Nuuskommentaar: Wie verdien om vereer te word, en wie is ‘trash’?

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Opsomming

Verdien ’n leier ’n standbeeld en om in ’n praalgraf begraaf te word bloot omdat hy ’n leier was, of moet ’n leier terwyl hy in die amp dien, ’n goeie en navolgenswaardige voorbeeld stel om vereer te word? Volgens verskeie verslae is die afgetakelde moraliteit in die land ten minste ten dele te wyte aan die swak voorbeeld wat die land se politieke leiers stel – ’n vis verrot immers van sy kop af.

Daar was onlangs ’n storm oor die Noordwes-regering wat miljoene rande wou bestee om ’n standbeeld van pres. Jacob Zuma op te rig.

In Spanje is daar ’n storm oor planne om oud-diktator Franco se lyk uit ’n indrukwekkende mausoleum te neem en meer obskuur te begrawe.

Weer hier te lande het onder meer die EFF laat blyk dat oudpres. FW de Klerk nie verdien om deel van leiers van stigtings te wees wat sake in Suid-Afrika weer op die regte koers kry nie.

’n DA-LP beland in die sop oor die aanstuur van ’n inskrywing in die sosiale media waarin oudpres. PW Botha se pogings om wet en orde te handhaaf uitgewys word.

Die afgelope naweek het ’n deel van die media berig oor twee ministers wie se beweerde buite-egtelike kaperjolle nou in hul gesigte ontplof. Die minister van finansies, Malusi Gigaba, se beweerde gewese minnares en sy vrou het mekaar op sosiale media getakel. Die beweerde minnares, Buhle Mkhize, het sommer Gigaba daarvan beskuldig dat hy en die Gupta-kamp samesprekings gevoer het. Sy vrou se kwalifikasies sou vervals wees.

Die minister in die presidensie met selfverklaarde presidensiële aspirasies, Jeff Radebe, sou glo ’n sekspes van homself gemaak het en ’n jong vrouewerknemer per teksboodskap vir naakfoto’s van haarself gevra het. Dié teksboodskappe het nou in die openbare domein gekom. Op RSG se program, Kommentaar, is die mening uitgespreek dat Radebe nou sy kanse om toekomstige president te word, ’n fatale hou toegedien het.

Die pikantheid is egter dat pres. Jacob Zuma ’n onstuimige lewe buite die eg gevoer het. Hy het onder meer owerspel suksesvol as verweer teen ’n aanklag van verkragting in die hof aangevoer. Hy is deur die ANC se kring van oudstes aangespreek nadat hy ’n familievriend se dogter swanger gemaak het.

Dit wat Zuma teen die kop geslinger word, is egter veel, veel meer as sy buite-egtelike kaperjolle. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy die land letterlik in ’n staatskapingsaksie verkwansel. Skandaal op skandaal volg hom. Nou weier hy om die beweerde “intelligensieverslag” beskikbaar te stel wat hy volgens eie aansprake gebruik het om min. Pravin Gordhan in die pad te steek. In die jongste debakel word beweer dat ’n noue, skatryk vriend van Zuma, Philani Mavundla, ’n voorskot van R81 miljoen ontvang het vir ’n tender om suur mynwater te ondersoek.

Oudpres. Thabo Mbeki, wat jare lank kinderloos getroud is, se buite-egtelike seun het tydens die struggle “vermis” geraak.

De Klerk het tydens sy presidentskap sy vrou gelos, en is met die vrou van ’n Griekse magnaat (wat haar man hieroor gelos het) getroud.

Meer as een kenner het beweer dat die probleem van geweld teen vroue en kinders wat oor die land spoel, minstens ten dele te make het met die vlakke van moraliteit wat topregeringsleiers stel. Ander faktore sluit armoede in.

Wanneer in die argiewe gedelf word, blyk dit dat die lysie hierbo heeltemal onvolledig is. Daar is berigte/bewerings oor mense met wie ministers (ook vroueministers) ongesonde verhoudinge het wat ruim baat by tenders, oorsese reise en vele meer. ’n Oudpresident het glo ’n nyatsi gehad wat by die SAUK gewerk het, en dikwels saam met die president op sy oorsese reise beland het.

Dit het trouens nou feitlik mode geword dat leiersfigure in die ANC self die organisasie van ’n gebrek aan moraliteit beskuldig, en dat dit reggestel moet word as die ANC sy bewind veel langer wil voorsit. Trouens, tans behaal adj.pres. Cyril Ramaphosa na berig word aansienlike sukses deur die gebrekkige moraliteitskwessie binne die ANC (wat korrupsie insluit) as invalshoek te gebruik vir sy eie veldtog om as volgende president van die ANC verkies te word. Maar watter waarborge het ons dat Ramaphosa nie ook maar voete van klei het nie?

Hierteenoor lyk dit of Zuma se eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se veldtog groot skade gely het deur haar veldtog te nou met die persoon van Zuma te verweef.

’n Ou Chinese spreekwoord lui dat ’n vis van sy kop af verrot.

’n Slagspreuk het in die kuberruim vlerke gekry, “Men are trash”. Natuurlik is daar ’n gebelgdheid onder mans wat hulle beslis nie aan seksuele misdaad en selfs moord teenoor vroue en selfs babas skuldig maak nie. Maar omdat verreweg die meeste van hierdie misdade heimlik gebeur, kan ook aanvaar word dat baie van hierdie gebelgdheid kom van mans wat agter die deur staan.

Die gemeenskapswoede teen hierdie soort misdaad bly ook nie uit nie. Pas is weer berig oor ’n groep gemeenskapslede wat ’n man wat glo sy meisie en dié se suster met petrol besprinkel en aan die brand gesteek het, agternasit en met klippe doodgegooi het. Albei susters word vir brandwonde behandel.

Gemeenskappe is woedend en verwag van die owerhede om hulle beter te beskerm – en veral te verseker dat die probleem deur streng wetstoepassing en behoorlike vonnisse kortgevat word. Maar die verkeerde boodskap sal ook bly uitgaan as die leiers nie ’n goeie voorbeeld stel nie. Smerig soos dit is, het die media ook ’n verantwoordelikheid om die boodskap oor te dra dat sulke optredes onaanvaarbaar is. Dit wek die verkeerde indruk as albei (wit) rektore in ’n kleinerige stad gelyktydig buite-egtelike verhoudings het, dit redelik algemeen bekend is, en die media swyg daaroor. (Albei rektore het intussen afgetree.) ’n Swart rektor se kaperjolle haal egter wel die media.

Moraliteit is nie sommer iets goedkoops wat langs die pad opgetel word nie. En Suid-Afrika het ’n lang, harde pad om hiervan werk te maak, soos blyk uit ’n onlangse verslag van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat in die Regina Mundi-kerk in Soweto bekend gemaak is.

Intussen word Suid-Afrika beskryf as ’n Mafia-skadustaat. Ons is dus (nog) nie ’n Mafia-staat nie, net amper een. En die ANC se planne om dit nou met erns aan te spreek, ontlok niks meer as ’n reaksie van wag en sien nie. Vantevore het sulke bekpraatjies bloot by bekpraatjies gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Trash ·

Afrikaners en kolonialiste wat alles opgebou het is TRASH en bomplanters en “freedom fighters” wat nie een rondte geskiet het nie, slegs bomme geplant het in KERKE enop straathoeke waar niemand dit verwag het nie, waarin onskuldige vrouens en kinders gesterf het, en martelingskampe vir hulle EIE ondersteuners gehad het moet nou STANDBEELDE kry. Ook klipgooiers en brandstigters kry hulle eie ‘vakansiedae’ en monumente .. DIT is hoe dit werk !! Gelukkig vat ek dit van wie dit kom, dit is ‘n kompliment as die huidige regering my TRASH noem … hulle is soveel laer as dit!

Eish ·

Ek so dus 20:4 “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat onder die waters onder die aarde is nie.”
Pylreguit soos altyd.

Jaco ·

Hierdie geloof en gebruik van een man en een vrou is heeltemal onsinnig en die oorsaak van al die “buite-egtelike” probleme. Mans moet kan trou met soveel vroue as wat hulle wil en wat almal daartoe instem en dieselfde met vroue. Om te verwag dat iemand net met een ander persoon mag seks hê, is verspot en teen die natuur.

Eish ·

Mooi man, laat die natuur jou drywe tot by die onderhoudshof dan se jy vir die landdros jy kom nie by met die onderhoud nie want die natuur het jou gedrywe. Of betree die politiek, dan kan jy dit bekostig, natuurlik.

Leendert ·

In ons regering is jy nie ‘n leier omdat jy in die ware sin van die woord ‘n leier is nie, jy kan verkies word omdat ander dit maklik vir om jou te manipuleer, jy kan gekies word om verskeie redes, ook al is jy trash, jy hoef nie leierseienskappe te hê nie, of sekere uitnemende kwaliteite, wat mense jou laat volg nie.

snoefie ·

ja nee. De Klerk moet gaan. maritz moet gaan. De la rey moet gaan. Pretorius moet gaan om vir ou Swannie plekke te maak. al weet niemand met wie Swannie in die kooi was of hoekom nie.
@eish, baie sekektief

Pasop vir die honde ·

Jesus het hulle honde genoem en hulle is buitestaanders van die komende koninkryk. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. Openbaring 22:15. Salig egter is die wat God se gebooie doen sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Surprise surprise ·

Towery: Strongs Greek 5331 Pharmakeia, from pharmakeuõ -“administer drugs”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.