Nuuskommentaar: Wie maak land se naam bollie?

nuwe SA-vlagMet die oë van die land skerp op die minister van finansies gerig met die lewering van die mini-begroting, het mnr. Pravin Gordhan ook sy mond uitgespoel oor “onafhanklike” kommentators wat sake negatiewer skets as wat dit werklik is, en so die land skade berokken. Na berig word, het van die onafhanklike kommentators saamgestem.

Uit die beriggewing blyk dit dat die minister eintlik sy mes in het vir kommentators wat oor finansies en ekonomiese sake hul monde uitspoel, en ‘n donkerder prentjie skets as die werklikheid. Dit skrik beleggers af, en so word die probleme vererger. Voorts het die minister sy mond uitgespoel dat hierdie kommentators ongevoelig is oor die lot van armes.

Onlangs het Steve Lopez, ervare rubriekskrywer van die Los Angeles Times, tong in die kies geskryf oor hoe hy ‘n toets met ‘n politikus “gedruip” het. Lopez het gereeld die gifpen ingespan oor hoe hy meen Los Angeles se stadsvaders die stad se sake behartig, en op ‘n dag het ‘n raadslid, Tom LaBonge, hom gedaag om een dag rolle te ruil. Toe Lopez aan die beurt kom, het die raadslid hom reeds drie-uur die oggend uit die vere geboender, en rommel is teen ‘n kop in Hollywood opgetel. Deur die loop van die dag is Lopez drie keer op die verhoog gedruk om toesprake te lewer. Hy sluit sy rubriek af deur te skerts hy wag nou vir LaBonge se rubriek, en hy hoop dit gaan nie te watwonders wees nie want hy wil nie graag sy eie werk as rubriekskrywer kwyt wees nie.

Maar hoeveel van Suid-Afrika se soustrein-politici sal met so ‘n rolle-ruilery ‘n onafhanklike kommentator beïndruk?

Gordhan is een van die min kabinetslede wat selde met die teerkwas bygedam word, al het hy moontlik die moeilikste portefeulje. Dit is ook ‘n gegewe dat sy taak baie moeilik gemaak word deur faktore buite sy beheer, en dat sy eie kollegas die wêreld vir hom nog moeiliker kan maak.

Teenargumente is wel volop, soos dat die minister lid van die SAKP is, wat deel van die veldtog was om disinvestering en sanksies teen die land te dryf, en die gevolge hiervan word steeds gevoel. Word gegoël met syfers en die inflasiekoers kan geargumenteer word dat armes, toe die sogenaamde oumenspensioen R10 per maand was, tot verhouding beter daaraan toe was as nou as die gaping met die salarisse van rektore vergelyk word. Nie alle ekonome stem met SAKP-lede soos Gordhan en minister Rob Davies saam oor hoe ekonomieë moet funksioneer om die beste resultate met die voordeligste dividende vir die armes te lewer nie.

Gordhan se argwaan kom teen die agtergrond van ‘n stroom kritiek vanuit regeringskringe oor hoe nie net kommentators nie, maar opposisiepartye, organisasies soos AfriForum, die media en die publiek sake uitbeeld.

By geleentheid is gekla oor die impak op beleggers as die regering soos ‘n sirkus uitgebeeld word wat deur narre bestuur word.

AfriForum is by geleentheid weens een van sy veldtogte wat geïnternasionaliseer word van dislojaliteit teenoor die land beskuldig. AfriForum se reaksie was dat sy optrede juis op lojaliteit neerkom omdat die ANC die land so swak regeer, en sy optrede is teen die ANC se optrede gemik, nie teen die land nie. En dis demokrasie.

Gordhan en kollegas moet ook begrip daarvoor hê dat die werklikhede waarbinne onafhanklike kommentators werk nie ‘n land van knapste ministers, kaders en goeie bestuur uitbeeld nie, die werkloosheidskoers is baie hoog, die inkomstegaping is volgens sommige bronne die hoogste ter wêreld, en die land se beeld word tot ‘n groot mate beïnvloed deur die vreemde uitsprake van die president wanneer hy van sy geskrewe toespraak afwyk. Presies hoe verskil die minister van polisie se stelling dat AfriForum se veldtog teen plaasmoorde ‘n goedkoop publisiteitsfoefie is van ‘n voormalige minister se stelling dat Steve Biko se dood hom koud laat? Veral as sake in die polisie se topbestuur nie die hulp van die kommentators nodig het om soos ‘n ramptoestand te lyk nie.

‘n Onafhanklike kommentator wat sy sout werd is, sal ook ‘n oog hou op hoe hierdie faktore in die buiteland, waarvandaan buitelandse beleggings immers kom, ervaar word. Deur dit te belig word kiesers toegerus om in verkiesings ‘n hopelik meer ingeligte keuse te maak wanneer die kruisie getrek word. Dit word demokrasie genoem.

Maar presies wat is ‘n onafhanklike kommentator, wat is sy of haar rol, en is Gordan reg?

Al is die begrip “kommentator” die eerste keer in die 14de eeu gebruik, en word dit in verskeie bronne gedefinieer, is dit nie ‘n duidelike begrip nie. Een van die redes is omdat ander terme soos “analis” en “meningsvormers” dikwels ingespan word, en die mens van nature eie voorkeure het wat werklike onafhanklikheid dikwels na die maan stuur. Hulle is in verskillende formate verpak – byvoorbeeld rubriekskrywers, politici (wat per definisie nie onafhanklik is nie), senior redaksielede, akademici, navorsers en leiers van burgerlike instellings.

Om almal aan een kapstok te hang is net so onjuis as om te sê alle onafhanklike kommentators verloor voeling met die lot van armes omdat hulle ryk is. Dit is so dat sommige onafhanklike kommentators goed in aanvraag is en goed daarvoor besoldig word, maar die meeste wat gemaklik leef het ander ysters in die vuur soos om skrywers te wees, of het ander betrekkings, dien op direksies en vele meer om die pot aan die kook te hou. Sommiges leef ook boomskraap.

Sommiges is beter selfbemarkers as wat hulle goeie (en onafhanklike) analiste is.

Kommentators soos Rhoda Kadali, Max du Preez en Piet Croucamp sorg dat lesers nie ‘n oomblik verveeld is nie, en soms witwarm onder die kraag kan raak. Sommige kommentators is meesters om die satire in te span soos Shapiro wat sy ding met spotprente doen. Maar uiteindelik kan die bedryf nie bestaan sonder die ontleders wat met ‘n deeglike agtergrondkennis vlymskerp die ontleedmes inspan en kiesers op ‘n onafhanklike en objektiewe manier rig om sinvolle besluite te neem wanneer hulle die dag hul kruisies trek nie. Die gehoor is egter selde objektief weens eie politieke voorkeure, en die kommentator is nie oral ewe gewild nie. Die subjektiwiteit van die gehoor word byvoorbeeld baie goed gedemonstreer in koerante waar sekere rubriekskrywers byna gewaarborg is van hordes vitrioel in die leserskommentaar, maar as presies dieselfde skrywers onder die skuilnaam van byvoorbeeld “Dawie” skryf, of die koerant se hoofartikel geskryf het, en basies dieselfde as onder sy eie naam skryf, sal presies dieselfde gifpenne vol lof wees.

En ja, danksy selfbemarking is daar ook onbeskryflike swak kommentators wat die allerverskriklikste bollie kan verkwansel wanneer hy of sy die dag ingespan word. ‘n Gerekende kwalifikasie en titel is nie ‘n plaasvervanger vir behoorlike voorbereiding wanneer die kans gebied word om die land met kommentaar toe te spreek nie.

Dit is opvallend hoe die akademici van sommige universiteite feitlik totaal ontbreek as paneellede op kommentaarprogramme en as rubriekskrywers, en dit kan alte dikwels teruggevoer word na ‘n rektor wat ‘n onverdraagsame reputasie het teenoor menings, soos tansformasie-idees, wat nie met sy eie strook nie. Die media het al verskeie rektore weens hierdie skrikbewinde aangetree.

Suid-Afrika is geseënd met meer skitterende kommentators as wat ooit die geleentheid sal kry om hul merk te maak. Nie almal wat wel kans kry se name word bekend gemaak nie – sommige radiostasies maak nooit bekend wie hul panele van kommentators is nie.

En solank politici aanjaag of die wag voor die mond die trekpas gee, so lank sal die onafhanklike kommentators dit uitwys. Dit is nie die kommentator wat sy sout werd is wat die skade aan die land aanrig nie, maar die politikus wat verbrou. En oor hierdie brouwerk kan boekdele geskryf word.

Soos ‘n Namakwalander by geleentheid gesê het: “As ‘n donkie sy bek oopmaak val daar kaf uit.” Beide politikus en kommentator moet hierteen waak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Demokraat ·

Zuma het anderdag weer die land se naam bollie gemaak – gelukkig darem net by die Afrikane !!

Dit is nie soseer onafhanklike kommentators se uitsprake wat die land benadeel nie – nee grootliks die onvermoë van die ANC-regering om die land goed te bestuur. Die resultaat hiervan is die volgende:

Beleggers word afgeskrik deur die hoë mate van arbeidsonrus wat heers, die massiewe korrupsie wat in die Staatsdiens gepleeg word, die ongedissiplineerde en wanspandering van staatsfondse en die algemene lae vlakke van produktiwiteit wat deurgaans in die land voorkom.

As die ANC-regering voorgenoemde doeltreffend kan aanspreek, sal hope beleggers opdaag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.