Nuuskommentaar: Wêreldorde in ’n jaar omgekeer met Krim-anneksasie

Pres. Wladimir Poetin van Rusland

Pres. Wladimir Poetin van Rusland

Gister is die anneksasie van die Krim-skiereiland oral in Rusland gevier. Met hierdie anneksasie, wat nie buite Rusland as wettig erken word nie, is ’n lont aangesteek wat die Koue Oorlog weer in al sy felheid laat ontbrand het. Westerse lande was onthuts toe hulle agterkom die gerustheid wat die einde van die Koue Oorlog ʼn kwart dekade gelede gebring het, was eintlik ’n valse gerustheid. Besnoeiings aan weermagbegrotings het die Weste baie kwesbaar gelaat vir enige moontlike militêre konflik met Rusland.

Intussen het Rusland ’n soortgelyke aksie in die oorwegend Russiessprekende ooste van die Oekraïne van stapel gestuur. Dit hou die potensiaal in dat ’n Derde Wêreldoorlog kan uitbreek, wat die gevaar van die inspan van kernwapens ’n nare moontlikheid maak.

Presies hoe groot die gevaar was, of is, dat die hele kwessie in ’n kernoorlog kan ontaard, het pas eers geblyk toe pres. Poetin die eerste keer redelike oop kaarte oor die Krim-anneksasie gespeel het. Onder sy onthullings was sy opdrag dat die kernarsenaal in gereedheid gebring moes word, ingeval die Krim-anneksasie sou eskaleer.

Natuurlik was die hele kwessie nie so simplisties nie. Die streek, wat die Oekraïne en die naasliggende Rusland insluit, is tot groot mate in ’n tydkapsule vasgevang, waar baie van die inwoners se wêreldbeskouing steeds die omstandighede van die Tweede Wêreldoorlog weerspieël. Dis ’n wêreld waar die ideologiese pole steeds tot ʼn mate uit aanhangers van Stalin en Hitler bestaan. Hierdie verdelingslyn het al tot menige vuisgevegte in die parlement van die Oekraïne gelei.

Dit is ook nie heeltemal die mense wat geraak word se skuld nie. Jare lange Sowjet-propaganda het dit lewend gehou. Vir baie van die Russiessprekende inwoners van die ooste van die Oekraïne is die “ander” gewoon Nazi’s, en dus vuilgoed. Die werklike aanhangers van nazisme is egter ’n relatiewe klein groepie, maar baie Oekraïners se herinnering aan Stalin is een van afsku. En met goeie rede.

Dit word juis bespiegel dat een van die redes waarom die voormalige Sowjet-leier, Nikita Chroesjtsjof, die Krim-skiereiland van Rusland na die Oekraïne oorgedra het, juis was om te vergoed vir wat Stalin die Oekraïners alles aangedoen het. Omdat die Russiese federasie én die Oekraïne destyds deel van die Sowjetunie was, was dit nie ’n stap wat besonder in die oog gespring het nie. Geografies het dit sin gemaak, omdat die Oekraïne en die Krim met ’n landengte verbind is, terwyl Rusland deur ’n seestraat van die Krim geskei word.

Boonop het die inheemse bevolking van die Krim, die Krim-Tartare, na die gebied begin terugkeer, nadat Stalin hulle na Siberië verskuif het. Met hul terugkeer kon hulle egter nie daarin slaag om iewers weer ’n geografiese meerderheid teenoor die Russiese, en toe ook Oekraïense minderheid, te vorm nie. Die Oekraïne, wat ʼn lang geskiedenis van sentralistiese regering het, het egter in die Krim ’n uitsondering gemaak. Die Krim se parlement het heelwat selfseggenskap geniet, terwyl die Krim-Tartare se verteenwoordigende liggaam, die Meijilis, oor heelwat magte beskik het om na die belange van dié mense om te sien. Trouens, daardie magte was so beduidend dat die Russies oorheerste Krim-parlement onderneem het om die Meijilis, so gou hy die mag daartoe verkry, af te skaf.

’n Jaar gelede het Rusland die Krim geannekseer. Poetin het nou die eerste keer die sluier gelig. Die “vreemde” soldate in ongemerkte groen uniforms was inderdaad Russiese soldate wat uit die keur van verskeie elite-weermageenhede saamgestel is, en nie soos Rusland lank beweer het, plaaslike selfverdedigingseenhede nie. Volgens Poetin het Rusland in die geheim verskeie peilings gehou voor die “referendum” wat steun vir Russiese anneksasie bevestig het. Buite Rusland word na die referendum as ’n skyn-referendum verwys.

Hierdie bloudruk is met enkele aanpassings ook in die ooste van die Oekraïne toegepas. Nou, sowat ’n jaar later, is daar ʼn ongemaklike skietstilstand. Syfers oor die aantal sterftes wissel geweldig. Die Oekraïne stel dit op ’n bietjie meer as 5 000, terwyl berig is die Duitse intelligensiediens glo dis tien keer hoër. Geweldige ontberings vind plaas.

Ná die jongste parlementêre en presidentsverkiesings het die Oekraïne ’n demokraties verkose pro-Westerse regering. Rusland beskou die Oekraïne egter tradisioneel as onlosmaaklik deel van sy invloedsfeer.

Dit lei tot verskillende vreemdhede. Terwyl die IMF feitlik agteroor buig om die Oekraïne finansieel te rugsteun, met die Europese Unie nie ver agter nie, word oproepe uit die Oekraïne dat die land by die EU en Navo kan aansluit in Europa selfs met stellings soos “onverantwoordelik” (omdat dit as uitlokking van die Russe beskou word) of as voortydig begroet.

Verskeie voormalige Oosbloklande, en selfs voormalige Sowjet-republieke soos Estland, Letland en Litaue, het lidlande van die Europese Unie en/of Navo geword.

En hier lê nou die kruks. Van hierdie lande, soos Estland, het beduidende Russiese minderhede, en dié lande is erg bekommerd dat Rusland daardie feit ook sal gebruik om die lande weer onder sy invloedsfeer te bring. Maar as lidlande van Navo is dit nie net ’n geval van vat nie – Navo is veronderstel om sy lidlande te hulp te snel. En, so het dit geblyk, die lidlande het hul verdedigingsbegrotings te veel gesnoei om werklik teen Russiese aggressie opgewasse te wees. Die meeste pas nou hul verdedigingsbegrotings aan.

Intussen, by wyse van spreke, vier Rusland die anneksasie van die Krim met ’n leë maag. Westerse sanksies het Rusland se ekonomie enorme skade berokken. Boonop het Rusland se inkomste uit olieverkope erg afgeneem weens die laer olieprys.

Om die kroon te span, het Poetin in die aanloop tot die vieringe vir tien dae uit die openbare oog verdwyn. Die Kremlin het probeer walgooi deur foto’s van Poetin by ’n amptelike geleentheid vry te stel wat toe boonop geblyk het ou foto’s van ’n vorige geleentheid te wees. Veral in die lig van die sluipmoord op sy grootste politieke teenstander het gerugte (veral in die weste) in omloop gekom. Maar Poetin het weer sy opwagting gemaak en makeer skynbaar niks.

Op die keper beskou, lyk dit of dit almal pas dat die situasie in die Oekraïne min of meer in ’n staat van afwagting gehou word, terwyl almal die koste bereken van watter keuses ook al uiteindelik gemaak word. Veral in die Weste, so lyk dit, is niemand werklik gerat om die Koue Oorlog te voer nie.

Poetin, aan die ander kant, lyk nie of hy enigiets sedert sy KGB-dae verleer het nie – allermins om net mooi genoeg na die operasionele aanwending van kernwapens te verwys om denke te beïnvloed.

Lees gerus:  Bloomberg View, US Department of State, BBC News, Reuters, Christian Science Monitor, Trouw,  Telegraph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jacques ·

Mooi opsomming van die storie sonder om regtig kant te kies,kan sien julle het moeite gedoen.

Henry ·

Russiese uitbreidingsdrang en toegang tot ‘n warm water hawe het deur die geskiedenis heen, hul buitelandse beleid geformuleer.
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde…

Wim Kotze ·

Rusland is al eeue in die Krim en het baie bloed daar gegiet. Die werklike probleem is NATO se uitbreidingsdrang. Yeltsin het destyds teen Amerikaanse arrogansie gewaarsku.

Gideon Roos ·

Die Russe het baie ver hulle mandaat as ‘n land oortree. Dit is tyd vir westerse lande om saam te staan en die Rooi Bullie under leiding van Putin uit te stof. Ons kan nie toelaat dat ‘n regering ‘n ander land se sovereiniteit so verwoes nie. As ons hierdie laat very gaan, gaan hulle volgende Poland inval, Duitsland… Ons is besig om die begin van die nuwe USSR te sien.
Ons MOET nou reaggeer, voor dit te laat is. Hulle hoort nie in die Sukiriteits Kansel van die VN nie, selfde met China, die regering wat in China se plek moet wees is die regering van Taiwan. Hulle is immers die regering wat China voor die rebellie regeer het. Hulle het selfs dan op die SK gedien in sy vroegste dae.

jacques ·

Putin is die eenigste hoop nog vir die wereld se Christine hoop net nie die CIA kry dit reg om hom ook te dood te maak nie,want hy het nou n groot probleem geraak vir America se planne.
Op die oog af lyk dit of China en die USA nie oor die weg kom nie maar eintlik is hulle in die geheim maatjies.Dinge gebeur alles vinnig nou in die wereld.Op utube of google sal jy eers op al die slegte goed afkom wat America verkondig van Putin want die surge engine is so ontwerp om so te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.