Nuuskommentaar: Wie het vir wie gespioeneer?

Argieffoto

Dit jeuk en krap steeds in ANC-geledere oor bewerings dat vername comrades tydens die vorige bedeling spioene vir die veiligheidspolisie was. Heelparty, moontlik onskuldig, het wreed met hul lewens geboet. Bewyse was immers oorbodig – bloot ’n bewering of voortydige fopnuus was genoeg om iemand die slagoffer van buitebande en vuurhoutjies te maak.

Mondli Makhanya het pas in sy rubriek op News 24 gewys op die gevare wat dié stories, waarmee steeds volgehou word, vir die ANC inhou. Dit hou veral die potensiaal in om die verdeelde ANC finaal te kloof.

Hy wys op die uitwerking wat sulke gerugte op iemand kan hê, en verwys veral na Peter (“Kill the Boer, Kill the Farmer”) Mokaba. Mokaba is deur oudpres. Nelson Mandela ’n adjunk-minister gemaak, en as kroonprins gesalf. Die spioenasie-bewerings het egter Mokaba se kort leeftyd oorleef, en sy nalatenskap sal vanuit ’n struggle-oogpunt besoedel bly. Selfs die benoeming van ’n wêreldbeker-stadion in Polokwane na hom kon sy reputasie nie heeltemal red nie.

Die ironie is dat dit baie onwaarskynlik is dat van vandag se kabinetslede en ander hooggeplaastes nie “apartheidspioene” was nie. Dit was immers nie net die veiligheidstak van die polisie (veiligheidspolisie) wat van spioene gebruik gemaak het nie. Ook die Nasionale Intelligensie en die weermag se hoof van Staf-inligting (SI) was aktief in die veld.

Dit was ’n hoogs gekompartementeerde stelsel, sodat die een agentskap nie tyd en geld mors deur op ’n ander s’n te spioeneer nie, en veral om die identiteit van bronne geheim te hou. Daar is selfs formele takke van die ANC ontbind nadat dit duidelik geword het feitlik al die taklede is spioene, en daar word flink oor en weer op mekaar gespioeneer.

Makhanya meen die onderlinge agterdog oor wie sy siel vir ’n pot lensiesop verkoop het, kan slegs opgelos word as die lug met ’n soort waarheids-en-versoeningskommissie opgeklaar word. Dit is immers ongesond dat ’n oud-spioen sulke inligting sou hou oor ’n ander. Hy kan so sy eie veiligheid deur afpersing “verseker” en selfs onder sekere omstandighede, in ’n mate oorerflik gemaak word.

Is daar werklik ʼn oplossing? Die antwoord is geleë in die vraag of die top-politici hul eed naleef, soos die president se belofte om in belang van al die burgers op te tree, nie net sommiges nie. Daarsonder word eintlik van minderhede verwag om hul posisie deur g%t-kruipery te bestendig. Vir een kultuur mag so iets heel aanvaarbaar wees, maar vir ’n ander die toppunt van die oog oor misdaad wegkeer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Jerry ·

Staatsveiligheid, polisie, weermag, joernaliste, politieke partye en groot maatskappye se bestaansreg is geskoei op informasie ten einde voorkomend te kan optree teen geidentifiseerde bedreigings van opponerende groepe en selfs vanuit eie geledere. Dit is meer n geval van informasie wat verkry word van n bron of informant teen betaling of spontaan. Daar is nie n oplossing daarvoor nie want geld praat die hardste. Geld wat stom is maak reg wat krom is. Mense sonder sterk normes en waardes is maklik beinvloedbaar, oorreedbaar, omkoopbaar en sal sonder om te skroom of om twee keer te dink hulle siele vir n pot lensiesop verkoop. Selfs Mama Winnie moes genoegsame informasie aan die veiligheidspolisie gegee het om te oorleef want diegene wat nie geloofwaardige informasie en samewerking gegee het nie, het of verdwyn of hulle het “uit vensters” uitgespring. Wonder wat het haar die uitsondering van die reel gemaak. Dit is een ding om voor kameras n brawe show op te sit, maar meeste van ons weet wat gebeur wanneer jy alleen is en daar is nie kameras nie!

Casper Labuschagne ·

Een van die dinge wat die gewone man in die straat nie weet nie, is dat seker helfte van die hoë ANC amptenare spioene was en die ANC se dilemma is, watter helfte?

Net ‘n klein groepie aan elke kant weet wat die waarheid was en hulle is mekaar se gemeenskaplike waarborg – vir solank as wat ek nie vertel nie sal jou geheim ook nie uitkom nie, daarom beskerm ons vir mekaar. Dit verklaar hoekom so min spioene voor die WVK verskyn het, juis omdat hulle ‘n versekeringspolis het. Om albei partye se onthalwe sal hierdie geheime nooit uitkom nie. Inteendeel, hier is nou ‘n puik geleentheid om (onskuldige) opponente aan die pen te laat ry deur disinformasie en sodoende jou eie geheime dig te bewaar.

Ek wil bysê dat baie ANC kaders nie regtig ‘n keuse gehad het of hulle wou spioeneer of nie. ‘n Voorbeeld is hoe spaarboekies oopgemaak is vir persone wat effektief was in die onderskeie beweging en op ‘n dag word persoon X gekonfronteer met die volgende woorde, “Hier is jou spaarboekie met gereelde inbetalings oor die laaste tien jaar. Jy gaan vir ons help, of hierdie boekie verskyn in Lusaka.” Sodoende het bewegings hul kaders wat nie omgekoop kon word nie self tereggestel want die “bewyse” is aangestuur en die wat oorgebly het was waarskynlik juis spioene.

En as organisasie X nie wil byt nie, stuur die “bewyse” na Y as bewys dat X op Y spioeneer.

Grassie ·

Die spioenering in die sg. “struggle” dae was nie net beperk tot die ANC nie. Die organisasie wat die heel sterkste daaronder deurgeloop het was die AWB. In sommige takke was meer as die helfte van die bestuur verraaiers. Dit beteken dat daardie takke in die stilligheid deur die veiligheidspolisie bestuur is. Wanneer daar enige verwikkelings of beplannings in die takke was het die veiligheidstak nog voor ET daarvan geweet. Ons is nou maar eenmaal ‘n volkie met ‘n groot groep storiedraers in ons geledere.
Ek suig nie hierdie storie uit my duim nie.

Casper Labuschagne ·

Inderdaad. Dieselfde bedrewenheid om na links te ondermyn is ook na regs toegepas en party van die metodes was venynig en agterbaks.

Dan is daar die onlangse Boeremag wat miskien ontstaan het tydens ‘n paar gesprekke met ‘n brandewyn en coke in die hand, maar daarna uit en uit deur agente van die staat bestuur is – wat altyd ‘n risiko met so ‘n operasie is dat jou agente meer radikaal word as diegene wie se aktiwiteite jy probeer bekamp.

Die geval van Carl Niehaus is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n agent gemotiveer het, help beplan het en ook meegedoen het aan ‘n operasie wat uitsluitlik ten doel gehad het om ‘n lokval vir Niehaus te stel en hom aan die pen te laat ry. Eers in die hof het Niehaus met skok uitgevind sy handlanger was ‘n agent. Ek het elders al hieroor geskryf (Google dit) en daar was ‘n geldige rede hoekom hy vasgetrek moes word. Inteendeel het Niehaus betreklik lig daarvan afgekom want daar was diegene in Pretoria wat vir hom briesend was, baie ander was nie so gelukkig as Niehaus nie.

Al ·

Politiek is toksies in SA, waarom ou skeletons opgrawe en n struggle veteraan se begrafnis gebruik as n politieke sirkus?
Ek wens apartheid het nooit gebeur nie, want nou sit ons met politici wat dekades lank die brander ry van vrees inboesem en haat aanblaas om stemme te werf.

Casper Labuschagne ·

@Al, ek is bevrees Apartheid moet hier nie die skuld kry nie. Soortgelyke metodes, net soms baie erger, is gebruik deur die Britte in Kenia teen die Mau-Mau, teen die Portugese in Mosambiek en Angola en ook deur die Rhodesiese regering. Die metodes, alhoewel brutaal was gebruik om ‘n groter brutaliteit deur die revolusionêre magte te beperk – vuur moes noodgedwonge met vuur beveg word.

As daar een persoon is wat beter as enige ander persoon weet wie in die ANC vertrou kon word en wie nie, was dit die hoof van die ANC se teeninligting in Lusaka, ene Jacob Zuma. Dit is veelseggend hoe Zuma destyds vir Mbeki se kabinet skoongevee het. Ewe veelseggend is hoedat hierdie gerugte nou weer opgang maak juis nadat Zuma se opponente hom vervang het. Boonop sy plaasvervanger ‘n vakbondleier wat nooit in ballingskap of die tronk was nie en self geen militêre “struggle” agtergrond het nie. Dat sulke ou koeie juis nou opgegrawe word is heeltemal te toevallig om die toeval die skuld te gee.

Paul ·

Herman, jig, ek lees al die beskuldigings vandag in die media betreffende Winnie, die manne staan bont. Die een beskuldig die ander. Toe Winnie nog gelewe het lyk my was die deksel styf op die kookpot.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.