Nuuskommentaar: Werp lig op die Eskom-sage

Argieffoto

Dis beurtkrag. ’n Egpaar sit in die semi-donkerte en legkaart bou. Twee herlaaibare ligte spook om beduidend deur die duisternis te priem. Na ’n ruk word slaapkamer toe afgesit en ’n klompie kerse bymekaar gemaak.

Die skerm wat die beeld van ’n videokamera buite se beeld toon, is pikswart. Dié video is een van die veiligheidsmaatreëls wat aangebring is na ’n huisrooftog waartydens die huishulp vermoor is, en internasionaal nuusdekking gekry het.

Uit hul jongste, ’n gestremde, se kamer vloei helder lig. Sy eie TV is weer stukkend – moontlik van die beurtkrag – en die omsetter (“inverter”) wat hy andersins vir TV kyk tydens beurtkrag gebruik, word nou netjies geïmproviseer om twee helder liggies te laat skyn. Hy werk aan sy soveelste Spiderman-pak.

Na ’n ruk is die krag weer aan, maar iemand in die omgewing se kragopwekker bly rustig voortdreun – seker ’n halfuur of langer.

Ná ’n vorige beurtkrag-era het ’n buurman se broer hier naby ’n onderneming begin om huishoudelike kragopwekkers te verkoop. Die beurtkrag het egter skietgegee en hy het ’n baie eensame figuur uitgemaak terwyl hy in sy winkel vol masjiene vergeefs op klante gewag het. Op ’n dag is hy vort en die winkel staan leeg.

Waarvoor moet ’n gesin of individue hulle inrig? Maar so lukraak leef soos met ’n vorige beurtkrag-era? Toe ’n rolstoelgekluisterde werknemer van die ANC met huistoegaantyd op die sewende verdieping van die Vrystaatse Wetgewerkantore gestrand gelaat is? ’n Groot span van sy kollegas het saamgespan en hom met rolstoel en al die sewe verdiepings afgedra. Die uwe, wat ’n jaar gelede byna voltyds in ’n rolstoel deurgebring het, weet hoe vreesaanjaend dit kan wees. Eerder as om met rolstoel en al trappe uit op ’n vliegtuig gelaai te word, is die trappe te voet, met ’n beampte onder elke arm, aangedurf.

Terwyl ’n mens probeer besin oor wat die nodigste bestemming van beperkte geldjies moet wees, weergalm die vorige president se versekering aan die nasie in die ore: “Read my lips, there will be no more load shedding.”

’n President wat geblyk het veel ander talente het (wat nou ’n klomp kommissies van ondersoek tot gevolg het) maar om profeet te wees, is nie een daarvan nie.

Minister Pravin Gordhan wend klaarblyklik ’n ernstige poging aan om oop kaarte met die nasie te speel. Hy skets ’n taamlike donker prentjie. Maar terwyl hy praat, is berigte in omloop van wat veral een energie-kenner oor die situasie gesê het. As Gordhan se beeld donker was, is die kenners se beeld byna gitswart. Stellings soos dat die land in werklikheid fase 5‑, en nie fase 4‑ nie, beurtkrag beleef. Dat steeds minderwaardige steenkool, boonop vol klippe, aangekoop word wat enorme skade aanrig. Dat die voorsitter van Eskom se direksie self belange het in twee maatskappye wat “onderhoudswerk” vir Eskom doen, maar dit so swak doen dat die herstelwerk minder as twee maande hou.

Intussen word berig dat die Kaapstadse metro die minister van energie, Jeff Radebe, hof toe sleep om die reg te bekom om elektrisiteit by ander kragvoorsieners as net Eskom te kan aankoop. Heelwat elektrisiteit is blykbaar met bestaande kapasiteit beskikbaar. Onlangs het Agri SA ’n verklaring uitgereik en daarop gewys dat sowat 600 boere al aansoek gedoen het om self krag op te wek, en dat die gesamentlike kapasiteit genoeg sou wees om die huidige krisis die hoof te bied, maar die aansoeke sloer eenvoudig. Dit was wel voor die kraglyne van Cahora Bassa af voor ’n sikloon moes swig.

Volgens inligting wat Kaapstad bekend gemaak het saam met die nuus van die komende hofsaak, wil dit voorkom asof genoegsame tegnologie ontwikkel en beskikbaar is om skade weens die wisselvallige aard van hernubare energie die hoof te bied.

Kennis is mag. Sou die gevaar van beurtkrag bekend gewees het, sou daar waarskynlik vroeër of eers later met instandhoudingswerk aan die hidroëlektriese skema by die Steenbrasdam begin gewees het. Nou kan hierdie kapasiteit nie benut word nie omdat die instandhoudingswerk tot in April sal duur.

Op ’n langer termyn: Sou dit nie moontlik gewees het om munisipale kragstasies op bystand te gehou het nie? In Bloemfontein is tot betreklik onlangs nog veral wintermaande van die ou kragstasie gebruik gemaak om tekorte aan te vul. Toe die Mangaung-raad tydens ’n raadsvergadering wou weet hoekom dit nie meer geskied nie, blyk dit dat feitlik alles wat kon loskom, verwyder en verkoop is. Dit sou bloot onbekostigbaar wees om dit weer in bedryf te kry.

Ander tipe planne soos om gewese munisipale kragstasies met afvalprodukte van die mieliestreek in bedryf te stel, het ook soos ’n trein onlangs, in die waaisand vasgeval. Niks beeld die situasie beter uit as die sogenaamde Power City in Kleinbrakrivier naby Mosselbaai nie. Dié eertydse kragstasie is nou die fokuspunt van ’n plakkerskamp op ’n vloedvlakte wat reeds verskeie kere onder vloede deurgeloop het.

Die situasie herinner sterk aan die woorde van ’n eertydse premier van die Vrystaat in ’n onbewaakte oomblik: “As ons dan almal wat korrup is, moet afdank, hoe gaan ons ooit regstellende aksie toegepas kry?”

En as die vis nog boonop van die kop af begin vrot word, is die land regtig in tamatiestraat.

Ongeag watter gevolge – korrupsie is nie ’n “oorsienbare” misdryf nie. Enige oorweging om die oranje oorpakke weggebêre te hou, weeg eenvoudig nie op teen die gevolge nie. Eskom het duidelik die Wêreldbank se standpunt gedemonstreer dat korrupsie ’n land van sy toekoms beroof. Op die oomblik geskied Eskom alleen se bydrae tot hierdie plundertog op so R200 miljard per dag. Net ’n klein bietjie glip nog, is hierdie reus wat eens so sterk was dat dit in talle opsigte as ’n staat binne ’n staat, veral finansieel met eie uitgifte kon funksioneer, oor die afgrond glip, met Suid-Afrika agterna.

Tensy Eskom met beter inligting vorendag kan kom wat op die teendeel dui.

Gelukkig put Suid-Afrikaners ook die laaste bietjie humor, of is dit galgehumor, uit die situasie. Hieronder tel lyste name van die baie babas wat oor nege maande verwag word, soos Kersie Koekemoer, Voltarine Vosloo, Oepsie Pienaar, Flitslig Visagie, Ligstraaltjie de Lange, Lampie Liebenberg, Generator Bezuidenhout en so aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Skroef ·

n Bietjie humor maak dir situasie darem LIGTER! knap gestel.

Tanya ·

Vir die eerste keer herken julle South Africa is besig om te val. En vraag is wat gaan julle doen ontred dit of gaan julle weg hardloop of gaan julle iets ontred dit doen

Herman Toerien ·

@ Tanya. Ek dink ‘n meer korrekte vraag is wat ONS daaraan gaan doen? nie Julle nie. Dink maar aan iets soos by AfriForum aansluit, en by de projekte betrokke raak. Dink aan die kerk se projekteen so aan. Daar is baie vrywilligerswerk wat gedoen kan word. Ons kan teen die droogmakers gaan stem. Elkeen het talente, al is dit “gering.” Die Bybelse talente was ongeveer 50Kg goud of silwer. Baie sterkte.

KrokodilBotha ·

Maak reg vir die ergste. Daar is nie n gebedjie wat die tjorts gaan laat verdwyn nie. Raak realisties. Propoganda van die staat instansies is altyd ” in beheer ” . Eish

John ·

En vandag word Sharpville ens ens weer lewendig en verdraaid voorgestel sodat haat en woede eerder teen die wit man wat die land opgebou het herbevestig word, ipv teen die huidige regering wat alles wat opgebou is planmatig ten gronde rig.

Andreas ·

Vandag sal jy nie ‘n piep van Cyril oor Prasa, Eskom en, en, en al hul mislukkings hoor nie, hy sal ons ook nie verras met ‘n aankondiging dat die eerste korrupte kader is vandag vasgetrek en slaap vannag in die tronk nie.

Ben ·

Eskom het in publiek erken dat hulle nie die nodige onderhoud op hulle generators en toerusting gedoen het nie. Dit het gelei tot skade aan besighede en die publiek. Eskom was Nalatig (hulle self erken) wat beteken dat die publiek nou siviele eise teen hulle kan instel vir Nalatigheid. Hulle is slegs gevrywaar as omstandighede buite hulle beheer was maar nalatigheid is nie. Ons as publiek eis kompensasie asook die bedanking van die top bestuur.

Strand looper ·

Herman dit is uitsteekend gestel jy het n gawe met woorde. Dankie vir die lekkkerrrrr less

commen-tator ·

Die probleem is dat daar te min rassiste is om Eskom reg te sien

Attie. ·

Baie dankie Herman Toerien vir jou nuuskommentaar vandag. Na al die slegte nuus en die gholfspelers wat hul sport wil beskerm in Mobray kom jy en laat my weer glimlag, baie dankie vir ‘n bietjie fyn humor so tussen die kerse deur. Skryf nog en moenie ophou skryf nie, jy mag maar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.