Nuuskommentaar: Wie regeer nou eintlik?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus MMmutle/GCIS)

Die term “Mafiastaat” het al grootliks uitgedien geraak. Maar terwyl in baie lande vordering gemaak is oor die terugrol van die diktature van die Mafia, het iets wat in Suid-Afrika as staatskaping bekend staan so hand oor hand geroei dat dit tot vandag nog geen maklike vraag is om te beantwoord nie: “Wie regeer die land nou eintlik?”

Dié kwessie is reeds op 26 Mei 2017 in ’n nuuskommentaar op Maroela Media onder die loep geneem. Selfs die term “Mafiastaat” is kortliks na gekyk.

Baie het sedertdien verander, soos dat pres. Jacob Zuma vervang is. Hy kon ook nie daarin slaag om naatloos deur afstandbeheer te bly regeer (en sy bas so uit die tronk te hou) nie, maar die regeer deur afstandbeheer (Ace Magashule) is steeds nie te versmaai nie.

Vra maar die vraag oor wie werklik die land regeer. Is dit werklik die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule? Nou waar pas die openbare beskermer dan in, wat ooglopend haar mes vir Ramaphosa en sy vernaamste ondersteuners in het?

Of is dit ’n skimagtige spookkabinet waar slegs enkele figure openlik hul lywe rondswaai, en die ander vanuit donker hoekies en uit stegies hul ankers laat sak?

Oudpres. Jacob Zuma by die hooggeregshof in Pietermaritzburg [20 Mei 2019]. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)

In die 2017-nuuskommentaar word verwys na ’n navorsingstuk wat deur akademici van Wits, Stellenbosch, Kaapstad en Johannesburg onder die leiding van prof. Adam Habib opgestel is. Die titel, Betrayal of the promise: How South Africa is being stolen (laai hier af), draai nie doekies om nie – die land word gesteel.

Pravin Gordhan, nou erg in die visier van die “skimkabinet”, het toe gesê dit is tyd dat Suid-Afrikaners die kolletjies begin verbind. ’n Klein swart elite is besig om die land so te kaap dat daar vir die breë massa niks uit die situasie te win is nie.

(Net terloops, reeds in hierdie verslag van minder as 80 bladsye word die naam van Ace Magashule reeds ongeveer tien keer genoem, en sy rol in verskillende gedaantes uitgespel.)

Een “geloof” van destyds wat steeds in sekere kringe aangehang word, is dié in Kersvader (die Tesourie en Reserwebank), en meer spesifiek, ’n Kersvader met ’n bodemlose towersak. Steeds bly die Reserwebank die eerste prys, met die Tesourie warm op sy hakke.

Gelukkig lyk dit of al een wat (in haar eie droomwêreld) oortuig is sy is aan die wenkant, die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. Volgens haar kan net die Here haar uit haar pos verwyder.

Habib, eens baie uitgesproke as rektor van Wits, blyk nou uit nuusargiewe ongeveer so stil soos ’n muis met pantoffels aan te wees.

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Is daar dan (nog) twyfel of Ramaphosa werklik die septer swaai? Ongelukkig dra die selektiewe aard van dit waaroor hy bereid is om hom uit te laat by tot die persepsie van iemand wat nog uiters versigtig moet trap dat die regte mense in hom sinnigheid kry, en dat hy sekere invloedrykes nie van skietgoed teen hom voorsien nie. So sal hy tydig en ontydig hom uitlaat oor grondonteiening sonder vergoeding, en botweg weier om hom oor plaasaanvalle uit te laat.

So word een groep gepaai, en ’n ander groep vervreem. Die groep wat gepaai word, tel by verre (vermoedelik) die meeste siele. Die negeerde groep skep die meeste voedselsekerheid en landelike welvaart in ’n uiters landbou-ongunstige klimaat.

As Ramaphosa afhanklik gaan wees van deurlopende goedkeuring vir optredes van die Zuma-Magashule-kamp, is die staat moeilik te onderskei van ’n Mafiastaat. In Julie 2017 het Rapport se Hanlie Retief met Themba Godi gesels. Op ’n vraag oor die doodsdreigemente van die vorige hoof van Sassa, het Godi soos volg geantwoord: “As ons toelaat dat staatsamptenare met doodsdreigemente en intimidasie uit hul poste gedwing word, beteken dit ons is ’n mafiastaat waar misdadigers in senior poste die wet vir eie doeleindes misbruik. Dan is ons net op papier ’n demokrasie.”

Ramaphosa sal teen wil en dank die balanseertoertjie moet laat vaar, en begin kies tussen wat reg en wat verkeerd is.

Die geskiedenis is vol voorbeelde waar integriteitlose mense deur die afspeel van ander teen mekaar self die leiersposisies oorgeneem het. Nadat hulle hul voete gevind het, het hulle weens die afwesigheid van eie beginsels op die behoud van mag begin fokus, en erg onderdrukkend geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Arie ·

Ek stem rammie is te slap om op te tree en hy weet hy is op dun ys anders lig hulle hom uit sy stoel. Dis tyd dat daar ‘n ander party kom want die D A het sy eie kop af gekap

marco polo ·

Ramaphosa het geen ruggraat nie, anders sou hy lankal daardie kabaal vasgevat het.

Dries du Toit ·

Ramaphosa het al in die openbaar gese , Magashule is sy baas

ChrisE ·

Baie interressante bydrae. Goeie vraag wat Herman vra. Ek sou dit egter so gestel het, “Who rule SA” en nie “who governs SA” nie. Daar is vir my ‘n verskil. Ramaophosa wil “govern” maar sy ander bendelede wil “rule”. Ramaphosa is ‘n lakei en moet maak soos voorgesê word. Ons enigste redding in die land is etnisiteit.

J van Rustenburg ·

Wie regeer enige land Daar is altyd mense agter die politiek Donasies word nie net weg gegee nie maar daar is ‘n verwagting Was dit regtig die NP wat die ou RSA regeer het? Seker nie Wat nou gebeur gebeur al die afgelope 100 jaar Daar is maar altyd ‘n klein elite groep N skimagtige spook kabinet Die skoen is maar net aan die ander voet nou

Antoinette ·

Die President moet eerlik wees. Kort en kragtig. Kondoneer hy plaasaanvalle of nie?

Andreas ·

Dalk is CR net eerlik, dalk is dit soos SEB en kwotas waaraan hy glo. Hy wil dan ook boere se grond sonder vergoeding onteien, so ongeag reg of verkeerd, hy volg hul ideologie, hy glo wat hy doen is reg en noodsaaklik. Hy het dan vir die minister van onderwys aangestel wel wetend wat haar sentiment teenoor Afrikaans is, en siedaar sy ondersteun Lesufi.

Ons lees dan nou verlede week statistiek hier op die webwerf dat by verre meeste mense, swart mense ingesluit glo dat daar moet met SEB weggedoen word, maar CR klou soos ‘n neet daaraan. As die stats dan bewys hy hoef nie te vrees vir getalle wat teen hom gaan draai as hy met SEB wegdoen nie, wat anders is dit wat hom weerhou, want duidelik benadeel hulle hulself daardeur omdat die ekonomie as gevolg daarvan nie sy kop ‘n millimeter optel nie.

Andreas ·

Solank Cyril hul kommunistiese sosialistiese ideologie najaag, en onthou dis al wat hy ken, is ek bevrees dat al besef hy wat reg en verkeerd is, sal die keuse soos per hul ideologie altyd die swaarste weeg, die ANC se siel sal daarvoor sorg dat Cyril hierdie paadjie loop.

Andreas ·

Verdermeer, per die ANC se konstitusie, word hul beleid bepaal deur hul lede en hul leierskap is insgelyks aan die lede verantwoordbaar. Ace Magashule het ‘n paar dae gelede in ‘n onderhoud met News24 gesê sy nalatenskap sal die implementering van die 2017 Nasrec resolusies wees wat daar geneem is, met inbegrepe van die nasionalisering van die reserwebank en grondonteiening sonder vergoeding.

Andreas ·

My versugting sal eerder wees: “Sal die regte Cyril met sy nobele bedoelings soos ons op hoop, na hy die ANC gekaap het, opstaan!” Dan besef ek ons sien wel die regte Cyril soos wat tans hy is, hy hou die paddas aan die raai.

Stiks ·

Het ons in n regte demokrasie gelewe met n opregte onafhanklike regbank was hierdie ACE kader lankal agter trallies????

Dries du Toit ·

En Zuma, Mabuza, Miyeni, Mutambi, Mayepello, Mokoyani, en A tot Z

marous ·

Die stert swaai nog altyd die hond . Jy word toegelaat om in die stoel te sit en die septer vas te hou , maar as jy durf om hom te beweeg is jy weg . Dit sal nooit verander nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.