Nuuskommentaar: Water, die Dam van Wedergeboorte en oorlog

kraan-water-glas

Foto: Arcaion/Pixabay.com

Met die groot droogte wat nou op almal se lippe is, en selfs as mosterd na die maal tot nasionale ramp verklaar gaan word, word die belangrikheid van water sterk beklemtoon. As dit opraak, is dit ’n ramp.

’n Enorme dam van 70 miljard kubieke meter is in die Blou Nyl in aanbou en veral uit Egipte word oorlogspraatjies hieroor gehoor.

Die dam, bekend as die Dam van Wedergeboorte, word deur Ethiopië op die grens met Soedan gebou. Die doel is om Ethiopië se kragtekorte, wat glo die land se ekonomie kniehalter, eens en vir altyd aan te spreek. Die grond in die omgewing is nie geskik vir landbou nie.

Egipte is vir 97% van sy waterbehoeftes van die Nyl afhanklik, en 85% van dié water word deur die Blou Nyl uit die Ethiopiese Hooglande afgevoer. Ethiopië, ’n waterskaarsland wat gereeld deur verwoestende hongersnood getref word, maak vreemd genoeg op enkele persentasiepunte na, nie van die Nylwater gebruik nie. En noudat dit vir die opwekking van hidro-elektriese krag benut gaan word, wil Egipte net oorlog maak.

Trouens, opeenvolgende presidente sedert Hosni Mubarak, het al met gewapende optrede gedreig sou die dam realiseer. Die moontlikheid om ’n bomwerper te stuur om die dam met ’n bom te vernietig word kort-kort gehoor – ’n heerlike grap in Ethiopië, want al land wat daardeur lewensverlies kan ly, is Egipte van wie byna die hele bevolking in die Nyl se vloedgebied woon. Moontlik is dit die rede waarom jare lank gesloer is met die aanvang van die bouwerk, maar dit is nou volstoom aan die gang.

Egipte meen die dam is so groot dat verdamping en wegsyfering ’n te groot hap uit die Nyl se water sal naam. Ethiopië sê Egipte praat bog, want sy eie Aswandam is in ’n hoër verdampingsone.

Egipte probeer Ethiopië beperk deur internasionale verdrae – verdrae waarvan Ethiopië sê hy nie deel was nie, maar selfs al sou hy, sou dit so nadelig wees dat dit nie bindend kan wees nie.

Die reusedroogte in die Wes-Kaap en elders in die land, is reeds goed aan almal bekend. ’n Paar dikkoppe wat nie wou hoor nie en oordadig water bly verbruik het, betaal nou peperduur vir tegniese toerusting wat watertoevoer beperk. As jy nie wil hoor nie, moet jy voel.

By ’n groothandelaar wat gebottelde water teen ’n afslag verkoop het, het die bolle gerol toe een klant die hele voorraad wou opkoop.

Nog nie oorlog nie, maar die gemoedere kan sterk loop, en as ’n waternood lewens bedreig, kan desperaatheid wel tot oorlog lei.

Die Bergrivierdam naby die Paarl se sluise is pas heeltemal toegedraai, en  enorme ekologiese skade daardeur gewaarborg. Dié dam was wel meer as 50% vol, maar dit is met gravitasietonnels met die byna leë Theewaterskloofdam verbind.

Terwyl die Theewaterskloofdam, een van die land se grootste damme, ’n belangrike watervoorsiener vir Kaapstad en omstreke is, is die Bergrivierdam hoofsaaklik ter ondersteuning van die landbou gebou. Trouens, destydse literatuur beskryf die opkoppeling van die dam met die Theewaterskloofskema as ’n manier om te verseker dat die bespoeiingsboere wel genoeg water sou kry.

Landbou in die Wes-Kaap dra egter jaarliks miljarde rande tot nie net die Wes-Kaap se ekonomie nie, maar ook die land se ekonomie by. Die buitelandse valuta wat met uitvoere verdien word is goud werd. Dit geskied in ’n winterreënvalstreek, en daarom is besproeiing baie belangrik.

Om Kaapstad aan die lewe te hou tot tyd en wyl die droogte gebreek is, behels dus meer as om net die stad van water te voorsien. Maniere moet gevind word om te keer dat die landbou ’n te harde hou weg het (maar ongelukkig is dit vir sommige boere reeds neusie verby). Goeie gesindhede help wel baie, soos die boere uit die Overberg wie se streek oor surplus-water beskik het, en dit via die Palmietrivier na die Steenbrasdam laat vloei het vir Kaapstad om te gebruik.

Intussen leer Kaapstad op die harde manier hoe om uiters spaarsamig met water om te gaan, en om hulpbronne te benut. Miljoene liter fonteinwater en stroompies wat jaarliks uit die Tafelbergstelsel see toe vloei word nou met nuwe oë bekyk en stapsgewys benut, al is dit maar ’n druppel aan die emmer. Die see word skielik ’n onuitputlike bron, al is die koste nog meer as drinkwater wat op ander maniere bekom word. Dis noodtye…

Die Kaapse aquafirs word nou met groot erns bekyk, en reeds stapsgewys benut. Al is aquafirs al jare lank in verskeie studies ondersoek, is die kwesbaarheid daarvan nog nie heeltemal duidelik nie, onder meer omdat van die vleilande uit hulle gevoed word.

Oral in die land is projekte deur vrywilligers begin om drinkwater na die Kaap te neem.

Daar was ook reeds mooi uitreik-aksies om veevoer by droogtegeteisterde veeboere te kry (terwyl daar na bewering binne die staat gulsige hande was wat hulle aan geld wat elders broodnodig was, vergryp het).

Laat ons liewer hande vat en uitreik, as mekaar naderhand te lyf gaan oor ’n paar bottels drinkwater.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hannelie ·

Baie dankie Herman vir hierdie inligting. Darem iemand wat weet wat werklik aangaan.

Pieter ·

Leer my op die harde manier, eers boor ek vir water wat nie daar is nie, uiteindelik koop ek ‘n toestel ten duurste aan, laat dit deur korrupte mense installeer, onwetend, dan suiwer ek my eie vir ‘n tweede keer, sukkel maar so aan die sluk, die stort, om te kook, selfs die plante lyk verlep.

Eish ·

Deuterononium 28 waar seën en vervloeking aan Israel voorgehou is voor hul Kanaän binne is. Ek haal enkele verse aan:

Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is. Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie; en hulle sal by jou ’n teken en ’n wonder wees, en by jou nageslag tot in ewigheid. Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie,
DEUTERONÓMIUM 28

Cherokee ·

Mmmmm somtyds klink jy lekker ligsinnig en ander tye is dit duidelik dat jy eintlik dieper dink as op die oog af gedink. Netjiese balans wat jy hou.

Eish ·

Ai Cherokee! Dankie vir die kompliment. Probeer maar net byhou met die warboel van emosies in die eens geliefde land.

LB S ·

Gaan lees bietjie ‘n artikel of twee waar Godsdiens betrekking het op Netwerk24, dan sal julle sien hoeveel Afrikaners Goddelosig is, praat van feëtjieverhale, ens. Dit is om van bang te raak. Nou wat as mens bv. al die gelowiges in die Kaap vat, met al die hordes ongelowiges… nou gaan die gelowiges saam met die ongelowiges gestraf word?
Dit is maar een vraag wat seker onbeantwoord sal bly, maar ek sal nie in my nood beskaam bly nie, ek vertrou op die Here.

Willie ·

Water in die korupte SA gaan nog so skaars soos goud raak! Stuur die illegals uit die land uit, dan spaar ons klaar baie water….

Eish ·

Prof. Anthony Thurton, n water wetenskaplike, voorheen in diens van die department van Waterwese, wat afgedank is oor sy waarskuwings wat die regerende massa se gebrek aan beplanning deeglik uitgewys het, se voorspellings word nou soos profesieë van ouds vervul.
Ek het groot deernis met die mense wat onder die verwoestende gevolge van die droogte moet ly. Dit moet egter in gedagte gehou word dat hoegenaamd geen waterbewaringsprogramme operasioneel is nie. Die totale ineenstorting van munisipale infrastruktuur en ongebreidelde rioolbesoedeling van ons riviere, se koste gaan verseker die een of ander tyd verreken moet word.
Ons het net die kapasiteitsgestremde regerende party en die DA in die Wes Kaap n mindere mate, te blameer vir die vervroegde dorstigheid vanweë vermorsing en gebrek aan behoorlike beplanning en implementering.
Die gevaar van die situasie is dat dit net soos HOP huise en maatskaplike toelaes, die wesenlike potensiaal bevat om gebruik te word vir stemwerwing, want dit is so na hul aard.

Frans C ·

Droogtes en vloede is natuurlike verskynsels.Dit moet nie gesien word as strawwe wat die Here skielik oor goddelose mense laat kom nie.
In Mat. 5 -45 sê Jesus ondermeer:” Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. “

DHK ·

Ek verskil van jou Frans C. Die Here waarsku telkemale in Sy woord oor die gevolge van ongehoorsaamheid by Sy volgelinge. Dit gaan nie oor “strawwe wat oor goddelose mense” kom nie, dit gaan oor afvallige Christene wat hul rug op Hom gekeer het. God is nie net liefde soos hedendaagse predikers Hom graag wil voorhou nie, Hy is ook ‘n God van toorn. Bowendien, hoe word die egtheid van ‘n Christen se geloof getoets? Deur beproewing gepaardgaande met opregte belydenis van sonde. Deur droogtes en vloede as bloot natuurverskynsels af te maak is om Sy almag te misken. Alles is onderhewig aan Hom, ook die natuur. As jy dit ontken moet jy maar jou Bybel weggooi…

Amen ·

Frans C, ek stem saam met jou. Dis maklik om te oordeel, maar weet jy wat, ons dien ‘n God van wonders en ‘n God van liefde en ek verkies liewer om aan God te dink as iemand wat medelye met ons foute en sonde het. Is dit dan nie waarom Jesus gekom het nie – om God se straf nms mense op Hom te neem. Dit sê nie dat ons kan doen wat ons wil nie, maar eerder dat ons in gemeenskap met God moet lewe. Slegte tye sal daar voorwaar wees, maar dit leer ons afhanklikheid van God en bind mense saam.

Eish ·

Die Bybel breek homself nie, Yeshua se eie woorde:
As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie,
JOHANNES 10:35 AFR53
Die gedeelte wat jy aanhaal is deel van die bergpredikasie en handel oor naasteliefde. Dit beteken slegs ons mag nie ons naaste oordeel nie. Net Yahua alleen wat alles weet kan n regverdige oordeel vel.
Wat geskryf is, is geskryf.

Ysbergsakke ·

Het iemand al daaraan gedink om ysberge in die suid atlantiese see in reuse plastieksakke te omhul, en teen die tyd wat dit by die kaap verbygaan in die seestroom dan is dit gesmelt en reg om kus toe te pomp?

Nico ·

Dit is verstommend dat die owerhede in Kaapstad nie al lankal ingespring het om die Theewaterdam skoon te maak en deeglik uit te skrop terwyl die watervlak baie laag is. Indien dit reën sal miljoene kubieke meter water bygevoeg word, of hoe ?? Verder, die Israelis het ontsoutings tegnologie omtrent vervolmaak en so die land se water tekort uitgewis en voer die surplus uit. Waarom word hulle tegnologie nie ingevoer nie ?

jaco ·

Israel pas volgens die ANC apartheid op die Palestyne toe, so al word die Israeli ontsoutingsisteem ook verniet vir ons aangebied, sal die ANC die DA-owerhede on die Wes-Kaap keer om dit te vat.
‘n plaaslike ontsoutingsplan wat redelik goedkoop was en al die waterprobleme sou oplos, kon nie eens gekoop word nie, want die ANC se BEE en regstellende aksie vereistes het die besigheid met die ontsoutingsplan afgekeur.
Die “regte” ras en “regte” velkleur het die allesoorheersende ding in SA geword. Dit gaan nog vererger totdat dit amper letterlik gaan bepaal wie oorleef en wie nie.
Eks seker daarvan dat selfs die kommunistiese mentors van die ANC nou ook vir hulle lag. Die huidige gemors in SA was nooit teenwoordig in bv. die Sowjetunie, Oos-Duitsland en Hongarye nie.

Ek is Sam ·

Natuurlik is God se strawwe op ons … nie net in die tekort aan water nie, maar ook die kop wat die stert geword het en hierdie volk wat soos muskiete sterwe … omdát ons afvallig geword het van Sy Woord, wat min in hierdie wêreld in waarheid ken en verstaan.

Ons magtige Vader is nie die soetsappige ‘Liewe Jesus’ wat, selfs deur die predikante, so voorgehou word nie. Waar staan dít in die Woord? Hy sê dat Hy haastig is om Sy vuur op aarde te werp en, as ons nie tot Sy wette terugkeer nie, soos Sodom en Gomorra sal ons word.

Die tyd is min, maar tog slaap ons vas, gesus deur die liefde van die leuen …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.