Nuuskommentaar: Wie in die goedheid van die mens glo, geniet die steun van die wetenskap – Nederlandse filosoof

Ter illustrasie. Argieffoto.

Kan ’n nuuskommentaarskrywer wat oningelig en werklikheidsvervreemd filosofies deur die lewe gaan werklik van enige nut vir die gemeenskap wees? Of moet hy hom deur die harde werklikhede laat lei en die oorsake oor hoekom mense wat nou pas ’n roerende kerkdiens bygewoon het, minute later erg opgesweep ’n vragmotor wat voorgekeer en aan die brand gesteek is, se vrag jillend plunder, sosiologies of andersins probeer verklaar?

’n Voorstedelike gesin sit Dinsdagaand bankvas voor die TV en kyk die Afrikaanse TV-nuus. Ná dae se bontpratery sit die stad die Dinsdagaand sonder water. Vroeër die middag het ’n prokureursvriend gebel; daar is mense by hom wat ’n hofbevel wil bekom want ons woonbuurt is sonder water, en hulle soek die kontakpersoon van ’n instelling wat namens die gemeenskap kan optree. Net na die telefoniese gesprek gaan draai die uwe ’n kraan oop, want kort tevore was daar nog ’n goeie stroom water, hoewel die druk effe aan die min kant was al is die huis in die “onderdorp” waar die krane heel laaste witpens bo draai. Maar nou, inderdaad is die kraan dolleeg.

In die middel van die nuus lui die telefoon. Die dame wat bel het pas agtergekom haar huis het nie water nie. Sy bel om uit te vind of dit net sy is, en of dit dalk die woongebied is wat droëbek sit. Sy is verbaas om te hoor dis die hele stad, en dat die probleem al dae lank aan die kom was. En dae lank die stad se nuus oorheers. Sy het dan nog niks gehoor nie.

As daaglikse nuuskommentaarskrywer is dit nodig dat die uwe so goed as moontlik moet weet wat wêreldwyd in die nuus is. Goed en sleg. Objektief wees is net moontlik as ’n mens die werklike feite ken. Dit is dus nie net die nuus self wat saak maak nie, maar die objektiwiteit en geloofwaardigheid van die nuusbronne. En geloofwaardigheid word nie oornag verwerf nie – geloofwaardigheid kan wel oornag vernietig word – en daarom help goed ingeligtheid dat ’n mens so ver as moontlik fopnuus van die werklikheid moet kan onderskei.

’n Ruk later is die water weer in die pype – saam met ’n vreeslike klomp lug. Elke toilet klink omtrent soos ’n brullende Cheetah soos die lug met rukke en stote uitblaas. ’n Ruk later kom die nuus oor die buurt se kletsgroep – daar was ’n hofgeding, maar nie deur die gemeenskap nie. Dit was die Mangaung-munisipale raad wat die watervoorsiener, Bloemwater, hof toe gesleep het, en die stad het as een van die uitvloeisels daarvan nou, vir eers, weer (erg modderige) water.

Uiteindelik kom daar vir die stad se inwoners ʼn bietjie goeie nuus. Dis ’n welkome verandering vir die inwoners van ’n stad waar dit op munisipale vlak meestal beroerd gaan. Dit in ’n provinsie waar die provinsiale Vrede-melkplaas-projek een van die simbole geword het van hoe dit deur ’n gebrek aan kundigheid en integriteit niks anders as ’n fiasko is nie. Wat weer deel is van ’n land waar staatskaping deur ’n reuseprojek ondersoek word.

Rutger Bregman. Foto: Facebook

Vanwaar dan ’n koerantopskrif: “Wie gelooft in de goedheid van de mens heeft de wetenschap aan zijn zijde (lees hier). Die Nederlandse koerant, Trouw, beskryf die artikel as ’n “essay” deur Rutger Bregman. Bregman word weer op sy beurt beskryf as ’n populistiese Nederlandse historikus. Een van die boeke uit sy pen, Utopia for Realists, How Can We Build the Ideal World? verklap egter dat hy in wese ’n filosoof is. Sy boeke handel ook oor die geskiedenis, filosofie en die ekonomie. Maar slaag hy daarin om in dié artikel ’n saak uit te maak dat die mens van nature goed is, en veral dat die wetenskap sy stelling rugsteun?

Of hy as filosoof sy saak enigsins as bewese kan beskryf hang seker van elke leser se vatbaarheid vir filosofie af, en daarmee saam die mens se insig in die konkrete werklikheid. Bregman se artikel begin by verskeie voorbeelde waar rampe plaasgevind het, en die mense wat daar was almal rustig en georganiseer gereageer het. Ook besonder beleef, en oues en gestremdes toegelaat is om eerste by die trappe af te gaan, en op ander maniere voorrang kon geniet. Selfs na die orkaan Katrina in New Orleans enorme lewensverlies veroorsaak het, het dit later geblyk dat die aanvanklike berigte van plundery onjuis was, en die mense oor die algemeen meesterlik voorbeeldig opgetree het, skryf Bregman.

Maar is dit wat ons met ons eie oë raaksien? Presies hoeveel voorbeeldigheid was teenwoordig met die onlangse Slag van Bloedstraat, asook met soortgelyke voorbeelde van geweld in Johannesburg? Hoeveel filosofiese boustene na Utopia was te vinde in die moorddadige aanvalle op vragmotors. Hoekom is verskeie Afrika-lande so kwaad vir Suid-Afrika as van sy burgers hulle nie aan moorddadige vandalisme en moorddadige plundering skuldig gemaak het nie?

Die NG Kerk se doopformulier lees immers onder meer soos volg: “dat ons en ons kinders, wat as sondaars in die wêreld gekom het, slegs in die koninkryk van God kan kom as ons opnuut gebore word….”

Op die pragmatiese vlak: Hoekom is daar nou in Suid-Afrika na aanleiding van baie moorde op vroue en kinders weer so ’n wye oproep op die herinstelling van die doodstraf? Hoekom voel die meeste Amerikaners die tyd wat massa-skieters in die dodesel op teregstelling moet wag, verkort word? Hoekom meen Nederland dat die aantal beseerde polisiemanne per oproerigheid te hoog is? Is die mensdom werklikwaar wetenskaplik bewese wonderlik?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet ·

Herman, met respek gese. Daar is geen goedheid by die mens teenwoordig nie, soos die bybel inderdaad bskryf. Die woorde van Dawid. “ wat is die mens dat U op hom ag gee. Net ons Vader weet.

HEVW ·

Geheel en al strydig met die BYBEL i s die humanis se oortuiging dat die mens in wese goed is. En met hierdie opvatting verhef hy homself tot god. Herman haal maar enkele gevalle aan wat dit weerspreek. Die ganse geskiedenis van die mensdom na die sondeval bevestig egter die teendeel. Die allerverskriklikste inskrywing in die anale van die mensegeskiedenis vind ons in Gen 6 : 5 en 6.” Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink altyddeur sleg was 6 het dit die Here berou dat HY die mens op aarde gemaak het en daar was smaert in SY hart.”

Rupert Ashford ·

Die mens is van nature boos, die geskiedenis wys dit vir ons. Die filosoof droom…

Sophia ·

Nee die mens is van nature gied! Wêreld se dinge het die mens sleg gemaak.

Rupert Ashford ·

Sophia, miskien gied soos jy se, maar verseker nie goed nie…????

Johan ·

Die mens is van nature boos, maar as ek so na Afrika en die nuwe SA kyk is party mense dalk van nature ‘n bietjie meer boos…?

Adriaan ·

Tog, ten spyte van al die ellende, hartseer en pyn wat die mens veroorsaak, is hy TOG daartoe in staat om groot liefde en verdraagsaamheid te toon. Daar sal altyd vrot appels tussen die res wees wat ons in die goedheid van mense laat betwyfel, maar vir elkeen wat boos is, is daar iewers ook ‘n goeie siel.

My gevolgtrekking is dat, ongeag of jy gelowig is of nie, indien ons mekaar met die nodige respek begin behandel en opbou, kan hierdie wêreld in ‘n mate vir elk ‘n beter plek wees. Ons kan of afbreek, of opbou. Ek kies om met my dade en woorde op te bou. Wat is JOU keuse?

Andrea ·

Al is die mens van nature geneig tot sonde, glo ek dat baie mense ook goed in hul het. Waar kom goeie dade aan ander, aan diere ens anders vandaan? Ek glo wanneer die Heilige Gees in jou woon, jy strewe na die goeie en hard werk om die inherente boosheid wat deel van ons menswees is, te onderdruk. So probeer ons mos Christus se voorbeeld volg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.