Nuuskommentaar: Wie verteenwoordig die Afrikaner?

afrikaner vraagtekenDaar kan geen twyfel wees nie … die verwikkelinge in die land wat met die stakingseisoen en loononderhandelinge verband hou, is wat die welvaart van die land en sy mense betref, die Afrikaner ingesluit, die meeste raak.

Daaglikse veiligheid speel ‘n baie groot rol om te bevestig of iemand homself as gelukkig beskou.

Daar is deurlopend oproepe vir morele herlewing.

Dan is daar die drang na vryheid en gelykheid. Hierdie drang manifesteer byvoorbeeld in kwessies soos geslagsgelykheid, of die gelykheid van volkere. Nie almal het dieselfde prioriteite hieroor nie.

Die vraag oor wie die Afrikaner verteenwoordig het onlangs weer opgeduik na die Afrikanerbond genooi is om ‘n voorlegging oor grondhervorming voor ‘n ad hoc-komitee van die parlement te lewer.

Die doel is nie hier om weer die vergrootglas te rig op die verskillende persepsies wat verskillende bevolkingsgroepe het oor die geskiedenis van grondbesit in die land nie. Maroela Media het die ontleedmes hieroor al verskeie kere ingelê. Dit is voldoende om te meld dat dit wat vir die meerderheid Afrikaners as ‘n doodgewone, objektiewe weergee van die geskiedenis is, vir ander doodgewoon leuens is. Trouens, die ANC-LP, Mandla Mandela, het die AB se weergawe as leuens afgemaak. Die einste Mandla het ook tydens die debat die Mfekane (Difaqane in Sotho) as apartheidspropaganda afgemaak. Hieroor het die media dawerend geswyg.

Die kritiek op die AB-voorlegging het egter nie net uit swart geledere gekom nie. Vanuit liberale, en veral negrofilistiese oorde is die AB ook gekritiseer en van onsensitiwiteit beskuldig, maar is die AB ook gekritiseer omdat “dit voorgee om namens die Afrikaner te praat.” ‘n Aanspraak wat die AB nié gemaak het nie.

Maar wie verteenwoordig die Afrikaner, of wil die Afrikaner nie ‘n verteenwoordigende spreekbuis en bedingingsmag hê nie? Dis nie asof die grondwet ‘n verbod op so iets, en selfs vir geografiese of korporatiewe selfbeskikking voorsiening plaas nie. Die bepalings van artikel 235 van die grondwet is wel bekend.

Trouens, daar was al pogings om dié bepaling in te span. Die verkiesing wat op die Volkstaatraad van die Boere-Afrikaners uitgeloop het, is een. Die meeste publisiteit wat dit in die Afrikaanse pers kon trek was toe daar by ‘n vergadering vooraf glo vuiste geklap het en die naam Piet Skiet weer opgeduik het. Daarna was daar ‘n meningsverskil met die Stellenbosse filosoof, prof. Anton van Niekerk, waartydens die prof se bril van sy gesig af geraak het.

Daar is deurlopende pogings om die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe binne die veronderstelde raamwerk van die grondwet te laat funksioneer.

Selfs al word die staatkundige opsie wat die grondwet bied buite rekening gelaat, is daar ander opsies om minstens ‘n verteenwoordigende spreekbuis daar te stel. Die Joodse Raad van Suid-Afrika laat periodiek van hulle hoor, terwyl die Moslems ‘n soortgelyke beweging het.

Op die internasionale terrein is minderheidsregte iets waaroor sterk gevoel word (en waarskynlik meer dikwels in die praktyk vertrap word). In Europa word dit as onlosmaaklik deel van menseregte beskou, en die voorvegters vir menseregte staan dikwels op die voorpunt van die stryd vir minderheidsregte. Dit is trouens ‘n voorvereiste vir toetrede tot die Europese Unie.

Kom dit egter by die Afrikaner is daar ‘n groot teiken op die rug geverf. Dit is een van persepsies wat uit die apartheidsverlede voortspruit. Toe Beeld vir Gwede Mantashe na selfbeskikking vir die Afrikaner uitgevra het, het hy dit dadelik as buite die kwessie geplaas, maar dit was duidelik dat hy die terme ras en volk verwar het.

Adriaan Basson, wat pas as nuwe redakteur van Beeld aangestel is, het vanuit die Engelse pers aan baie Afrikaanssprekendes vir die eerste keer bekend geword toe hy die uitspraak van die gelykheidshof gekritiseer het wat Julius Malema aan haatspraak skuldig bevind het. Hy het dit daarteen gehad dat die regter die Afrikaner se status as minderheid erken het. Basson se gedagte was dat ten spyte van die feit dat die Afrikaner numeries ‘n minderheid is, hy weens sy welvaartsvlak nie vir hierdie status en beskerming kwalifiseer nie.

Basson het nie alleen in hierdie oortuiging gestaan nie.

Dit maak dit moeilik vir die Afrikaners wat wel ‘n erkende spreekbuis wil hê, om sinvol aan die skepping hiervan te werk as hulle min en stemme roepende in die woestyn is.

Behalwe bloot ‘n spreekbuis, is daar nog die kwessie van die Nasionale Vredesakkoord waarop die hele grondwet en grondwetlike beginsels berus. ‘n Akkoord bestaan tussen twee of meer partye. Dit is heel duidelik wie die een party tot hierdie verdrag is, maar wie moet sorg dat “die ander kant” daarvan in stand gehou moet word, is minder duidelik. Die destydse vernaamste hoofrolspeler, die NP, is formeel in die ANC opgeneem “om daar jul stem te wees.” Steeds ‘n baie stil stem inderdaad.

Die land stuur weer op ‘n algemene verkiesing af, en dit is geen geheim oor vir watter party die meeste Afrikaners gaan stem nie.

Dit is egter baie duidelik dat die partypolitiek nie gou so sal kristalliseer om ‘n verteenwoordigende Afrikanerstem op daardie terrein op te lewer nie. Dit is nogal ironies, omdat die opstellers van die grondwet die huidige kiesstelsel van volkome proporsionaliteit ingevoer het omdat dit in beginsel verseker wat die stem van selfs ‘n baie klein minderheid minstens gehoor sal kan word. Dit gaan egter nie so ver soos die Nieu-Seelandse, Indiese en ander grondwette wat ook ‘n aantal setels vir minderhede reserveer nie.

Grondwetlike demokrasieë bereik egter eers volwassenheid wanner die burgerlike organisasies behoorlik gevestig is en ‘n rol speel, en wat dit betref is die Afrikaner eerder ryk as arm. Dit is byvoorbeeld haas ondenkbaar waar die land sou wees as instansies soos Solidariteit, AfriForum, Agri SA en die TLU-SA nie gereeld die howe opgesoek het om toe te sien dat die grondwet reg toegepas word nie. Benewens die howe is die Openbare Beskermer en ouditeur-generaal al dikwels genader.

Baie van hierdie Afrikaanse en Afrikanerorganisasies is onderling weer sterk in organisasies geaffilieer. Die FAK is byvoorbeeld ‘n sambreelliggaam vir ‘n groot aantal kultuurorganisasies wat die ATKV, die AB en Voortrekkers insluit. Die FAK is op sy beurt weer ‘n lid van die Solidariteitsbeweging wat ook AfriForum en Maroela Media insluit. Baie van hierdie organisasies is weer by die Afrikaanse Taalraad geaffilieer.

Die instellings is onderling outonoom, maar kan oor gemeenskaplike kwessies ook sterk saamtrek. En hoe meer mense iewers in ooreenstemming met hul eie oortuigings aansluit, hoe kragtiger word hierdie liggame.

En nee, dis nie verdoeselde apartheid nie. En dis nie ongrondwetlik soos gereeld hoog opgegee word nie.

Dit verstewig die grondwetlike demokrasie, en dit ontmasker partye en instansies wat die grondwet ideologies wil kaap, sodat die een onreg op die ander teen individue en groepe gepleeg kan word.

Die punt sal nooit bereik word waar almal gelukkig sal wees oor wat iemand namens hulle sê nie. Pres. Jacob Zuma maak gereeld stellings namens Suid-Afrikaners omdat hy kan en mag. Maar dit beteken lank nie almal stem saam dat dit wat hy sê, soos onlangs oor die regverdigheid van die Zimbabwiese verkiesing, of nou oor ingrepe in Sirië ingevolge die internasionale reg, ook hul eie oortuiginge verteenwoordig nie. Trouens, baie Suid-Afrikaners het die president se opmerkings in Davos oor gewelddadige protes as ‘n algemene verskynsel in demokrasieë as ‘n verleentheid ervaar.

Maar as iemand onbetrokke is, kan hy ook nie werklik kla oor wat iemand namens hom sê en doen nie. Ja, hy mag maar (onderhewig aan sekere grondwetlike beperkings) sy mond daaroor uitspoel want daar is spraakvryheid.

Maar daar is ook iets te sê vir eendrag wat mag maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Deon ·

Ek stem Herman. ‘n Afrikaner Koalisie met voorafbepaalde kern doelwitte beperk tot so 7 konsensus elemente – miskien Internasionale volksregte, taalbevordering, Volkseenheidsbevordering, vryemarkbevordering, godsdiensvryheid, selfbeskikkingsbevordering, en skakeling met owerhede, kan redelike Afrikaners oorkoepelend saambind. Natuurlik sal die Afrikanerbond, Volksbond en onverbonde intelligensia ‘n Akkoord moet ondersteun met ‘n troika roterende leierskap. Ek het ‘n doom dat Afrikaner leiers weer die Volksoorlewingsbelang sal vooropstel teenoor seksionele belange.

H J Bester ·

Sedert 1994 en daar so ‘n verwydering in Afrikaner-geledere gekom soos selde tevore en is etikettering soos “liberaal” en “verkramp” redelik algemeen. Verder bring hierdie verwydering mee dat mens bykans twyfel of versoening ooit weer moontlik is. ‘n Verdere stigma wat aan hierdie verwydering kleef, is die feit dat diegene wat samewerking met die ander bevolkingsgroepe voorstaan, totaal verwerp word deur die konserwatiewes – die omgekeerde natuurlik ook van toepasssing naamlik dat diegene wat geen samewerking soek nie, beskou word as diegene wat die Afrikaners ‘n slegte naam gee by anderskleuriges.

Teen hierdie agtergrond kan mens bykans vra of daar enigsins gronde vir samewerking bestaan. Op hierdie stadium waarskynlik nie want dit gaan dalk nog te “goed” met die Afrikaners en is daar dus nog nie rede om raakvlakke te soek nie. Een ding is baie seker, gesien die rigting waarin die ANC-regering die land bestuur, en dit is dat die dag al nader kom dat die meerderheid blankes, en dan in besonder die Afrikaners, nader na mekaar sal beweeg. ‘n Gesamenlike politieke tuiste is dan nog nie moontlik nie maar beskik burgerlike organisasies oor baie meer opsies om ‘n wye verskeidenheid van sieninge te akkommodeer as ‘n politieke party. En dis waarskynlik dit rigting waarin beweeg moet word naamlik om die Afrikaners binne so ‘n verband georganiseerd te kry.

Deon ·

HJ Bester, ek gee u gelyk. Die groeiende eenheid van buite na binnekringe deur burgerlike organisasies het waarskynlik die beste kans op sukses. Ongelukkig groei die persepsie van die aan die regterkant dat die oorname van Radio Pretoria, VF+, ensomeer die volksvryheids-ideaal reeds begin afwater na hulp sodat die Ruwe Suid-Afrika instellings bly oorleef vir krummels van die tafel. ‘n Tweeledige strategie – een vir selbeskikking en die ander vir maksimale outonomie in die ander gebiede, behoort te help.

Deon ·

Ek stem Herman. ‘n Afrikaner Koalisie met voorafbepaalde kern doelwitte beperk tot so 7 konsensus elemente – miskien Internasionale volksregte, taalbevordering, Volkseenheidsbevordering, vryemarkbevordering, godsdiensvryheid, selfbeskikkingsbevordering, en skakeling met owerhede, kan redelike Afrikaners oorkoepelend saambind. Natuurlik sal die Afrikanerbond, Volksbond en onverbonde intelligensia ‘n Akkoord moet ondersteun met ‘n troika roterende leierskap. Ek het ‘n droom dat Afrikaner leiers weer die Volksoorlewingsbelang sal vooropstel teenoor seksionele belange.

Gemsbok ·

Afrikaners sal maar verlief moet neem om deur ‘n velerlei van organisasies – wat verskillende en selfs botsende belange dien – verteenwoordig te word.

Dit is die lot van volke wat nie oor groepsregte beskik nie.

Indien ons groepsregte kan beding en die bevoegdhede wat daarmee saam gaan opneem, kan ons die voordele van kollektiewe bedinging begin ontsluit.

Ons kan twee strategieë vir die bedinging van groepsregte volg.

Die eerste is om die regering te vra om groepsregte vir ons te gee. Aangesien ons egter nie oor ‘n magsbasis beskik nie, kom hierdie strategie neer op bedel en sal daar dadels van kom.

Die tweede is om ons getalle in ‘n gebied te konsentreer waar ons mettertyd die regering op munisipale en distriksvlak by die stembus kan oorneem. In hierdie opsie kan die verkose leiers dadelik begin om die aansienlike bevoegdhede van plaaslike en distriksregering in te span om die lewens van Afrikaners te beskerm en te verbeter. Omdat hierdie strategie nie afhanklik is van die vrygewendheid van die landsregering nie, maar van ons eie optrede, lyk dit vir my na die haalbare opsie.

Die tweede strategie is die een waarmee Orania werk.

Deon ·

Gemsbok, u is wys. Miskien moet ons nie verwys na botsende belange nie, maar na verskillende fokusse of fokusgebiede. Ons het waarskynlik al die organisasies se hulp nodig – met hulle verskillende fokusse. Van voorkeurgebiedaanwysing, Volksraad, dorpstigting/kantonbevordering, selfverdediging, burgerlike regte vegters tot wetgewende (parlementere) bewakers (so ver as hul kan). Ons moet minder simplisties dink sodat ons vyande nie altyd weet hoe om ons te neutraliseer nie. Kyk na die jode – van die VSA beheer, tot beheer uitoefen in die midde-ooste, wereld finansies tot volkstaat-verkryging en behoud! Ons is te geneig om mekaar te baklei eerder as die dikwels gesiglose vyande van ‘Nation States’ of Volkstate.

a.lombard ·

Ek stem saam met Basson. Tans is ek op besoek in Duitsland, elke dag wil ek hier huil, want hier staan ALMAL saam .Tuis is die Kerke net betrokke tot hulle lidmate en selfs moet bydraes elektronies gedoen word. Afrikaner politieke partye is alleenlik salaristrekkers. Leierskap bestaan nie, Solidariteit is die enigste beweging wat pogings aanwend tot kultuur, regstellende aksie.

Die Vryheidsfront kan afgeskryf word, hulle hou een vergadering en dan is dit afgelope. Weereens moet ons leer van die ANC Dans van huis tot huis! Spreek ons Afrikanerjongmense aan. Hier in Duitsland is geen bruin/swart werkers vir oeste nie, boere/vroue/kinders/studente/bure help mekaar om die oes binne te kry(Saamstaan konsep) Seuns moet vanaf 10 jaar betrokke raak by die brandweer, en brandweerkampe bywoon(Snoer jongmense saam) Jongmense sny die gras van skole, hospitale, ouer bure sonder betaling, meisies doen diens by hospitale, maak huis van bejaardes skoon sonder betaling(Bind gemeenskappe saam)

Kore/Musiek in dorpe gemeenskappe vorm die Duitse politiek. As die munisipaliteite nie hier alles kan skoon maak nie, spring die inwoners self in. Straatfeeste word gereeld gehou sodat mense mekaar kan leer ken en saamstaan. Die boerderye hier is georganiseerd, netjies, tuine
netjies, rondom huise blomme, alles doen mense self, hier is geen bediendes nie. As ons weer alles self doen kan ons weer saamstaan.

Ons het ‘n verlore generasie van die afgelope 20 jaar omdat ons geen volks leiers het nie.
Afrikaans sprekende is gemaksigtig, arrogant, neem geen kritiek, kyk nie na hulle mindere volksgenote nie, dus NOOIT sal ons ooit weer ‘n kulturele groep kan wees nie. Orania ja, die is ‘n regte klein groep. Ons probleem is diep, baie diep deurdat ons mekaar se behoeftes en wense nie aanspreek nie. Stellenbosch het elke jaar ‘n WOORDFEES, jaar na jaar dieselfde skrywers/klieke dus die minderbekendes word uitgesluit. Ons is ‘n groep bestaande uit klieke
van rykes, die armes word as lewendig dood geag.

My wens voordat ek sterf is dat uit my kultuur .n leier soos MALEMA kom, maar net opreg in geloof en absoluut eerlik………ons benodig ‘n wit Malema ,Solidariteit kan nie alles opknap nie.

Ons stem vir die DA nie uit ons gevoelens nie maar net as opposisie..dus vind nou ons Malema.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.