Nuuskommentaar: Wie dorings saai sal distels maai

Suid-Afrika beleef gereeld gewelddadige onluste, veral op munisipale vlak. Dit neem dikwels die vorm van dominos aan, en kan landswyd uitslaan, soos wat dit nou onder meer by Ogies, Heidelberg, Sharpeville, Grabouw en Houtbaai voorgekom het.

Oormatige dienslewingsverwagtinge as gevolg van onrealistiese verkiesingsbeloftes, wanadministrasie en korrupsie wat die spaarvarkies leeg maak, werkloosheid en die onvermoë om vir dienste te betaal – alles dra by tot die gevoel van onvervulde verwagtinge. Soms is daar komplekse redes, waaroor volledig verswyg word omdat dit so politiek inkorrek is. Om ‘n voorbeeld te gee: in die Vrystaat, oos van ‘n lyn wat van Qwaqwa tot die Vaalrivier strek, is die bevolking hoofsaaklik Zoeloes. Wes daarvan, is die bevolking hoofsaaklik Suid-Sotho’s. Met die saamstel van groter geografiese munisipaliteite, gebeur dit nou dat ‘n hele aantal munisipaliteite wydsbeen oor dié grens strek. Selfs Qwaqwa, byna uitsluitlik Suid-Sotho, is saam met Harrismith met ‘n oorwegende Zoeloebevolking in een munisipaliteit ingedeel.

Dit behoef geen profeet nie om te weet dat dit ‘n resep vir moeilikheid is. Is die burgemeester ‘n Zoeloe, word hy soos ‘n valkoog deur die Suid-Sotho’s dopgehou, en omgekeerd. Verskeie kere het onluste nou al soos ‘n veldbrand langs hierdie etniese foutlyne langs versprei. Dikwels is slegs die vermoede dat so ‘n “vreemde” burgemeester nepotisme aan die dag lê – ‘n eienskap wat in verskeie inheemse kulture eerder as goeie as slegte eienskap beskou word – genoeg om die vure te stook.

Om sake meer kompleks te maak, het die treinspoorbouers gewoonlik van Xhosas gebruik gemaak wat dikwels in spoorwegdoprpe soos De Aar, Kimberley, Upington, Kroonstad en vele ander agtergebly het, en soms selfs die meerderheid vorm in ‘n omgewing waar die omringende dorpe etnies anders saamgestel is. Die inwoners van Nonzwakazi by De Aar is ten nouste verwant aan die inwoners van Cradock, en meermale het die eerste klip nog nie in die een grondgevat nie, dan trek die klippe in die ander. Soortgelyke scenario’s speel hulle in myngemeenskappe af.

Daar is ‘n ander etniese verskynsel wat hom tussenin afspeel – maak nie saak wie vir wie waaroor kwaad is nie, maar as die onluste uitbreek is dit gewoonlik die sake-ondernemings van vreemdelinge, soos Pakistani’s en Bangladesji’s wat in die slag bly. Dieselfde lot het al blankes se ondernemings in tradisioneel swart uitbreidings te beurt geval – terwyl die eienaars hoegenaamd nie eens by die twispunte betrokke is nie.

Terwyl dit in die reël baie moeilik is om ‘n minister se stamverwantskap vas te stel, het pres. Jacob Zuma veral aanvanklik sy 100 % Zoeloeskap trots aan die groot klok gehang. Hiermee is die IVP as politieke mag byna gebreek, maar in die ANC wat die afgelope paar dekades aan die kop deur Xhosas oorheers is, is daar nou op verskillende vlakke ongemak met Zuma.

Voorts stam van die bekendste ANC-Xhosaleiers, soos Thabo Mbeki, uit stamme wat lank reeds ‘n hoë premie op ‘n westers-beïnvloede kultuur stel. Skool- en verdere opleiding tel onder meer hieronder, iets wat Zuma nie kan bied nie. Baie van hierdie Xhosa-adel het ook huwelike aangegaan met die adel van die Tswana’s se Bafokeng-stam. Dit het veral in die Mbeki-area landswyd ‘n impak gehad – byvoorbeeld ‘n munisipaliteit wat met groot moeite deur die provinsiale owerhede onder administrasie geplaas is, se administrasie nis bykans onmiddellik opgehef toe Mbeki skielik kom besoek aflê het.

Terwyl die politiek-korrekte wegkyk van hierdie invloede ‘n onafhanklike kommentator met ‘n vrot tamatie in die gesig kan laat, is dit ook so dat daar op minstens sekere vlakke in die ANC hard gewerk word om die impak hiervan te neutraliseer. Die “tribalism” soos dit genoem word, is vir baie ‘n primitiewe eienskap, en ‘n verleentheid. Die Afrikaner se trekkery in die teenoorgestelde rigting word dus moeilik verteer. Presies hoeveel “tribalism” uit die openbare oog steeds getrou onderhou word, en dus ook heimlike begrip vir die Afrikanersaak bestaan, is bykans onmoontlik om te bepaal. Maar wanneer die woede oorkook, is inhibisies oor politiek-korrekte sentimente ver van die gedagtes.

Terwyl dit nou duidelik is dat Zuma se politieke lewe aan ‘n draadjie begin hang, kan verwag word dat hy weer op verskeie maniere, waaronder nepotistiese aanstellings, hom sal beroep op sy tradisionele steunbasis – die Zoeloes. Hier staan sy gebrek aan formele skoolonderrig en sy poligamie nie so as verleenthede vir die nasionale psige uit nie.

Zuma se uitdagers sal die onderliggende psige beter verstaan as die meeste waarnemers, en hulle sal na verwagting heelwat voetwerk gedoen kry voor die waarnemers tekens daarvan sal bemerk. Van die ongelukkigste dinge wat ‘n uitdager nou kan oorkom, is om sy of haar naam as sodanig in die media te sien pryk. Lindiwe Sisulu het gevolglik baie gou haar steun aan die ANC toegesê, maar opvallend nie juis van steun vir Zuma self oorgeloop nie. Dit interessantheid is dat adjunk-president Kgalema Motlanthe ook genoem word, skynbaar sonder dat hy oor sy voete val om die berigte te ontken. Die land kan bloot asem ophou dat die stryd van politieke byltjies en lang messe nie in nog groter diensleweringsoproer uitkring nie. Die land begin juis nou naderstaan aan die stakingseisoen, wat tradisioneel ook nie uitsonderlik vreedsaam verloop nie. En ja, daar is hopeloos te min tyd en geld om die grondliggende probleme vir die huidige oproer betyds te besleg – selfs al word korrupsie en wanadministrasie oornag kortgeknip. Brugbouers gaan hul hande vol hê, en dit sal help as die slopers latent bly of verdwyn.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae