Nuuskommentaar: Wil ons vroueslaners en kindermishandelaars of gemeenskapsbouers wees?

Argieffoto

Argieffoto

Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het nog nie eens begin nie, of die media is toegegooi onder berigte waar veral kinders erg mishandel is – en nou selfs vir hul lewe veg, of die lewe as erg gestremdes moet aanpak. Van die berigte hieroor op Maroela kan hier,  hier, en hier gelees word.

Vandag is dit die VN se internasionale dag vir die voorkoming van geweld teen vroue. Dit lui die 16 dae-veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders in.

Baie lesers lees bo-oor hierdie berigte. Nie almal se gemoed of gestel kan dit hanteer nie. Tog bou ’n ontsettende wrok op teen diegene wat hulle skuldig maak aan die kwesbares van die gemeenskap, maar hierdie duidelike woedende boodskap dring blykbaar nie deur tot die skuldiges nie – hulle glo hulle gaan wegkom, of hulle kan nie anders nie weens kompulsiewe drange – dikwels veroorsaak daardeur dat hulle self as kinders daaraan blootgestel was.

Dis as hierdie sy van die lewe ervaar word dat ’n mens onder die indruk van die gebrokenheid van die lewe kom.

Dis erg. Die Mail & Guardian het ’n rits artikels met statistiek en ander toepaslike inligting hieroor gebundel.

Tog, ten spyte van die grusaamheid en geskokte reaksies, is familie en bure dikwels bewus van wat aangaan, maar lig nie ’n vinger nie. Mense wil nie graag inmeng nie, hulle is bang die maatskaplike werker wat gestuur word om die saak te ondersoek versuim sy of haar statutêre plig en laat blyk wie die aanmelder is. Of die ondersoek word nie professioneel gedoen nie, en die slagoffers ly daarna nog erger.

In baie gevalle het slagoffers juis iemand se ondersteuning baie nodig om uit die slagoffermentaiteit los te breek – ’n komplekse proses wat dikwels behels dat hard aan die persoon se selfbeeld gewerk moet word om te voorkom dat wanneer daardie persoon ’n tweede kans kry, sy haar nie weer in ’n huwelik begeef waar dit net so erg of erger gaan nie. En haar kinders saam in daardie gat insleep nie.

Dit is dikwels wonderlik om te let hoe ’n ma-hond of -kat haar kroos versorg. Hoe sorgsaam ’n hen met die span kuikens wat sy uitgebroei het omgaan. Hoe ’n kiewiet-paar alles in hul histeriese vermoë doen om gevare van hul piepklein kroos weg te hou. Ongelukkig steek baie mens-ouers sleg by die natuur af.

Die wêreld word ook kort-kort geskud oor berigte van Boko Haram en die IS wat jong meisies, skaars in hul tienerjare, ontvoer. Dikwels is die slagoffers van ander gelowe. Hulle word eenvoudig as kinderbruide aan “vegters” aangebied en gedwing om hulle tot die radikale Islam te bekeer. ’n Ruk lank sal die internasionale gemeenskap stof opskop hieroor, en dan maar vergeet tot die volgende ontvoerings aan die lig kom.

Hierdie 16-dae veldtog kom aan die einde van die maand vir die bewusmaking van die behoeftes van mense met gestremdhede. Al oorskadu Suid-Afrika se atlete met gestremdhede op hul eie Olimpiese Spele die nie-gestremde atlete, blyk dit uit onder meer indiensnemingsyfers dat daar nog groot agterstande is om diegene met beperkings volgens hul persoonlike menslike potensiaal te laat leef.

Ons kan spesiale dae, spesiale maande, vakansiedae soos versoeningsdag, en selfs aktivisme-veldtogte hou waar dieselfde boodskappe jaar vir jaar herhaal word – en presies nêrens heen daarmee vorder as dit nie sinvolle resultate begin oplewer nie.

Net soos dit net een politikus kos om met ’n opruiende toespraak ’n streep deur Versoeningsdag, Menseregtedag, Gesinsdag, Vrouedag of Erfenisdag te trek, net so kan die publiek se apatie kettingreaksies voed wat probleemgevalle net laat aanhou en aanhou.

In die wêreld van mense met gestremdhede is daar ook mooi verhale, van mense wat enorme probleme oorkom om te presteer. Op die oog af klink dit hoe meer sulke gevalle blootstelling kry, en selfs aan die groot klok gehang word, hoe ’n positiewer beeld word oor die gemeenskap met gestremdhede uitgestraal. Ouers van sulke kinders verkeer egter baie dikwels in die netelige posisie waar hulle elke unieke geval beoordeel tussen blootstelling as motivering vir die kind self en vir ander, en blootstelling tot die kind se nadeel wat hom kan terugsit.

Net soos ander kinders, word kinders met gestremdhede nie met handboeke vir die ouers gebore nie. Nie alle kinders met gestremdhede het dieselfde potensiaal nie, en elkeen is steeds ’n unieke individu. Die een outistiese kind mag dalk op 21 steeds bitter min kan praat, maar ’n wonderlike kunstalent hê. ’n Ander kan enorme struikelblokke oorkom, en matriek met universiteitstoelating aan ’n hoofstroom-hoërskool behaal.

Bitter min ouers kan die vroeë intervensieprogramme bekostig wat hul kinders met gestremdhede die beste kans op ’n mededingende lewe sou bied. Nie alle huwelike hou onder die omstandighede nie – ander huwelike word hegter.

Uitdagings bly daar daagliks – staatsubsidies wat opgeskort word, reëlings in die onderwys wat leerders wie se gestremdheid vereis dat hulle in isolasie eksamen moet skryf om die opbou van enorme spanningsvlakke te voorkom skielik verander word dat ook sulke leerders as deel van die groep eksamen moet skryf – alles dra by tot kompleksheid en die vernietiging van potensiaal.

Die meeste mense met gestremdhede of hul ouers sal egter ook vertel van die engele wat oor die pad van hul kinders gekom het. Engele soos besonder meelewende onderwysers of klashulpe, ou Wagter wat iets aanvoel en so ’n kind spesiaal oppas …

Elkeen kan kies of hy of sy deel van die probleem wil wees, of deel van die oplossing.

Die wat wil help bou, sal ook in gedagte hou dat dit ook nou haas die tyd van die jaar word wanneer die Bloeddiens tekorte begin ervaar.

Elkeen kan ’n verskil maak.

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Herman Toerien ·

Goeie nuus. Die ma van die matriekseun met outisme waarna hierbo verwys is, het intussen laat weet dat hulle wel ‘n konsessie kon beding, en dat dit baie goed met sy matriekeksamen gegaan het. Ek beplan dus om ‘n artikel oor hom te doen, en sy toekomsplanne, sodra die matriekuitslae bekom is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.