Nuuskommentaar: Watter soort kieser is jy? ‘n Nuttige idioot?

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

In 1988 het die bekende Gallup-peilingsgroep ‘n merkwaardige, akademiese stelsel ontwikkel om Amerikaanse kiesers te kategoriseer. Die Wêreldspektrum het destyds geskryf dat dié stelsel waarskynlik wêreldwyd – ook in Suid-Afrika – aanklank sal vind.

Toe nou nie. Hoewel die stelsel wel verklaar hoe dit gebeur dat sommige kiesers persoonlik een stel waardes kan aanhang, maar vir ‘n party kan stem wat heeltemal ‘n ander stel waardes propageer , kon die stelsel nie voorsien dat sommige kiesers op plundertogte uit skynbare protes teen die regering sou gaan, en dan weer hul kruisies agter die naam van die regerende party  gaan trek nie. In elk geval nie in ‘n veelparty-verkiesing nie.

Gaan ‘n TV-advertensie van die DA wat die ANC erg striem en onder meer die Nkandla-skandaal noem, ‘n beduidende aantal ANC-kiesers oortuig om nie weer vir die ANC te stem nie – in ieder geval nie solank as wat pres. Jacob Zuma nog die wanklankige kitaar slaan nie?

Of gaan die swart kiesers weer die aanslag teen Zuma as ‘n belediging vir swart mense ervaar en eenvoudig hul stemme in reaksie agter die ANC kollekteer, veral teen die agtergrond dat die ANC sy bes doen om van die verkiesing weer ‘n rassesensus te maak? Die advertensie is intussen deur die SAUK onttrek.

Ontledings toon egter dat dit nie net swart kiesers is wat hul ervaring van realiteite oorboord gooi, en dan vir partye gaan stem wat min of niks met hul eie oortuigings te make het nie. Hoekom anders sou partye probeer wegkom met ‘n bemarkingskluitjie dat stemme vir ‘n klein partytjie vermorste stemme is? Die waarheid is immers dat daar wel “surplusstemme” is wat “verlore” gaan, maar die kanse is net so goed of sleg dat dit groot as klein partye kan tref. En net een kiesers wat vir die twakstorie val, kan die verskil maak oor watter party se surplusstemme onvoldoende gaan wees om ‘n setel, of ‘n bykomende setel te verwerf. Dit is daarom heeltemal te verstane hoekom die destydse DP-leier, Tony Leon, so ontsteld was toe die destydse NNP-leier, Marthinus van Schalkwyk dié bog die eerste keer opgedis het. So ‘n verkiesingsfoefie is voorts ‘n belediging vir die intelligensie van die kieser, en sommer ‘n aanduiding van beleidsinsolvensie.

Maar vir wie gaan die kiesers stem?

Die lys van onlogiese stemkeuses is lank:

  • Kiesers wat sterk godsdienstige waardes aanhang, maar hul kruisies agter ‘n party gaan trek wat dobbel, aborsies op aanvraag en pornografie toelaat. Van hierdie kiesers stem dan nog juis weens hul godsdienstige ooruigings vir daardie party.
  • Die kiesers vir wie immoraliteit teen die bors stuit, maar dan vir ‘n party gaan stem wat mense wat vir bedrog en korrupsie tereg staan hoog op sy kandidatelyste stel.
  • Kiesers wat hoë standaarde vir skoon en doeltreffende administrasie stel, maar dan vir ‘n party gaan stem waar dienslewering weens kaderontplooiing, en die verdwyning van geld in duie stort.
  • Kiesers wat sterk oor hul moedertaal voel, maar vir ‘n party stem wat nie ‘n enkele mediaverklaring in hul moedertaal uitreik nie.
  • Kiesers wat sterk voel oor plaasaanvalle, maar stem vir partye wat in al elf amptelike tale dawerend daaroor swyg, of dit as ‘n “propagandafoefie” afmaak.

In die Gallup-navorsing is elf groepe geïdentifiseer. Die elfde groep, wat 11% van die bevolking uitgemaak het, steur hulle eenvoudig nie aan aktualiteit nie, stem byna nooit en raak byna nooit in hul gemeenskappe betrokke nie. Hulle is die “bystanders” gedoop.

Sommige groepe het bankvas agter die Republikeine gestaan, of na die Republikeine geneig. Hieronder tel die Enterprisers, die Moralists, Upbeats en Disaffecteds.

Diegene wat die Demokrate steun of daartoe neig, was die New Dealers, die Passive Poor, Partisan Poor en 60’s Democrats.

Die Followers en die Seculars het hulle nie baie aan die politiek gesteur nie, en nie ‘n bepaalde partypolitieke voorkeur gehad nie.

Uiteraard is politiek korrek so ver as moontlik weggebly om etniese aspekte in stemkeuses te verreken, terwyl dit goed bekend is dat die Joodse, swart en Latyns-Amerikaanse kiesers neig om vir die Demokrate te stem, selfs heeltemal onlogies, soos die Latyns-Amerikaanse kiesers en kiesers van Ierse en Italiaanse herkoms wat streng Rooms-Katoliek is, maar vir die pro-aborsie Demokrate stem.

As die raskwessie uit die Suid-Afrikaanse politiek gehaal kon word, watter kategorieë kiesers sou geïdentifiseer kon word?

  • Godsdienstige moraliste, wat neig om vir partye te stem wat as klein nispartye bestaan.
  • Die groenes vir wie omgewingsake allesoorheersend is, maar in Suid-Afrika nie sterk genoeg hond-haaraf kan maak om selfs ‘n nisparty te vorm nie.
  • Nuttige idiote wat een stel waardes aanhang, maar hul gewig by ‘n party met die teenoorgestelde waardes inwerp. Soms het so ‘n party op papier ‘n stel waardes wat ooreenstem met die kiesers se waardestelsel, maar in die praktyk nie.
  • Liberale kiesers wat die gemeenskap eerstens as individue met regte beskou, en waar identiteit die produk is van ‘n kollektiewe groep individuele regte
  • Kiesers met die keuse op identiteitspolitiek, waar die kultuur van die kieser sy politieke assosiasie bepaal.

Net soos die kiesers wat van die stembus wegbly en so versuim om ‘n sosiale kontrak met die owerheid aan te gaan en dan eintlik die reg verbeur om agterna te kritiseer, so kan die “nuttige” idioot eintlik maar net ‘n skoot deur sy eie voet loop skiet as hy nie kry wat hy uit die verkiesing wou gehad het nie.

Oorweeg dus versigtig wat jy self as produk van die komende verkiesing wil hê, en bepaal ooreenkomstig jou stemkeuse. Om gekant te wees teen rasbegunstigde ekonomiese inmenging soos affirmative action (wat na regstellende aksie verskil) en SEB, maar vir ‘n party te gaan stem wat daarvoor is of lou daaroor is, en dan agterna te gaan kla plaas die kieser in dieselfde bootjie as diegene wat klinieke aan die brand steek, en dan weer vir die ANC gaan stem.

Daar is genoeg keuses om nie ook nog ‘n nuttige idioot te hoef te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frik Lotz ·

As jy gekant is teen regstellende aksie,grondhervorming en swart ekonomiese bemagtiging stem VF Plus. As jy egter bogenoemde steun,stem dan ANC of DA. Die logiese keuse vir Afrikaners en ander minderhede is die VF Plus. n Stem vir die VF Plus is n stem vir n beter toekoms en n stem vir n wenspan!

andy ·

Frik, in die kol. Maar nou kom Mnr Dan Roodt en stig n nuwe party wat basies dieselfde beginsels handhaaf as die VF+. Nou is daar n klomp mense wat entosiasties en oorweldigend wegsplinter na die Front Nationaal. Dit verdeel kragte. Kan ons tog nie maar kordaat wees en verskille uitsorteer, en wanneer dit saak maak saamstaan nie.
As ek my moet laat lei deur hierdie kommentaar oor die keuse vir wie om te stem is daar eintlik geen party nie. Almal het skewe knoppe skete. Dan stem ek saam met Frik, dan vir n finale keuse FV+. Want n geen stem is n ANC stem.

EENDRAG MAAK MAG

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.