Nuuskommentaar: Wie het kat aan stert beet oor PUK en ander?

V.l.n.r. "Swart gesig"-studente van Stellenbosch; Beeld se voorblad oor "Nazi-saluut" by die Puk; onluste by TUT; "swart gesig"-studente van Tuks

V.l.n.r. “Swart gesig”-studente van Stellenbosch; Beeld se voorblad oor “Nazi-saluut” by die Puk; onluste by TUT; “swart gesig”-studente van Tuks

Die minister het oplaas op die omstrede Puk-verslag reageer, maar die Puk is nie al universiteit wat in die nuus is nie. In ’n bisarre verloop is Potch wel groter nuus as sekere ander universiteite wat weens studente-onluste gesluit word, onder administrasie verkeer en waar wanorde byna deurlopend heers.

Studente wat vir private temapartytjies hul gesigte swart verf, is groter nuus as voertuie en geboue wat verniel of selfs vernietig word.

Hoër onderwysinstellings van uitnemendheid. Só word die ideaal van Suid-Afrikaanse universiteite gereeld verkondig.

Maar met die aartskommunis, comrade dr. Blade Nzimade aan die spits, bly Suid-Afrika se universiteite om die verkeerde redes in die nuus. En met dit wat verkeerd loop, word die vinger na ander gewys, gewoonlik omdat hulle die grondwet sou ondermyn “deur transformasie teen te werk”.

Omtrent soos die knapie wat by sy ma raas kry omdat hy die kat se stert trek: “Maar ma, ek trek nie, ek hou net vas; dit is die kat wat trek.”

Onlangs het prof. Adam Habib, rektor van Wits, in ’n artikel verwys na “die opdrag” wat rektore het. Hoewel die artikel in twee gedaantes gepubliseer was: eers deur ’n joernalis wat met hom ʼn onderhoud gevoer het; en toe hy met die produk ontevrede was, onder sy eie naam; kan net afgelei word wat dié taak is – rastransformasie en die wegdoen met praktyke waar die eie (Afrikaanse) kultuur gehandhaaf word.

Die werklikheid is dat dit waarmee weggedoen moet word, grondwetlike regte is, en ook deel van die internasionale reg uitmaak. Habib “ontsnap” uit hierdie dilemma deur sommer te oordeel hierdie mense misbruik die grondwet om hul doelwitte te bereik (of bestaande regte te behou).

Nou wat soek daardie bepalings in “die beste grondwet ter wêreld”?

In sy reaksie op die Wessels-verslag, sê Nzimande die Potchefstroomse kampus is steeds ʼn “apartheidsenklawe”.

Niks wat die minister gister gesê het, is nie maande gelede voorspel toe Beeld die storie oor die “Nazi-saluut” gebreek het nie. Wie enige ander “bevinding” verwag het, is naïef.

Die “ondergrondse” voortsetting van verbode ontgroeningspraktyke, skynbaar volgens die verslag met die steun van topbestuurslede op die kampus, het die minister nou ’n kapstok gebied om ’n Jonathan Jansen op die kampus te trek. Terwyl sowat 42% van die huidige studente by ander universiteite, waaronder Kovsies, verbyry om op die Puk te studeer, juis oor die grondwetlike regte wat hulle tot daar kon geniet het.

Of anders gestel. Skep jou eie strooipop van wat jou ideologiese opponente wil bereik, en skiet dan daardie strooipop vol gate. So het ’n personeellid by Kovsies, JC van der Merwe, wat volgens homself in die Jansen-kamp is, in ʼn brief aan Volksblad na die “ander” as verkramptes verwys.

In sy ywer om die rektor na die mond te praat laat hy dit klink of die manier waarop twee Kovsies wat deur die rektor geskors is, skynbaar sonder om hul kant aan te hoor, deel van transformasie is. Diegene wat op regverdige prosedures aandring, is “verkramp,” ook Paul Colditz wat uit protes as raadslid bedank het. Die Menseregtekommissie en die hof het die twee studente onskuldig bevind, en Jansen staar moontlik ʼn enorme skadevergoedingseis in die gesig.

Die transformasiegesinde Van der Merwe het skynbaar ook geen probleem daarmee dat Jansen sy vise-rektor, prof. Driekie Hay, skors omdat sy skynbaar navrae van die Volksblad beantwoord het nie. Volgens ʼn UV-hoogleraar in ʼn brief aan die koerant, was Hay se “sonde” blykbaar om die skakelburo te omseil, wat soos “ʼn polisiestaat-kommunikasie” bedryf word.

Die hoogleraar, wat verseker dat die “verkramptes” nie teen transformasie gekant is nie, maar die manier van doen, staan egter nie alleen in sy beoordeling na die “polisiestaat-kommunikasie” nie.

Toe Kovsies die Volksblad persombudsman toe gesleep het oor sekere beriggewing, is daar bevind dat Kovsies self gedeeltelik vir foutiewe beriggewing verantwoordelik was, deur te versuim om die relevante inligting beskikbaar te stel. Ook ander joernaliste kan getuig oor die polisiestaat-mentaliteit wat hulle van die skakelburo ervaar.

Eerlike voorstanders van transformasie, waar ras nie allesoorheersend is nie, sal die stuipe kry dat sulke eksponente van ’n paloekrasie as voorbeelde van transformasie voorgehou word.

Prof. Jansen het na die dood van die Matie-rektor, prof. Russel Botman, tydens ʼn huldigingsdiens in Heidedal geïnsinueer dat die “vyande van transformasie” vir Botman se dood verantwoordelik kan wees. Hy herhaal dit twee keer, onder andere in ʼn artikel, en hou vol dat Botman “nie vanself dood neergeslaan het nie”.

Die voorval waar twee Tukkie-studente hul gesigte swart gemaak het en as “huishulpe” na ’n privaat partytjie is, word nog ondersoek, of twee Matie-studente beeld hulself as die Williams-susters, Venus en Serena, uit vir ’n kostuumpartytjie. Niemand het enige kwaadwillige, of rassistiese motiewe gehad nie, en ’n mens moet inderdaad goed ingelig wees om te weet die gevoeligheid word teruggevoer na ’n era in die VSA toe swart mense nog nie toegelaat was om self rolle in “wit” opvoerings te speel nie. Wit mense is dan swart gemaak, en in die proses baie stereotipies oorlams uitgebeeld.

Dié sensitiwiteit herinner aan die plaasskool se konsert wat ook deur die boer en sy vrou bygewoon is. Klein Thabo maak plaasgeluide na, en almal verstom hulle oor hoe oulik die mannetjie die beeste, skape, hoenders, die tarentale en die kalkoen-ibisse naboots. Toe beduie hy, hy gaan nou die boer namaak: “Piet, het jy al weer die &^%% trekker se snottel afgebreek?!” Die dak lig, maar die skoolhoof besluit wyslik dit was die einde van Thabo se vertoning.

ʼn Sensitiwiteit speel hom oor die praktyk van Zwarte Piet in Nederland en Vlaandere af, waar daar ’n wye rug styfmakery en spesiale appèl is om te keer dat tradisie sneuwel. Terselfdertyd is daar groot begrip dat die stereotipe uitbeelding van Zwarte Piet iets van die verlede is, en ingevolge ’n hofbevel waarskynlik voortaan ligter sal wees, “soos iemand wat deur ’n skoorsteen geklouter het”. Minderheidsgemeenskappe moet ook geken word in die toestemming vir Sinterklaas en sy Zwarte Piet in stede en dorpe.

Terwyl dit reg is dat sensitiwiteite aangespreek word, kan egter ook nie toegelaat word dat die regering deur ’n kruipende diktatuur die grondwet erodeer nie. Vandag takel die Burger in sy hoofartikel die ANC oor twee onverwante sake oor die skynbare ondermyning van die grondwet, onder die opskrif: “ANC predik dwaalleer oor die grondwet.

Ook die FW de Klerkstigting en ander takel die regering gereeld vir die ondermyning van die grondwet, die skending van die vredesakkoord of die voortvloeiende grondwetlike beginsels.

Oor die Puk sê Nzimande, soos aangehaal uit Netwerk 24: “Dit wat op die Potchefstroom-kampus gebeur het, is tragies en net soos om ons Grondwet te vertrap.

Wie se grondwetlike beoordeling is meer betroubaar – hoogleraars in staatsreg of ʼn kommunistiese dinosourus? Hou diegene wat die grondwet wil toepas om hul grondwetlike regte van eie kultuur en taal se status toe te pas werklik ʼn onwillige kat se stert vas? Of is dit die minister en sy party wat die kat aan die stert beet het?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Daan ·

Kan die redaktrise asb. hierop reageer en vir ons vertel hoe goed dit gaan met Afrikaans?

Dit is veral uitstekend vir Afrikaans as akademiese taal wanneer die enigste Afrikaanse kampus moontlik gedwing gaan word om uitsluitlik in Engels klas te gee.

Herman Toerien ·

Ongelukkig is daar nie ‘n maklike antwoord nie. Terwyl een groep, waaronder ek self, voel dat daar genoeg internasionale voorbeelde is (bv Frankryk) waar die amptelike afknou van ‘n taal tot die taal se algehele onergang kan lei, meen ander weer dat die wyse waarop Afrikaans by kunstefeeste, musiekverkope, boeke ens floreer, daarop dui dat Afrikaans inderdaad floreer. Dus, half en half, is die witblitsglas half vol, of half leeg.
Nou, terwyl ek skryf, hoor ek op RSG die omroeper vra die vraag of iets van die paaie af “verban” moet word. Dit kom regstreeks uit die Engelse “ban” wat nié “verban” beteken nie (daarvoor is die Engelse woorde oa “excile”), maar verbied. Maar kyk maar hoeveel mense gebruik links en regs “verban” in plaas van verbied.
Dit hang natuurlik af hoe “oop” iemand Afrikaans vir vertalings beskou. As ons nie taalverndering ondergaan het nie, het ons waarskylik nou ‘n dialektiese mengtaal tussen Hooghollands en ‘n Middelnedrlandse dialek, met sterk Brabantse insette gepraat het.
By Kovsies, weet ek van minstens een geval waar ‘n Afrikaanse student uit Namibië baie gou na die Engelse klas oorbeweeg het omdat hy in Namibië net Engelse onderrig ontvang het, en dus nie die basis gehad het om akademies verder in Afrikaans te gaan nie.
Interessant kon regerings wat tale soos Baskies en Koerdies heeltemal verbied het, nie verhinder dat dit sterk oorleef nie. Daar is ‘n bietjie van ‘n ander dinamika hoekom Friesies herleef.
Tradisioneel het die Bybelvertalings, soos in Duitsland, baie daartoe bygedra om die taal tussen ‘n klomp dialekte se “aansprake” te standariseer en stabiliseer.Maar hoe ‘n sterk invloed het die Bybel nog op diegene wat so graag “nuwe” variasies praat, of selfs oues soos Zef-Afrikaans afstof?
My eie instink is dus om nie heeltemal sonder briekse te wees nie.

Jakoos ·

Ek verstaan eintlik nie mooi wat Daan probeer se^ nie, maar dalk het Herman ‘n punt as hy praat van ‘n halfvol of halfleeg glas.

Ek is bevrees dat Afrikaans ook aan die Puk gaan verdwyn soos dit aan die ou RAU (nou UJ) en aan die US en selfs UP agteruitgegaan het en totaal afgeskaf gaan word.

Daar kan wel ‘n saak gestel word dat veral Afrikaanse musiek die taal ‘n hupstoot gee, maar as ek hoor hoe die musikante voor die voet praat van “songs” en “cool” en “jigs” en sommer goed soos “crowd” (om nie te praat van “fans” nie), dan dink ek nie dit is Afrikaans soos ek hom geken het.

Jakoos ·

Daan, ek het later eers gesien waarna jy verwys. Ek het daar op die redakteursbrief spasie gese dat ek dink jy is reg!

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir ‘n artikel wat mens regtig diep laat nadink!

Intussen is dit goed as mens ook raak sien dat daar belangstelling is in Afrikaans wêreldwyd.

Kyk hier byvoorbeeld na Rusland:
https://aie.ned.univie.ac.at/node/13181

Heel links onder “Universiteite..” kan geklik word op skakels na Oostenryk, Duitsland, België, Nederland, Pole en die Tjeggiese Republiek.

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir ‘n goedgebalanseerde artikel. Intussen is dit goed as mens ook raak sien dat daar belangstelling is in Afrikaans wêreldwyd.

Kyk hier byvoorbeeld na Rusland:
https://aie.ned.univie.ac.at/node/13181

Heel links onder “Universiteite..” kan geklik word op skakels na Oostenryk, Duitsland, België, Nederland, Pole en die Tjeggiese Republiek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.