Nuuskommentaar: Werkersdag of wrekersdag?

Argieffoto Foto: scottgulbransen.com

Argieffoto Foto: scottgulbransen.com

Met Suid-Afrika se hemelhoë werkloosheidskoers bied Werkersdag nie vir almal in die land ewe veel opwinding nie.

Die armoedevlakke, toelae-afhanklikheid en inkomstegaping plaas voorts dempers op die viering. Vanjaar word voorts gekenmerk deur die tragiese uitkringeffek van die Amcu-staking in die platinumgordel, wat groot nood en ontbering tot gevolg het. En waarvoor elke belastingbetaler eventueel gaan opdok weens die miljarde rande wat die staat aan inkomste verloor weens die staking, en uiteindelik die impak op beleggersvertroue in die land.

Met die destydse aankondiging van die verkiesingsdatum op 7 Mei, het siniese waarnemers opgemerk dat die baie vakansiedae in hierdie tyd aan die ANC-regering volop geleentheid bied om amptelike feesgeleenthede op staatskoste vir verkiesingsdoeleindes in te span. Selfs die mees siniese waarnemer sou in sy wildste drome nie kon voorsien tot watter mate die misbruik van staatshulpbronne vir verkiesingspropaganda sou ontaard nie. Garreth van Onselen twiet sy lysie: die SAUK, staatsadvertensies, kospakkies tot staatsgefinansierde geleenthede. Hierby kan onder meer die reuse-advertensieborde in ANC-kleure gevoeg word, en berigte van staatsvervoer wat vir die verspreiding van ANC-T-hemde ingespan word.

‘n Vry en regverdige verkiesing?

Saterdag word wêreldpersvryheidsdag gevier, maar in Suid-Afrika woed ‘n verbete stryd oor wie se verkiesingsadertensies aanvaarbaar genoeg vir uitsending is of nie. Bygesê, advertensies met ‘n laakbare halfgebakte waarheid en blatante leuens soos stemvermorsery op klein partye haal die smaak uit die kwessie, hoewel die verbode advertensies, of skynbaar verbode advertensies, op die internet die kykmetertjies behoorlik laat tol.

Verdien die land dit dat sy werkers – mense wat hul brood in die aanskyn van hul sweet verdien – se dag van erkenning in ‘n doolhof van verkiesingsbeloftes wat op 8 Mei vergete is opgesuig word? Of gaan Werkersdag van 2014 in die geskiedenis as wrekersdag opgeteken staan – die dag waarop stakers die politici en hul werkgewers met meer as die weerhouding van hul arbeid straf? Gaan armes en werkloses vandag feesvier of aan gewelddadige diensleweringsbetogings deelneem?

Dit is ongelukkig nie al amptelike dag wat ‘n siniese praktykneerslag vind nie. As na die vlakke van versoening en die hitsige uitlatings van politici en ander leiers gekyk word, kan ernstige vrae gevra word oor die doel van ‘n Versoeningsdag. Woensdag het die Vryheidsfront Plus aangekondig dat dié party ‘n klag van haatspraak teen Transnet se uitvoerende hoof, Brian Molefe lê oor beweerde ongure, rassistiese opmerkings wat hy oor verarmde Transnet-pensioenarisse gemaak het. Die ironie word verhoog deurdat dit gemaak sou wees vlak voor Werkersdag oor mense wat jare lank vir ‘n leefbare pensioen gewerk het.

Vryheidsdag is pas gevier, te midde van groot kommer oor die mate waartoe die regering leemtes in die grondwet uitbuit om in die rigting van ‘n diktatuur van die meerderheid, of dan juis ‘n oligargie binne die meerderheid, te beweeg. Die EFF maak volgens aanduidings ‘n duik in ANC-steun onder die vaandel dat politieke vryheid niks sonder ekonomiese vryheid beteken nie – in so ‘n mate dat die ANC self onlangs nog hard gehamer het op die “tweede rewolusie” wanneer ekonomiese vryheid aangespreek gaan word. Boere wat sien hoe die regering maniere bedink om die helfte van hul grond in te palm, terwyl hulle buitengewoon waaksaam moet wees te midde van ‘n uitermate hoë koers van plaasmoorde, sal seker ook rede hê om sinies oor Vryheidsdag te voel. En dan is daar nog die hele kwessie oor die stand van minderheidsregte, wat instansies soos Solidariteit noop om die howe gereeld op te soek.

Hoeveel vryheid en versoening is daarin opgelê wanneer die adjunk-president van die ANC, Cyril Ramaphosa, op dieselfde dag in die media aangehaal word dat hy graag wil sien dat rasse-onderskeid mee weggedoen word, maar ook dat “affirmative action” behou moet word?

Die verkiesing 2014 sal ook onthou word as die een wat in die allesoorheersende skadu van Jacob Zuma plaasgevind het. Dit is nie nodig om die lys van skadelike uitlatings, blapse, swak voorbeelde, ellendige leierskap, stambevoordeling, voorliefde vir kommunistiese ministers, patetiese ministers, verswygings en vele meer te herhaal nie. Genoeg om te sê: “In enige normale demokrasie…”

Maar Suid-Afrika is geen normale demokrasie nie.

Dr. Piet Croucamp, wat voorheen as fasiliteerder deur die ANC ingespan is, se artikel: “Nommer een is nie die ANC nie” sirkuleer nou deur Media 24 se publikasies. Hy sluit af na hy ‘n saak uitgemaak het dat nie almal in die ANC soos Zuma is nie: “Ek hoop die ANC oorleef Zuma, ter wille van die duisende wat hul lewe vir vryheid gegee het en die historiese integriteit wat politieke bevryding impliseer.”

Dit verander egter nie aan die feit dat die ANC self besluit het om Zuma as sy gesig vir Verkiesing 2014 in te span nie. En as die kiesers besluit om hulle daaroor op die ANC te wreek, kan die ANC net homself blameer.

Maar vandag, Werkersdag, verdien nie om as wrekersdag in die geskiedenis af te gaan nie. Elke persoon wat deur sy arbeid help bou het aan die land, verdien lof. Veral hulle wat in die ongenadige son, soms onder vriespunt, of diep onder die grond harde werk verrig het, dikwels uit die openbare oog, verdien om erkenning te kry. Hulle wat heel dag sit en zolle rol sodat die werk vir naweke en vakansiedae ophoop wanneer hulle oortydvergoeding kry, verdien dit egter nié.

Hulle wat hul werkers uitbuit en sleg behandel, en ook vakbonde soos Solidariteit besig hou, verdien nie erkenning nie.

Maar dit sal ook gepas wees om die pensioenarisse wat jaarliks verarm weens hul pensioene wat ver onder die inflasiekoers aangepas word, met meer as net morele steun te ondersteun.

Dieselfde geld hulle wat wil werk, maar magteloos verarm omdat ander eindeloos vir onrealistiese eise staak.

Dink en gedenk ook reg aan ons spesiale vakansiedae, sodat daar die regte fokus kom oor dae soos Werkersdag, Vrouedag, Jeugdag, Gesinsdag, Versoeningsdag en vele meer.

Net soos wat Kersfees nie in die eerste plek oor vriendelike dik omie met ‘n baard, en die Paasfees oor ‘n paashaas handel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae