Nuuskommentaar: Werkersdag en die e-tol

Dat Werkersdag en die voorlopige sneuweling van e-tol byna saamgeval het, is toevallig maar nie simbolies onbelangrik nie. Werkers en werkkersorganisasies was sentraal in die verset teen die instelling van e-tol.

Die gebruik om Werkersdag op 1 Mei te gedenk, spruit uit ‘n besluit tydens die tweede kongres van sosialistiese en arbeiderspartye in 1889. Dit het in hierdie kringe die naam, Meidag, gekry, dieselfde naam wat aan die huldigingsdag van Flora, die Romeinse godin van blomme gegee is. In die Noordelike halfrond is 1 Mei tradisioneel die dag waarop die eerste blomme verskyn. Buite die Sowjetunie is die regstreekse kommunistiese angel uit die dag probeer haal deur eerder daarna as arbeidersdag, of werkersdag te verwys.

In baie lande word dié dag nie op 1 Mei nie, maar op die eerste Maandag van elke Mei, gedenk wat dus elke jaar ‘n langnaweek verseker en so ook die verbintenis met Meidag en sy kommunistiese bagasie probeer versag. In die VSA, sy onderhorige state en in Kanada word Werkersdag die eerste Maandag in September gevier. Dié datums spruit uit die eerste werkersparades in hierdie lande wat in 1872 die eerste keer in Ottowa en in 1882 in die VSA gehou is – dus nog voor die sosialiste daarmee begin, en 1 Mei gekies het.

In Australië word werkersdag op verskillende Maande in die deelstate gevier, en in Nieu-Seeland op die laaste Maandag van Oktober. Ook in die ou Suid-Afrika is, na besluit is om ‘n werkersdag in te stel, aanvanklik probeer om dit los van 1 Mei te maak deur outomatiese langnaweke daaraan te koppel. Aandrang vanuit sosialistiese geledere dat die viering daarvan op Meidag moes plaasvind was egter te sterk. Daar was selde tye in die geskiedenis dat werkers, veral handearbeiders, se lot baie goed was. In feodale tye was werkers dikwels nie veel meer as lawe nie.
Werkerstrots het egter soms duidelik na vore gekom, veral in die bekende gildes van vakmanne. Vakbonde het dikwels baie van hierdie gildes oorgeneem, veral vakbonde uit die Christelike vakbondwese.

Werk as bate word immers deeglik in die Bybel en Christelike literatuur ondervang. Ons ken die uitdrukking van arbeid adel, en “In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien.” In 1 Kronieke sê die profeet Natan aan Dawid dat God hom van sy werk as skaapwagter weggeneem het om koning te word, en God se volk te lei. In 1 Korintiërs 3 word die eienskappe van die Christelike werker mooi saamgevat: Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word.

Ongelukkig is daar ook baie in Suid-Afrika wat baie graag wil werk, maar nie werk kry nie. Onder hulle is loodswaaiers en drinkers wat nie werk wat hulle wél kry, oppas nie. Maar daar is ook baie wat wil en kan werk, hard en goed kan werk, maar wat nie werk kry nie. Dié probleem dra baie by tot die maatskaplike probleme soos gesinsgeweld, en skep ‘n bose kringloop.‘n Gepaste boodskap vir Werkersdag sal dus wees: Dank die Here vir werk, en werk hard soos dit ‘n Christen betaam, en moet nie op die beroep van ander neersien nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae