Nuuskommentaar: Wie veg nou vir Grondwet? Gaan Afrikaans sy grondwetlike regte oorleef?

Argieffoto

Argieffoto

Reeds tydens die Kemptonparkse onderhandelings was dit duidelik dat daar vanuit sekere geledere, wat breedweg as “regs” getipeer is, allerlei besware teen die nuwe grondwetlike bedeling sou wees. Soms was van die kritiek bloot emosioneel, maar goed gemotiveerde besware het wel die lig gesien en ook van akademici soos prof. Marinus Wiechers kritiek gelewer.

In ’n stadium het die FW de Klerk-stigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte kritiek oor sekere uitsprake van die grondwetlike hof uitgespreek.

Voorts het die ANC opsigtelik ál verder begin staan van die Grondwet en die Vryheidsmanifes, wat selfs deur van die opstellers, soos prof. Ben Turok, beskryf is as slegs toepaslik vir die era waarin dit geskryf is.

Op die oog af, so lyk dit, het daar ten minste ’n gedeeltelike grondverskuiwing plaasgevind van diegene wat die Grondwet desperaat probeer benut om die kruipende ondermyning daarvan teen te werk, en diegene wat ál meer geïrriteerd raak oor hoe die Grondwet transformasie teenwerk.

’n Goeie voorbeeld was toe lede van die DA-jeug by Kleinfontein gaan betoog het omdat die bestaan en bedryf van die nedersetting “ongrondwetlik” sou wees. Die jeug is deur senior lede in hul eie party reggehelp.

Maar die voorbeelde strek veel verder. So was daar ook al gevalle op RSG se program, Kommentaar, waar ’n deelnemer ’n totaal foutiewe grondwetlike uitleg gegee het en deur ’n ander deelnemer wat juis as links bekend is, reggehelp moes word.

Presies dieselfde kommentator, Max du Preez, wat so bruusk deur prof. Christi van der Westhuizen reggehelp moes word, het nou in ’n rubriek na die “taalbulle” se “holrug geryde argumente” verwys wat hy “gister se argumente” noem.

Dr. Leopold Scholtz, in sy rubriek op Netwerk 24, maak kleingeld van Max se argumente. Ironies, in hierdie rubriek van Maroela Media, is Max ook reeds daarvan beskuldig dat hy by sekere Jurassiese standpunte vashaak.

Maar Scholtz gaan verder en beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense albei kante van die munt moet bestudeer – ofte wel, luister na elke kant van die saak. Hy meen Max doen dit nie.

Scholtz skryf: “As Afrikaans as rookskerm gebruik word om swart mense uit te hou, is dit ongrondwetlik en moreel verwerplik. Maar die Grondwet gee sowel die Afrikaanssprekendes wat hulself as Afrikaners beskou as dié wat dit nie doen nie die rég om in hul moedertaal te studeer. Dit is geen voorreg nie.” …  “Die een kant sê ‘Afrikaans’ en ‘Grondwet’; die ander kant hoor ‘rassisme’. Ons praat by mekaar verby.”

Die uittreksels laat ongelukkig nie reg geskied aan Scholtz se hele artikel nie.

Die feit bly, as Scholtz se stellings nie voorheen asook dié in hierdie rubriek verwoord is nie, dan is dit nie weens “bedoeling” nie maar lompe skryfwerk.

Die “Engelse” studente by Elsenburg, bygestaan deur die EFF, is nou besig om die streep in die sand te trek. Soos AfriForum daarna verwys, hulle stel nie belang in ’n oplossing (wat grondwetlik) houdbaar is nie. Afrikaans moet eenvoudig heeltemal as onderrigtaal gelos word. Hulle wil ook nie afsonderlike Afrikaanse en Engelse klasse hê nie omdat dit die studente dan hoofsaaklik op rassegrondslag skei.

Elsenburg se tussentydse maatreël om die klasse tot ’n uur te verleng sodat dieselfde klasse volledig in Afrikaans en Engels onderrig kan word, is ook vir die heethoofde onaanvaarbaar.

Niemand glo Afrikaans sal amptelik oorleef deur nét op die grondwetlike regte daarvan te fokus nie, maar daar kan ook nie hier kanse verspeel en flaters begaan word nie. Dit bly egter net so belangrik om ook aan gesindhede te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

chris ·

Herman die dryf is nou om die grondwet te verander wat ook gaan gebeur soos die res van die “bevryde” Afrika kan getuig.

Rynhardt ·

Die grondwet ontneem vir 21jaar ons Afrikaners van n toekoms! Die voormalige minister van Onderwys, Kadar Asmal het die volgende gese voor sy dood:”Die grondwet het 17 keer al verander! Ek kan nie meer saam met die Anc stap nie Ek ken nie meer hierdie Anc nie!” Dit spreek boekdele! Helen Zille en die DA het die grondwet bemark as die wonderlikste dung op die planeet; maar het geweiwr om bogenoemde van Asmal te noem, so ook die res van hanswirse in opposisie.Vir jare het ek DA aangespreek oor skole en universiteite wat verengels.Die antwoord:Algehele stilte! DA is anti-Afrikaner! Alles gaan met mening verengels, want die vryheidsnanifes wird met mening uitgevoer! Die grondwet en die parlement het simbole van onderdrukking geword vir Afrikaners!

Kaspaas ·

Stem saam. Op grondvlak is daar geen verskil tussen die ANC en die DA nie. Hulle verkiesings manifeste verskil hemelsbreed, maar daar eindig dit ongelukkig. DA is Afrikaner haters. Dit laat my sprakeloos dat daar afrikaans sprekende mense is wat vir hulle stem.

Andre ·

Stem saam dat daar sekerlik aan gesindhede gewerk behoort te word. Vraag is net, WIE se gesindhede? Maar weer ‘n kwessie van een groep wat soos woer-woere die wange moet draai en die ander groep klap net? Miskien moet daardie streep in die sand ‘n slag diep en duidelik getrek word…

mariana ·

Ek weet nie of ek besig is om paranois te raak of wat, maar die afgelope paar maande is dit of daar ‘n totale aanslag teen hoofsaaklik Afrikaanssprekendes (wit en bruin) op Universiteitsvlak gevoer word. Potch, Stellenbosch, Elsenburg, Vrystaat – hoofsaaklik waar daar nog vakke in Afrikaans gebied word. Ek sien die hand van die aardskommunis in die klere van Minister Blade agter dit. dit is heektemal te ge-orgniseerd om toevallig te wees.
Rugby – vernietig die spel waarvoor ons lief is. Verstommmend slaag ‘n “Nuwe geregistreerde politiekeparty” daarin om ‘n saak by die Hooggeregshof binne 2 weke aanhangig te maak, waarop die Swart Regter uitstel verleen om ‘n advokaat te kry en nog dieselfde middag die saak aan te hoor. Uitspraak in Hooggeregshof word dieselfde dag gelewer dat daar ‘n Ondersoek na Transformasie gedoen moet word wat die mederheid moet verteenwoordig. Ek sien hulle as lakeie van die Minister van Sport en die Anc en sal nie verbaas wees as die geld uit ‘n geheime fonds kom nie.
Plaasaanvalle wat in intensiteit toenaam, sonder dat daar enige woord van veroordeling uit die regerende party se mond kom.
Grondonteienings en Grondbesetting – so kan ek aangaan.
Wat my verstom is dat die Afrikaanse Pers by name Nasionale Pers nie meer
oor Gekwalifiseerde Joernaliste beskik wat in diepte ondersoek en verslag oor sulke sake kan doen nie.
Al wat hulle hoef te doen is om ondersoek te doen waar die geld vandaan kom en dan daaroor verslag te doen.

Mike ·

Ek glo nie daar is enigiemand wat die SA grondwet regtig verstaan nie veral nie in ANC geledere nie, elkeen intepreteer dit maar soos hy wil.

Dup du plessis ·

Hoe sal daar nog van Afrikaanssprekenses verwag kan word om belasting te betaal in ‘n geboorteland wat niks meer vir hom/haar bied nie. In ‘n land waar ‘n klompie (meestal Arikaanssprekende) boere sorg dat miljoene (meestal ondankbaar) voedselsekerheid vir jare geniet. Terwyl Afrika deurspek is met hongersnood. Maar die liegstorie word gekoester dat hulle die grond gesteel het. Tog is RSA se kommersiële grond sekerlik al meer as een keer verhandel sedert 1994. (Wens ons kon huidig weet wat tans die skuld en verbandwaardes van grond in RSA is). Die mooi kant word nie vertel dat elke keer wanneer ‘n plaas verkoop word in die ekonomie (en plase word gereeld verkoop en gekoop) daar ‘n inkomste is vir die verkoper, wat belasting dan betaal na die staatskas. Hierdie is van die geld wat maandeliks aan miljoene welsyn gevalle uitbetaal word. Die hartseer is dat elke plaas wat in die grondhervormings- slaggat val, nooit maar nooit weer verkoop gaan word nie, en nooit maar nooit weer geld vir oom Zuma gaan genereer nie. En binne ‘n klompie jare (nie meer lank nie) gaan daar heeltemal te min geproduseer word om die nasie te voed a.g.v. bogenoemde redes. Die staatskas se geldjies gaan dan gebruik moet word om miljoene tonne mielies ens. in die VSA te moet aankoop – met ons “sterk” rand nogal ‘n goedkoop transaksie en dit wat oorbly gaan te min wees om die baie mense in die rye te betaal. Letterlik en figuurlik die sny van die gans se keel wat die goue eiers lê, en dit lyk so al of die ou met die mes ‘n rooi baret dra……….en dan anargie………tog het baie van ons maar geweet dit kom…………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.