Nuuskommentaar: ‘Welkom terug’, politieke korrektheid

Verskeie gebeure laat dit lyk of politieke korrektheid weer besig is om vinnig veld in die Suid-Afrikaanse samelewing te wen. Kan iets gedoen word om te keer dat Suid-Afrikaners so sito-sito op ’n stel historiese bog weer denkeslawe van die absurde word?

’n Politiek inkorrekte voëlvlug baie kort opgesom

Twee (en veel meer as die prominensie nie bygereken word nie) onlangse gebeure onderstreep in hoe ’n mate politieke korrektheid weer hard aan die deur timmer om in te kom. Op sommige plekke is die deure reeds tipies van Suid-Afrikaanse protes en toe-eiening afgeskop.

Die nuuswaardighede is die kritiek wat AfriForum in die parlement en elders kry oor die wyse waarop sy voorlegging oor grondonteiening sonder vergoeding aangebied is, en die ander oor die SAUK sy TV-lisensiegeld wil verhoog terwyl bitter min mense wel betaal. (Tydens ’n busrit verby De Doorns wys ’n mede-passasier op die talle en talle skottel-antennas teen plakkerhuise – wie betaal daarvoor?)

Met die oorname van bewind van oud-pres. Thabo Mbeki na Jacob Zuma het die gerekende Tim du Plessis in ’n rubriek openlik bly skryf oor politieke korrektheid wat die trekpas onder die land se redakteurs gekry het. Veral swart redakteurs is geloof, en wit redakteurs is gekomplimenteer dat hulle die sluise verder kom oopbeur sodat ook húlle van politieke korrektheid bevry kon word. Hul name is in ’n lang lys soos ’n heldegalery gepubliseer.

Skielik het politiek korrekte boeke nie net daarin geslaag om uitgewers wat meer soos sensors opgetree het se koppe te draai nie, verskeie boeke het juis hul politieke inkorrektheid benut om hulself te bemark.

Dit was egter nie lank nie, toe is dit duidelik dat die aanvanklike wegbreek van politieke korrektheid takties as ’n rewolusionêre handeling gesien is in die stryd om Mbeki te pos, en Zuma aan bewind te stel. Die hek is hierna gesluit, die parameters vir ’n nuwe generasie helde bepaal, en met demokratiese spraakvryheid (om veral die waarheid te uiter) het dit min te make gehad. Kort voor lank was daar weer ’n lys, dié keer van redakteurs en ander soos dr. Nico Smith, wat waarsku dat die benutting van hierdie politieke inkorrektheid, soos kritiek op die ANC, so sleg opgeneem word dat daar ’n gevaar van ’n bloedbad was.

Verskeie van die “ou lys” se redakteurs se name het soos regte g*tswaaiers op die nuwe lys verskyn. Die oop deur vir politieke inkorrektheid was kortstondig en bloot ’n rewolusionêre taktiese aanwending.

Politieke inkorrektheid het egter nie sommer verdwyn nie. Terwyl die voorstanders van politieke korrektheid weer hul gemaksone ingeneem, het die “ou garde” van selfs liberale kruipers (’n goeie gros akademici ingeslote) weer hergroepeer. Die denke wat die EFF onderskraag, het hieruit muteer.

AfriForum en politieke inkorrektheid

AfriForum het hom eerder in die ruimte teen politieke korrektheid, soos wat op die oog af deur die grondwet gewaarborg word, ingewurm. Dit sou oor ’n wye spektrum teenspoed kry.

Die lys is lank, maar die belangrikstes is seker:

  • Hoe durf ’n organisasie wat Afrikaanssprekendes verteenwoordig op ewehandigheid in die hantering van rassepolariserende voorvalle aandring? Gereelde Maroela-lesers sal weet hoeveel keer die pen hieroor al in ink gedoop is, maar in gal ingedwing is. Akademici het dikwels erge kwasi-akademiese argumente aangevoer oor hoekom dit reg is so, en loshande in onder andere Fanon se hande gespeel.
  • Hoe durf die wye en groeiende opvatting onder swart mense teengegaan word dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel? Die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit is dikwels verguis oor sy stelling dat dit die “Groot Leuen” verteenwoordig. Die TLU-SA is onlangs erg verkwalik oor geld uitgeloof is vir die eerste persoon wat so ’n geval van grondroof kan bewys. Maroela het lank reeds gemaan dat hierdie uiteenlopende persepsies aangespreek moet word, of andersins die gevaar inhou dat onoorbrugbare situasies kan ontwikkel. Die kritiek, ook in die parlement, op AfriForum is deurspek van die politieke korrektheid wat uit foutiewe opvattings druip. AfriForum word wyd gekritiseer oor die stel van die waarheid.
  • Hoe durf iemand nog opkom vir die gebruik van Afrikaans op kampusse (of oudstudente selfs net ’n besoek aan die ou koshuis bring tydens die 50ste herdenking van die koshuis se ontstaan?)

Wat is politieke korrektheid?

In 2014 neem PRAAG ’n definisie van prof. Anton van Niekerk onder die loep. Van Niekerk se definisie lui soos volg: “Die begrip ‘politieke korrektheid’ verwys na ‘n soort geveinsdheid in spreke en optrede wat daarvan wegskram om vermeende onreg en onbevoegdheid by die naam te noem, en wat daarom, bloot ter wille van gedienstigheid aan aanvaarde sosiale konvensies, sake só voorstel dat die waarheid omtrent wat verkeerd loop in die samelewing, verdoesel word deur wat ons sê en soms ook doen.”

Volgens ’n artikel van André van den Berg in Gelofteland het politieke korrektheid sy ontstaan in 1923 in Europa. Hy skryf (brokkies van ’n langer skrywe is nie altyd in volgorde ingelas nie): “Politieke korrektheid het in 1923 in die Frankfurt Skool van Denke (Duitsland) ontstaan en sou aanvanklik die ‘Instituut van Marxisme’ genoem word. Daar is toe op die ‘Instituut van Sosiale Navorsing’ besluit ten einde die bose wortels van Marxisme te verbloem… Politieke korrektheid poog om stabiele volke se trotse geskiedenis te herskryf as vergoeding vir sogenaamde onregte van die verlede. Ironies genoeg, het dit nêrens ter wêreld enige onreg herstel nie, maar dit eerder help skep. Bestendige regerings is ontwrig en polities korrek-vertrapte lande is geskep.”

Meer in die huidige konteks verskyn ’n aantal artikels in 2018 op Maroela Media (en elders):

Die tirannie van politieke korrektheid:

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-tirannie-van-politieke-korrektheid/

Die politieke korrektheid en feitlike geskiedenis:

https://www.litnet.co.za/die-politieke-korrektheid-en-feitlike-geskiedenis/

Die teenkant van politieke korrektheid:

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-teenkant-van-politieke-korrektheid/

Scholtz skryf dat die konsep van politieke korrektheid in die jare tagtig onder veral linksgesinde akademici en studente ontwikkel om “afwykende” – dus regsgesinde en konserwatiewe studente – onder druk te plaas.

Hierdie lys is geensins volledig nie, en die skrywers stem ook nie oral ooreen nie. Tog lyk dit of die idee dat dit iets negatiefs is ’n redelike breë basis vorm. En, so lyk dit, baie mense is bereid om hulle “ter wille van die vrede” te verslaaf aan ’n praktyk wat hom verslaaf en ondemokraties inbind, ver verwyder van die werklikheid.

In die era van fopnuus, alternatiewe denke, onverdraagsame ideologieë en politieke styl is politieke korrektheid nié aan te beveel nie. Ongelukkig lê eenvoudige oplossings ook nie die wêreld vol nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

AgAsseblief ·

Politieke korrektheid is iets wat my deesdae ‘n kramp in my agterstewe gee.

Andrea van Vuren ·

BAIE BAIE dankie Herman Toerien vir jou briljante insiggewende skrywe. Hierdie artikel moet wyer, baie wyer gelees word.

Gerhard ·

Politieke korrektheid = politieke verkramptheid = elitisme.

Sloet ·

Probeer Toerien nou Roets se naam weggooi by die parlement regverdig…?
Hy faal bitterlik.

herman toerien ·

Sloet, jy het my totaal verkeerd verstaan. Weens beperkte ruimte kan ek nie dinge te dikwels herhaal nie, en ek dink Maroela was op die voorpunt om te wys hier kom moles oor verskillende grond-persepsies, en dat die propbleem so gou moontlik opgelos moet word. Dit is nie opgelos nie, en nou is dit breekpunt met onversoenbare idees. Ek loop tegnies self gevaar om grond sonder vergoeding te verloor, en sal nie sommer ter wille van politieke korrektheid dat leuens nie net my erfporsie kwyt wees nie, maar nog met ‘n boel boedelskuld opgesaal laat nie. Nie terwyl ek ‘n trust vir my gestremde kind probeer opbou nie, en my kankerbehandeling, mediese fonds ten spyt, ons bitter baie kos nie. Om Roets te vetrhinder om die waarheid te praat beroof hom van sy demokratiese reg, en dit geld immers ons almal. Dan sit ons met ‘n kluitjiekrasie.

Fortis ·

Ek het aandagtig na Ernst Roets se voorlegging aan die Parlement op You Tube gekyk, en daar is nie een enkele ding wat hy gesê het waarmee ek verskil nie. Hy het trouens my, en ek glo die meeste Afrikaners, se siening jeens OSV 100% akkuraat uiteengesit. Moenie ‘n stiksienig-ideologies-benepe gehoor se vyandige en Marxisties-gedrewe reaksie met naam weggooi verwar nie.

koos1 ·

Wat my dwars in die krop steek is dat AGRIFORUM gereeld uitgehaal word as die “vyand, wit monopolie kapitaal ondersteuners, wit mens organisasie” en so kan ons maar aangaan.
Wat van die Black lawyers association, Swart redakteurs forum, ens? Ons grondwet verbied uitsluiting van weë ras, maar as AGRIFORUM ‘n organisasie skep op grond van taal, wat in ons grondwet beskerm word, en nie ras uitsluit nie, word hulle die “vyand”, maar organisasies wat mense op ras uitsluit (solank dit blankes is) kan maar rustig voortgaan. Hoe gereeld hoor ons vir Cyril sê “Our people” waarin hy dan uitsluitlik na swart mense verwys.
Ons grondwet is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Verander die grondwet dat alle wit mense uitgesluit kan word, dan kan ons aandring op ‘n onafhanklike staat.

koos1 ·

Skuus Sarie, jy is natuurlik 100% in die kol. Spel/tik fout van my kant af.

Jerry ·

Politieke korrektheid of inkorrektheid word beide toegepas volgens jou spesifieke politieke agenda. In beide Afri-Forum en Solidariteit gevalle is dit om almal te mislei, ingesluit die Afrikaners. Die forum se mislukkings om Afrikaans behoue te laat bly in die breer Suid Afrikaanse gemeenskap is tekenend van misleiding omrede die mislukkings Solidariteit en die forum tot voordeel strek en dwing Afrikaners om slegs van Afri-Forum en Solidariteit instansies gebruik, te begin maak!

Kobus ·

Myns insiens is die meeste reaksie op Afriforum se voorlegging meer te make met die “hoe” die boodskap oorgedra was. Die nie-verbale taal asook stemtoon en liggaamstaal daarmee saam verklap soms baie meer as wat die boodskapper wil bevestig.
Die “verpakking” en wyse van oordra van enige boodskap kan soms die doel daarvan totaal ondermyn. Die doel van enige boodskap moet wees om die gedrag van die gehoor ten gunste van die onderliggende boodskap te beïnvloed. Die onus berus by die boodskapper en nie die gehoor nie.
Ernst Roets het oorwegend nie gelieg nie, maar indien die doel was om die Komm se gedrag ten gunste sy boodskap te beïnvloed, het hy ongelukkig nie geslaag nie.
Die hoe, wat, plek en tydsberekening van ‘n boodskap is meer belangrik as wat baie mense mag besef

Judge Dredd ·

En party mense sal sleg die boodskap kry as hulle self daaronder ly.
Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie.

Gert ·

Duidelik is meeste van die wat hier kommentaar gelewer het ook voorstaanders van politieke korrektheid, Afriforum se voorlegging was die enigste eerlike voorlegging wat die waarheid gestel het.

Zumie ·

Politieke korrektheid is die gif in die pot vir vryheid van spraak en denke en niks minder as ‘n subtiele manier van skarebeheer nie…

Griki ·

Te duiwel met politieke korrektheid. As ek nie die waarheid by die naam kan noem nie, kan ek netsowel stilbly. Politieke korrektheid is bloot die waarheid met leuens verdoesel.

Cornelia ·

Soos altyd geniet ek u weldeurdagte, insiggewende en taalryke kommentaar. Dankie. U het my stem.

Willem ·

Lees dan nou Liesel De Lange vandag (12/09/2018) op Netwerk24 wat sê daar is geen onderskeid te tref tussen Afriforum en die EFF nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.