Nuuskommentaar: Wêreldgesondheiddag en grondgryp

Argieffoto: http://www.jameschesley.com/

Wêreldgesondheiddag is die afgelope naweek gedenk. Die fokus in Suid-Afrika val egter steeds op die regering se planne om grond te onteien sonder vergoeding, en in die proses word die kwessie van voedselsekerheid gereeld genoem.

Minister Gwede Mantashe het selfs op ’n beraad oor die onderwerp hardop gegrom dat wit mense se opvatting dat swart mense nie kan boer nie, soos hy dit noem, moet end kry. Pres. Cyril Ramaphosa hou vol met versekerings dat die onteiening nie so sal geskied dat voedselsekuriteit en die ekonomie skade ly nie, maar die versekerings gaan met net te min detail gepaard om gerusstellend te wees.

Buitendien is die fokus op ander faktore wat voedselsekerheid kan aantas, soos die uitbreking van listeriose in Suid-Afrika. Byna 200 mense het reeds hieraan gesterf. Trouens, dit lyk nie baie waarskynlik dat die regering daarin slaag om sy grondwetlike verpligting na te kom in terme van artikel 27 (2) van die grondwet nie.

Suid-Afrika is oor die algemeen ’n reënval-arme land, met ’n gemiddeld van 450 mm. Die wêreld se gemiddeld is 860 mm. Suid-Afrika se kommersiële boere word as van die beste ter wêreld beskou. Benewens droogtes ly Suid-Afrikaanse boere ook onder plaasaanvalle en plaasmoorde, en wat met ondenkbare wreedheid gepleeg word.

In sommige areas moes skaapboerdery weens die omvang van veediefstal gestaak word. Enorme bedrae se weiding, oeste, en gereedskap word jaarliks gesteel, en brandstigting van weiding en voer is ’n algemene probleem. Die regering bring bewysbaar nie sy kant om plattelandse lewe en eiendom te beskerm nie – in teendeel, veldtogte om dit aan die groot klok te hang is al deur ministers as propagandafoefies beskryf.

Trouens, die euforie rondom Ramaphosa se verkiesing tot president is plek-plek al erg geknou deur sy uitsprake ten gunste van grondgryp, en nou die ophef wat hy oor die afsterwe van Winnie Madikizela-Mandela maak.

Ja, elkeen weet dat Ramaphosa se verkiesing tot ANC-president eintlik op baie wankelrige bene geskied het, en dat hy sy posisie nog aansienlik moet verstewig, onder meer om die radikale in die party te pasifiseer. Hy moet egter nie die weerstand en wantroue wat hy onder gematigdes loslaat, onderskat nie.

Intussen is die nuus oor die staatsgesondheidsdienste uit verskillende dele van die land enigiets van skokkend tot pateties, en bykans elke potensiële vorm van onbeholpenheid word aangetref – wat menselewens kos. Die regering verkies egter om geblindoekte donkie te speel deur te roem op prestasies soos die voorsiening van middels teen MIV/vigs, staatstoelaes en ’n aantal ander. Dat dié dienslewering gereeld onder slegte nuus deurloop, kry selde die nodige erkenning van die staat.

Suid-Afrika se roem op sy gesondheidsdienste, hospitale wat nie klaar gebou raak nie terwyl die koste styg, en mense wat sterf, lyk net onvanpas. Laat dit wat werk, aanhou werk en ondersteun dit, soos die landbou, behoorlik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Anoniem ·

Terwyl almal kla dat die diens in staatshospitale nie na wense is nie, is daar tans 130+ dokters wat pas afgestudeer het wat sonder werk sit, omdat daar nie deur die agbare Minister van Gesondheid vooruit beplan is om hul poste te befonds nie. Maar die agbare Minister van Gesondheid was vinnig om die mediese fakulteite by die universiteite te boelie om elke jaar meer mediese studente in te neem! Ongeag of die kwaliteit van opleiding daaronder ly of nie!

Eish ·

Ek kan nie aan n enkele entiteit dink wat nie sedert 1994 die sistemiese verrotting vrygespring het wat deur die ANC se patetiese regering veroorsaak is nie.
En nog is dit die einde niet…

Jerry ·

Onsekerheid oor die gebrek aan detail tov CR se uitsprake oor grondonteiening en voedselsekerheid vereis dat diegene wat die ergste geaffekteer sal word, met CR in gesprek tree ten einde laaste, meer duidellikheid te kry en wat hopelik gemoedsrus sal bring, aldan nie. Weerstand teen en wantroue in CR kan slegs geregverdig word indien die gesprekvoering die gematigdes se vrese bewaarheid. Om te wil wag vir D-Dag voordat jy in gesprek wil tree met CR is soos om met jou broek om jou enkels betrap te word en stem jou net tot nadeel. Dat CR se intensies ondermyn word oor n bree politieke spektrum en dat Zuma lojaliste gaan probeer om CR te ontsetel behoort alle politieke partye, uitgesluit die EFF, tot onrustigheid te stem, deurdat dit tot nog groter onsekerheid kan lei asook tot moontlike politieke onstabiliteit.

Casper Labuschagne ·

Dit gaan nie oor of swart mense kan boer of nie, dit gaan daaroor of hulle suksesvol ‘n moderne boerdery kan bedryf. ‘n Dekade gelede was daar 55,000 boere in totaal waarvan minder as 35,000 nog steeds boer, daardie 20,000 was die wat nie ‘n moderne hoogs intensiewe boerdery op ‘n groot skaal winsgewend kon bedryf nie, en ek was self een van daardie wat nou in die dorp woon en werk.

Gaan soek op Google na ‘n insetsel wat die Duitse uitsaaidiens Deutsche Welle gemaak het aangaande die probleme wat opkomende swart boere ondervind en waar suksesvolle plase eens bestaan het is slegs ou vrouens wat nou tussen die lappies koolkoppe skoffel. Soek vir “South Africa land reform goes awry site:dw.com”

jean ·

Het enigiemand in die land gedink dat dinge ten goede sal verbeter en ons in utopia sal woon?…..Hulle kon net na die res van afrika kyk en die uiteinde sien….

Casper Labuschagne ·

@Jean jy het ‘n punt daar beet. Ek hou aan sê dat ons bloot aan ons mede agtergeblewe landsgenote ‘n kans moet gee en dan sal alles regkom. Maar weet jy, ek kry die vreemdste reaksie as ek sulke goed sê, almal om my bars uit van die lag – ek verstaan dit glad nie.

Alida ·

Wat moet ons vier op gesondheidsdag? Die 144 mense wat dood is van honger en verwaarlosing of die ou mense wat mishandel word in ouetehuise. Kom Aaron antwoord my ASB.

Natascha ·

Ek wil net een vraag vra, gaan hul die skuld ook oorneem as hul die grond vat????????
Als wil hul verniet he, hul kan nie eens vir n dorp kos voorsien, wat nog te se van n nasie???
Kyk wat te erg is is te erg. Hoekom kan ons almal nie net aangaan met ons lewens nie, hoekom moet die Wittes nou verdruk word? Ons kan tog nie verantwoordelik gehou word vir wat ons voorvaders gedoen het nie, en buitendien die EFF is almal jeug, wat nie eens gebore was in daai tyd.
Onthou mens word nie gebore om ander te HAAT, jy word dit aangeleer.
Kom mense ons almal is God se kinders. Kom dat ons nou asb saam staan en hande vat en ophou met al die nonsens.

Casper Labuschagne ·

@Natascha, in Zimbabwe het die boere wie se plase afgeneem is bankrot gegaan toe die banke boonop toeslaan vir die uitstaande skuld – so jy verloor nie net jou eiendom nie, maar ook alles wat jy besit. Tensy Julius se plan intree waar alle eiendom asook die banke genasionaliseer word, is dit waarskynlik ook ons voorland.

Alida ·

Ek wonder hoeveel lammers sal gebore word indien hulle ‘n skaapplaas kry om op te boer. Nie een nie want die skape sal geslag word en dan is daar NIKS maar daar sal ‘n skool moet gebou word.

Casper Labuschagne ·

@Alida, vir die antwoord op jou vraag gaan soek na die Deutsche Welle video insetsel waarvan ek in my kommentaar hierbo praat ek kyk na wat werklik gebeur op plase wat oorgedra word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.