Nuuskommentaar: Wie nie wil hoor nie…se ore word afgekap

Volgens nuusberigte sal die omstrede Inligtingswetsontwerp volgende week deur die ANC deur die parlement gestoomroller word sonder dat die weglaat van die verweer van openbare belang noemenswaardig aangespreek is. Dit lyk onafwendbaar dat die wet uiteindelik deur die Grondwetlike Hof vir grondwetlikheid getoets sal word.

Die gewone burger is daarvan bewus dat die staat dikwels sekere inligting klassifiseer, en die beskerming van inligting is ook in die privaat sektor ‘n kwessie wat gereeld in die arbeidsreg ter sprake kom. Min mense het egter ‘n idee van hoekom die staat van die klassifikasie van inligting gebruik maak, en wat dit behels, maar uiteindelik kan hulle tog in die sop beland as hulle per abuis op iets afkom en dit met ‘n ander deel.

Gewoonlik onderskei state tussen uiters geheime inligting, geheim, vertroulik en beperk. Die notules van ‘n kabinetsvergadering is gewoonlik uiters geheim. Die klassifikasie word bepaal deur die skadelikheid wat die uitlek daarvan tot gevolg kan hê, of om die bron daarvan se identiteit te beskerm. Bronne verkeer dikwels in lewensgevaar sou hul identiteit aan die lig kom, en ‘n mens hoef maar net die halssnoermoorde as wrede herinnering hiervan op te roep.

Dit hou nie altyd met staatsveiligheid verband nie. Inligting soos waar en wanneer die staat ‘n nuwe dam vir besproeiing gaan bou word ook geheim gehou om onbehoorlike winsneming deur ingeligtes te voorkom. Dit behels uiteraard dat diegene wat die besluite neem, self die hoogste integriteit aan die dag moet lê. ‘n Minister met premiersapirasies se politieke loopbaan het oornag in die stof gebyt toe dit bly hy het na bewering hierdie inligting gebruik om grond op te koop voor so ‘n skema aangekondig is.

Ook ander maatreëls word ingestel om sensitiewe inligting te beskerm. ‘n Stelsel van kompartementalisasie word ingespan sodat mense wat wel die nodige klaring het, nie onnodig aan inligting blootgestel word waarby hulle uit hoofde van hul werk nie belang het nie. Die nadeel hiervan is dat brokkies inligting wat saam ‘n prentjie kon vorm in verskillende kompartemente rondsweef en die kloutjie nie by die oor gebring word nie, soos met die aanslag op die Twin Towers gebeur het.

Die ontsteltenis kan dus verstaan word wanneer die owerhede groot sorg dra dat sensitiewe inligting sensitief bly, en dit word skielik op ‘n koerant se voorblad uitgeblaker. In ‘n grondwetlike demokrasie is daar egter ook sekere spelreëls, en word trouens ook in die Suid-Afrikaanse grondwet in die handves van menseregte gewaarborg. Die eerste fokus is die burgery het toegang tot inligting, en soos alle fundamentele regte is daar beperkings wat nie van so ‘n aard mag wees dat dit in wese die hoofbepaling tot niet maak nie. Hierdie beperkings sluit onder meer in dat ‘n persoon slegs toegang het tot alle inligting wat die staat hou wat sy regte en belange raak. ‘n Voorbeeld hiervan is as die staat grond wil onteien, soos vir grondrestitusie, en dit word waardeer. Dan moet die eienaar weet waarteen dit waardeer is om nie ingeloop te word nie. Tog het gevalle voorgekom waar die departement daardie inligting geweier het, en wanneer die inligting wel deur die lang proses van parlementêre vrae aan die minister gestel word, dit inderdaad blyk die boer ingeloop is. Agri SA het juis dié aangeleentheid na die Menseregtekommissie verwys.

‘n Tweede spelreël is dat die veiligheidsdienste suiwer tegnokraties moet wees. Wanneer geklassifiseerde inligting of die veiligheidsdienste self vir politieke doeleindes misbruik word, is dit in belang van die beskerming van die grondwet noodsaaklik dat daardie misbruik gestaak word, en sou ‘n voorbladstorie die enigste opsie wees, dan is dit nou maar so. Die Watergate-skandaal word hier in herinnering geroep.

Dit druis ook teen die gees van grondwetlike demokrasie in as die geheimhouding van inligting gebruik word om korrupsie nie aan die kaak te stel nie, of selfs magsmisbruik. Die wapenskandaal hang al lank soos ‘n albatros om die land se nek. Die Openbare Beskermer het ook onlangs daarop gewys dat verklikkers wat sulke sake aan die man bring, nie as verraaiers beskou moet word nie, en beter beskerming moet geniet. Afriforum het ‘n vrou wat die Noord-Kaapse LUR, John Block, se doen en late aan die owerhede gerapporteer het, onder sy beskerming geneem. Die bekende Adam Tas wat korrupsie aan die Kaap probeer voorkom het en in die Donker Gat gegooi is, is ‘n vroeë voorbeeld hier te lande.

In lande soos Nederland wat laag op die korrupsiepersepsie-indeks is, word oor die algemeen nie sommer verwag dat die veiligheidsdiense se pogings tot geheimhouding op misbruik dui nie. Die uitdaging daarvan hou meer verband met ‘n kommer dat dit bloot te maklik toepas word en grondwetlike vryhede beperk. Die meeluistering van ‘n joernalis en haar koerant het juis in Nederland in die hof beland, en die veiligheidsdiens het bloedneus gekry.

In lande soos Suid-Afrika en Brasilië wat as baie korrup beskou word, word enige beperkingsmaatreëls instinktief bevraagteken as metodes om te voorkom dat korrupsie aan die groot klok gehang word. Beide hierdie lande is op die oomblik aan die stoei oor baie eendersluidende wetgewing, en in beide gevalle word dieselfde argumente en teenargumente voorgestel.

Die media se rol in dié verband is so belangrik dat die media al deur die Belgiese politikus, Yves Leterne, as die vierde, nie-amptelike been van die demokrasie beskryf is. Daar is ‘n groot ooreenkoms tussen ‘n land se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks en sy posisie op die persvryheidsindeks. Hoe meer konkelwerk in die donker gedoen word, hoe ongelukkiger raak owerhede met ‘n vrye media.

Kort voor Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap het Oliver Cromwell die monargie in Engeland onvergewerp. In dié proses is mense wat na die koning se mening ‘n te vrye sê gehad het, deur Cromwell uit die tronk vrygelaat. Onder hulle was die oorlose Payne en sy vriende, wie se ore ook deur die koning laat afkap is oor hulle nie wou hoor nie. Die laksman, nie gewoond aan sulke delikate kapwerk nie, het in een geval ‘n oor aan ‘n draadjie laat bly hang, en moes maar weer die skavot bestyg om sy brouwerk te gaan regmaak. En nee, dis nie waar die uitdrukking: “Eina Payne!” vandaan kom nie.

In Suid-Afrika het die stryd om persvryheid ook reeds vroeg begin. Kort na die stigting van die The South African Commercial Advertiser en die South African Journal in 1824 is hulle deur die goewerneur verbied. Die stigters het die stryd in Engeland gaan voortsit en in 1828 is persvryheid toegestaan. Met verloop van tyd sou mediavryheid egter weer en weer onder druk kom.

Vandag tel Suid-Afrika onder die min lande ter wêreld wat persvryheid by die naam in die grondwet gewaarborg het, en nie bloot as deel van die reg op meningsuitdrukking geïmpliseer word nie. Dit is daarom kommerwekkend dat Suid-Afrika lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent is nie, en in die algemeen op die indeks agteruit boer – ook kommerwekkend omdat dit die beleggersvertoue-indeks negatief raak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae