Nuuskommentaar: Werk, werk, werk…

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Vandag hou pres. Jacob Zuma “al weer” ‘n staatsrede. Hy is taamlik diep in die skuld met hierdie staatsrede omdat hy vroeër vanjaar verskeie kwessies aan die “nuwe regering” na die verkiesing, en gevolglike nuwe staatsrede, laat oorstaan het.

Maar werkskepping staan hoog op die agenda.

Geoordeel aan die Jeugdag-toesprake, onder meer van adjunkpresident Cyril Ramaphosa wat vir die moeë Zuma moes instaan, gaan daar besonder baie klem op die transformasie van die ekonomie wees. Met die besonder baie kommuniste in die uitspattige groot kabinet, veral in ekonomiese portefeuljes, is daar op sigself verskeie brokkies slegte nuus reeds in die planne ingewerk.

Staatsredes het internasionaal ‘n sekere konvensie ontwikkel, en ontleders kon na ‘n staatsrede die inhoud daarvan aan die hand van die konvensies ontleed. Dit bring ‘n soort ekonomiese stabiliteit.

Suid-Afrika se staatsredes het egter ‘n eie koers ingeslaan, en ontleders kon betreklik min daarvan maak – soos om die herhaalde beloftes van “miljoene werksgeleenthede” en die kwalik hoorbare gepiep oor die uitwissing van korrupsie te konkretiseer. Dis omtrent soos om die rasieleier se “groot brêgh” soos ‘n staatsrede te probeer ontleed.

Onlangs is ‘n staatsrede gehou waarby Suid-Afrika heelwat kan kers opsteek. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, se grootste afwyking van konvensie was dat sy haar rede sittend gelewer het. Nie as ‘n soort disrespek nie – sy herstel nog van ‘n rugbesering na ‘n ski-ongeluk.

Die feit dat sy tydens ‘n ski-ongeluk beseer is, getuig reeds van ‘n vasbyter. As kind moes sy geweldige probleme oorkom om te leer loop, en loop steeds met ongemak. Tog het sy ‘n soort ski-uitstappie aangepak wat in Engels “cross country” bekend staan – ‘n lang afstand op ski’s oor ongelyke terrein.

Haar staatsrede het ook op werkskepping gefokus, hoewel die prentjie daar aansienlik anders uitsien. Sy het daarop gewys dat Duitsland as Europa se sterkste ekonomie, en betreklik ongeskonde uit die wêreld se ekonomiese krisis getree het. Werkloosheid is betreklik laag, maar bly ‘n prioriteit.

Haar regering moes na die vorige verkiesing ‘n sogenaamde “groot koalisie” met die sosialiste sluit, en dit het deeglik in haar staatsrede neerslag gevind. Die aanspreek van minimum lone, en “skuiwergate” soos arbeidsmakelaars wat werkers oor die algemeen in swakker posisies stel as gekontrakteerde werkers het aandag gekry.

Die aftree-ouderdom gaan ook met vier jaar erlaag word. Maar dan is die nuwe pensioen-ouderdom eers 63.

Die ambisieuse planne kan net binne ‘n groot koalisie uitgevoer word. Sowat 25 persent van Duitsland se elektrisiteit word nou uit hernubare – of te wel – groenbronne verkry. Teen 2050 wil Duitsland dit tot tagtig persent opskuif. In 2000 was dit nog 6,3 persent.

Die potensiaal spreek vanself. In 2004 het 157 000 mense in die hernubare energie-sektor in Duitsland gewerk, wat nou op ongeveer 214 000 staan – ‘n toename van 36 persent. Byna ‘n miljoen Duitsers is in die omgewingsbedrywe werksaam.

Duitsland se voorbeeld word as ‘n nuwe energie-revolusie beskryf.

Dit is ligjare verwyder van hitsige politieke uitsprake hier te lande waar die woord “revolusie” nog te graag in sy klassieke sin rondgeslinger word en graderingsagentskappe senuagtig maak.

Merkel, op haar eie, boesem ekonomiese vertroue in, maar dit kom voor of sy na haar tweede moet-troue met die sosialiste, selfs meer vertroue inboesem. Die era toe die sosialiste in haar eerste groot koalisie ekonomiese groei gesmoor het, sodat dit op ‘n bitter en bevrydende politieke egskeiding uitgeloop het, is vergete. Die aanname is dat die sosialiste destyds ‘n paar harde lesse oor ekonomiese werklikhede geleer het.

Uit Ramaphosa se toespraak klink dit egter al te veel of die regering hier nog ‘n paar ernstige lesse moet leer.

Zuma spring met ‘n (selfgemaakte) agterstand weg. Een van die graderingsagentskappe wat Suid-Afrika pas weer die kreeftegang laat gaan het, het die kwaliteit van Zuma se makro-kabinet as een van die redes vir die afgradering uitgewys. Min waarnemers meen Zuma het met sy aanstelling van ministers raakgevat as hy die land ekonomies vorentoe wil neem.

Maar dalk verras Zuma. Dalk maak hy die regte geluide om positiwiteit aan te wakker. Dan is dit ‘n geval van wag en sien of sy Titanic-kabinet die ysberge sal kan trotseer en sy bestemming bereik, of met luukse vertoon en al op die seebodem gaan beland.

Oor minder as twee jaar is dit die landswye munisipale verkiesings, en as die Titanic weer sink, gaan daar moontlik ‘n stembus-slagting wees vir die ANC.

Luister dus maar met ‘n oop gemoed na die staatsrede, en onthou sy positiewe uitsprake sodat die president gereeld daaraan herinner kan word, en hy onder druk geplaas word om sy sosiale kontrak te eerbiedig. Maar populistiese praatjies – in elk geval onvanpas in ‘n staatsrede – moet maar so gou as moontlik asblik toe gevoer word. Die Titanic se asblik diep onder die koue oseaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae