Nuuskommentaar: Watter Zuma het nou die meeste aangejaag?

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Dit kos uithaal en wys om pres. Jacob Zuma as droogmaker na die kroon te steek, maar twee van sy seuns ding nou klaarblyklik mee om dit te vermag. Die oudste is in ’n rasseherrie betrokke, en die ander is by die Guptas ingesement.

“Politiek is die lelike mense se Hollywood,” lui ’n Amerikaanse gesegde. Tog is daar ook werklik ordentlike mense wat die politiek betree, en werk van hoë integriteit lewer.

Dat politici se telgies iets aanvang wat vir die politikus en selfs die party ’n yslike verleentheid is, is niks nuuts nie. Die ordentlikste administrateur denkbaar se seun is by geleentheid met dagga betrap, ’n ambassadeur wat vir ’n ministerspos na Suid-Afrika teruggeroep is se dogter het weggeloop, en vele meer. Dit is nog nie heeltemal seker hoe pres. Donald Trump se seun se skouerskuurdery met die Russe sy pa se presidentskap gaan beïnvloed nie.

Dit is te wagte dat met ’n kroos van 22 kinders, van speenoud tot oud genoeg, daar ’n onlekkerte hier en daar onder die Zuma-telge sou voorkom. Hulle het immers nie ’n pa wat die beste voorbeeld stel nie.

Twee van sy ouer seuns, Duduzane en Edward, het egter nou die nuus oor spesifieke onderwerpe min of meer gelyk “getref”. Duduzane se betrokkenheid by die Guptas is lank reeds bekend, en nog meer goggas kruip byna daagliks uit die #GuptaLeaks uit.

Dat hy nou binnekort saam met van die Guptas voor die parlementêre komitee vir openbare ondernemings moet verskyn, verskaf ’n nuwe dimensie aan die staatskapingsage.

Tog het sy broer, Edward, nou, al is dit kortstondig, vir Duduzane wat nuuswaarde betref na die kroon gaan steek. Selfs ná die storm al goed gewoed het, en die Menseregtekommissie hom betig het, het Edward laat blyk dat hy elke woord in sy ope brief bedoel het toe hy oudmin. Derek Hanekom “a white monopoly capitalist offspring and an Afrikaner racist” en oudmin. Pravin Gordhan “a corrupt white monopoly capital stooge” genoem het. Hy het nog verskeie ander rassistiese opmerkings gemaak.

Nadat die Menseregtekommissie hom gekapittel het, het Edward ’n striemende aanval op die kommissie van stapel gestuur en van ’n ingesteldheid beskuldig om swart mense onderdruk te hou. Hy het met nog ope briewe gedreig.

Die ANC het na berig word, laat blyk dat die party in ’n verleentheid gestel en gewalg is deur Edward se optrede.

Dit is nie die eerste keer dat Edward sy pen in rassegif doop nie. Vroeër vanjaar het hy ook erge beskuldigings teen Matthews Phosa gemaak. Dit was ná Phosa in ’n ope brief ’n beroep op pres. Zuma gedoen het om te bedank. Hy het Phosa onder meer daarvan beskuldig dat hy ’n verraaier is, en dat Phosa hom (Edward) wil laat jong osse inspan. Phosa het op sy beurt na Edward as ’n “grap” verwys. Phosa het destyds aan Times Live gesê: “I have said it once and I will say it again: Edward Zuma is a little piece of vomit and not worthy of any comment because he talks rubbish.”

Wat Duduzane betref, is die jongste storm iets van ’n heel ander aard. Klaarblyklik het die Nasionale Vervolgingsgesag besluit dat hy skotvry daarvan gaan afkom, nadat ’n landdros vroeër in ’n geregtelike ondersoek bevind het Duduzane moet teregstaan in verband met die dood van ’n vrou in ’n motorongeluk. Dit word in baie kringe aanvaar dat Duduzane se pa die Vervolgingsgesag regstreeks beheer deur die hoof, adv. Shaun Abrahams.

Nou word van Duduzane en twee van die Gupta-broers verwag om voor die parlementêre komitee vir openbare ondernemings te verskyn. Die ondersoek was bedoel om net na Transnet se verkrygingsprosedures te kyk, maar die komitee het in ’n hoogs ongewone stap self sy magte gebruik om die ondersoek na meer aspekte van staatskaping uit te brei. Duduzane en die Guptas is op aandrang van die DA by die oorspronklike lys getuies gevoeg. Die ondersoek begin op 1 Augustus, maar dis onseker wanneer Duduzane en die Guptas aan die beurt gaan kom.

Tree die Zuma-broers as verlengstukke van hul pa op, hetsy met sy goedkeuring of namens hom?

Dit laat nietemin die druk teen Zuma oplaai.

Wat seker is, is dat Jacob Zuma nie ’n goeie voorbeeld aan sy kinders stel nie. Verskeie klagtes van haatspraak en rassisme is al teen Zuma aanhangig gemaak.

Dit is egter nie net die twee seuns wat nou druk op hul pa plaas nie. Sy lojale ministers en ander ontplooides doen lustig mee, hetsy binne die staatskapingsverband, of daarbuite.

In die jongste onthulling blyk dit dat min. Fath Muthambi haar ma, ander familielede en vriende op ons, die belastingbetalerskoste, Kaapstad toe laat vlieg het om haar begrotingsrede by te woon. Dit het die belastingbetalers R300 000 gekos. Die DA eis nou dat sy dit uit haar eie sak terugbetaal.

Met al die onthullings om, en blapse deur min. Mosebenzi Zwane, raak dit ook al hoe meer ’n geval van wie sulke vriende het, wie het dan nog vyande ook nodig?

Intussen lê die komende mosie van wantroue vir Zuma en sy ondersteuners soos ’n klip in die maag voor. Al is daar geen gevaar dat Zuma die mosie nie gaan oorleef nie, hetsy met geheime of oop stemme, wag daar ’n verleentheid van die een of ander aard op Zuma. Daar gaan ANC-LP’s téén Zuma stem, weliswaar meer as die speaker ’n geheime stemming toelaat. Die speaker was lank een van Zuma se mees lojale ondersteuners, en het selfs haar kop erg vir hom uitgesteek. Maar dit is onseker presies hoe sy voel ná sy openlik aangedui het dat sy die volgende president wil word, maar Zuma inderdaad sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, as sy “opvolger” aangewys het.

Intussen kom daar nog liederlike getuienis teen Zuma uit in die dissiplinêre verhoor van diegene wat oor die toestaan van kontrakte met die bou van Nkandla teregstaan.

Voorts word die moeder van alle optogte teen Zuma op 7 Augustus in Kaapstad beplan met die oog op die mosie van wantroue die volgende dag.

’n Behoorlike “Hollywood” wag op ons, maar dis nie die mooi mense wat die aandag trek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael ·

Ek sien dit anders hy sê wat hy voel die waarheid is of dit vir ons stupid klink of nie hy is nie vreesbevange of probeer polities korrek wees nie dit is demokrasie in werking die media kan hieruit leer

Ronell ·

Wat kan ek sê, Mathews Phosa jy slaan die spyker op die kop met jou uitlating ……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.