffery

Ek meen: die affêre wat nou afspeel in en om Pretoria is geheel die resultaat van doelbewuste optrede deur bestaande ANC top-leierskap.

Miskien nie suiwer “tribal” nie, maar beduidend faksioneel, dan nie?

“Aluta causae nostrae continua ??”

Rupert Ashford ·

Wat van “ons stem net vir iemand anders” as alternatief?

Heinrich ·

Ai Rupert, dis tog mos nou ‘n eerste-wêreldse konsep daai; maar in ‘n ideale wêreld sou dit nogal welkom wees!

Poot ·

Kan hulle nie maar al die taxis ook aan die brand steek nie. Wat ‘n fees sal dit nie in die midde stad wees nie!

Poot ·

My baas is ‘n Xhosa.
Moet ek ook nou ons gebou gaan afbrand?

Wonder net?? ·

Ek kan net nie verstaan dat onskuldige mense se eiendom in die slag moet bly nie. Waar is die regstelsel as dit kom by die beskadiging van eiendomme??
Lyk my die term “mense regte ” beteken om ander se goed te verniel en af te brand. Dis deesdae te maklik om te betoog as om die saak op ‘n beskaafde manier uit te sorteer.
Se maar net..

Johann Marx ·

En almal dink as die A&C ‘n stad “verloor” in die komende munisipale verkiesing van 3 Augustus dat hulle die volgende oggend by die kantoor gaan opdaag, die “wenner” gelukwens met sy oorwinning, en die sleutels van hulle kantore vreedsaam gaan oorhandig….en dan hulle CV’s gaan indien om werk te soek? Die reënboog nagmerrie lê nog voor…..Wat nou hier aan’t gebeure is, gaan soos ‘n Sondagskool piekniek lyk.

alida ·

Wat maak dit tog saak wie die Burgermeester is die een is so korrup en skelm soos die ander.

Grassie ·

Die SABC se gebrek aan beriggewing oor onlusvoorvalle laat my wonder – as ek nou met my bakkie om ‘n draai kom en onverhoeds, sonder vooraf waarskuwing, in ‘n gewelddadige betoging beland, hoe hanteer ek dit? Hulle soek iets om aan die brand te steek. Binne ‘n ommesientjie is jy en jou voertuig afgesper. Die klippe reen op jou voertuig en die brandstigters kom nader. Tydens die ou bedeling was jy geregtig om jouself en jou eiendom te beskerm, met ‘n vuurwapen indien nodig, maar vandag is dit nie meer so eenvoudig nie. Ek het al so ‘n bietjie rondgevra maar kry uiteenlopende antwoorde. Party sê jy moet uitspring en hardloop, maar as jou myle al ‘n bietjie hoog is en al die silinders vuur nie meer so mooi nie is die spoed nie voldoende nie. Ander sê skakel oor na 4X4, lae rat en trap die vet plat, laat kom wat wil. Ek sal seker maar soos in die ou tyd optree. Dit beteken mense gaan seerkry, miskien erger, miskien ek ook. En as ek dit oorleef sit ek dieselfde dag nog met my agterent in ‘n sel, terwyl ek nie ‘n misdadiger is nie en onskuldig in die situasie beland het.
Ons land het ‘n helse land geword om in te leef.

Bossie ·

Ja Grassie en so kan ek en jy onvoorbereid en on-moedswillig in ‘n ding beland waarvoor ons as “rassiste” uitgekryt word, boetes opgele word en dalk hof toe moet gaan net omdat ons verkeerdelik onder die indruk was dat ons ook demokratiese regte het! Hierdie land is net soveel ons s’n as al hierdie wetteloses, miskien nog temeer, maar ons stem word van ons weggeneem deur annargiste wat nie omgee om verwoesting, moord en dies meer te pleeg omdat dit kwansuis hul “demokratiese reg” is! Hoe werk hul koppe? Wie dink hul gaan uiteindelik benadeel word behalwe hulself?

Theuns ·

Dankie Herman. Net iets byvoeg. Een van my plaaswerkers het al in 2015 aan my gese dat die Peddies, Noord Sotho mense nie van die Zulu’s en Xhosa’s hou nie en dat die mense altyd op die ander swart rasse in SA afgeforseer word, en altyd in leiers posisies is. Is dit nie dalk ook ‘n rede hoekom Malema so groot aanhang in die ou Transvaal het nie? Hulle onthou ook hoe het die Zulus hulle vermoor op strooptogte in die 1800’s.

Mandie ·

Is hierdie ook rasisme nie? Rasisme teenoor ander etniese groepe rasisme teenoor buitelanders wat se winkels geplunder word nie? Ek glo nie een van hierdie persone gaan in die hof beland met groot boetes nie. Dis so jammer dat rasisme net geldig is in sekere situasies. Die regering moes lankal opgetree het teen hierdie geweldadige betogings ons land gaan binne kort sonder basiese gesondheidsdienste, skole en vervoer wees en daar gaan eenvoudig nie genoeg fondse wees om dit te vervang nie en ons almal gaan daaronder ly. Finansieel gaan dit net erger word vir elke Suid Afrikaner en dit lyk of die regering nie juis vreeslik gepla is daaroor nie so jammer.

pieter ·

Gits, hoe verder ons tegnologies ontwikkel hoe meer gaan die samelewing soos oer-mense tekere. As iets jou nie aanstaan nie skop ‘n kabaal op, gedra jou soos ‘n barbaar en maak vuur en as sy nie diere kry om te jag nie moor sommer onder mense.

Lida ·

Pieter hoe meer barbaars jy raak hoe groter is jou aanhang. Ek staan verstom oor hierdie barbare wat geen respek toon vir mense se lewens en/of eiendom nie.

Rynhardt ·

HERMAN DIE ROOKSEINE WAT HUL UITSTUUR MET HUL VERWOESTING VAN ALLES IS N TIPE KODETAAL, M.A.W. DAAR MOET OORGEGAAN WORD TOT GEWELD IN ANDER STEDE! HUL IS UITERS UITGESLAPE!

Kobus ·

Dit is interessant dat joernaliste nooit die werklike oorsake van die Soweto opstande ordentlik nagevors het nie. Vandag weet almal (wat wil weet) dat die opstand goed vooraf beplan was en glad nie ‘n spontane uitbarsting van frustrasie was nie. Lees gerus oud spioen Gerard Ludi se boek: “The Communistification of the ANC”. Die opstande was beplan en was die breinkind van die CIA kantoor in Soweto. Afrikaans is maar net as motivering gebruik om ‘n opstand te loots…. Dit kon Engels of hoë bustariewe ook gewees het. Die regering van die dag moes in ‘n swak lig gestel word. Maklik… Die ANC tart die SAP, stoot op die regte tyd kinders voor die betogende massas en stop vir die arme Hector ‘n wapen in die hand. Met die uitwissing van die Inanda polisiemanne ‘n ruk voor die Soweto opstand sou die SAP natuurlik nie weer verliese duld nie. ‘n Skoot van agter uit die betogende swartmassas en Hector met ‘n wapen in die hand was genoeg om hierdie insident die internasionale dagblaaie te laat haal. En vandag word hierdie leuen elke jaar gevier nes Mandela wat van terroris na saint verander het. Swak novorsing, swak joernalistiek en befondsing van verkeerde bronne laat die leuen as waarheid voortleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.