Nuuskommentaar: Weer kwotaseisoen

Argieffoto

Argieffoto

Gister het ’n gebore Suid-Afrikaner die wenlopies vir Nieu-Seeland teen die Proteas gemoker, en die Suid-Afrikaners uit die Wêreldbekertoernooi geboender. Grant Elliot het ook die hoogste telling van die wedstryd aangeteken.

Suid-Afrikaners wat vir ander lande op die sportveld deelneem is nie ’n vreemde verskynsel nie. Reeds in die ou bedeling het Suid-Afrikaners al diep spore in Engelse krieket- en rugbytoetspanne getrap.

Die huidige verskynsel is gewoonlik deel van ’n globale beskikbaarheid van spelers in beroepsporte. Dit is nie net Suid-Afrikaners wat vir ander lande blink nie – in rugby is spelers van die Stille Oseaan se eilande gewild en selfs in Amerikaanse voetbal “oorverteenwoordig”.

Volgens die Nieu-Seelandse pers het Elliot hom vir die Kiwi’s beskikbaar gestel omdat hy in Suid-Afrika weens kwotas van die wa afgeval het.

Die meeste internasionale sportkodes, soos vir sokker, rugby en krieket, die sportsoorte wat onder die Internasionale Olimpiese Komitee val, verbied politieke inmenging in sport en ook enige sweem van rassisme. Onlangs moes ’n Moskouse sokkerklub as straf ’n paar wedstryde sonder toeskouers speel weens rassistiese optredes van sy toeskouer-ondersteuners.

Veral Fifa tree streng op teen politieke inmenging en verskeie lidlande was al hieroor geskors. Selfs Brasilië moes al ’n knieval doen om nie geskors te word nie.

Kom dit egter by Suid-Afrika is die jaarlikse aantree van sportkodes voor die parlementêre portefeuljekomitee vir sport ’n openlike en blatante vergryp teen dié kodes se internasionale bepalings. Daar word skaamteloos op kwotas aangedring. Verduidelikings val op dowe ore, en meestal doen die sportkodes bloot ’n gedienstige knieval – al is dit tot die sportsoorte se mededingende nadeel.

Terwyl die land nog bloei oor Suid-Afrika so net-net uit die Wêreldbekerkriekettoernooi geboender is, moes die politici skaamteloos politiekery maak van spanne se vermoë om te wen en te presteer. Min dinge kan ’n land so saamsnoer soos ’n span wat wen en glorie vir die land bring.

Op skolevlak en selfs ander vlakke word die raskwotas maklik gehaal, en heel dikwels op meriete. Daar is al intensief navorsing gedoen oor hoekom daar op die hoër, senior vlakke ’n uitvalkoers is. Die redes is kompleks, waar onder die ontwrigtende ervaring om uit die groter gesinsverband ter wille van beroepsport na ’n vreemde omgewing te verhuis. So ’n probleem word nie met kwotas reggestel nie. Die oplossings is meer kompleks.

Voorts staan die regering en sy tentakels agter die deur. Terwyl sokker geen probleem het om genoeg spelers van kleur te verkry nie (trouens, wit mense word al verkwalik omdat hulle nie genoeg belangstelling toon in hierdie “swart sport” nie), word sokker op groot skaal op die SAUK se oop TV-kanale uitgesaai.

Sportsoorte wat onder swart kykers moet groei, word maar stief behandel wat die oop kanale betref. Dit bly dus vir die meer behoeftige en agtergeblewe hinterland sportsoorte wat moeilik bemark kan word.

Die aanlê van geriewe wat vir rugby en krieket op skoolvlak benut kan word, is onder armer skole so skaars soos hoendertande. Vir sokker word bloot ‘n stuk grond skoongeskraap en twee doelhokke gemaak, en daar word verwoed sokker gespeel. Dis nie ideaal nie, want in sokker maak spelers ook maar hard met Moeder Aarde kennis.

Vir rugby en krieket word velde vereis wat ’n behoorlike grasbedekking het, en die aanlê en onderhoud is duur.

Dieselfde geld ander sportsoorte, soos atletiek, waar langer afstande makliker met beperkte geriewe afgerig kan word as tegniese items soos verspring, paalspring en hoogspring.

Swart en bruin spelers wat sukses behaal het, het hulle al, tot die ontsteltenis van politici, daarteen uitgespreek dat hulle kwotaspelers genoem word. Hulle voel hulle het sukses op meriete behaal.

Dan is daar nog die kwessie oor wie swart is, en wie swart genoeg is. Die president van SARU, Oregon Hoskins, is ’n bruin man wat na homself as swart verwys. Vir die portefeuljekomitee was dit nie goed genoeg nie en is gekla oor die “wit gesigte” wat hul opwagting voor die komitee gemaak het. Om misverstande uit die weg te ruim het die politici al so ver gegaan – veral in krieket – om na ’n kwota van “etniese swart” spelers te verwys. Bruin mense is hiervan uitgesluit.

Vir groter rugbyspanne wat die ontwikkeling van swart spelers in hul eie omgewing afskeep, en elke jaar bloot bruin spelers in kleiner unies soos SWD en Boland gaan aankoop om hul “kwotas” te bereik, gaan die pendulum swaai.

Die feit is dat die politici van die ANC en verskeie ander partye ’n rasbeheptheid openbaar wat dikwels die grens van rassisme oorsteek. In plaas van die verenigende faktor te wees wat dit kan wees, word sport ’n polariserende saak. Van sportmangees bly min oor. Dikwels word daar gewonder of ’n speler werklik die beste in sy posisie is, en of hy daar is om ’n kwota vol te maak.

Verskeie wit spelers moes al in ander posisies versool word – veral vleuels wat na senter moes verskuif om kwotarugby se impak te verminder.

Maar daar is uitstekende bruin en swart spelers wat ’n aanwins vir die sport is, wat dikwels dubbel so hard moet werk om die ondersteuners te oortuig hulle is op meriete daar, en nie om die kwota vol te maak nie.

Keer net dat die politici nie die keurders word nie, maar eerder hul werk doen soos om sportgeriewe te help ontwikkel, en die bemarking toeganklik te maak daar waar dit nodig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bernard ·

Ek gaan ook nou vir swartpette en all blacks ondersteun weens politiek en kwotas inmening. Dit gaan oor prestasies en meriete. Nie oor velkleur nie!

Peet Schabort ·

Stem saam met julle. Een van die dae speel die All Blacks teen die All Blacks. Die een met ‘n silwervaring-en die ander met ‘n kleipot op die trui. Oregon moet nou ook die wit gesigte begin tel by die hekke van die stadions om hier ook net ‘n sekere hoeveelheid wittes toe te laat. Ek kan net nie verstaan dat daar nie ‘n boikot toegepas word van die toeskouer se kant in ALLE sportsoorte wat op hierdie manier benadeel word.

Eish! ·

Wel nou sal ek openlik en sonder skuldgevoel vir die All-Blacks skree. Die springbokke is te bleek na my sin.

Wel as SA so graag wil verloor moet hul netnie soveel moeite doen nie. Hoekom oefen en spelers betaal as ons almal weet hul gaan verloor omdat die beste nie daar is nie.

Pieter ·

Dis vir my verstommend dat daar geen kwotas in sokker is nie, Sekerlik moet daar ten minste 2 wit spelers in die Bafana span wees. Maar niemand kla daaroor nie.

chris ·

As julle wat wit is puik sportsterre as kinderes het stuur hulle so gou as moontlok oorsee.Dit is daar waar hulle sal uitblink.Hierdie was ‘n harde klap in die reenboogland se gesig!!
Puik!

david ras ·

Tydens die apartheidsjare was die volgende kennisgewing baie maal sigbaar (in Engels)–
“reserved for whites only” m.a.w. Wit Apartheid
Nou word daar onder die ANC se rasse kwotas vereis dat ‘n sekere hoeveelheid plekke in bv
‘n rugbyspan gereserveer word vir gekleurde spelers , en dan die verdere bepaling dat soveel moet SWART etniese spelers wees.
Dus is dit nou “reserved for blacks only”.. m.a.w. Swart Apartheid.
Kom ons gaan terug na die geboorteland van die benaming Affirmative Action–die VSA’
Daar is GEEN bepaling in enige sport dat daar ‘n getal spelers van enige kleur in ‘n span moet wees nie. Trouens die VSA se basketbal span in seker die laaste 7 olimpiades het gewissel tussen 95% swart na heeltemal swart. Dood eenvoudig omdat hulle die beste in daardie sport vaar !
Daar was eens ‘n baie beroemde boksafrigter wat die volgende gese het: “daar is net een suksesvolle bokser, en dit is ‘n honger bokser—-honger vir sukses” Ek meen dit was Angelo Dundee, die afrigter van Muhammed Ali.
Die punt is eenvoudig–los die spelers uit ! As ‘n man werklik bo wil uitkom, sal hy daar uitkom. Hy het wragtie nie ‘n politkus of ‘n politieke sport beampte nodig nie !
‘n Klompie maande gelede het Afriforum met ‘n groot fanfare aangekondig dat hulle SARU by die IRB gaan aankla oor rassisme dmv van Kwotas. Daar het tot dusver dadels van gekom, en ek twyfel of daar enigiets gaan gebeur, want sien die Wereld beker kom mos !
Moenie nou die bootjie kantel nie–kom ons speel eers …..
Intussen gaan die rassisme volstoom voort, soos gister in die parlement gebeur het.
Ek wag , die hele land wag, vir iemand om iets daadwerklik te doen, want sien wit apartheid is vervang deur swart apartheid—“Two wrongs DOES make a right ” of hoe ?

Gerhard Bezuidenhout ·

Dit is n belediging vir rugby . Ek wonder of dink die kaders dat rugbyliefhebbers na die getjommel van regstellende aksie spelers gaan kyk. SARU gaan dit met hekgelde voel en die TV advertensies gaan opdroog. Ek gaan beslis vir n rubbyspan wat op meriete gekies is skree al is dit dan n oorsese span .

Gordon Yeo ·

As toeskouer sal ek nou alle wedstryde boikot deur om nie te kyk of by te woon nie, die manne wat die kwotas wil afdwing moet geleer word waar hulle salarese vandaan kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.