Nuuskommentaar: Wie oorwin, sal oorleef!

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Eerskomende Vrydag begin die ANC se nasionale beleidskonferensie op Nasrec. Ten einde politiek in Suid-Afrika waarlik te verstaan, is dit nodig om die ANC se nasionale beleidskonferensie in samehang met die nasionale leierskapsverkiesing te verstaan.

In ʼn normale demokrasie bepaal nasionale verkiesings wie die land regeer. In Suid-Afrika bepaal die ANC se nasionale leierskapsverkiesing nog tot op hede wie die land regeer. Dit is omdat ʼn een-man-een-stem-demokrasie in ʼn heterogene samelewing bloot ʼn sensusopname is. Die ANC het tot dusver outomaties as oorwinnaar uitgetree in feitlik elke nasionale, provinsiale en munisipale verkiesing sedert 1994. Die vraag was tot dusver selde wie die land sal regeer, maar eerder wie die ANC sal regeer.

Die toksiese faksiegevegte in die ANC is nou behoorlik aan die brand. Dit veral in ʼn politieke klimaat van oorlewing. Die ANC is ongetwyfeld in die slegste toestand wat dit nog was. Die party is diep verdeeld en veg tans om oorlewing. Grondvlaksteun in Desember se leiersverkiesing is deurslaggewend, maar magsvertoon dien as leidende aanduider.

In die lig hiervan wonder ʼn mens tog waarom president Ramaphosa besluit het om die afgelope naweek se Natalse konferensie by te woon. As RET-vesting is dit ook Ramaphosa se probleemprovinsie. Dalk wou hy juis hierdeur toon dat hy die morele gunstige posisie bo die destruktiewe, ongedissiplineerde RET-faksie het – hy is nie bang vir hulle nie.

Dit is veilig om te sê dat Ramaphosa ʼn kille ontvangs by dié konferensie geniet het. Dit dan nou ʼn week voor die nasionale beleidskonferensie ʼn aanvang neem. Die Natalse ANC-tak het weglaatbare respek en ontsag vir hul leier en landspresident. Met Natal wat die grootste provinsie volgens afgevaardigdes is, kan dit uiteindelik Ramaphosa se lot bepaal.

Vroeër vandeesmaand het pro-Ramaphosa Panyaza Lesufi die Gautengse leiersverkiesing vir die ANC gewen. Met Gauteng wesende ʼn verdere belangrike provinsie, is dit goed vir Ramaphosa. Die probleem is egter dat Lesufi naelskraaps gewen het. Gauteng se magsbasis is dus nie so bankvas agter Ramaphosa gekonsolideer nie.

Die punt is dus: Ramaphosa het die afgelope naweek swak en bespotlik gelyk. In ʼn jaar van lewensnoodsaaklike magspolitiek is dit sleg. Waarom Ramaphosa sou kies om na ʼn vyandige Natal te gaan, weet niemand nie. Dit sou sy saak nooit versterk nie, maar het dit moontlik juis verswak.

By hierdie konferensie het Ramaphosa ook genoem hoe die regering binnekort planne vir Eskom gaan aankondig. Met sy bekende laatnagregeerkunde het Ramaphosa Maandagaand oplossings vir die kragkrisis aangekondig. Die aankondiging was op die ou end verbasend positief. Dit is natuurlik onderworpe aan die voorwaarde van implementering. Die regering het heeltemal te laat, maar ook net-net betyds die kragnetwerk begin verlos. Groter mates van privatisering en desentralisering is aangekondig in weerwil van die regering se gewone beleidsagenda.

Solidariteit het die aankondiging ook verwelkom. Benoude spronge in die regte rigting, het hulle dit genoem. ʼn Goeie opsomming van die situasie. Solidariteit sowel as die DA het reeds hulself as waghonde aangestel oor die implementeringsproses. Die plan sal uiteindelik slaag of misluk in die implementering daarvan.

Daar is feitlik geen manier dat Ramaphosa politieke selfmoord op hierdie stadium van die geveg sal pleeg nie. Hierdie vlak van politieke nihiliste (of toondoofheid) is op hierdie stadium onwaarskynlik. Ramaphosa moet dus dink dat hierdie aankondiging sy saak versterk – veral te midde van die afgelope naweek se vernedering in Natal. Hoewel die aankondiging op pad was, was dit nie noodsaaklik om dit so spoedig te doen nie.

Wat Ramaphosa se eksterne beeld betref, sal dit hom goed doen. Hy is nou die president wat ons van beurtkrag bevry (onderworpe aan implementering van die aankondiging). Ons het egter nie ʼn komende nasionale verkiesing nie. Ramaphosa kan die ANC net nasionaal in 2024 help as hy nog leier van die party is. Sy positiewe beeld in die ANC weeg nou veel swaarder as sy positiewe openbare beeld. Dit is so vir almal wat in Desember om die leierskap van die ANC wil beding.

Ramaphosa se oorwinning in Desember is geen uitgemaakte saak nie. Dit wat hom dalk nog sal red, is die afwesigheid van ʼn natuurlike en sterk teenstander. Indien hierdie aankondiging egter strook met die gang van faksiegevegte, slaan hy sommer twee vlieë met een klap. ʼn Groter fokus op faksiepolitiek is die noodwendige en noodsaaklike reaksie wat Ramaphosa altyd sou toon – indien hy natuurlik die leierstryd wil oorleef.

Die antwoord lê dalk in die bekruk wat hierdie aankondiging vir Gwede Mantashe, minister van minerale en energiehulpbronne, is. Die implementering van die energieplan sal in die presidensie gesetel wees. Dit in teenstelling met vroeëre aankondigings van energiehervorming wat by Mantashe se departement sou rus. Die taak en plig is nou by Mantashe weggeneem. Die DA waarsku ook dat Mantashe en veral Pravin Gordhan nie toegelaat moet word om die kragplan te pootjie nie.

Dit is tog ʼn groot magsvertoon vir Ramaphosa – selfs al is Mantashe nie ʼn natuurlike en stoere teenstander nie. Mantashe het wel groot kopseer veroorsaak met sy teenstand van die Zondo-verslae. Almal doen dus wat hulle moet om te oorleef. Dalk is Ramaphosa se aankondiging so eenvoudig soos hy wat agter die skerms sy belange daarmee belyn het. Ramaphosa se Motsepe-skoonfamilie het immers deur African Rainbow Energy & Power groot belange in die uitbreiding van onafhanklike kragvoorsiening. (Hoewel albei partye dit natuurlik ontken.) Dalk het hy bloot ʼn verhoog vir magsvertoon en algemene gewildheid nodig gehad.

Indien die meerderheid dink dat die ANC se toekoms in Ramaphosa se hande lê, sal hy Desember oorleef. Die enigste politiek wat die ANC nog pleeg, is magspolitiek. Almal moet magsbasisse versterk omdat almal wil oorleef. Oorlewing word uiteindelik gekarakteriseer deur toegang tot mag en staatshulpbronne. Die karkasse is min en die aasvoëls baie. Diegene wat nog voordeel wil trek uit die mag van regeer, moet dus toegang daartoe kan kry. Wie uiteindelik Desember oorwin, staan ʼn beter kans op oorlewing. Dit is nou as die ANC in magsug en geldgierigheid mekaar nie totaal vermoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

H.A. ·

Roei mekaar uit. Dit sal die beste wees vir die land. Die kankers moet net weg, ver weg.

sopbeen ·

Ons moet net positief bly en glo dat die deal tussen hulle wel vir ons land is en nie vir hulle geldkoffers nie . Ek sal regtig baie dankbaar wees as loadshedding iets van die verlede kan wees.

Marianna ·

Mense wat nog so naiief is om te glo dat Ramaphosa ons gaan red, moet hulle koppe laat lees.

Sarel ·

Na my mening het Rhamaposa nie sy werk gedoen toe dit nodig was nie. Hy moes opgetree het teen onbekwame
Amptenare . Sekere mense moes lankal afgedank gewees het. Maar weereens blyk hy die Lakei van Lethuli Hse te wees en dit mag sy ondergang wees.. Redder van Eskom..
Dink weer ..

annie ·

Om nou regtig outyds te wil wees kan mens die ou siener Van Rensburg se woorde oordink nl dat ‘n groot leier in SA nog vermoor sal word. Destyds is gedink dit kan Mandela wees, maar toe nie. As die siener reg was is die moord nog op hande. Tye soos dié laat mens wonder hoe lank ANC-faksies mekaar nog gaan duld voor die bottel bars.

Jack ·

Soos in die 17 en 1800’s is die geveg tussen die zoeloes en die xhosas terwyl die minderheidsgroepe ingesluk word deur die massa. Wie gaan wen? En is SA nie maar net die verloorder nie aangesien net een van die stamme kan wen en onderdrukking net voortgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.