Nuuskommentaar: “Wil die ‘aliens’ nie maar hul mense kom haal nie?”

aliens“Wil die ‘aliens’ nie maar hul mense kom haal nie?” So skryf ‘n Maroela Media-leser in haar reaksie op die soveelste berig oor onderwerpe soos pedofilie, bloedskande, vermiste kinders, kindermishandeling en vele meer wat in die jongste tyd sterk in die nuus voorkom. Te midde van ‘n enorme voorkoms van fetale alkoholsindroom in dele van die land dui ‘n opname dat baie swanger vroue nie weet alkohol is sleg vir hul ongebore babas nie.

Vir die gewoonlik gekoesterde mens klink dit werklik of die “aliens” onder ons woon. ‘n Samelewing diep weggevreet deur die kanker van morele verval.

Die nuus is nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Die afgelope paar dae is ook berig van ‘n agt jarige Jemeense meisie – een wat nou in graad drie in die skool moes wees – wat deur haar stiefpa as bruid aan ‘n man van in die veertig verkoop is, en op haar huweliksnag aan inwendige beserings dood is. Maroela Media se lesers het gewys hul harte sit op die regte plek deur oorweldigend geskok daarop te reageer.

Maar dit is nie al nie. Dit blyk nou dat die man wat wêreldwyd bewondering afgedwing het deur vier maande in die Andes te oorleef waar hy te voet verdwaal het, het in die berge beland omdat hy Chili te voet probeer uitglip het omdat hy weens beweerde pedofilie met ‘n agtjarige seun tereg gestaan het.

‘n Leser kla na Maandag se nuuskommentaar, wat die begrip ‘sonskynjoernalistiek’ onder die loep neem, weens die negatiewe aard van Maroela Media se nuuskommentare wat die volk negatief stem. Hy gee toe dat die nuus daarbuite grootliks negatief is.

Later die Maandag word die internasionale gelukkigheidsindeks vrygestel, en dit blyk dat Suid-Afrikaners ongeveer die 90ste gelukkigste nasie ter wêreld is.

Volgens Maroela se Klikbek meen sowat 45% van die deelnemers in dié stadium dat hulle oor die algemeen ongelukkig is, 24% meen hulle is oor die algemeen ongelukkig maar steeds optimisties, en 31% meen hulle is oor die algemeen gelukkig.

Onder die geskrewe kommentare blyk dit dat baie van diegene wat hulself as gelukkig ag, dit in ‘n godsdienstige konteks ervaar. Ander is gelukkig omdat dit in hul gesinsverband goed gaan.

Die 1933 Bybelvertaling gebruik die pragtige woord, “Welgeluksalig” – drie maal gelukkig. Iemand is welgeluksalig as hy nie wandel in die raad van die goddelose nie. Hoewel dié woord aanvanklik met die vertaling in Nederlands geskep is, en in die latere Afrikaans met bloot “gelukkig” vertaal is, meen sommige teoloë dat die Hebreeuse woord tog ‘n baie intensiewer ervaring van geluk bedoel.

Die beteken egter nie dat die Christen nie ook hartseer en ongelukkigheid ervaar nie. Ook die gelukkigste, gelowige boeregesin word deur plaasmoorde geruk. Ook hulle word deur knellende droogtes geslaan. Die Christen met die Christenhart kan nie op aarde hom afskakel van die honger persoon sonder heenkome wat die nag op soek na iets vir hom en sy gesin die straat af loop en hom oral in duiwelvurk-heinings vasloop nie. Daar is sake wat selfs God bedroef. ‘n Gemeente in die Karoo skryf op sy webwerf dat selfs die engele in die hemel saam treur oor sy kerkverband se besluit om vroue uit sekere ampte te hou.

Maar hoe reageer die Christen op die harde, onvolmaakte werklikheid? In sy reaksie op die gelukkigheidsindeks skryf ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party:  “Die Christen se reaksie hierop behoort te wees om die probleem in geloof en daad aan te spreek. Die bekendmaking is ‘n tydige herinnering aan die belangrikheid van die dag van verootmoediging waartoe die Gereformeerde Kerke (GKSA) en Hervormde Kerk (NHK) hul lidmate hierdie Sondag opgeroep het. Ons glo elke Christen behoort ook so te maak.”

Die Christen kan nie maar hande gevou reageer op die werklikheid om hom nie, en ongelukkig kan ‘n mens net iets daaraan doen as ‘n mens weet wat die “aliens” onder ons aanvang. En ja, dis natuurlik en goed om ook geluk te ervaar, om die goeie te soek en die goeie te wil doen – en baie mense doen dit – dikwels naamloos omdat hulle nie die persoonlike eer wil najaag nie. Gemeentes se koskasse is dikwels soos die weduwee se kruik, terwyl niemand weet wie dit so vol hou nie. Almal is gelukkig nie “aliens” nie.

‘n Nuusmedium wat die blinde oog draai op die stakingseisoen, tree absoluut onverantwoordelik op. Die Instituut vir Rasseverhoudinge wys daarop dat, tussen Januarie 1999 en Oktober 2012, 181 mense tydens stakings dood en ongeveer 313 beseer is. Meer as 3 000 is gearresteer. Nou, met die staking van die petroljoggies en die beweerde sabotasie van Johannesburg se kragtoevoer (glo weens inhaligheid omdat van die ontevredenes meer as professore verdien) het die staking na die woongebiede gekom, en baie mense het die stakings nou eers aan die bas begin voel en is nou eers ontsteld.

Die gesegde in die politieke wetenskap lui dat die mense in ‘n demokrasie die regering kry wat hulle verdien. Ongelukkig is onkunde hier geen verweer nie, en om nie onkundig te wees nie, moet die kiesers kennis neem van die werklikhede. Morele verval moet ook onder beheer wees om in ‘n verkiesing ‘n moreel-gedrewe keuse te kan maak as die kruisie getrek word.

Daarom is dit ook noodsaaklik dat die lesers nie volstruispolitiek speel wanneer berig word, of die nuus oor die struwelinge binne Cosatu en daarom die ANC, in konteks geplaas word nie.

Terwyl die Christen leef kan hy homself nie maar tot ‘n “alien” verklaar wat los van die wêreld eintlik net vir die salige hiernamaals leef nie. Jesus verklaar self in die Woord dat die een wat die hongere honger laat, eendag verantwoording sal moet doen omdat hy daardeur Jesus honger gelaat het.

Dit is baie goed dat die Afrikaner ‘n goeie humorsin het (wat ook gereeld uit die kommentare op Maroela blyk). Hierdie nuuskommentator is ook ‘n humorskrywer en onder meer die outeur van die rubriek “Oom Herrie se kerrie” en die e-boek, “Die reine waarheid en ander liegstories.”

Alle geluk en humor is nié ‘n liegstorie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mujaliva ·

Daar is twee redes hoekom ek die “alien” kommentaar interessant vind. Eerstens, ek is gaande oor wetenskapfiksie. Tweedens sou ek myself sien as n Christen gelowige. Maar ek het ‘n teenstrydige siening wat die “aliens” betref.

Ek dink die “aliens” sou nie net tegnologies ligjare voor ons wees nie, maar moreel heel moontlik ook. Hoekom ek so dink is omdat ons as n samelewing ten minste daarna streef om moreel beter daaraan toe te wees. En die mag dalk nie reg klink, maar n sameleweing so ver gevorderd in tegnologie, sou ook meer beheer uitoefen oor die selektiewe aanwas van hulle spesie. Met ander woorde, hulle sou die gemors al uitgewerk het. En moontlik seker maak dat die laer klas van die samelewing nie voortplant nie. En sodoende die pedofiele, diewe en skelms uit die sisteem gewerk het. ( dalk sal daar ook nie meer prokereurs en politisie wees nie! )

Die “alien” wat hollywood dus so graag as n monster uitbeeld wat net links en regs gaan laserstrale rondskiet, wat ons in stofdeeltjies laat plof, gaan dalk heel anders wees. Miskien heel meer vredeliewend en minder distruktief as wat die mensdom tans is.

Of hulle nog gaan glo in n Opperwese, ek dink tog so. Hulle sal seer sekerlik ook maar deur dieselfde prosesse gaan as die mensdom. Ek dink hulle gaan gelowiges en nie-gelowiges he in hulle samelewing.

Ek moes dalk al n wetenskapfiksie storie geskryf het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.