Nuuskommentaar: Wie dorings saai, sal distels maai

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Flickr/GovernmentZA

Die ou, byna vergete spreekwoord, wie dorings saai sal distels maai, kan gerus weer afgestof word. Ons land beleef ʼn vloedgolf van gevalle waar “verdraagsaamheid, of selfs steun aan chaos,” onhanteerbaar geword het. Of dit nou die wyse is waarop die ANC se parlementêre koukus pres. Jacob Zuma deur die Nkandla-sage gekussing het wat nou waarskynlik daartoe gaan lei dat die koukus sy hantering van die kwessie hersien en of dit nou die beskerming van tydelike Pikitup-werkers teen stakende werkers is.

Op die oomblik is ʼn proses in die ANC aan die gang om die bande tussen pres. Jacob Zuma en die Guptas te “hanteer”. Aangesien dit grootliks in die geheim plaasvind, lyk dit van buite na ʼn proses om ʼn heksebrousel op te dis, terwyl hoopvolles hoop dat dit eintlik ʼn baie slim en strategiese proses sal wees om Zuma in die pad te steek. Die probleem is dat die spore al jare terugloop en nooit vasgevat is nie. Die dorings het wortel geskiet en die distels staan vol in die blom.

Met die onlangse studente-onluste het dr. Theuns Eloff, oud-rektor van die NWU, onthul die regering het tydens ʼn vorige rondte onluste druk uitgeoefen om nie teen die oortreders op te tree nie. Dié distels word nou gemaai.

Bykans geen staking of optog in Suid-Afrika het geen moontlikheid dat intimidasie, aanranding, vandalisme of rommelstrooiing sal plaasvind nie, terwyl die Grondwet slegs vir vreedsame protes voorsiening maak.

Die Belgiese joernalis, Petra Janboers, volg min of meer dieselfde gedagtegang. In ʼn artikel in De Standaard, Belgen zien nu ook dat chaos niet werkt, verwys sy na die voorval die naweek, toe ʼn groep van sowat 450 swartgeklede gopse (sy gebruik die woord “hooligans”) die Beursplein bestorm het, waar naasbestaandes van die onlangse IS-bomaanslae kerse gebrand en die tragedie gedenk het.

Die groep het onder andere nie-blanke treurendes rassistiese aanmerkings toegesnou. Die polisie het hulle met onder meer waterkanonne uitmekaar gejaag.

Janboers neem die lesers op ʼn geskiedenisvlug na voorvalle van chaos en selfs groot lewensverlies in België, waar die owerhede lomp en verdraagsaam opgetree het. Veral in die gebied Brussel word nie net  “institusionele wanorde” verlief geneem nie, maar baie vind dit selfs “sjarmant”. Nou, meen sy, is dit hoog tyd om na “orde van die dag” oor te slaan.

In Suid-Afrika groei die gevoel onder radikales dat die grondwet gewysig moet word. Hulle argumenteer die huidige grondwet was die produk van sy tyd, maar gebreke daarin kom nou aan die lig, wat verhinder dat welvaart en grondbesit sommer met pennestrepe “reggestel” kan word. Dit lyk of hierdie groepering ook ʼn “sjarmantheid” in chaos sien, terwyl graderingsagentskappe hard om meer orde te verseker.

Nie almal in Suid-Afrika is ewe gediend met die “sjarmante chaos” nie en die fenomenale opkoms van die burgerregte-organisasie, AfriForum, is ʼn klinkklare bewys hiervan. Nog ʼn bewys is die steun wat die Solidariteit Beweging se Plan B by die publiek en meningsvormers kry.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Veritas ·

Herman, as jy my een protesaksie in Suid-Afrika, wat nie in chaos ontaard het nie en suksesvol was, kan wys, gee ek jou ‘n Nobel prys. Daar is twee moontlike redes hiervoor. Die eerste is dat die protesteerders nie hul punt kan oordra op ‘n beskaafde manier nie en die tweede is omdat hulle weet dat chaotiese en gewelddadige optrede die enigste manier is om hul sin te kry. Die fout lê ook nie altyd by die molesmakers nie. In sommige gevalle het hulle vreedsame vertoë geen positiewe gevolge gehad nie. Dit laat regtig net een effektiewe metode om hul klagte tuis te bring en dit is om chaos te skep. Detente is iets wat nie in Suid-Afrika werk nie.

Loeis ·

Weereens: AS die ANC Zuma in die pad steek, is dit daardie selfde ANC wie die volgende staatshoof aanstel, wie dalk ook ‘n Zuma mag wees. Niks om na uit te sien nie.

Die verwysing na veranderinge die grondwet is kommerwekkend, maar die ANC het nie die meerderheid wat nodig is om dit te wysig nie, en die EFF nog minder. Indien die EFF die ANC sou saamwerk om die grondwet te verander, het hulle ‘n gemaklike tweederde meerdeheid wat hulle sal toelaat om te maak en breek nes hulle wil.

Die ANC en EFF is familie wie huismoles gehad het. Indien die ANC in die komende verkiesing ‘n aantal rade sou verloor – en dit is heeltemaal moontlik – en dan met die EFF sou saamwerk om beheer oor daardie rade te behou, sal die EFF verseker sy eie eise vir samewerking stel, en dit mag die grondwet behels. Dit gaan dalk ‘n koalisie tussen die ANC en die DA kos om so ramp te voorkom. Nie dat daardie twee partye se beleid te veel verskil nie, so tong in die kies.

‘n Mooi ramp, en een waaraan Theuns Elof wie in die artikel geneom word, help onderhandel het.

Loeis ·

Weereens: AS die ANC Zuma in die pad steek, is dit daardie selfde ANC wie die volgende staatshoof aanstel, wie dalk ook ‘n Zuma mag wees. Niks om na uit te sien nie.

Die verwysing na veranderinge die grondwet is kommerwekkend, maar die ANC het nie die meerderheid wat nodig is om dit te wysig nie, en die EFF nog minder. Indien die EFF die ANC sou saamwerk om die grondwet te verander, het hulle ‘n gemaklike tweederde meerdeheid wat hulle sal toelaat om te maak en breek nes hulle wil.

Die ANC en EFF is familie wie huismoles gehad het. Indien die ANC in die komende verkiesing ‘n aantal rade sou verloor – en dit is heeltemaal moontlik – en dan met die EFF sou saamwerk om beheer oor daardie rade te behou, sal die EFF verseker sy eie eise vir samewerking stel, en dit mag die grondwet behels. Dit gaan dalk ‘n koalisie tussen die ANC en die DA kos om so ramp te voorkom. Nie dat daardie twee partye se beleid te veel verskil nie, so tong in die kies.

‘n Mooi ramp, en een waaraan Theuns Elof wie in die artikel genoem word, help onderhandel het.

Herman Toerien ·

Dankie Derek. Ek en my vrou het gisteraand ook die paar boeke wat ons het, oa dié v Anton Prinsloo, opgekyk en ook net “Wie die wind waai, sal storms maai” gekry. Dit kom blykbaar van die Enegls, He who sows the wind, will reap the whirlwind.”
Omdat ek die distel-storie nie self uitgedink het nie, maar ook glad nie kan onthou waar ek daaraan gekom het nie, het ek gaan Google of dit dalk ‘n streekverskynsel is. Ek het vasgestel die Nederlanders het ‘n ou gesegde, Distels maaien, is distels zaaien. Daar is ook ‘n paar variasies. Ek gaan die storie verder opvolg.

Grassie ·

Behalwe distels saai ou Zoempas ook baie wildehawer. Die problem is net, die 20 of 30 plantjies wat opgekom het moet deur die belastingbetalers onderhou word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.