Nuuskommentaar: Wie van DA of ANC kry seerste voor verkiesing?

Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille (Foto: ANA)

Ontleders krap nou goed kop oor of veral die jongste Patricia de Lille-gebeure die DA in aanstaande jaar se algemene verkiesing gaan knou. Terselfdertyd word die ANC hard geslaan deur die een krisis na die ander, en probeer die weerlig aflei deur die fokus op die DA se probleme te plaas.

Intussen flikker die gevaarligte al hoe meer dat die komende verkiesing (al weer) op ’n rassesensus kan neerkom. Dit blyk onder meer dat byna die helfte van die bruin mense nou onseker is oor vir watter party hulle gaan stem, nadat dié kiesers hulle aanvanklik redelik sterk in die ANC bevind het, toe die ID (Patricia se Onafhanklike Demokrate) en later die DA.

Hier en daar wil-wil tussenverkiesingsuitslae en ander optredes op ’n ongelukkigheid met die DA dui, terwyl minstens een van die vyf Kaapse raadslede wat uit simpatie met Patricia bedank het, die DA reguit van die begunstiging van blankes beskuldig het.

Al hoe meer ontleders meen die DA sal na volgende jaar se verkiesing van ’n koalisie gebruik moet maak om te regeer. Tensy pres. Cyril Ramaphosa om die een of ander rede anders besluit, sal daar volgende jaar nie ’n verkiesing op munisipale vlak wees nie, en sal hoogstens die Wes-Kaapse DA-regering in die Kaap geraak word.

Hoewel baie ontleders meen die Patricia- en verwante probleme raak net die DA in die Wes-Kaap, kan aanvaar word dat die ANC die kwessies op nasionale vlak sal gebruik. Selfs al ly die DA buite die Wes-Kaap nie juis skade nie, kan dit die moontlike groei waarop die party in die res van die land gehoop het, steeds knou. Dit sou die moontlikheid dat die ANC volgende jaar in ’n koalisie gedwing word, verskraal.

Tensy…

Die land word bykans deurlopend deur geweld, soos diensleweringsbetogings, geteister. Sake koel nog op een plek af, dan word munisipale geboue of skole elders brandgemaak. Onskuldige verbygangers op openbare paaie word onder meer onder klippe gesteek.

Intussen neem kommer toe dat die bekamping van die staatskaping nie met al die entoesiasme geskied wat dit verdien nie.

Van die waarnemers meen Ramaphosa “spaar” van sy politieke kapitaal tot na volgende jaar se verkiesing. Maar rig die negatiewe elemente nie nou te veel skade aan nie, sodat Ramaphosa ná die verkiesing politiek impotent gaan wees nie?

Dat die raskwessie lewend is, blyk uit die steun wat Solidariteit vir sy optog gister teen rasgebaseerde optredes gekry het.

Maar hoe dek dit die tafel vir ander politieke partye se deelname aan die verkiesing?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Tussenverkiesingsuitslae uit KwaZulu-Natal dui daarop dat die IVP sy onderste draaipunt bereik het, en weer steun begin bykry. Of die momentum tot met die verkiesing volgehou kan word, sal nog gesien moet word.

Ondervinding leer dat die kanse skraal is dat partye soos Cope en die UDM iets anders as splinterpartye gaan wees. Dit sal hulle deel laat bly van ’n hele skare van mini-partye.

Die ACDP? Vandat die leier, eerw. Kenneth Meshoe, die party bykans “gereinig” het van veral blanke persone met statuur, soos Kent Durr en verskeie ander, en ANC‑ ondersteuners soos adv. Mighty Madaza en eerw. Selby Khumalo gewerf het, wat terug is na die ANC, het die party weer erg die kreeftegang begin gaan en is nou ook weer ’n klein partytjie.

Die Vryheidsfront Plus mik met die komende verkiesing na ’n miljoen stemme. Of dit ooroptimisties is, moet nog gesien word. Dit lyk asof die VF+ die minste deur nasionale politiek “gekwes” word. Die VF+ se grootste knouwerk word oënskynlik vanuit die regterkant van die politieke spektrum gedoen waar ’n groot verskeidenheid partytjies en bewegings die huidige bedeling boikot of as politieke partye eintlik niks uitrig nie.

In die politiek kan een dag ’n baie lang tydperk wees, en etlike maande ’n ewigheid. Veel, insluitend skandale, kan, en sal waarskynlik nog, voor die verkiesing op die lappe kom. Waarnemers het egter al daarop gewys dat waar skandale ander partye liederlik kan knou, die ANC dit anders ervaar. Dis min of meer soos water van ’n eend se rug.

Dit is dus baie belangrik dat die ander partye doodseker maak dat hulle hul neuse skoon hou anders gaan die ANC ruim daarby baat sonder om self geknou te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

ANC ondersteuners kan sekerlik nie as intellektuele reuse beskou word nie, want hulle betoog daagliks oor die ANC se swak dienslewering, tog stem hulle maar net weer en weer vir die ANC.

waarheid ·

Who cares – dit beteken meer stemme vir die Vryheidsfront. En daarmee is ek tevrede .

Frik Lotz ·

Hoe kan minderheidsgroepe nog steeds DA stem? DA-beleid benadeel minderhede op alle vlakke van die samelewing. Enigste party tot dusver wat veg vir minderhede se belange en regte is die VF Plus. Is daar enige ander party wat dit doen? Die keuse vir minderheidsgroepe vir wie hul moet stem in 2019 is dus eenvoudig. VF Plus!

Hendrik ·

Ek dink die wit groepering wat die huidige politieke bedeling boikot, deur nie te stem nie, groei sterk. Miskien moet hierdie gemeenskappe/groep genader word en ondersoek hoekom hulle nie wil deelneem nie. Hierdie probleme moet dan aangespreek word. Ek kan nou al se dit is dieselfde probleme wat die SASOL stappers na Sandton ondervind het. Probleme soos uitsluiting by werksplek, BEE, “Affirmative action”, kwotas, ens

leser ·

Dankie tog ek stem nie DA nie – wens die D A Stemmers se oe en ore wil oopgaan.
Ek hoop die VFront kry baie stemme.
Dis soos twee honde baklei oor ‘n been en die derde stap daarmee heen. Pas my uitstekend!!!

nico k ·

Die meeste kommentaar hierbo gaan oor “ek hoop”. Maar in werklikheid verander kiesers se stemme baie stadig en ek voorspel geen groot verandering in die verkiesing nie. Die ANC gaan weer maklik wen. Die EFF sal seker bietjie styg, maar Ramaphosa het baie gedoen om die swart stem te behou. Baie gematigde swartes wat na die DA geneig het, aangesien hulle besef het wat Zuma met die land aanvang, sal heel waarskynlik terugkeer na die ANC. Die DA se getalle kan dus effens daal veral met die Zille debakel. Dit lyk of Inkhata se stem bietjie kan styg en dalk die VF so klein bietjie maar dit sal minimaal wees. Soos Herman genoem het, die nie-stemmers en klein onbenullige regse partye knou die VF se steun.

Ben ·

Die Patricia debakkel het my afgesit van die DA asook die rokie van die “Abuse” waarvan sy praat want DA “Abuse” is baie duidelik sigbaar in Kaapstad se Water en Elektrisiteits tariewe.

Gert ·

Wat my altyd verbaas is hoe oningelig meeste afrikaner-kiesers is. Meeste glo die snert dat ‘n stem vir ‘n “klein” party ‘n gemorsde stem is, en mors dan hulle stem op die DA wat absoluut niks vir afrikanerbelange doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.