Nuuskommentaar: Wayde bars deur die klank-/kwotagrens

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Dit sal onvergeeflik wees om Wayde van Niekerk se skitterprestasie by die Olimpiese Spele as argument in ’n politiekery oor sport te betrek. Wayde het as’t ware met hierdie goue prestasie so ver uitgestyg dat dit net in die konteks staan van wat dit verdien om in beoordeel te word, naamlik iets waarop hy self, sy afrigter, familie en ja, die hele land onverdeeld op trots kan wees. Ongelukkig gaan die meule van politieke inmenging in sport deur die regering waarskynlik kort voor lank ’n paar dowwe en verdelende kolle daar laat.

Wayde van Niekerk se wonderlike prestasie volg kort ná die regering deur Solidariteit by die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie verkla is, en die regering by dié geleentheid goed deur die VN-lede gebraai is. Kwotas, en ook sportkwotas, is van die aspekte wat erg onder die tonge van lede deurgeloop het. Die regering se reaksie was lomp en ’n verleentheid.

Die woordewisseling oor kwotas is onlangs ook weer aan die gang gesit toe Beeld se sportredakteur, Gert van der Westhuizen, in sy artikel Skeut van rassisme in kritiek, die onderwerp onder die loep geneem het. In wese gaan hy skynbaar van die standpunt uit dat alle swart en bruin sportlui wat verteenwoordigende spanne haal, kwotaspelers is. Iemand wat dan kritiek op van dié spelers uitspreek, is dan teen kwotas gekant. Hy gebruik veral Elton Jantjies as voorbeeld nadat hierdie Springbok ná die Leeus se verloorwedstryd in die eindstryd van die Superreeks nie sy gebruiklike briljante self was nie.

Om na bruin of swart spelers wat op meriete in ’n span is as kwotaspelers te verwys is nie net tegnies verkeerd nie, maar ’n belediging vir daardie spelers. Verskeie bruin en swart Proteas het by geleentheid beswaar gemaak dat hulle kwotaspelers genoem word, en is erg daaroor deur die regering verkwalik.

Trouens, in sy lang lys “kwotaspelers” noem Van der Westhuizen waarskynlik nie ’n enkele speler wat as kwotaspeler sou “kwalifiseer” nie.

Van der Westhuizen se stelling dat rassisme skuil agter kritiek op bruin en swart spelers is dus bog. Verskeie pro-kwota-kommentators het dit in soveel woorde gestel dat, as dit nie vir kwotas was nie, die bruin en swart spelers wat wél die hoogste sport bereik het nooit vir daardie spanne gekies sou gewees het nie. Dis aanmatigend en beledigend teenoor die keurders wat selde nog hoofsaaklik wit is.

Ja, daar is nog mense wat geen nie-wit speler in enige omstandigheid in ’n verteenwoordigende span wil hê nie, maar om darem AfriForum en sy veldtog teen kwotas hierby in te verf, is baie, baie dik vir ’n daalder.

Kallie Kriel, hoof- uitvoerende beampte van AfriForum, reageer dan ook in Beeld onder die opskrif, Kwotas brandmerk juis ons puik swart spelers. “Wat egter net so verkeerd is, is dat Van der Westhuizen probeer om diegene wat teen rassekwotas in sport gekant is as mense voor te hou wat dink swart sportlui verswak sport omdat hulle ‘nie so goed soos wit sportlui is nie’.”

Verskeie swart spelers het al helde van die Suid-Afrikaanse skares geword. Dink maar oor hoe die woord “Beast!” steeds opgaan as dié Springbokstut aan die bal vat. En die afgelope Saterdag is heel waarskynlik nog ’n swart stutheld gebore toe die Vrystaatse Ox Nche, die ore platgetrek het en oor 50 meter die hakskene vir die Blou Bulle se verdedigers gewys het – en boonop nog ’n barshou geskrum het.

Op die krieketveld, op die rugbyveld, op die atletiekbaan, as roeiers en as fietsryers, oral het die swart en bruin helde na vore begin kom. En hulle is hartlik deur die Suid-Afrikaanse sportgemeenskap ontvang en ondersteun.

Dit het saamgeval met die professionalisering van byna alle sportsoorte, wat saam met verskeie ander faktore ’n baie stremmende uitwerking gehad het op sport op laer vlakke. Verlede jaar het verskeie kenners na bedryfsreg- en provinsiale krieket verwys as van ’n laer standaard as klubkrieket voorheen. ’n Paar jaar gelede was klubrugby in so ’n gemors dat dit die koerante gehaal het toe Tukkies hul klubhuis se kroegman (toevallig swart) moes insluit om 15 spelers op die veld te kon kry.

Waar kwotas, amptelik of nie-amptelik, op nasionale vlak ingespan is, het dit dikwels geboemerang, en niemand bevoordeel nie. In 2008 het die huidige Protea-boulafrigter, Charl Langeveldt, die respek van baie afgedwing toe hy as vinnige bouler ten koste van die snelbouler, André Nel, in die Proteaspan ingesluit is, maar sy velkleur het hom dié “eer” te beurt laat val, en daarom het hy aan die span onttrek. Hy het dit duidelik gemaak dat hy graag die span wou haal, maar dat hy nie op grond van vorm met Nel kon meeding nie. Langeveldt het hom hiermee die gramskap van die politiek-behepte krieketbase op die hals gehaal.

Dit is gewoon ook dom om sportlui wat nié kwotaspelers is nie, kwotaspelers te gaan noem soos wat heelwat voorstanders van kwotas gereeld doen. Bykans alle internasionale sportkodes verbied rassisme in sport, en kwotas is ’n manifestasie hiervan. Hoekom nou die weerlig gaan trek as swart en bruin spelers sonder die hulp van kwotas hul stempel afgedruk kry?

’n Mens sal hard moet gaan soek na ’n motivering om Wayde van Niekerk ’n produk van kwotas te noem. Hy is alle regdenkende Suid-Afrikaners se held ná hy die wêreldrekord in die 400 m-item verpletter het sonder dat hy ’n oomblik gekwota was.

En hy was nie al een nie.

Dit was talent, goeie afrigting en harde, harde werk wat Wayde los bo die land se politiek en rassedinamika laat uitstyg het.

Miskien breek die dag binnekort aan dat, wanneer die president weer Suid-Afrikaners vir prestasies vereer en ’n swart ontvanger se ras word bygesleep, daardie ontvanger protokol na die maan stuur en dit duidelik maak hy presteer nie as swart Suid-Afrikaner nie maar as Suid-Afrikaner.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Stem saam ·

Stem absoluut saam, die onsmaaklikheid kwota mag nie op sulke uitstekende prestasie se vreugde kom le nie. Dit is n woord en stelling wat soos apartheid totaal verban moet word! Hierdie land se atlete, rugbyspelers en alle sportlui ongeag van kleur of geur doen hierdie sport omdat dit in hul wese is en daardie wese is 100% dieselfde in elke mens op die aarde, so politikus gaan soek iets anders om jou selfopgeboude frustrasie op uit te haal. Los harde werkers in sport uit, hul werk daarvoor, meer as wat jul kan se!

Jeanne ·

Ai die man is so ‘n waardige wenner, hoekom moet RAS nou altyd ‘n rol speel en altyd oral ingebring word. Hy is ‘n puik atleet, baie nederige man en ‘n WERELDrekordhouer …. gee hom die eer en los maar die rassekwotas en ander politiek. Politiek hoort eintlik NERENS in sport nie, maar in SA lyk dit asof die politici die sport beheer.

pieter ·

AL DIE WITTES WAT EK MEE GEPRAAT HET PRYS DIE ATLEET.HET NERRENS VAN SY KLEUR GEPRAAT NIE.EK HOOP DIE MEDIA EN ANC LOS KLEUR.

Nita ·

Indien nie genoeg swart deelnemers aan sport, deurkom na nasionale spanne nie, blameer hulle skole en lui onderwysers. Kyk maar watter skole se onderwysers spandeer hulle middae en naweke en gedeeltes van hul skoolvakansies om die beste voort te bring uit die talent wat leerders van ENIGE KLEUR mag he. Ek het nog nooit n onderwyser teegekom wat n kind uit n span wegwys op grond van kleur nie. Maar ongeag van kleur, die Beste speler word gekies want ons wil wen!

Mariette Hammann ·

ALMAL in Suid-Afrika is baie trots op Wayde. Hy het aan almal bewys hy is daar op grond van meriete. Om kwotas in sport in te bring, is ‘n vernedering vir alle rasse.

johann ·

Die eerste keer toe ek hoor dat Wayde gewen het, was ek so trots. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd regtig trots. Ek het nie om gegee oor watter ras hy is nie. Toe kom die stories nou weer uit oor ras. Verskeie media berigte het skielik die hele ding nou oor ras gemaak. Dis toe mos nou dat ek sommer naar geword het oor die hele storie. Hoekom? Genade mense, dis nou al 2016. Get the h3ll over it! Gaan Suid Afrikaners (en ek praat van elke een) ooit oor dit kan kom?
Ongelukkig word die hele storie van ras elke dag op gebring in sport veral deur die ANC regering. Ons moet elke dag van kwotas hoor. Dis om van naar te word. Wat die mense nie besef nie is dat hulle veroorsaak dat mense belangstelling verloor in sport.
Die mense is keelvol om elke dag te hoor van kwotas. Die mense is moeg daarvan om te hoor dat wanneer een swart speler van ‘n span goed doen, word hy uitgesonder. Daar word nie gese dat die hele span goed gedoen het nie.
En ongelukkig, omdat die ANC die kwotas wil afdwing, beskou die publiek nie meer die spelers as goed nie. Die spelers word verkies om basis van ras.
New Zealand het al klaar gese dat hulle sal nie teen Suid Afrika in sport deel neem nie as gevolg van die kwota stelsel nie.

Theuns ·

Dit is hoe dit is! Briljante ontmaskering van Ene Gert van der Westhuizen se verskuilde agenda sonder dat daar vir hom gese hoef te word” Skoert man jy praat twak!” Wat Wade van Niekerk aanbetref is hy ‘n held. Gray Kollege kan voorwaar trots wees op die man! Dit is mos wat die VN vir Jefreys aanbeveel het om liewer by skole te begin en Regstellende aksie en Kwotas te los. Wayde is daar op meriete tenspyte van die ANC of sport minister Mabalula!

Hehehe ·

Hi Theuns ek moet met ‘n smile byvoeg en dan sal die geagte Minister die eerste een diekant wees wat vir ‘n selfie met Wayde wil pose!!!! Wayde onthou jy is daar deur jou harde werk – selfie net saam met jou familie en afrigter, medici, dit is wie jou ondersteun het om jou as mens se potensiaal te bereik.

DEE ·

Kan ons almal asb net nog n rukkie in die lekker van sy oorwinning le en bak? Sonder apartheidstories. Sonder ras. Geniet net hierdie vreugde!. Suid Afrikaner. Vrystater. Bloemfonteiner. Ons eie. Lekker!!

Stem saam ·

Stem saam Dee, net lekker geniet en saam met hierdie ongelooflike nederige jong man sy vrug op sy arbeid geniet. Hy het ongelooflik goed gedoen nie net vir homself nie, maar vir elkeen van die land.

Pieter ·

Net toe ek die jongman se prestasie my eie wil maak kom Carmen Williams met haar skeut rassisme op News24 na vore. Nou weer op Maroela. Ag tog kan ons nie maar sulke gedagtes agtertoe skuif en net op die prestasie konsentreer nie. Moet Maroela nou op dieselfde raswa as die ANC klim. Williams het my klaar laat besluit “Wie is Wayde van Niekerk”. Nog nooit van hom gehoor nie.

Johannes Meintjes ·

Intussen, – in die ingeplofde SA ekonomie is mens dankbaar vir die enekele blanke kwotaspelers wie dit nog steeds en vertsommend regkry om die groter wiele van die SA ekonomie net-net aan die draai te hou. Maar … vir hoe lank nog?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.