Nuuskommentaar: Wegsink in die Nkandla-dryfsand

Zuma-Nkandla-5502-320x190Na berig word, is die Nkandla-landgoed teen omtrent enige bedreiging beveilig – tot aardbewings. Maar heel duidelik is nagelaat om die kwessie teen die politieke dryfsand te beveilig. Al vraag wat oorbly is wie en wat alles ingesluk gaan word, en hoe vinnig. Op die oomblik woed die stoeiery op die wal soos die een die ander probeer instamp. Die moeilikheid met dryfsand is dat slagoffers desperaat aan enigiets en enigeen probeer vasgryp – ook diegene wat hom ingooi, en so beland beide aggressor en slagoffer in die dryfsand…

In die ganse tameletjie is dit uiters belangrik dat die Thuli Mandonsela, die Openbare Beskermer (OB), en haar ganse instelling geloofwaardigheid en waardigheid behou.

Die een saakmakende voorlopige verslag na die ander van die OB lek op die oomblik na die media uit. Die vingers van beskuldigings word oral heen gewys, en diegene wat in hierdie verslae nie te gunstig daarvan afkom nie is vinnig om die vinger na die OB te wys. Thuli Madonsela reageer strykdeur rustig.

Op die keper beskou, het Madonsela niks te wen deur die uitlek van voorlopige verslae nie.

In die Nkandla-geval, is die vreemdheid dat, volgens Madonsela self, daar twee verslae “uitgelek” het, terwyl sy en haar kantoor net een opgestel het. Die eerste verslag spreek glo vir pres. Jacob Zuma vry oor enige ongerymdhede oor Nkandla (moes sy by ‘n joernalis verneem). Die ander verslag impliseer die president self.

Vyf elektroniese kopieë is aan ministers in die veiligheidsgroepering oorhandig, en een van hulle het die wagwoord ontvang om die verslae te kon oopmaak. Omdat daar ‘n hofgeding teen haar aanhangig gemaak is, is ‘n kopie ook aan ‘n regter oorhandig. Volgens Madonsela het die ministers hierna ‘n span veiligheidskenners betrek. ‘n Lekkasie kon by verskeie punte plaasvind.

Die feit van die saak is dat die regering al baie lank ‘n sluier oor die Nkandla-saak trek, en dat dit wat wel bekend word lomp goedgepraat word.  Strykdeur word die president verontskuldig, en waar blaam onvermydelik word, word amptenare geblameer. Min of meer dieselfde patroon word met ander sake wat die president impliseer, soos Guptagate, gevolg.

In die proses is die media en die publiek uitgehonger om te weet wat presies gebeur het. Dit is immers hul belastinggeld wat so mildelik ingespan is.

Dit is ook nie of Zuma deur almal as die beste president wat die land nog opgelewer het onthou sal word nie. Terwyl die president ongetwyfeld nog in baie kringe baie gewild is, neem dit al hoe meer die karakter van etniese en streekgebondenheid aan. Talle waarnemers het al hul kommer uitgespreek oor hoe sterk ras weer ‘n rol in die land se gemeenskapsverhoudinge en wetgewing begin speel. Zuma het nie die African Arican-bevoordeling uitgevind nie, net vervolmaak. Hy het die konsep by sy voorganger, Thabo Mbeki geërf. Einste Mbeki het op sy beurt ook al die mond uitgespoel oor iets wat al lank duidelik geword het – Zuma laat “tribalism” weer posvat met ‘n duidelike Zoeloefikasie.

Ten spyte van die rasbeheptheid, dui die jongste versoeningsbarometer aan dat sosio-ekonomiese verskille nou ras as die grootste verdelingsfaktor verbygesteek het.

Suid-Afrika het onder Zuma se bewind dramaties op die korrupsiepersepsie-indeks agteruit geboer.

Die president en sy kornuite is gereeld by Christene en kerke in die warm water oor bedenklike godsdienstige uitsprake.

Die president blink daarin uit om wanneer hy van sy geskrewe toesprake afwyk, dinge kwyt te raak wat in die internasionale media opslae maak.

Die president het as ‘n egte Houdini met sy betrokkenheid in die regstelsel ontpop.

Raai wie het baie politieke teenstanders en selfs vyande? Raai wie is vir baie lojale Suid-Afrikaners ‘n yslike verleentheid?

Om in hierdie omvangryke teenstand iemand te soek wat ‘n motief sou hê om verslae te laat uitlek is ‘n bykans onmoontlike saak.

Tog het die ANC hom oorweldigend tot leier herkies, en tog het die ANC beslis hy sal die ANC se gesig met die komende verkiesing wees.

In die VSA is baie geskryf oor hoe die gesindhede tussen ondersteuners van die Republikeinse Party en die Demokratiese Party so versleg het dat politieke opponering in vyandskap omgesit het. Sommige kenners het selfs probeer aandui dat dit ‘n wêreldwye verskynsel in die demokrasie geword het.

Hoe nader die komende verkiesing kom, hoe duideliker word die verskille tussen partye beklemtoon, veral met die regerende ANC aan die een kant, en die res aan die ander kant.

Binne die ANC is ‘n duidelike ongemak dat die kwessies rondom Zuma se kop die ANC stemme kan kos. Hoewel die ANC in dié stadium skynbaar min te vrese het van die tradisionele opposisiepartye ongeag watter skandale en persepsies ontwikkel, is daar al meer tekens van uitrafeling, veral binne die vakbondwese. Dit lyk al hoe meer of die pogings om Cosatu behoorlik in die Zuma-gelid te kry, tot verbrokkeling lei, onder meer etniese verbrokkeling.

Amcu is reeds los van die ANC.

Die enorme grypsug van politici het heel duidelik nie by die jong armes ongesiens verbygegaan nie, en Julius Malema word op die oog af by die dag ‘n belangriker faktor met die oog op aanstaande jaar se verkiesing. Al hoe meer analiste begin sommetjies maak oor hoe groot hierdie impak op veral die ANC sal wees.

Al hoe meer analiste begin besin oor die moontlikheid dat die ANC-ringkoppe sal besef, dalk selfs binne enkele dae, dat Zuma ‘n te groot las vir die ANC word om die verkiesing mee aan te durf. Die jag maak op vermeende Trojaanse perde het op die oog af momentum en energie begin verloor.

Tot dusver kon Zuma nog met redelike gemak enige probleem die hoof bied. Maar veral twee sake was nie net vir wegveeg nie; Thuli Madonsela en Julius Malema.

Reaksiepolitiek is selde ‘n goeie ding, maar vir die huidige lyk dit of dit in Suid-Afrika aan die orde van die dag gaan wees omdat dit nou skynbaar die meeste dividende kan oplewer. Dit sal jammer wees as Suid-Afrikaners hul kruisies gaan trek omdat hulle téén iets is, in plaas van vír iets, want so kan die land weer iets kry wat niemand eintlik wou gehad het nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae