Nuuskommentaar: Wees positief – makliker gesê as gedaan, maar dit moet

vlag suid-afrika

Argieffoto

Kort voor die Wêreldbeker‑sokkereindtoernooi in Suid-Afrika het talle invloedryke mense hul bes gedoen om die land met optimisme te vul. “Die land het ’n slag goeie nuus nodig,” het ’n bekende aktualiteitsaanbieder van die SAUK by geleentheid geskryf aan ’n analis wat bekommerd was dat die Suid-Afrikaanse werklikheid aan die wêreld se nuusfokus vir die land enorme skade sou kon berokken.

Die enorme euforie wat aangeblaas is, het inderdaad ook tot ’n redelike erge aanval van post-euforiese trauma gelei toe die negatiewe weer die prominensie-podium bestyg het.

Met nuus soos staatskaping en verwante aangeleenthede wat daarna in prominensie toegeneem het, het die donker wolk gegroei en die silwer randjie al dunner geword. Die “optimiste” se respons van die kop in die dop terugtrek, ontkenning en fopnuus het ook geleidelik die druk in die drukkoker laat opbou.  Die negatiewe sake en gepaardgaande woordeskat soos in opskrifte uitgebasuin, het so toegeneem dat dit al tegnies moontlik is om ’n “gedig” te skryf wat omtrent nét uit hierdie negatiewe woorde bestaan: 

Die lied van die nuwe Suid-Afrika
Rommelstatus, brandstigting, beurtkrag en Zuma
Misbruik, plaasaanvalle en plaasmoorde bring trauma,
staatskaping kleptokrasie en nog kinders vermoor
en die einde van intimidasie en fopnuus is nog nie gehoor.

Die droogte, misdaad, bedrog en beroerde ekonomie
Die wêreld se verkragtinghoofsetel, ʼn ware kakistokrasie
Malema, die BLF, gewelddadige betogings, oproer
Arbeidsonrus, Vandalisme, e-tol, haat die boer…

Rassehaat, vergrype, trauma, stakings, slaggate,
rioolriviere en besoedeling is in dié land ʼn bate
geen dienslewering, brandende buitebande.
rubberkoeëls, traangas, versperring, lemmetjiesdraad
knuppels, Casspirs, grondgryp is die nuwe daeraad
Haatspraak, leuens, kluitjies en pap in die sand
maak ons vreemdelinge in eie land.

Suid-Afrikaners is hoofsaaklik Christene, maar hoe reageer Christene op hierdie werklikhede? Die rubriekskrywer, Chris Burgess se jongste opskrif lui: “Ken jy ’n suksesvolle pessimis?”

Nog ’n rubriekskrywer, Tim du Plessis, het pas geskryf dat Suid-Afrikaners moet begin besin oor die post-ANC-tyd. Hy verwys na die vroeëre uitdrukking oor Suid-Afrikaners wat gereeld versugtend verwys het na postapartheid Suid-Afrika.

Die bekende Habakuk 17 stel die ideale voorbeeld soos volg wanneer dinge werklik nie positiwiteit uitstraal nie:

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Dit is ook as gesang in die liedboek opgeneem, en heel gepas het dit een van die mooiste melodieë.

Dis egter nie so maklik om vir iemand wat steier onder die gevolge van ’n werklikheid wat verdien om negatief opgeneem te word, bloot te sê hy moet positief wees nie.

Daar is op 28 Februarie ’n lesersbrief op Maroela Media geplaas, geskryf deur die Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes se leraar en berader, dr. Johan Nel, wat deur die NG Kerk aangestel is om na die trauma om te sien van boere in die Bultfontein-omgewing wat besonder erg deur die droogte en ander omstandighede getref is. Ja, daar is ook positiewe lesse te neem, maar dit kom nie sonder inspanning nie.

Om terug te keer na Tim du Plessis se skrywe. Die uwe het destyds self ex officio ’n konferensie in Port Elizabeth bygewoon waar spreker op spreker na die nuwe Suid-Afrika (toe nog ietwat meer van ’n droom as ’n werklikheid) verwys het, en elke verwysing daarna gevolg is deur die woorde “waarna ons almal so uitsien”.

Twee van die sprekers by dié geleentheid, prof. Johan Heyns en ’n lid van die bekende Oos-Kaapse Jack-familie wat goed in radikale kringe bekend was, is kort hierna onder vreemde omstandighede vermoor.

Seker een van die mees destruktiewe “metodes” om ’n krisis op die rotse te laat beland is wanneer ’n sielkundige / terapeut lomp vir ’n pasiënt in nood vra: “En wat gaan jy daaraan doen?” wanneer daardie pasiënt eintlik geen ander “uitweg” sien as om tot selfmoord (of in ekstreme gevalle tot moord, of gesinsmoorde wat die pleger self insluit) oor te gaan nie. Tog maak hierdie vraag een van die hoekstene van talle terapie-benaderings uit. Dit verg egter baie voorbereidende terapie en kundigheid voor die vraag gevra kan word.

Die ideaal is om die omstandighede te verander sodat die kneusende elemente nie meer teenwoordig is nie, maar as verskillende groepe verskillende persepsie oor die werklikheid het – soos oor die geskiedenis van grondbesit, is dit baie moeilik.

Oor presies ’n maand ruk Suid-Afrikaners op na die stembus en kry hulle kans om die werklikheid te verander. Volgens sommige beramings het baie, sowat 10 miljoen, stemgeregtigdes nie eens as kiesers geregistreer nie, blykbaar veral jong mense. Baie het skynbaar moed opgegee.

’n Grondwetlike demokrasie bestaan egter uit veel meer as net stemreg. ’n Vrye pers, burgerlike organisasies, grondwetlik verskanste regte, ’n kundige en werklik onafhanklike regspraak en ’n regering wat in algemene belang regeer, maak alles deel hiervan uit.

Sluit aan, of ondersteun minstens burgerlike organisasies soos AfriForum of Freedom Under Law, Outa of ’n verskeidenheid ander. Verdedig mediavryheid, sodat sake reggeruk kan word soos nou blyk uit die mediadekking wat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, trek.

Bou brûe eerder as om ’n sloper te wees.

Span Godgegewe talente in. Lees gerus die nuuskommentaar hieroor hier op Maroela Media.

Moenie bloot sit en bekommer nie – steek die hande uit die mou, want wie kan nou een el by sy lengte voeg deur hom te bekommer?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Judge Dredd ·

Optimisme/kommunisme/sosialisme/liberalisme – is alles stelsels wat vereis dat gelieg moet word oor die werklikhede van die dag.

Andreas ·

100% reg Herman, maar dan is ook die volgende ons tier. Baie mense is ge-SEB, self ons staatspresident, dis hoekom hulle geen kundigheid het om oplossings vir die bedryf en land te kan bied nie, hulle het nie deur die stelsel gekom nie. Ek het idee hulle het ook nie bestuursvaardighede nie. Dit is die kruks van die storie.

Enigiemand wat nie deur die stelsel van ‘n onderneming gekom het nie, of dit nou landbou, bedryf of industrie is, het n groot agterstand om oplossings vir die probleme van daardie bedryf te vind, hulle verstaan net eenvoudig nie die werking nie, nog minder die remedie.

Kom ek spel dit verder so uit, juis omdat mense ge-SEB is, is hulle daarvan ontneem dat hulle vaardighede ontwikkel om probleme en oplossings betreffende daardie bedryf die hoof te kan bied, daardie mense het nie die pad geloop om die uitdagings van die bedryf te verstaan nie.

Dit is in effek nie SEB nie, dit is SEO = Swart Ekonomiese ONTmagtiging, dit wat die resultaat nou al vir oor die 20 jaar is, die ANC se ekonomiese beleid het hulle versaak en ontmagtig. Voorbeelde hiervan is Eskom en die ander entiteite, gesondheid, die onderwysstelsel, hordes private ondernemings, in effek is die hele ekonomie hieraan blootgestel.

Herman Toerien ·

Baie dankie Andres. Die lewe is nie regverdig nie. Ek self het buite beurt bevorderbaar in ‘n bevorderingspos waargeneem. Dis na twee jaar (1994) oplaas geadverteer, en ek is nie vir ‘n onderhoud genooi nie. Die suksesvolle aansoeker was blank, manlik, Afrikaans en ‘n klerk in die voertuigpeol, was adjunkdirekteur in die dept Ekoniomie geword het (cmde Eisj se departement wat na ‘n rukkie onbind is. Die suksesvolle kandidaat was bestuurslid vd ANC, en kort daarna parlementslid. Ek het met ‘n bloedjong gesin onder die slegste moontl;ike omstandighede op pensioen beland, en my gestremde kind kon nie al die terapie kry wat hy nodig gehad het nie. Ek kon “sulk” en vergaan, of weer op my voete probeer kom. Mense moenie hul potensiaal vergiftig as daar nog die kans op ‘n kans is nie, maar intussen iets probeer doen om dit vir ander te probeer voorkom.

Deon ·

Heeltemal reg, Andreas. Die sukses van politici word bepaal deur regeringsbeleid en die gehalte van hul ampenare. Sonder kundigheid op senior, middel en junior vlakke is politici gedoem tot mislukking, presies wat gebeur het by SOEs en op al drie owerheidsvlakke. Ervare amptenare is uitgewerk en vervang met onkundiges. In die vorige bedeling was daar van tyd tot tyd ook beroepspolitici wat swak bestuurders was, maar hulle kon steun op kundige amptenare wat politici kon adviseur. ‘n Verdere probleem in SA is die onvermoë van politici om politieke leiding te verskaf, wat vererger word deur gebrekkige regeringsbeleid. Politici raak nou betrokke by dag-tot-dag bestuur om te kompiseer vir amptenare se swak prestasies, wat lei tot groter probleme. My vrees is dat dieselfde tendens begin nou kop uitsteek in die privaatsektor.

Johannes ·

Herman, dankie altyd vir jou objektiewe kommentaar. Dit moet lees Habakuk 3:17 en verdere verse.

Andreas ·

So nog iets om aan te kou. Ons soek van tyd tot tyd naarstiglik na die Kruger-miljoene, maar intussen was die Gaddafi-miljoene vir ‘n tyd op Nkandla geberg en is intussen na Swaziland verskuif.

Johannes ·

Dankie Herman vir jou objektiewe kommentaar altyd. Net ‘n regstelling, dit moet lees Habakuk 3:17 en verdere verse.

Heinrich ·

‘n Realis is eintlik maar ‘n optimis wat die werklikheid gesnap het. Ongelukkig word stellings ‘Die ANC bestuur die land in die grond in’ ensovoorts nog steeds as pessimisme en nie realisme gesien nie. In die ou testament is veelvoudige voorbeelde van God se volk wat Hom verlaat het vir afgode, en dan is hulle of aangeval en ingeneem of weggevoer na ‘n ander land. Alhoewel baie mense in Suid-Afrika aanvoer dat hulle Christene is, hoeveel is lou-warm of koud en doen nie wat van hulle in die Bybel verwag word nie? Ons moet tog die mandela-god laat staan en terug keer na die ware God; daar word veel meer ophef gemaak van Mandela (Mandela dag) as van Hemelvaartsdag.

Drikus Kotze ·

Ten eerste. Almal dink hulle is Christene, net God weet wie werdlik sy kinders is. Ek persoonlik, sien nie die meerderheid van burgers in die land as Christene nie. Hul ideologieë pas nie by kinders van God deur Christus nie. Ten tweede “…en kry hulle die kans om die werdlikheid te verander…” Vir baie is die huidige werdlikheid reg en sal hulle met hulle stemme dit so hou.

Wonder ·

Ja jy is reg, baie mense het moed opgegee. Al die dinge en nog meer wat jy noem, het tot daai opgee bygedra. Ek sien daagliks in my gemeenskap, hoe omgekeerde rassisme toegepas word. En ek weet dat na 20 jaar dit NIE sal verander nie, al lees jy jou Bybel tot jy omval. Die diepgewortelde haat tussen die wat het, en die wat nie het nie, gaan nie weggaan nie. Inteendeel Mnr Toerien is dit besig om te erger te word. En die Afrikaner wat nooit kan saam staan nie, gaan nie help nie. Jy kan so geleerd wees soos jy wil, en hoeveel artikels publiseer. Daar is ‘n groot gedeelte van die populasie, wat op ‘n kruitvat sit, en as dinge voortgaan soos nou, gaan daai kruitvat ontplof. En dit is gewoonlik die mees geleerdes, wat eerste die pad sal vat. Ons gewone mense, moet maar altyd die spit afbyt. En die is my opinie, ek mag miskien nie u geleerdheid hê nie. Ek het wel oë in my kop, en my logika sê vir my dinge gaan, nog meer lelik raak, voordat dit gaan beter word.

KaterinaKat ·

Ek stem saam. Mens moet seker in n permanente psigotiese episode leef, of permanent so hoog soos n vliegtuig wees, om die Geringste atoom positiwiteit oor hierdie helhool te voel. Hier kom nog n Rwanda styl volksmoord, n “ethnic cleansing” van die hele wit etnisiteit. Niks gaan Ooit beter word hier nie. Net selfs slegter en dan die genocide. Ek is wel nie n Christen nie, maar ek glo nie dit het iets te doen met die vorming van my opinie nie. Die meeste boere en hul gesinne wat gruwelik vermoor was, was sekerlik Christene. Dit het hulle niks gehelp nie.

Ek glo wel in n hiernamaals, dat die vleeslike dood nie die ende is nie. Maar ek glo Nie dat Enige geloof of selfs ateisme, jou gaan help in hierdie helhool as jy wit is nie. Ek het oe, ore, n brein en ek kan lees. Ek weet wat wag vir die wat nie hier kan ontsnap nie.

In my opinie sal n dringende petisie aan die VN, iets konkreet, meer doen om ons dalk te help as iets so newelagtig soos enige godsdiens. Ek twyfel of die VN omgee oor wit Suid Afrikaners. Maar om te probeer kan nie skade doen nie.

Kediksie ·

@Wonder. Ek stem 100% saam! Ons kan slegs bid vir n wonderwerk.

Wessel ·

Voor die ANC bewind, het die liberaliste die Nuwe SA droom ingekleur met hulle siening oor hoe dit gaan uitspeel. Die probleem is dat hulle droom, die werklike karakter van die ANC geignoreer het en diegene wat dit aan die lig gebring het was gesien as Doem profete.

Nou het die droom ‘n nagmerrie geword en dieselfde “verligte” Liberaliste wil vir andere weer voorskryf hoe hulle moet dink?

Grassie ·

Ek stem saam met Herman – om positief te wees is makliker gesê as gedaan, veral vir ons ouer garde. Ek hunker na die vervloë era in ons land toe alles rustig en goed was, toe alles gewerk het, toe die regering, polisie, onderwysers, landdroste, almal in gesagsposisies gerespekteer was omdat hulle respek waardig was. Toe daar veiligheid was en almal werk gehad het. Toe daar ‘n toekoms vir almal in die land was.
Die “nuwe” Suid-Afrika proe bitter in my mond omdat ek aan beter gewoond was, ek sal nooit daarmee in vrede kan leef nie. Ek weet ook dat dit nooit sal verander nie.
Die nuwe geslag Afrikaners sal dit makliker aanvaar omdat hulle nie die goeie lewe wat ons gehad het, gesmaak het nie,

Gert van Wierdapark ·

Na bykans n kwarteeu van ‘n “Democrazy” in SA, sal dit beslis beter kan gaan in die land as die Kakistrokasie tot’ n einde kan kom. Miskien, groot miskien” kan koalisies na 8 Mei 2019 lewe kry!

Deon ·

Afrikaners baklei teen swaartekrag en sal nie wen nie. Suid Afrika van nou moes nooit bestaan het nie. Die konkoksie het in 1652 begin en die kans op langtermynsukses was van die begin af baie gering. Ons het dit gemaak tot nou aangesien ons bereid was om wapens op te tel en veg vir wat ons het, opgebou oor 300 jaar. In 1990 het die meerderheid blankes besluit dat wapens is nie meer die oplossing nie. Moontlik was ons tam na 30 jaar van ‘n lae intensiteit oorlog, binnelands en in die noorde van SWA. Al wat ons nou kan doen is om die lewe vir onsself so gerieflik moontlik te maak. Ons kan dalk ons ouers blameer dat hulle nie geemigreer het nie, maar dit is nou water onder die brug. Ons kan net seker maak dat die volgende generasie wel die land kan verlaat en ‘n toekoms elders begin. Teen die einde van hierdie eeu sal die afstammelinge van vandag se blanke boere waarskynlik nog hier wees, net soos wat wit boere na Uhuru nog steeds in Oos Afrika bedrywig, ten spyte van die destydse MauMau aktiwiteite. Die verval om ons gaan voortduur en erger word. Vir nou, vul slaggate in jou straat, gebruik sonkrag om van die kragnetwerk te kom, hou jou woonbuurt veilig, maak jou kinders groot, wees tevrede met wat jy het, en wees positief totdat jy jou laaste asem uitblaas. Dit sal almal om jou sterk hou. Meer kan jy nie doen nie.

Andreas ·

In die kol Deon. Ek gesels W/A met my broer in die dae. Sy kinders is almal professionele mense, een hoofrekenmeester van ‘n groot instansie in die land, kleinkinders. Hy was altyd plat met die voete op die grond, is nog steeds, meer bedag op wat fout gegaan het in die land as ek. Hy wat nou beduie waarheen die kinders en kleinkinders se gedagtes is. Hulle is hoegenaamd nie negatief nie, maar hulle lewe lê nog voor, so wat maak hulle? En dan gaan daar ‘n volgende geslag volg waaraan hulle moet dink. Ek wens ek kon jou sy W/A van die afgelope dae hier tik.

Andreas ·

Herman, so ‘n laaste een van my kant. Jy skryf in jou rubriek hier bo die gedig “Die lied van die nuwe Suid-Afrika”. Dan gee jy onderaan drie verse. Ek het idee ons moet hoor wie dit vir ons kan toonset. As dit mooi klink en byval vind, kan mens altyd aan verdere moontlikhede dink. Ek het idee Steve sal nie dit wil sing nie.

Andre ·

Met só ‘n patetiese regering kan ONS DOEN WAT ONS WIL!

Hulle kan ONS nie stop nie al wíl hulle!

In die donker naghemel is daar miljoene liggewende sterre wat weier om deur die donker verswelg te word.

Kom ons skitter in die donker … ! ….. omdat ons KAN!

John ·

Ouens op antidepressante met ‘n potjie smerige cannabisolietjies op die bedkassie en die glasie port neffens met mammie wat die rug met sambokkie-salf smeer…. ja, die Jode het destyds ook aanhou hoop dat wat hul hoor en sien, selfs met die geel ster op die bors, nie aan’t gebeur is nie; vat hande, bou brue, gee kos by die hek en smaail smaail smaail… O, ek het vergeet van dominee se bydrae vir die gemeentetjie by die see, glo daar naby èrens. Ritse en ritse en lyste en bladsye vol van al die dinge wat verkeerd loop staan neffens Herman se vrolike skrywe oor brue…. nie die wat so instort op kinders of oor groot paaie nie nee, regte egte brue… dìt wat Afrika altyd goed kan bou… die storie-tipe… die droom-tipe. En so trippel ons vrolik voort in euforiese lsd-agtige seepbelle … bring on the dope … our only hope …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.