Nuuskommentaar: Werkende demokrasie as teenvoeter vir korrupsie

Solly Msimanga, die burgemeester van Tshwane. Foto: http://da-gpl.co.za/

Solly Msimanga, die burgemeester van Tshwane. Foto: http://da-gpl.co.za/

Wanneer een regering ʼn ander opvolg, is daar gereeld stories en berigte oor kruiwavragte vol sensitiewe dokumente wat verbrand of versnipper word.

Nou dien die nuwe burgemeester van die Tshwane-metro, Solly Msimanga, klagtes van korrupsie in teen drie senior oud-amptenare op sterkte van dokumente wat met die koalisie in die hande van die nuwe bewindhebbers “geval” het. Verskeie sake word nog ondersoek en bedrae van tot R100 miljoen, wat betaal is maar waarvoor geen werk gedoen is nie, word genoem.

Boonop berig Maroela Media die EFF het klagtes teen die vorige burgemeester van Tshwane en senior amptenare ingedien omdat geld glo uit die stad se geldkas geneem is om die ANC se verkiesingsveldtog te befonds.

Lank voor die verkiesing het opposisiepartye reeds ʼn groot lawaai opgeskop oor verdagte en duidelik skadelike transaksies. Die ANC het telkens sy meerderheid gebruik om hom uit die moeilikheid te wikkel.

Die gebeure in 2013, toe ANC-lede van die Tlokwe-munisipaliteit (Potchefstroom) gedros het en so die DA die geleentheid gegee het om Annette Combrink (kortstondig) burgemeester te maak, het tot ʼn verbete gefladder in ANC-kringe gelei. So verbete was dit dat die indruk geskep is dat alles moontlik gedoen word om te verhinder dat moontlike ongunstige sake teen die vorige burgemeester, Maphetle Maphetle, aan die lig kom.

Die DA het in die kort tyd wat dit aan bewind was, ʼn forensiese ondersoek gedoen en in die verslag is aanbeveel dat formele dissiplinêre stappe teen Maphetle en ander gedoen word. Die Openbare Beskermer het ook aangedui dat sy met ʼn ondersoek na hom begin. Maphetle is intussen na ʼn senior pos in die Noordwes-wetgewer ontplooi, hoewel die ANC ontken het hy is herontplooi.

Na die afgelope landswye munisipale verkiesing, het talle munisipaliteite nuwe regerings gekry, hoewel die fokus sterk val op Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai (Port Elisabeth). Die ANC het Johannesburg skynbaar redelik goed bestuur, maar dieselfde kan nie van die ander twee gesê word nie en daar is heelwat afwagting oor wurms wat kan uitkruip.

Die verwagtinge oor hoe ʼn munisipale bewindsverandering ongeregtighede in die bek kan ruk, blyk uit die reaksie van die DA se Noord-Kaapse leier, Andrew Louw, nadat die verkiesingshof gelas het die stemme in ʼn wyk van die Renosterberg-munisipaliteit moet oorgetel word. Dit kan die raad uit die ANC se hande in die DA s’n plaas: “Die munisipaliteit is een van die swakstes in die provinsie. Dit is al voorheen onder administrasie geplaas. ʼn Verandering in politieke leierskap kan korrupsie uitroei en meer werkgeleenthede en beter dienslewering vir mense in Petrusville, Phillipstown en Vanderkloof meebring.” (Netwerk24).

Natuurlik is dit verkeerd dat situasies ontstaan waar ʼn bepaalde regering, ook op munisipale vlak, korrupsie institusionaliseer omdat ʼn party glo, soos pres. Jacob Zuma dit gestel het, die ANC sal regeer tot die Wederkoms.  Die ouditeur-generaal gaan immers jaar vir jaar alle owerheidsinstellings se werksaamhede na en lewer jaar na jaar die verdoemendste verslae denkbaar, wat te dikwels in effek gerak word. Die moontlikheid bestaan ook dat munisipale amptenare geolie raak daarin om onervare personeel van die OG lekker ore aan te sit.

Burgerlike instellings, veral dié wat ʼn kundigheidskapasiteit ontwikkel, kan ook disfunksionele en korrupte munisipaliteite se nagmerrie word deur te wys waar die wiele afval. Sukkelende munisipaliteite (nie skelm munisipaliteite nie) kan ook deur hierdie burgerlike instellinge gehelp word om die mas op te kom, soos wat al dikwels met AfriForum se hulp gebeur het.

Die ideaal bly egter dat regerings op alle vlakke nie so ingegrawe raak dat korrupsie ʼn lewenswyse word nie. En hiervoor is regeringsveranderings nodig. Dit is nog geen populêre onderwerp in Suid-Afrika nie, maar in lande met soortgelyke kiesstelsels as dié in Suid-Afrika, word koalisieregerings dikwels as die beste opsie beskou omdat daar nou meer oë is wat, onafhanklik van mekaar, sake dophou.

Daar is bereken die ANC kan met die volgende parlementêre verkiesing, sou huidige tendense voortduur, tot 70 setels verloor. Dit gaan voor die verkiesing reeds ʼn groot aantal bitterbekke laat, wanneer die kieslyste opgestel word en sittendes en hoopvolles besef hulle gaan dit by voorbaat nie maak nie. Die werklike slagting is egter veel groter, omdat groot getalle ondersteuningspersoneel, personeel in “kiesafdelingskantore” en ander ook in die slag bly. By baie, hoewel hulle dit nie sal laat blyk nie, tree die verlammende uitwerking nou reeds in. Opportuniste sal hulle weer kort voor die volgende verkiesing by ander partye, veral die DA, probeer aanmeld met die hoop op ʼn verlengde politieke lewe.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Schalk ·

Kiep kiep kry die hoenders op die werf hier kom wurms uit die kas

Hendrik ·

Ou Sollie het goed uit die blokke gekom maar ek kan nie baie vat kry aan die blou gedeelte nie.

Theuns ·

Weldeurdagte kommentaar! Herman ek kan jou nie se hoe frustreer die korrupsie en die engelse benamings wat die ANC, en sommige Media, instansies gee wat nie aan die staat behoort nie. Soos bv. SOE’s ( State owned enterprises) en die persone in beheer daarvan word sommer ” Shareholders” genoem instede van Stewards van die maatskappy of die person wat die Stewardship van die maatskappy beheer. (Afrikaanse woord Rentmeesterskap). Munisipaliteite word ook deur die ANC beskou as eie en persoonlike eindom! Manje, die ANC aarts-rassis, glo ook dat Pensioen Fondse ook Staats Eindom is en aangewend kan word vir korrupte betalings en ondersteuning van hulself. Geen wonder die ouens dink instellings is hul eie spaar varkies nie?

Koos1 ·

Hendrik, vergeet ‘n bietjie van politieke partye. Ek geen nie om wie in bewind is nie solank my belange en my mede burgers se belange gedien word, maar met die werk wat Solly (en hoopvol dat dit sal voortduur) so doen sal ek vir hom stem, maak nie saak watter party hy verteenwoordig nie. Dat die ANC uit die kussings gelig is is puik, nou kan alle mense sien wat hulle gedoen het.

Hendrik ·

Nee wat Koos1 ‘n mens moet bewus wees wat ‘n party se beleidsrigting is en waarnatoe hulle dryf. Dit wat hulle tans doen is doodnormaal in enige normale munisipaliteit en niks wonderliks nie. Die mense is net nie gewoond dat normale praktyke so moet lyk nie. Die volgende paar jare gaan anders begin lyk as die kwoalisiepartye hul stempel gaan begin afdruk: Soos dat alle oop gebiede in die stede met lae koste behuising gevul word al is dit langs die rykste woongebiede. Dan gaan dit ‘n ander saak word.

dave ·

Daar is nog baie van die mense in Tshwane wat geskep het wat se sake al 8 jaar draai,en al wat hulle sê is ons wag vir terugvoering

Dries ·

Praat van skep, as daad nou geskep word, kom dit by elektriese en water geskatte lesings. Hoe kan jy n geskatte lesing gee, jou gebruik word 25% meer geskat, nou word dit bereking op n glyskaal en betaal jy boete omdat dat jy meer gebruik het. So eindelik betaal jy +- 25% meer vir jou krag en water volgens die geskatte lesings.

jaco ·

dis meestal ANC-kaders wat hierdie korrupsie gepleeg het terwyl hulle senior amptenare in hierdie nou DA-beheerde munisipaliteite is. Dis wonderlik van die DA om die korrupsie oop te vlek en die betrokke amptenare daaroor aan te kla en af te dank. Die DA moet egter net onthou dat al hierdie ANC-kaders maklik die CCMA se hulp kan inroep. Die CCMA is deel van die Departement van Arbeid, wat deur die ANC-regering beheer word. So dalk sit hierdie DA munisipaliteite nog LANK opgeskeep met korrupte ANC-kaders…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.