Nuuskommentaar: Willemse-voorval los dalk niks op

‘n Skermskoot uit die video van die voorval toe Ashwin Willemse tydens ‘n regstreekse uitsending van die Supersport-stel af gestap het.

Die Willemse-voorval bied nou ná die finale uitslag van ’n ondersoek die geleentheid dat die land die rassismekwessie kan begin verteer, en vorentoe beweeg.

Op Maroela Media is daar die afgelope weke baie moeite gedoen om die sensitiwiteit rondom rassisme vanuit verskillende hoeke aan te spreek. Daar is onder meer gekyk hoe die raskwessie via swart Amerikaners na Suid-Afrika oorspoel, en selfs Fanon is onder die vergrootglas geplaas.

Tog, so lyk dit, is daar net aan die oppervlak gekrap. Wat ’n mens diep aan die hart gryp, kan nie altyd mooi verstaanbaar bekend gemaak word nie. Baie skade is boonop aangerig toe ’n minister van sport die twee wit “beskuldigdes” sonder ’n ondersoek skuldig bevind en gevonnis het.

Willemse het geweier om aan die finale ondersoek deel te neem, en tog met die uitslag foutgevind.

Wat nou?

SuperSport kan nou regstegnies presies reg optree, maar dit is duidelik dat van die rassedrywers dit nie sal aanvaar nie. Niemand kan hartsake in wetgewing vasvang nie, en dit het ook uit Maroela Media se stroom navorsingstukke geblyk.

Die handhawing van die nasionale vredesverdrag het van talle kante onder druk gekom, sodat tereg gevra kan word of dit nog hoegenaamd bestaan, hetsy amptelik of informeel.

Gelukkig weet ons dat leserskommentare nie altyd verteenwoordigend van ’n meerderheid is nie. Vir aanhangers van sekere idees is daar dikwels selfs ’n “skare” wat skielik deelneem wanneer die saak ter sprake kom. Hierdie georkestreerdheid staan dikwels duidelik uit weens gebruik van terminologie wat onderling posgevat het. Intimiderende vitrioel word ruim ingespan. Soos ander publikasies probeer Maroela Media ook voorsorg tref om nie vir afbrekende sake misbruik te word nie.

Tog bied die Willemse-insident die geleentheid om ’n mylpaal te maak staan van waar verantwoordelike mense vorentoe kan beweeg. Akademici wat so gou die pen aan Willemse se kant opgeneem het, sal moet besin oor hul posisionering.

Ook bruin meningsvormers wat so gou ’n historiese apartheidsassosiasie getref het, sal versigtiger moet trap. ’n Mens wil ander nie die reg om te rou oor dit wat gekwets het ontneem nie, maar dan sonder ’n roede vir mense wat geen aandeel in die orkestrasie van die verlede gehad het nie. Almal moet oplossingsgerig optree.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Linda

Ek stem saam wat Herman Toerien hier se. Dit is n baie eerlike en n opregte opinie !!

Paul

Ongelukkig het als by die woord kwotas, wat die ANC regering begin instel het die oorsprong. Die regering moet hand in eie boesem steek en besin wat hulle daardeur aan ‘n anderkleurige doen, in hul kop, op alle vlakke. Party aanvaar dit, steek die hand uit en vra net nog, ander wil hulle as gelyke sien, nie as kwotaspeler nie, al is hulle nou deur die kwotastelsel erens langs die pad weer bevoordeel tot daar waar hulle in die nasionale span gekies is en as kwotaspeler beland het. Ten minste wat sport aan betref sal dit die heel beste wees… Lees meer »

Willem

Ek steun die reenboognasie en goeie verhoudings met alle mense van RSA. Maar betreur dit dat sodra ons nie saamstem die rassekaart uitgepluk word om ons saak te sterk. Nie net versteur ons goeie verhoudings ,maar blankes kan haas geen kommetaar lewer of hul tas iemand se menseregte aan. Die polarisering tussen bruin en swart word gerieflikheidshalwe onder die mat ingevee en behoort ook onder vergrootglas gesit te word om verdraagsaamheid te kweek. Het ons as Suid Afrikaners die begeerte om n reenboog nasie te wees of wil ons maar net op ons eie mishoop sit?

Paul

Terloops, ongeag rassisme, het die ANC ‘n persepsie by baie mense laat posvat, en dit is dat hulle onbevoeg is om te regeer of die regte besluite te neem. Daar is al te veel negatiwiteit gekoppel aan al hul besluite, soos met kwotas. Hoe meer hulle swart probeer bevoordeel, hoe meer skiet hulle hulself in die voet. Ras het nou al so in almal se kop ingeklim, vir die geringste dingetjie moet op die raswa gespring word. Niks is opgelos nie. Ashwin gaan hof toe en almal wag vir die uitslag wat net nog meer konflik in die hand mag… Lees meer »

Mielie

Het Multichoice dan nie n griewe prosedure nie, Hulle het beide die twee aanbieders gefaal en ons as publiek onstel oor iets wat hulle kon uitwerk en oplos. Klaarblyklik nie gedoen nie. Daar is krapperigheid in alle werk plekke en ook prosedures en etikette wat gevolg moet word, wat gaan aan by Multichoice?