Nuuskommentaar: Weg met pessimisme, nou gaan ons doen!

solidariteit-bewegingSuid-Afrika is nou by ’n kruispunt en mense vra of daar ’n toekoms vir ons kinders in die land is. Mense soek nie eensin-antwoorde nie. So het Flip Buys vroeër die week opgemerk tydens die Solidariteit-kongres in Centurion.

Solidariteit gaan ’n dringende spitsberaad belê om te help om behoorlike antwoorde vir ons tyd te kry. Die spitsberaad oor die krisis in Suid-Afrika word op 5 Mei aangebied. Werkbare planne, energie en hoop gaan tydens die spitsberaad ontwikkel word. Dit gaan ’n massa doenskrum wees en nie net ’n dinkskrum nie.

Die registrasieproses vir dié dringende spitsberaad sal binnekort open en meer besonderhede sal later verskaf word.

Die feit is, Suid-Afrikaners, onder wie baie Afrikaanssprekendes, vra deurlopend op sosiale media wat gedoen word, en wil nie meer net hoor van planne en nogmaals planne nie. Die gees van planne-futuliteit met die regering kook gereeld in selfs gewelddadige aksies oor, maar ook ander organisasies soos Solidariteit kom gereeld onder skoot vir strategieë en tienpunt-planne wat “niks” oplewer nie.

Mense wil nou resultate sien. In hul frustrasie wend hulle hul dikwels tot groot steun vir aktiviste wat ’n mengsel van sukses en verset tot gevolg het, en dikwels baie verantwoordelike planne en die uitvoering daarvan in die voet skiet.

Kortom, enigiets wat soos stagnasie lyk, word as “niks” getipeer omdat dit nie kers vashou vir die tempo waarteen dinge dikwels agteruit boer nie. Die onlangse aangekondigde taalplan van die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap (Sansa) waarvolgens Afrikaans uitgesluit, maar Zoeloe en Pedi ingesluit word, blyk net die oortjies van die seekoei te wees.

En interessant genoeg, hieroor raas en blaas die aktiviste nie.

Maar daar is verskillende redes waarom instansies wat wel deeglik iets doen, waaronder die Solidariteit Bbeweging, gereeld daarvan beskuldig word dat hulle “niks” in die praktyk doen nie. Een daarvan is ’n moedswilligheid waardeur die organisasies betrokke verdag gemaak word – hetsy van links of van regs.

Ook hiervan kan instansies wat deel is van die Solidariteit Beweging en kultuurorganiesies getuig – hoe hulle al te dikwels in die sosiale media met die teerkwas bygedam word. Daar is baie mense wat bloot die nuus “misgeloop” het oor wat gedoen is, of wat dit skynbaar vergeet het en nou kritiseer oor die “niksdoen.”

Oplaas is daar diegene wat glo dat niks gedoen word nie omdat hulle nie daagliks sigbaar groot dinge sien gebeur nie. Die proses waardeur Solidariteit se saak teen die DKD verloop, is ’n goeie voorbeeld. Terwyl een groep meen “niks” word deur die howe uitgerig nie (en gerieflik “vergeet” word dat Solidariteit gister ’n interdik teen die EFF oor die beskadiging van beelde gekry het), word kritiek van die ander kant uitgespreek dat Solidariteit “te maklik oor alles hof toe hardloop” in plaas daarvan om meer paaiende dialoog in te span.

En natuurlik is daar die “probleem” dat dit wat as suksesvolle planne opleef, dikwels maar die herstel is na die posisie waar dit in elk geval veronderstel was om te wees. Omdat ons aan strate sonder slaggate gewoond was, val die gehawende strate ons op. Gryp ’n instansie in en die straat is slaggatvry, vergeet ons gou dat dit ekstra werk en moeite was om dit so te kry, want dinge is nou weer normaal.

Dit is al gesê dat dit makliker is vir ’n enkeling om ’n trop wilde tarentale in ’n kampie in te jaag as om die Afrikaner oor ’n saak te laat saamtrek.

Nou kom die doen-ding.

Die sukses van die beraad gaan nie net deur die beraad self bepaal word nie, maar deur die vertroue wat die afloop van die beraad by die publiek landwyd gaan inboesem. Dit verg weer behoorlike kommunikasie, en nie erg gedokterde beriggewing wat sake krom en skeef voorstel nie. En ongelukkig is daar die kwaadwilliges wat dit gaan probeer doen.

Die groot toets kom egter: Diegene wat so opeis “dat nie net gepraat word nie, maar gedoen word” moet dan ook bereid wees om die hande uit die moue te steek en te doen.

Daar is egter ’n sekere omgewing waarbinne gedoen moet word. Binne ’n strategiese omgewing is elkeen se rol soos dié van ’n ratjie, wat in pas met die ander ratjies moet funksioneer. Raak net een ratjie die kluts kwyt, kan hy die omvattende strategie ontsaglike skade berokken.

Die tweede is dat ’n strategie moet kennis neem van al die kontraproduktiewe energie in sy omgewing, en dit doeltreffend moet kan neutraliseer.

Derdens funksioneer ’n strategie op sy beste as die individuele talente optimaal benut en met die geheel gesinchroniseer word. Maar dan moet hierdie individuele talente die hande opsteek en betrokke raak, anders is dit soos die lamp wat onder die bed ingedruk word en geen lig verskaf nie.

Moenie die beste stuurlui wees wat aan wal staan nie. Moenie die brandewyn-en-Coke ref in die pawiljoen of die gemakstoel voor die TV wees wat beter as die idioot van ’n ref op die veld weet wat aangaan nie. Kom self nugter en fiks op die veld en wys wat in jou steek.

Ons is dit aan ons kinders verskuldig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Martha ·

Ek wens julle alle seën en sterkte toe met die spitsberaad en hoop dat daar werkbare oplossings sal wees vir ons land wat in chaos verval het. Hoe gaan julle die regering van die dag se koppe laat swaai om aan die land te dink en nie aan hulle sakke nie. Teveel geld word vermors op selfveryking, bedrog en korrupsie en sodoende gaan selfrespek en waardes in die drein af. As jy nie vir jouself respek het nie, hoe kan jy dit vir ander leer. Hoop julle is die lig aan die einde van die tonnel en nie ‘n trein nie.

Peet Schabort ·

Wat vir my die meeste hinder is dat ons instansies soos munisipaliteite betaal om hulle werk te doen. Dan gebeur daar net mooi NIKS en ons moet instaan vir die gelag terwyl hulle NOG STEEDS met ons geld wegloop en nie eers Eskom betaal!!. Daarom moet daar eers begin word met die weerhouding van geld wat dan gebruik kan word vir instandhouding en selfs verbetering van die infrastruktuur. Dit moet natuurlik wettig wees.
Ons hoef nie tweekeer te betaal om iets gedoen te kry. Dit kan ook dan met die eerste probeerslag ORDENTLIK gedoen word.
Inderwaarheid is daar maar min oor wat munisipaliteite self kan doen. Ek glo nie eers hulle is meer in staat om die basiese onderhoud aan hulle voertuie te doen.
Hier by ons is die gruisstrate nou dongas want die padskraper is glo stukkend. Die ampsmotor van die burgemeester moet liewer ‘n skraper wees wat dan gereeld beskikbaar sal wees.

Dorette Forrester ·

Ek stem saam met Peet Schabort ons sal moet begin deur die weerhouding van geld. Dit help nie om twee keer te betaal nie. Ek sien geen toekoms vir my kinders nie. As jy net na die statistieke kyk van hoeveel werk geskep moet word vir die massas wat na 12 jaar op skool skaars kan lees en basiese wiskunde kan doen is dit baie moeilik om enigsins lig verder af in die tonnel te sien.

Bruno Stef ·

Oor die oggendnuus hoor ek dat n voorstel op Provinsie vlak ingedien is om Noord/wes se naam te laat verander na die een of ander MOSES se naam.Dit herinner my daaraan dat n paar jaar gelede die ANC Potchefstroom se naam na n SORGHUM BIER wou verander.Ek wil N/W inwoners vra dat ons saamstaan en bogenoemde met hand en tand beveg natuurlik met hulp van die ander Provinsies of alternatiewelik dan terugkeer na die oorspronklike WES TRANSVAAL as naam net om die pot te roer.

Henrietta Klaasing ·

Te min, te laat! My seun en sy familie is gaan nou vir hul 9de jaar in die VK – drie kinders is souties gebore, en die ouers het ook al hul tweede ( VK) paspoorte. My laatlam en haar familie met twee klein seuntjies is 90% ver in die proses om sak en pak “Down Under” te emigreer, want “ons sien geen toekoms vir ons seuns in Suid-Afrika wanneer hul oud genoeg is om te begin werk nie”.

Elsie O'Maker ·

En stem saam met Henrietta. Ek het ook n seun nog jonk 14 jaar oud en glo ook hier is nie n toekoms vir hul nie. Die werkloosheid syfer is so hoog en wanneer hul moet gaan werk gaan daar niks wees nie. As jy ook kyk na al die (wit) plakkerskampe en daar word nie huise vir hul gegee of gebou nie dit is skandalig ek se maar net!

HEVW ·

Gelukkig leef van die eerlose selfs normlose regime nog om die resultaat van hul oorgawe en verraad te beleef. Maar ek glo nie dit raak hul die minste nie, want hul leef soos vetkatte met omkoopgeld in die buiteland bele.

Herman ·

DANKIE Solidaritiet

Baie goeie artikel en baie raak opgesom.
As ALMAL wat kla oor misdaad by die buurtwag aansluit en net 2 of 3 keer per jaar patrollie ry in die nag, sal ons maklik die misdaad kan halfveer in one eie area waar ons woon. Dit is al gedoen. Dis regtig nie baie gevra.

As ALMAL net vir een maand alle rugby en krieket boikot, op tv en die stadion, sal hulle die die KWOTA STELSEL baie vinnig en baie ernstig begin bevraag teken. Want ons betaal hulle om ons te boelie. Sny eerder SELF jou gras op die saterdag en spaar op die koop toe sommer n paar rand ok…Dieselfde gaan vir DSTV….. Hoe het Johannes Kerkorrel gesing? SIT DIT AF, SIT DIT AF….. Hou op met kla oor alles. SIT DIT AF, lees n boek.

PRAAT AFRIKAANS— In die restuarant , in die winkel, orals waar jy n klient is, praat Afrikaans. As hulle jou nie wil help nie, gaan baie kalm na die bestuur en lig hulle in van jou grief en verlaar die winkel. Daar is n ander winkel wat ook daai item sal verkoop. En as daar nie is, dan sal daar binnekort n Afrikaanse entrepeneur wees wat dit wel sal doen.

Ons kort Lyers en organiseerders om die goed te orkestreer.

Solidaritiet, ek dink die tyd is reg om die goed te begin orkestreer. Maak dit “Cool” om TROTS Afrikaans te wees.

Net n nagedagtenis…. Ek werk op die oomblik in Angola met my vrou en kinders alleen by die huis in Suid Afrika. Dis vir my baie kommerwekkend dat hulle nie n nood plan het sou Xenfobia oorspoel na die “hoofsaaklik wit woonbuurte” nie. Reel met die kerke en plaaslike sekuriteits maaskapye om pamflette af the gee by alle huise. Ons doen dit in skole en besighede vir n moontlike brand. Amerika doen dit vir Tornado’s en aardbewings. MOORD is grootste gevaar in die land. Stadig en sistematies of dalk nog erger… Massa histerie, want after all is alles mos JAN van Riebeeck se skuld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.