Nuuskommentaar: Wie is die grootste vyand?

Foto: COP21 - Paris 2015/Twitter

Foto: COP21 – Paris 2015/Twitter

Dit lyk of die bykans 200 lande in die wêreld teen die komende naweek ʼn deurslaggewende ooreenkoms kan bereik wat ʼn impak op klimaatsverandering in die toekoms kan hê.

Die kanse is volgens kenners 60% dat die sowat 190 lande, wat nou vir COP 21 in Parys, Frankryk, saamgetrek het om ʼn nuwe klimaatsverdrag in die plek van die Kyoto-protokol te bereik, daarin gaan slaag. ʼn Goeie aanduiding is dat die jongste weergawe van die werksdokument reeds van 80 tot twintig bladsye verkort is.

Daar is nog haakplekke en die angel kan bes moontlik in die detail wees wat uitgepluis moet word. Maar die twee groot sondebokke van die verlede, die VSA en China, lyk of hulle dié keer stewig verbind is tot ʼn ooreenkoms.

Pres. Barack Obama het onlangs gesê aardverwarming is die aarde se grootste bedreiging, nie terreur nie. (Hy weier skynbaar om die woorde “radikale Islam” te gebruik wanneer hy na terreur verwys). Sy minister van buitelandse sake, John Kerry, het na aardverwarming as “die grootste wapen van massavernietiging” verwys.

China, op sy beurt, wil die verdrag juridies laat implementeer, sodat oortreders voor die internasionale strafhof gedaag kan word. Hieroor skop die Amerikaanse onderhandelaars nog vas, want dan moet dit aan die Amerikaanse Kongres voorgelê word vir goedkeuring, waar aanvaarding nie verseker is nie. Hoewel die meeste Amerikaners nou aanvaar die mens speel ʼn belangrike rol in klimaatsverandering, is die Kongres nog sterk gelaai met ontkenners.

In die verlede het China weer “weggekom” met die streng maatreëls wat die groot nywerheidslande opgelê is deur op sy status as ontwikkelde land terug te val. China se stede word egter nou so deur rookmis verswelg, dat ʼn kentering in Chinese denke plaasgevind het.

Namate die beraad in Parys gevorder het, het wetenskaplikes kongresgangers probeer oortuig die teiken van aardverwarming van nie meer as twee grade teen 2050 nie, moet na een en ʼn half grade verminder word. Dié idee vid nog nie by alle lande byval nie.

Wetenskaplikes meen ʼn styging van twee grade of minder sal klimaatverandering teen die einde van die eeu daarvoor sorg dat die aarde die mees katastrofiese gevolge vryspring.

In die aanloop tot die Parys-beraad het die een voorbereidende en beklemmende verslag ná die ander die lig gesien. Oor vyftien jaar van nou af, sal 100 miljoen meer mense in uiterste armoede leef as nou, tensy klimaatsverandering vinnig omgekeer word, volgens ʼn verslag van die Wêreldbank. Voedselproduksie kan met 5 persent daal, terwyl kospryse in Afrika in dié tydperk met 12% kan styg.

ʼn Verslag van die VN lui dat, selfs al hou die sowat 150 lande wat hulle tot die beperking van kweekhuisgasvrystelling verbind het by hul ondernemings, die temperatuur teen die einde van die eeu met meer as twee grade sal styg.

Volgens die verslag sal daar, selfs al hou die lande by hul ondernemings, steeds teen 2030 12 miljard ton meer kweekhuisgas vrystel word as die geraamde 42 miljard ton wat die ooreenkoms moet probeer bewerkstellig.

Niemand stry dat die mens se rol tot klimaatsverandering hoogstens bydraend kan wees tot ander natuurlike verskynsels nie. Navorsing toon dat klimaatsverandering al miljoene jare lank voorkom, lank voor die mens nog bestaan het. Selfs ná die mens die aarde begin bewandel het, was sy voetafdruk te gering om enige beduidende invloed op klimaatsverandering te hê, maar intussen word wyd aanvaar dat die mens minstens bydra tot klimaatsverandering en dit is die enigste aspek waaraan die mens iets kan doen. Aan reuse vulkaniese uitbarstings, sonsiklusse, die rotasie van die aarde om die son en om sy eie as, kontinentale drywing en ruimtevoorwerpe wat op die aarde val, kan die mens niks doen nie, of sover nog niks doen nie.

Boonop word ook nie alle aspekte van die El Niño-verskynsel mooi verstaan nie. Nasa se opmetings vanuit die ruimte toon dat die see daar met vier sentimeter gestyg het. Argeologiese navorsing toon dat die verskynsel al 15 000 jaar voorkom en die afgelope 7 000 jaar meer gereeld. Uit ou VOC-manuskripte blyk dit dat amptenare lank onwetend en onbewustelik inligting opgeteken het wat op El Niño-siklusse dui.

El Niño blyk slegs ʼn belangrike rat te wees in ʼn netwerk van stelsels wêreldwyd wat mekaar beïnvloed. Tog kan die mens met al sy moderne kennis niks daaraan doen nie, behalwe om die mens se aandeel in die vrystelling van CO2 in die atmosfeer te beperk.

En dit lyk of die mensdom nou met erns kennis neem. Kwesbare lande, soos eilandjies wat weens stygende seevlak heeltemal kan verdwyn, oefen uiteraard groot druk uit, maar die groot sondebokke word nou ook geknyp, soos die VSA wat onder oorstromings weens orkane gebuk gaan, ongekende droogtes elders, nuwe hitte-rekords en helaas periodiek buitengewone koue. China se rookmis hou onder meer groot gesondheidsgevare in.

Uiteindelik gaan die kwessie van finansies ook ʼn groot rol speel. Om die CO2-voetafdruk te verklein of beperk gaan peperduur wees, maar die prys om dit nie te doen nie, sal oneindig groter wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Paul ·

Daar word sekerlik “sondaars” bedoel en nie “sondebokke” nie. Dis nou buiten indien daar bedoel word dat die skuld onverdiend op China en die VSA gepak word. Uit die res van wat geskryf word, wat meestal ‘n aanvaarding van teorieë dat antropogenies tot klimaatsverandering bygedra word, blyk dit egter nie asof dit is wat die skrywer bedoel nie.

Herman Toerien ·

Dankie Paul, jy is heeltemal reg. Ek het vanoggend vieruur hieraan begin werk, en ongeveer half sewe het die rekenaar ‘n stelselfout gemaak en gevries. Ek was verplig om die “restart” knoppie te druk, en ten spyte daarvan dat ek die stuk deurlopend gestoor het, kon ek dit glad nie weer opspoor nie. Ek moes toe die stuk uit my geheue herskryf, en my aandag was klaaarblyklik te veel by die herroep van nagevorste inligting eerder as die korrekte taalgebruik. My verskoning daarvoor.

Trolle ·

Sou die ysberge nie al in 2013 gesmelt gewees het en kus stede onder water gewees het nie?
Die Here het alles gemaak aarde ook om te kan adapted met alles wat na hom gegooi word.
Gaan kyk hoe het die natuur weer oorgevat in plekke wat velaat is, even waar newclear bomme in die 60 afgesit is.
Op die ou einde gaan almal moet tax betaal omdat jy lewe en asem haal, want jy dra by tot global warming. Wat gaan hulle met daai geld maak beter privite jets koop vir hulle om heel jaar lang rond te vlieg en vakansie hou, want hulle gaan niks doen daaraan nie.Al wat hulle hoef te doen is stop China se polusion, sodat hulle minder gemors kan maak wat ons koop hier.

Jean ·

Klimaatsveranderingis wetensap fiksie. Om te sê “wetenskaplikes sê” is om te erken dat almal net na sekere wetenskaplikes luister.

Bowendien was daar die climategate skandaal van so paar jaar terug wat baie skielik laat vrae vra het.

Dit kan maklik eksperimenteel bewys word dat plante koolstofdioksied uit die lug uit suig, dat die huidige konsentrasie die minimum is waarby die proses werk en dat plante m.a.w. die koolstofdioksied konsentrasie reguleer. Soos ‘n sjunt reguleerder in ou elektroniese toestelle, of ‘n watervlak klep.

As jy praat van ons gemene koolstof “foot print”, praat jy van als wat jy kan sien wat groen is as jy by die venster uit kyk. Om dit te wil verlaag en belas gaan baie meer nadelig vir die planeet wees as die om dit te los laat dit die natuurlike gang te gaan.

Voor jy weet betaal jy belasting op braai vleis vure en al daai beeste wat so poep en asem haal.

Zuma het mas klaar belowe…

Therese van Schalkwyk ·

Bjorn Lomborg het my oortuig dat die histeriese opswepery in Parys net mooi niks gaan uitrig nie, behalwe regerings buitensporig baie geld gaan kos. Geld wat eerder dringend vir die navorsing van beter en goedkoper son-, wind- en waterenergie-opwekking aangewend moet word.

Die Deense skrywer is natuurlik ‘n omstrede figuur, maar hy maak vir my persoonlik baie meer sin as die hele klomp in Parys tesame. Sy boeke: “The Skeptical Environmentalist”, “Cool It” o.a.

Hierdie partytjie in Parys is net nog ‘n geleentheid waar armer, onderontwikkelde lande met die bedelbakkies die ryk lande na hartelus afpers. Die eilande wat so “verdwyn” doen dit nog altyd en van hulle verskyn ook uit die niet.

Stem tot ‘n groot mate met Trolle (hierbo) saam, en kan byvoeg: stel ‘n perk op bevolkingsaanwas, staak die gruwelooslike besoedeling van aarde en see en plant bome!

Rupert Ashford ·

Dankie Herman. ‘n Redelik gebalanseerde stuk oor die onderwerp. En ‘n paar mense wat dink en nie alles wat aan hulle opgedis word in die naam van “wetenskap” vir soetkoek opeet in die kommentare.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.