Nuuskommentaar: Wat wag in 2018?

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Flickr/GovernmentZA

Verskeie faktore gaan Suid-Afrika se verloop in 2018 bepaal. Gaan die droogte in die Wes-Kaap en elders in die land spoedig gebreek word? Wie gaan die toutrekkery tussen Cyril Ramaphosa en Jacob Zuma wen? Gaan polarisasie in die land toeneem? Gaan plaasaanvalle ongebreideld voortduur?

Gaan Suid-Afrika sy “status” as die wêreld se verkragtinghoofsetel weer eens gestand doen? Gaan die DA interne kwessies so kan “uitry” dat dit nie steun inboet nie, en indien nie, watter opposisiepartye gaan die meeste baat?

Die vrae is onderling baie sterk verbind.

Die mees onlangse versoeningsbarometer het pas betreklik goeie nuus oor rasseverhoudinge in Suid-Afrika gebring. Ongelukkig is daar baie Suid-Afrikaners wat dit net in “eilande” ervaar soos by judo-toernooie, krieketwedstryde, simfoniekonserte ensovoorts. Pas het Max du Preez op Facebook uitgepak oor erg rassistiese Twitter-inkrywings wat hy raakgeloop het ná die ongeluk van die omstrede Tumi Morake en haar gesin.

Interessante insigte spruit uit ’n artikel in Trouw deur die bekende rubriekskrywer Sylvain Ephimenco onder die opskrif “In Rotterdam sal 2018 geopenbaar word hoe gou diversiteit in verdeeldheid gemuteer het”.

In Rotterdam woon nou mense van 175 nasionaliteite. Verskillende politieke partye word gevorm, soos die Ubuntu Connected Front (UCF) van die Surinamer Iwan Leeuwin. Die party spits hom toe om lede te werf onder mense van Karibiese en Afrika-agtergronde. Die party wil die slaweverlede onder bespreking hou en Papiamento as onderrigtaal op skool invoer. Ephimenco skryf tussen hakies by die taalkwessie (uitdagend!) by en impliseer duidelik dat dit konflik aanwakker.

(Papiamento is ’n Portugees-gebaseerde Kreoolse taal wat wyd in Karibiese Nederland gepraat word en op verskeie plekke amptelike status geniet.)

Die skrywer wei uit oor hoe ander groepe, ook wit mense, reageer waar daar ’n groep organiseer wat duidelike Nazi-verbintenisse het.

Die interessante woord wat Ephimenco inspan, is “muteer”. Oorgeplaas op die Suid-Afrikaanse konteks beteken dit eenvoudig dat dit wat ’n opname nou bevind, nie noodwendig ’n paar dae later nog die geval sal wees nie. So het uitsprake van politici, onewehandigheid deur instansies wat juis oor haatspraak en rassisme moet waak, waarskynlik meer bygedra tot spanning as blatant rassistiese optredes deur wit en swart individue. Selfs Zuma is ’n paar keer verkla en daar het ten spyte van belowende vordering, skynbaar dadels van gekom.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

’n Onheilspellende stertjie wat bygekom het, is twee uitsprake van hoofregter Mogoeng Mogoeng in die konstitusionele hof die afgelope Vrydag. Om nie in die sop te kom vir minagting van die hof nie, word baie omsigtig met woorde omgegaan.

In die uitspraak oor Kovsies se taalbeleid (die meerderheidsuitspraak) lyk dit of sake wat nie in die grondwet ingeskryf is nie, maar weens populistiese opvattings wye persepsies koester, swaarder weeg as wat spesifiek in die grondwet ingeskryf is. Sy uitlating oor Engels as voorkeurtaal strook ook nie met talle internasionale studies wat empiries bevind dat moedertaalonderrig die beste is nie. Wat is die implikasie hiervan as die kwessie van grondgryp sonder vergoeding voor die konstitusionele hof dien?

Lees gerus meer van adv. Anton Alberts van die Vryheidsfront Plus oor dié kwessie hier.

In die uitspraak oor Zuma en die parlement se versuim het Mogoeng ’n minderheidsuitspraak gelewer, en laat voorlees, waarin hy sy mede-regters erg beledig deur te sê hulle het hul uitspraak teen Zuma gemik, en nie die parlement en die presidensie nie.

Daar is enorme verwagtinge dat Ramaphosa verskeie sake in die land gaan regruk. Hy self het telkemale na korrupsie en staatskaping verwys wat vasgevat moet word. Die lys verwagtinge gaan langer word, soos of plaasaanvalle nou uiteindelik behoorlik aangevat gaan word … maar daar is een probleem. Hy is net president van die ANC en nie die land nie. Om Zuma op die een of ander wyse gepos te kry gaan kardinaal wees. Gaan die breë ANC dit insien?

Voorspoed vir 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Rooikop ·

Zuma het most nou ook onlangs juis gesê dat 2018 gaan die jaar van radikale ekonomiese transformasie wees – hy beplan groot dinge vir my en jou beursies en goed en dit alles om sy eie politieke bas te red.

Ons leef voorwaar in interressante tye.

Kerneels ·

DA se tyd doodklok het gelui. Hulle probeer alles vir almal wees en dis nie moonlik nie. Ek voorspel Cope en Vfplus gaan die hulle stemme vat word. Hulle is nie bang on hulle se te se nie. ‘n Party moet vir iets staan anders het hulle nie bestaansreg nie.

Nouja = Markus Senekal ·

Stem saam Kerneels. Indien die ANC ringkoppe ‘n slim stap wil neem moet hulle die volgende doen. Ontslaan Zuma en roep onmiddellik ‘n ‘n blitsverkiesing uit. Die DA is tans ‘n so ‘n gemors dat die ANC enige verkiesing nou sal wen . Hulle sal selfs die Wes Kaap wen.. Maar ek dink nie dit sal gebeur nie. Die ANC is wel roekeloos, maar het nie die politieke waagmoed om so ‘n risiko te neem nie.
Voorspoedige Nuwejaar aan ieer en elk. Vriend en vyand.

Justice ·

Korrupsie – blik wurms – Woolworths.
2018 gaan die jaar wees waar die skaal van korrupsie openbaar gemaak word.

Cherokee ·

Ja, soos dinge in hierdie land gaan – ek kyk vanmôre na voorskrifmedisyne wat ek verlede week by ‘n bekende apteek gekoop het en dit het verlede jaar se koop datum op!

SjN ·

Nou verstaan ek sommige van jou kommentaar Cherokee, jou medikasie werk nie aldag nie

Grassie ·

Wat in die nuwe jaar in ons land gaan gebeur hang byna geheel en al af van wat Ramaphosa gaan doen. Ek het ‘n probleem – ek kan nie vir Ramaphosa peil nie. Ek weet nie hoe werk sy kop nie. Hy is groot maats met die SAKP maar hy self is een van die grootste kapitaliste in die land. Hy is ten gunste van wetgewing oor grondonteiening sonder sonder vergoeding maar hy is slim genoeg om te weet dat dit die landsekonomie gaan verwoes, insluitend sy eie finansiële “empire”. Hy het sy rykdom vergaar deur geleenthede wat deur ander mense geskep is. Gaan hy sy rug op hulle keer en dinge doen wat hulle finansieel erg gaan knou?
Cyril het die verkiesing baie naelskraap gewen en 2019 lê voor. Sy eie posisie in die ANC is redelik wankelrig en as hy nou enigiets sê teen onder andere grondonteiening of radikale ekonomiese transformasie kan hy dalk sink. Wat hy gaan doen is baie onseker en dit knaag aan ‘n mens se gemoed want dit gaan ons voortbestaan drasties beïnvloed.

Eish ·

Dinge word nou vinnig kant toe gevat. Dalk beter om stiller te wees as Afrikaansprekende Kaukasiërs in die jaar. Ons speel n onbeduidende rol in meerderheidpolitiek. Die VF plus behoort die DA se blanke verliese wat oppad is, te ondervang.
MM het ook berig oor die Morake ongeluk maar genadiglik was die kommentaarskakel afgesit, anders het Max ook hier getier. Rassepolilarisasie word deur leierskap gedryf en in stand gehou. Op voetsoolvlak moet die wiele draai om brood op die tafel te sit.
Die uitspraak oor Kovsies se taalbeleid het die hoofregter baie mooi uiteengesit en ons kan ons verseker klaarmaak dat n belangtike regsbeginsel nou vasgelê is wat die meerderheid in elke saak van algemene belang sal bevoordeel, ongeag die wigte en teenwigte wat Flat Wheel en sy maaitjies ingebou ket. Ek vertrou dat ons Burgerregte organisasies nou uit die howe sal bly oor die aangeleenthede en liewer Afrikaanse tersiêre instellings uitbou tot volwaardige universiteite en kolleges wat alle beroepsrigtings ondervang.
Moenie te veel verwag van Ramaphosa nie. Alhoewel ek dankbaar is dat die Xhosa en Zulu houvas op leierskap verbreek is, is die linkervleuel en die regtervleuel vlerke van dieselfde voël.
Slegs n Goddelike ingryping kan die helhool red van homself.

Jacques venter ·

Haai nee Kerneels
Jy weet mos die Vf+ en die ANC is boeties in dieselfde bed. Pieter Mulder was selfs Zuma se adjunk minister. Dalk kan die VF+ en ANC na 2019 n koalisie vorm
Dalk is daar vir ou Groenewaltjie n kabinets possie onder Cyril.

Adam ·

Jacques, moenie vergeet dat Mandela boonop vreeslik lekker aan tannie Betsie Verwoerd se koeksisters gesmul het nie.

Anti - Anti ·

Jacques Venter, net ‘n ou versteende, NP-Flatwheel de Klerkondersteuner sal ‘n goeie kommentaarkolom met sulke snert kom besoedel. Niemand sal enige waardering daarvoor he, sou jy dit as humor bedoel het!

Cherokee ·

Dit is juis húlle Anti-Anti, wat na neerhalend regsgesindes verwys by hul vanne en van oud-terroriste bewonderend praat op hul voorname asof werklik groot aanhangers. Wanneer jy kommentare lees is dit maklik om tussen die lyne te lees.

Adam ·

Anti-Anti, vanwaar die aggressie? Glo my, indien jy die kommentare noukeurig lees, sal jy vind dat Afrikaners (ons mense) MM se kommentaar blaaie besmet met absolute infantiele, niksseggende en aanhitsende kommentaar, weliswaar met enkele uitsonderings. Tong-in-die-kies opmerkings dien gereeld as welkome afleiding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.