Nuuskommentaar: Wêrelddag vir persone met gestremdhede

Argieffoto

Argieffoto

Vandag is Wêrelddag vir Persone met Gestremdhede, en in Suid-Afrika Nasionale Dag vir Persone met Gestremdhede.

Ingevolge die grondwet en ’n hele paar ander wette, insluitend arbeidswette, mag daar nie onbillik teen persone met gestremdhede gediskrimineer word nie.

Die sleutel hier is die woordjie “onbillik”. Dit is ʼn vanselfsprekendheid, want iemand met kleurblindheid word van sekere vlieëniersberoepe uitgesluit; iemand wat erg hakkel kan baie moeilik ’n skakelbord hanteer, en ’n blinde kan nie, of behoort nie, ’n taxibestuurder wees nie (nie dat ’n mens noodwendig dit kan agterkom as ’n mens sien hoe van die taxi’s ry, en die bestuurders met gebaretaal “kommunikeer” nie).

Met ’n nuwe definisie maak mense met gestremdhede nou volgens Statistiek Suid-Afrika 7,5% van die bevolking uit, berig The Citizen onlangs. Dit is byna drie miljoen mense.

Volgens die Nasionale Strategie vir Gestremdhede, ’n witskrif, is die meeste persone met gestremdhede van die hoofstroom-ekonomie uitgesluit, en daarom dikwels aan armoede uitgelewer. Volgens die witskrif lei hierdie gestremdhede daartoe dat ’n toenemende aantal gesinne in armoede verkeer.

Kliniese syfers wat aandui hoe onderverteenwoordig mense met gestremdhede wat oor bepaalde vaardighede beskik in die ekonomie verteenwoordig is, is maar net ’n deel van die verhaal van trane, vreugdes, frustrasies, prestasies en baie ander emosies en opofferings waardeur die mense met gestremdhede en hul gesinne gaan. Nie twee gevalle is presies identies nie. En dan kom multi-gestremdheid ook baie dikwels voor, wat sake nog moeiliker maak.

Heelwat van die mense met gestremdhede word daarmee gebore. Dit is nie altyd maklik diagnoseerbaar nie, en in die geval van outisme word dit dikwels eers teen die ouderdom van twee bemerk, en dikwels eers baie later. Die doeltreffendste terapie om die impak van outisme te versag, is vroeë intervensie, en die reël geld gewoonlik hoe vroeër met die intervensie begin kan word, hoe beter.

Maar dan moet dit gediagnoseer wees, en dan moet hierdie peperduur ingryp bekostig kan word. Intussen neem outisme geweldig toe. (Onlangs het ’n groep ontkenners nog ’n Britse verslag gebruik om te “bewys” dat dit nié toeneem nie, maar kliniese syfers oor die hele wêreld het hierdie ontkenning platgeloop).

Toestande soos gehoorgestremdheid en gesiggestremdheid tree soms eers na geboorte in, soos deur siektes en ongelukke. Sulke mense kon soms ’n basis van opleiding lê voor hulle die gestremdheid opgedoen het.

Wanneer die gestremdheid in ’n gesin aanwesig word, is dinge vir die gesin nooit weer dieselfde nie. Baie huwelike vou, ander word hegter. Baie ouers verhuis na sentra waar daar spesiale skole is, en moet dikwels heeltemal ander beroepe aanneem. In baie gevalle moet trustfondse geskep word vir die toekomstige versorging van die persone met gestremdhede, omdat die ouers nie vir altyd gaan leef nie.

Geen kind met ’n gestremdheid word met ’n handboek gebore wat vir die ouers inlig presies wat die beste en selfs nodige optrede onder bepaalde omstandighede is nie. Dit verg bitter baie liefde, en bitter baie Genade van Bo om deur elke ontwikkelingstap te kom, en dikwels maar self uit te pluis oor wat die beste pad is. By baie van die persone met gestremdhede skop daar self ʼn vasberadenheid in om te oorkom, en met ongelooflike deursettingsvermoë word probleme oorkom, en dikwels selfs gepresteer. Hoeveel boeke is nie al geskryf deur mense wat die rekenaar se toetsborde moes bestryk met ’n pen wat aan die voorkop vasgemaak is, of tussen die tone vasgeklem word nie – want dit is al waar hulle beweging het?

Terwyl die ouers daar is, moet die ouers ook ’n goeie balans handhaaf tussen blootstelling wat die kind inspireer om sy talente te ontwikkel – soms splintervermoëns wat die enigste hoop op ’n mate van selfversorgendheid bied; en te veel blootstelling. Ja, ouers van kinders met gestremdhede kan ook deur hul kinders probeer presteer en te groot druk plaas, of op hierdie wyse die kind se gestremdheid onbewustelik “ontken” en dan self namens die kind probeer presteer. En ’n persoon met gestremdhede kan ook ’n “brat” word as hy of sy met geleende vere “presteer”.

Wat kan elkeen doen?

Finansiële bydraes aan instellings wat na persone met gestremdhede omsien, wat die verskaffing van opleiding insluit, is altyd welkom.

Lê geduld aan die dag met vriende wat as gesin in sosiale isolasie begin terugsak wanneer hulle baie energie aan ʼn kind met ’n gestremdheid moet begin spandeer. Behou kontak, en voed die vriendskap… wees geduldig.

Kerke wat kinders met gestremdhede “vir vertoon” deur die kategeseproses plaas, rig dikwels groot skade aan. Daardie kind het dalk die vermoë gehad om met ’n bietjie wysigings meer van die inhoudelike in te neem, sodat die uiteindelike Boerematriek nie net ʼn vertoon is nie. Gelukkig is daar kerke wat die ekstra myl loop.

En onthou, elke persoon met ’n gestremdheid is ʼn unieke individu. Leer ken daardie individu, en jy sal dalk verbaas wees wat in daardie persoon opgesluit lê.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae