Nuuskommentaar: Wilders, Zuma en Trump se raakvlakke

Trump, Zuma en Wilders.

Trump, Zuma en Wilders.

Twee hofsake, ver uit mekaar, en ’n presidentsverkiesing in die VSA het heelwat gemeen. In al hierdie kwessies is die grense van spraakvryheid teenoor haatspraak en die publiek se reg om te weet belangrike elemente.

Sowat 10 000 km uit mekaar vind twee hofsake plaas wat meer gemeen het as wat dit op die oog af blyk. In besprekings van hierdie hofsake word boonop ’n naam gereeld ingeklits, dié van Donald Trump, die Republikeinse presidentskandidaat.

As ’n mens wil gorrel rondom sekere populistiese gedagtestrominge wat nou vaardig is, onder meer in Suid-Afrika, kan ’n mens boekdele skryf. Die doel hier is egter om sekere kernbeginsels te laat uitkristalliseer. Dit handel in den brede om die grens tussen spraakvryheid en die regte, soos die reg op waardigheid, van diegene wat aan die ontvangkant van lasterlike, hatige of kwetsende uitsprake sit.

Hoe ’n land se regspraak, of selfs grondwet, die grens trek hang van ideologie, eerder as regsbeginsels af. As ’n mens Cachalia, Davis, Maduna en ander se boek oor ons nuwe grondwet lees, is dit duidelik dat hul vertolking sterk in die liberale dampkring staan waar spraakvryheid tot ’n tipe superreg verhef word. Daarteenoor word die reg op waardigheid erg tot byna nie-bestaande gereduseer.

Pres. Jacob Zuma se jongste skouerskuur met die howe is ’n saak wat hy self geaktiveer het (en nou teruggetrek het), gerugsteun deur twee van sy lojaalste kornuite. Hy wil die inhoud van ’n verslag deur die (vorige) openbare beskermer oor staatskaping effektief in die ban doen. Breedweg beroep hy hom op die audi alteram partem-reël deur aan te voer hy het nie genoeg tyd gehad om sy kant van die saak te stel nie, en dat die verslag daarom nie juridies suiwer kan wees nie. Zuma sou wel ’n saak gehad het as dit nie was dat hy maande lank nié die openbare beskermer se vrae beantwoord het nie. Hier geld ’n ander regsbeginsel wat daarop neerkom dat as iemand nie antwoord wanneer hy kon en moes nie, word dit geag dat hy ingestem het.

Klaarblyklik is Zuma se regsadviseurs hiervan bewus en word ’n baie vreemde versoek / eis bygevoeg, naamlik dat Zuma self die getuies oor hom wil ondervra. Dit kan baie maklik klink of hy ’n vrypas vra om mense wat gewaag het om hul monde in ʼn andersins gewaarborgde vertroulike omgewing oop te maak, te viktimiseer.

Die punt van die saak is dat een van Zuma se kornuite reeds in hierdie saak ’n kous oor die kop gekry het en die aansoekers wat Zuma se aansoek probeer stuit, baie moed geskep het.

In wese kom die publiek se reg om te weet op sterkte van ander se spraakvryheid te staan teen die reg van Zuma en Kie. om hul reg tot nie-benadeling op sterkte van regsbeginsels wat nie korrek, of glad nie toegepas sou wees nie, teen mekaar te staan.

In die politieke konteks, wat geen rol behoort te speel nie, word kruit gesoek om die voorlaaier teen Zuma mee te laai, terwyl ander weer Zuma ter wille van hul eie belange wil beskerm.

Geert Wilders, leier van die Nederlandse Party voor Vrijheid (PVV), beskou sy eie verhoor op iets wat breedweg op haatspraak neerkom, as ’n politieke verhoor, en hy self boikot dit, hoewel aanduidings bestaan dat hy later wel teenwoordig sal moet wees. (Zuma is, ironies, ook nêrens rondom die saak wat hy aanhangig gemaak het, te siene nie.) Die agtergrond tot die saak is gister goed deur Leopold Scholtz in Maroela Media beskryf en word nie hier herhaal nie. ’n Dag tevore het die Christian Science Monitor ook breedvoerig hieroor berig.

Wilders is in 2011 op soortgelyke aanklagte vrygespreek. Toe was Wilders se groot sonde dat hy Moslems in die algemeen gekritiseer het. Nou het hy Marokkane in die besonder bygekom. In Nederland bestaan die opvatting dat Marokkane, as etniese groep, vir baie van Nederland se probleme soos die misdaadvlakke verantwoordelik is. Dit gaan dus nie primêr oor die Islam nie. Ironies, so meen verskeie regskenners, word Wilders se kans op skuldigbevinding hierdeur verhoog.

Die hof het ten aanvang dit duidelik gestel dat die regspraak in Nederland stram is om politici se spraakvryheid in te perk.

Wilders is nie die geïsoleerde politikus wat hy gedurende die permissiewe jare van Joop en Uyl sou wees nie. Wilders, as regse politikus, word nou gerugsteun deur soortgelyke partye en groepe wat in aansienlike getalle oor Europa spoel. (Die media verwys gewoonlik na hulle as ekstreem regs, maar ondersteuners, ook hier in Suid-Afrika, neem erg eksepsie oor dié beskrywing.)

Wilders het voorts die onverdunde steun van anti-Moslemgroepe, soos byvoorbeeld blyk uit die webwerf Gates of Vienna. Ook hierin word Wilders se verhoor as ’n politieke verhoor beskryf.

In die proses word ook ’n verband met Trump en sy uitsprake oor Islam getref.  Ironies genoeg is daar ’n groter verband tussen Hillary Clinton en die ander twee sake, met die stryd om meer te wete te kom oor die e-posse wat sy en ’n personeellid voorheen van private e-posbedieners gestuur het toe sy minister van buitelandse sake was. Waar dit onlangs seker was dat Clinton die presidentsverkiesing sou wen, dui peilings nou op ’n gelykop-uitslag, of selfs dat Trump voorloop.

Anders as in die Zuma-saak, gaan dit in die Wilders-saak eerder oor die beskerming van die regte van die slagoffers van uitsprake wat hulle sou kon benadeel. Daar word dus ’n demper op spraakvryheid geplaas.

Die harde werklikheid is dat ongebreidelde spraakvryheid deur individue kort-kort ’n plafon tref wat laer is as dit wat vanuit ’n liberale hoek daarop gestel word.

Afrikaanssprekendes en wit mense ervaar gereeld hoe onewehandigheid met haatspraak daartoe lei dat wit mense ge-Penny Sparrow word, maar swart mense dikwels, soos ongeveer ’n jaar gelede, se veel erger stellings op T-hemde en in graffiti by Wits, tot spraakvryheid verklaar word.

Mense en groepe se gevoel oor waar die grens tussen spraakvryheid en die regte daarteen lê, sal dus skerp verskil tussen die opvatting van die pleger en die slagoffer. Die vryheid waarmee internetghwarre ander mense op die internet kan beledig en terroriseer het beslis daartoe bygedra dat daar ’n groter weerstandigheid teen ongebreidelde spraakvryheid ontstaan het.

Tog bly ’n nefie van spraakvryheid, persvryheid, weer ’n belangrike pyl in die koker van juis die verguisde minderhede om diegene wat hul regte vertrap mee te kan bydam.

Politici moet egter weet dat daar by die publiek ’n deurlopende aanspraak op deursigtigheid sal wees, veral as die suspisie posgevat het dat die politikus se neus nie skoon is nie. Daar is dus groot druk op die media om sy waghondfunksie te vervul. En dit vereis persvryheid.

En die balansering van regte sal nou in die Wilders- en Zuma-saak swaar by die regters weeg, en sal die bestaande regte soos die audi alteram partem-reël, sowel as die beginsel dat Zuma en Kie. moes gereageer het toe hulle moes gereageer het, in duidelike kontekste opgeweeg word.

Die doel van howe is immers veronderstel om regsharmonie te bewerkstellig.

Intussen het Zuma nog ruim ander moeilikheid ook. Nehawu en die Nelson Mandela-stigting se onttrekking van steun aan hom en hul oproepe dat Zuma vervang word, is ernstige terugslae. Die Nelson Mandela-stigting se oproepe het ook ruim buitelandse nuusdekking gekry en erodeer Zuma se tanende beeld as verteenwoordiger van die Mandela-nalatenskap. Sy jongste reeks regsekskursies tel ook teen hom.

En nog moeilikheid in die howe is heel moontlik op pad.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Joh. 3:16 ·

Herman, ek moet bieg. Ek verstaan nie die parallelle wat jy wil trek tussen die drie leiers nie. Ek vermoed jy wil met jou verduideliking probeer stel dat die hulle in dieselfde kategorie as populiste tel. Ek dink persoonlik so argument is bietjie geforseerd. Selfs al noem jy al drie in een berig, bly die drie los van mekaar a.g.v. die verskillende kontekste. Jammer, maar ek mis jou punt.

Flippie ·

Ja, nee, iewers moet iemand nou Trump en Wilders op ‘n manier met Zuma vergelyk. Om so ‘n bietjie Zuma-roet aan hulle af te smeer. Ek moet sê die artikel is ‘n bietjie lomp en onsamehangend – net soos die gepoogde vergelyking.

Nico K ·

Die punt wat julle mis is dat die stuk gaan nie oor raakpunte tussen die drie politici nie, maar die vraag, wat is haatspraak en wat is vryheid van spraak.

Theuns ·

Herman ek verstaan presies wat jy se en stem saam met jou. Die eintlike probleem gaan maar om die feit dat van die kommentators wat negatief op jou skrywe reageer pro Trump en Wilders is. Groete my vriend.

Danie ·

Ek dink daar is meer raakvakke tussen Clinton en Zuma want alby is kriminele en bou kastele met bedrog geld.

Rupert Ashford ·

Gimnastiek Herman. Trump en Wilders verskyn juis omdat die media establishment (besluit maar self of jy deel daarvan is of nie) so “in” geraak het met die “heersersklas establishment” en hulle “social engineering” en “social justice” agenda klakkeloos napraat en nie hulle waghondfunksie vervul nie dat die bree gemeenskap vertroue verloor en buite die tradisionele sfeer hulle leierz soek. ‘n Soort leidelike revolusie wat plaasvind.

Rupert Ashford ·

Jammer Herman, stem nie saam met die een nie (weet nie of ek by die polieste gaan verbykom met hierdie kommentaar nie maar kom ons probeer). Mense soos Trump en Wilders raak gewild omdat die hoofstroom media juis nie hulle werk as waghonde doen nie, maar kop in een mus met die establishment “ruling classes” (ironies genoeg soos Me Hillary) raak en hulle “social engineering” en “social justice” agenda klakkeloos napraat. Met die internet era kan mense nie in die donker gehou word nie – hulle lees die alternatiewe media en besluit self wat hulle dink is reg. Hulle kan nie gemanipuleer word nie.

DewaldS ·

Die hoofstroom-media het aan die gewone mens gedoen wat ‘n pedofiel aan ‘n kind doen – ‘n vertrouensposisie misbruik vir selfbevrediging en dominansie.

Hulle sal verantwoording doen.

Jcwf ·

Ek woon in die VS en ek is Nederlander en ek dink jy het reg, Herman. Aan Zuma hulle kan ons sien wat sal gebeur met ons in Amerika en Nederland as ons mense soos hulle aan die mag laat kom.

Egbert ·

Zuma is die gevestigde belange wat regeer. Wilders en Trump daag hulle mag uit en dit kan volgens die belange nie geduld word nie. Die vergelyking sit die pot heeltemal mis!

Frans C ·

Die Wilderssaak is totaal anders, want Nederland is ‘n baie klein land omtrent so groot soos die Krugerwildtuin. Nederland het ‘n bevolking van 17 miljoen met ‘n ongeveer 50-50 verdeling tussen die manlike en vroulike bevolking. Die Moslembevolking het op ‘n stadium
925000 beloop dus effens meer as 5%. Die uitgesproke Wilders was op ‘n stadium op die ekstreme Moslem se ‘hit list’.

Dink nou net aan die gevolge as ekstreme regses in Suid Afrika ‘n ANC of ander parliamentslid op ‘n ‘hit list’ sou plaas. Omdat stede soos Amsterdam feitlik verswart het
en mense soos die Moslems alhoemeer eise begin stel, soos bv. eie skole,eie distrikte, eie dokters-blanke dokters was nie toegelaat om vroulike Moslems te ondersoek nie, is ‘n reaksie van die inheemse bevolking te wagte.

Daar begin dus alhoemeer stemme op te gaan van mense wat voel dat hul in hul geboorteland verdring word veral omdat die stroom vlugtelinge uit Afrika steeds toeneem.
Die rolle word dus omgekeer, plaaslik beskou baie swart mense, witmense as indringers en kolonialiste, terwyl mense van kleur alhoemeer as indringers in Europa beskou het en het immigrasie ‘n belangrike rol in die Briste Brexit gespeel.

Die probleem lê dus veel dieper as haatspraak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.