Nuuskommentaar: Wie De Doorns saai, sal de distels maai

Teen gisteraand het die Wes-Kaapse polisie reeds onluste en stakings in 14 gebiede hanteer, waarvan baie na die De Doorns-vonk teruggevoer kan word. Enorme skade is aangerig, en ‘n polisieman het in die hospitaal beland.

Twee van Media 24 se koerante se hoofartikels kyk vanoggend uit effens verskillende hoeke na die kwessie. Die Burger vermaan politici soos minister Marius Fransman om ‘n wag voor die mond te hê en verwys na dreigemente uit die ANC-dampkring om die provinsie onregeerbaar te maak. Beeld vra koel koppe, en raai die georganiseerde landbou aan om nie ‘n stywe rug-houding in te neem nie, en vra dat die regering alles in sy vermoë moet doen om die situasie te beredder.
Beide Agri SA en die TLU SA het ook gister formeel gereageer.

Beide landbou-organisasies wys daarop dat hulle nie die wetlike bevoegdheid het om namens hul lede oor minimumlone te besluit nie, en beide meen die onluste word ook deur nie-landboukwessies gedryf. Die TLU-SA bring dit in verband met die uitgesproke doelwit om die Wes-Kaap onregeerbaar te maak. Voorts kan ‘n verhoogde minimumloon tot afdankings lei, en die waarde van in natura-vergoeding behoort ook bereken te word.

Die oorsake mag geweldig kompleks, en sosio-maatskaplik en polities gelaai wees, die gevolge is doodeenvoudig dat, soos Beeld maan, dat die optrede daartoe kan bydra dat die landbou nie, soos in die nasionale ontwikkelingsplan beoog word, binne die afsienbare toekoms ‘n miljoen werksgeleenthede te skep nie.

Die bedoeling is nie om nou die ingewikkeldheid weer onder die loep te neem wat Maroela reeds gedoen het nie.
Die Wes-Kaapse geweldpleging moet ook in die konteks van die landswye onrus beoordeel word wat reg of verkeerd, dikwels na Marikana herlei word. RSG se drie-uur bulletin op 13 November skets kwalik verkort ‘n demoraliserende prentjie:

– Die polisie in Limpopo ondersoek die moord op ‘n mynwerker nadat nie-stakende werkers by Anglo Platinum se Amandelbult-myn aangerand is. Dit is die tweede myner, wat gaan werk het, wat vermoedelik deur stakers doodgemaak is.
– Die polisie hou die situasie dop by die Bokoni Platinummyn op Atok in Limpopo waar stakende werkers toerusting by die Brakfontein-skag asook ‘n afleweringsvoertuig en ‘n gedeelte van ‘n mynhostel aan die brand gesteek het. Dit volg nadat die polisie vroeër vandag met rubberkoeëls op die myners geskiet en talle in hegtenis geneem het.
– Die pad na die Xtrata Alloys-skag op Kroondal naby Rustenburg in Noordwes is deur stakende werkers met klippe versper. Hulle eis die afdanking van ‘n bestuurder wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n beampte van die NUM tydens ‘n staking in Augustus aangerand het.
– Die polisie hou die situasie dop by Robertson in die Wes-Kaap waar ‘n groep plaaswerkers op die hoofpad betoog. Dit raak verkeer van Worcester en die naburige dorpe Ashton, Montagu en Mc Gregor. Die werkers sê hulle betoog uit solidariteit met die plaaswerkers by De Doorns. Die staking het vroeër uitgebrei na Piketberg, Ceres, die Paarl en Villiersdorp. Plaaswerkers sê hulle is vasbeslote om die landbousektor in die Wes-Kaap tot stilstand te bring.
– Die saak teen drie Zimbabwiërs wat aangekla word van die moord op die voormalige bokskampioen Corrie Sanders is tot 29 Januarie uitgestel. Die uitstel is vir verdere ondersoek en omdat ‘n regsverteenwoordiger vir die verdagtes nie beskikbaar was nie.

Hierna het die onluste in die Wes-Kaap nog aansienlik uitgebrei.

Politieke sosioloë is waarskynlik vakkundig die beste toegerus om oordele oor die dinamika uit te spreek wat nou ervaar word. Wat die Hexriviervallei betref, pas die geweld in die prentjie van sterk gewortelde eiesoortige omstandighede wat lank nie-gewelddadig gebroei het. Verskeie faktore kon ‘n rol gespeel het om die uitbarsting te laat plaasvind, soos opstokery van buite, die verwaarlosing van die opvoedingstaak om broeiende persepsies aan te spreek, een of twee vrot appels wat moontlik wel werkers uitgebuit het, die moontlikheid dat die gaping op die grafiek van relatiewe deprivasie net te groot geword het, die invloed van nuwe dinamika soos onwettige immigrante, en natuurlik die persepsies van die inkomstegaping wat met die Marikana-skietery met menings na die oppervlak gedwing is.

Oor die gevolge is daar groter eenstemmigheid. Wanneer ‘n samelewing deur geweld geraak word, word die maatskaplike kragte in die gemeenskap dun geskuur, en raak dit almal, met onder meer gesinsgeweld as manifestasie, maar ook kriminele geweld soos brandstigting. Dit kan ‘n kollektiewe karakter aanneem.

Beeld stel dit onomwonde dat dit die wysheid van Salomo gaan verg om die situasie te ontlont.

Dit is vir die ANC ‘n pynlike klip in die skoen dat die Wes-Kaap in vele opsigte, soos dienslewering, in ‘n modelprovinsie ontwikkel, terwyl dit die enigste provinsie is wat nié deur die ANC beheer word nie. Ook baie munisipaliteite word nie deur die ANC beheer nie. Die vergrootglase sal dus op die provinsie gerig wees om ‘n los draadjie te probeer opspoor, en dan hard daaraan te begin trek om te kyk wat losgetorring kan word. Een so ‘n los draadjie is die sluiting van verskeie Wes-Kaapse skole die einde van die jaar om hulpbronne beter gekonsentreer te kan aanwend. Hieroor lawaai die ANC hard, maar doen presies dieselfde op groter skaal elders in die land waar veral plaasskole gekonsolideer word.

Nog ‘n draadjie waaraan hard getrek word, is die onrustigheid by Grabouw. Sommer gou het die De Doorns-opstokers gedreig dat die stakings (en geweld) gaan versprei, en Grabouw is ook by voorbaat genoem.

Rondom die landbou in die Wes-Kaap is daar lank-gevestigde persepsies van uitbuiting wat hard en aktief lewend gehou word. Hoewel daar nie tot dieselfde mate NRO’s elders in die land in eiebelang persepsies dryf nie, laat die politici selde die geleentheid verbygaan om die landbousektor die jas van uitbuiting en onderdrukking aan te trek. Trouens, hierdie uitsprake uit regeringsgeledere word sterk in verband gebring met die dampkring waarbinne plaasaanvalle en plaasmoorde plaasvind.

In ‘n stadium was dit opmerklik hoe daar kort na daar ‘n politieke aanklag teen boere in die Wes-Kaap was, daar kort daarna ‘n plaasmoord in die Vrystaat was. Een grusame voorbeeld is die geval in 2006 toe die Fourie-egpaar by Verkeerdevlei vermoor, en hul dogter ernstig beseer is kort na minister Lulu Xinwana haar mond op Kerkplein oor die landbou uitgespoel het. So ‘n verband, as dit bestaan, is egter onbewysbaar.

Ministers wat onverantwoordelike uitsprake maak en daarmee wegkom, is egter die simptoom van die spreekwoordelike vis wat van sy kop af verrot. En juis daarom kyk die land met verdeelde wenslysies na die ANC se Mangaung-kongres die einde van die jaar. Die een helfte hoopvol dat die land met beter leierskap daarvan sal afkom. Die ander dat bestaande belange verder geanker sal word. En uit laasgenoemde geledere is dit verbluffend tot watter ondemokratiese en ongrondwetlike optrede voorstelle gemaak word, soos die SAKP in KwaZulu-Natal se voorstel dat wetgewing ingevoer wat dit a-la-Zimbabwe onwettig sou maak om die regeringshoof te beledig. Nkandlagate, waarskynlik een van die grootste hefbome om die soio-ekonomiese ongelykhede in die land onder die vergrootglas te plaas, moet dus liefs onder die mat ingevee word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Heimo Böhmer ·

Die onthulling oor die boeremag debakel kom onwillekeurig by my op : waar ‘n koverte “polisieman” die voorbok is en sy maatjies opleiding gee in plofstof ens en dan uiteindelik sy pêlle in die rug steek.

As soiets moontlik is, dan is dit seker ook moontlik dat koverte magte die “revolusie” in De Doorns ge-orkestreer het, (lees busvragte vol betogers word aangery) om byvoorbeeld almal se oë weg te lei van ons president se Nkandlagate óf miskien om die arrogante Helen Zille ‘n les te leer om nie met die prez (of Nkandla) te sukkel nie !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.