Nuuskommentaar: ‘We want Pik!’

Pik Botha was van 1 April 1977 tot 27 April 1994 die land se minister van buitelandse sake.

Sedert die onlangse afsterwe van oudmin. Pik Botha is hierdie kleurryke en omstrede figuur se lewe omtrént omgedolwe. Die doel van hierdie studie is egter nie om nog ’n faset te probeer ontleed of belig nie, maar om ’n aspek van die demokrasie onder die loep te neem wat nou skynbaar al hoe meer in die soeklig geplaas word, naamlik onregstreekse verkiesing.

In sowel die ou as nuwe bedeling in Suid-Afrika kon kiesers nie die president regstreeks verkies nie.

So het dit gekom dat, terwyl die Nasionale Party se koukus in 1978 in die parlement byeen was om ’n opvolger vir adv. BJ Vorster as eerste minister te kies, ’n skare buite saamgetrek het wat gedreunsing het: “We want Pik! We want Pik!” Mnr. PW Botha is egter verkies.

Die vraag of Pik wel verkies sou wees as daar ’n presidentsverkiesing was, is van akademiese belang. Maar is dit werklik demokrasie as opposisieleiers in die praktyk nie eens in aanmerking kom om verkies te word nie?

Die vraag of mnr. Cyril Ramaphosa ook tot president van Suid-Afrika verkies sou word as die land, soos byvoorbeeld Zimbabwe, ’n presidentsverkiesing sou hê, is ook van akademiese belang.

Presidentsverkiesings skakel, soos in die VSA, nie noodwendig omstredenheid uit nie. Danksy die stelsel van kieskolleges het Donald Trump in 2017 die septer oor sy teenstander, Hillary Clinton, geswaai al het sy 2,86 miljoen meer stemme as hy getrek. In ’n nuwe Rasmussenpeiling is bevind dat 46% van die kiesers van die stelsel van kieskolleges ontslae wil raak, en net 41% dit wil behou.

Selfs waar leemtes met die kiesstelsel skynbaar nie bestaan nie, waarborg dit nie dat die kiesers noodwendig hul sin sou kry nie. Die belangrikste probleem wat oorkom moet word, is die gevaar dat ’n demokratiese verkiesing nie lei tot die totstandkoming van ’n diktatuur van die meerderheid nie. Die doel van ’n goeie demokratiese regering is immers om in algemene belang te regeer.

Jacob Zuma, hier nog president, stem op 3 Augustus 2016 by Ntolwane Primary School in Nkandla, KwaZulu-Natal (Foto: Presidensie)

Oudpres. Jacob Zuma was ’n sprekende voorbeeld van iemand wat nie die verskil tussen ’n diktatuur van die meerderheid en ’n demokrasie wat in algemene belang regeer, verstaan het nie, en hy was dikwels uitgesproke daaroor. Gelukkig het die grondwetlike demokrasie hom aan bande gelê – iets waaroor hy ook gereeld sy mond uitgespoel het.

Die beginsel dat regters, oftewel die howe, die reg/grondwetlike verpligting het om magsvergrype deur die meerderheid aan bande te lê, word ’n kritargie of kritokrasie genoem. Daar is egter ook ’n beweging wat meen die mag wat (onverkose) regters oor die (verkose) parlemente het, moet mee weggedoen word. ’n Mens ys egter by die gedagte sou dit die geval gewees het tydens die Zuptakrasie waaronder Suid-Afrika gebuk gegaan het.

Leemtes in die kies- of regeerstelsels lei weer tot die ontstaan van alternatiewe of aanvullende stelsels. In die VSA het die FBI onlangs ’n man aangekeer wat ’n ploftoestel vervaardig het. Hiermee wou die man hom op die dag wat die midtermyn-verkiesings plaasvind (6 November) die ewigheid inblaas om die aandag te vestig op so ’n alternatiewe kiesstelsel, bekend as ’n lottokrasie. (Dit is nie bekend of die man ander ongevalle as net hyself beoog het nie.)

In 2014 het ’n Rasmussenpeiling bevind die meerderheid Amerikaanse kiesers meen mense wie se name lukraak uit die telefoongids geneem word, sal beter as kongreslede vaar as die verkose verteenwoordigers. In Nederland was die meerderheid kiesers die mening toegedaan dat die naaste posman op die hoek ook tot beter as die verkose verteenwoordigers in staat is. Dieselfde jaar het ’n RGN-peiling egter ook getoon dat 43% van Suid-Afrikaanse kiesers meen ’n verkiesing is betekenisloos omdat politici nie vertrou kan word nie. (ʼn 2014-uiteensetting op Maroela Media kan hier gelees word.)

Winston Churchill sou in sy reaksie op die doeltreffendheid van demokrasie gesê het: “Democracy is the worst form of government, except for all those others that have been tried.”

’n Ou waarheid in die politiek lui dat in ’n demokrasie die volk ’n regering kry wat hy verdien. In ’n heterogene land is dit ongelukkig nie so eenvoudig nie, en is minderheidsgroepe soos die Afrikaner nou met ’n katastrofale bewind soos dié van die ANC opgesaal. Ook dit lei tot improvisasie soos die opkoms van sterk burgerlike instellings soos die Solidariteit Beweging, terwyl mediavryheid ’n noodsaaklike kleinood is wat tot elke prys gekoester en uitgebou moet word.

Die tegnokrasie om leemtes te vul moet ontwikkel en uitgebou word.

Die demokrasie behels veel meer as om net “We want Pik” te dreunsing. En stemreg behels in die eerste plek om te stem VIR iets wat ’n mens wil hê, nie om bloot TEEN iets te stem wat ’n mens nie wil hê nie, veral nie waar koalisies klaarblyklik aan die orde van die dag gaan wees nie.

Maar wat is dit wat ons wil hê? Dalk iets soos ’n Afrikaner-tegnokrasie waar nie net die leemtes in die huidige politieke landskap aangeraak word nie, maar ook gebou word aan dit wat die Afrikaner en ander minderheidsgroepe graag wil hê en op geregtig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Seker op Ramaphosa ook. Kan nie net een lid van die ANC uitsonder nie. Maar dan weer, die kommentators neig dikwels om Gordhan ook uit te sonder, nieteensaande sy politieke verbintenis.

Skyn ·

Hoekom was Pik op sy dag so gewild onder sy kieser-korps, maar nie onder sy kollega’s nie? Het dit iets te doen met hoe hy deur die pers voorgehou is, hoe hy op televisie opgehemel is, of was hy bloot ‘n goeie spreker. Het sy kollega’s hom as bedreiging ervaar, of het hulle bloot nie van sy standpunt gehou nie.
Die gene wat nou nie meer so baie beiindruk is met hom nie se mening is waarskynlik beiinvloed deur al boeke en kommentare oor die Bosoorlog en sy beweerde inmenging daarmee.
Baie vrae, sien uit na Dr.Mulder se boek.

Eish ·

Goeie artikel baie dankie.
Ek dink tog die laaste paragraaf van die skrywe verwoord baie duidelik ons as minderheidsgroep se strewe.
Verseker wil ek nie weer onder die vorige bedeling staan waar my lidmaatskap van die Broederbond my toekoms bepaal of waar die NG Kerk die NP in gebed is nie en aan my voorskryf wat reg en verkeerd is nie.
Wat wel duidelik is na die afgelope kwarteeu van demokrasie, is dat integrasie n pypdroom is en in totaliteit onhaalbaar.
Slegs op ons knieë gaan ons oorleef, want menslik gesproke is ons as minderheid se kans op n menswaardige voortbestaan in die uiters vyandige omgewing op alle vlakke van die samelewing, bitter skraal.

Sakkie ·

Die engelse term ‘clickbait’ het verwysing. Die skrywer gebruik die onlangse, nuuswaardige afsterwe van Pik Botha, om mens in te lok om n artikel wat geensins daarmee verband hou te lees. Swak styl, ala netwerk24.

JAN ·

Skynbaar is die sensuur op die Vrymesselaars deur die NGK opgehef aangesien Grootmeester Botha vanuit die NGK begrawe gaan word .
Nou nog net die Gelofte heilig dan sal die son weer skyn in die duister van die kultus tempel.
Soos met die Voortrekker Monument.

Marthinus Willemse ·

Pik was net `n mens, met menslike gebreke. Hy was `n harde en bekwame werker, maar, en dis waar die hond begrawe lê: Pik het nie “networking” met sy kollegas gedoen nie, wat beteken dat hy in die koukus nie veel stemme gedra het nie. En dis die koukus wat bepalend was.

In die fliek Groen Faktor, speel die altyd bekwame Cobus Rossouw `n politikus, wat vir sy teenstaander sê: Party is gemaak om die volk te lei, ander is gemaak om die land te lei. Pik was goed op die verhoog, as “actor”, maar sou nie die land of die volk goed kon lei nie, en ek dink hy het dit geweet. Ons almal het al skinderstories oor hom gehoor, maar Pik het hom in koerantonderhoude nooit aan hipokritiese gedrag skuldig gemaak nie.

JAN ·

Iets van oorlede Pik se operasionele strategie is die feit dat hy absoluut vasbeslote en in staat was om ‘n burgeroorlog te veroorsaak. Sy operasionele afpersing en intimidasie was volkome suksesvol.
Reg of verkeerd hmm?

Jannie ·

Gooi hom toe en laat ons ASB nou die einde sien van hierdie skarmunkel!!! Nou genoeg van hom!!!

Cornelia ·

Dankie dat u die politieke spektrum met uitstekende argumente toelig. Elke stem is vir of teen ‘n bestuurstyl waar ‘n gekose regering homself uitdruk en laat geld in ‘n koers wat die breë sukses van ‘n land se lewenskragtigheid op elke gebied gaan stimuleer of reduseer tot die aftakeling van strukture wat die bekwaamheid van elke landsburger tot die maksimum te ontgin. Demokrasie kan suksesvol wees as daar ‘n objektiewe wil bestaan om ‘n volk te dien met goeie beplanning en oorlegpleging rakende so ‘n gemeenskaplike leefruimte en leefdoelwitte. Ek lees u opsomming en verstaan die strekking van u skrywe. Waar woorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.