Nuuskommentaar: Winde van verandering

President Barack Obama en sy vrou Michelle saam met president Jacob Zuma en sy vrou Tobeka, Saterdag by die Uniegebou in Pretoria. Foto: GCIS/SAPA

‘n Belangrike fokus van pres. Barack Obama se ampsbesoek aan Suid-Afrika sou altyd sy lesing Sondagaand by die Universiteit van Kaapstad wees. Byna 50 jaar gelede, by dieselfde lesing, het sen. Robert Kennedy ‘n toespraak gelewer wat as die “Rimpelings van hoop”-toespraak bekend sou word, en waar hy onder meer (swart) Suid-Afrikaners aangemoedig het om hulle teen apartheid te verset. Die rimpelings moes ‘n golf word.

Dit is lank as die VSA se weergawe van die Britse premier, Harold McMillan, se “winde van verandering”-toespraak beskou.

Onlangs het die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, en die voormalige hoof van die VN se Menseregteraad, Mary Robinson kort na mekaar in Kaapstad ook toesprake afgesteek wat as “winde van verandering”-toesprake beskryf is. Beide het in effek die ANC gemaan om na suiwer demokratiese, menseregte- en grondwetlike waardes terug te keer. Die vinger is, weliswaar effens diskreet maar ook nie so diskreet dat dit onopsigtelik was nie, in die ANC se oog gedruk.

En nou het Obama self Suid-Afrika besoek. Die ANC het gekeer dat Obama ook, soos McMillan, die parlement toespreek, en as Obama Suid-Afrika wou aanspreek, sou die lesing by Ikeys dié geleentheid wees. Hy het inderdaad tirannie, korrupsie en die selfverryking van staatshoofde skerp veroordeel. Hy het ook daarop gewys dat politieke leiers hul mense moet dien, en nie andersom nie.

Die lesing het gekom, en die lesing het gegaan. Grootskaalse Amerikaanse hulp is aangekondig, formeel in die vorm van ‘n nuwe benadering waar hulp in die verlede verander word na een van vennootskappe. Baie daarvan, soos hulp aan studente, en miljarde dollar om Afrika suid van die Sahara te help om genoeg elektrisiteit op te wek, klink egter baie na-aan die ou benadering van die VSA gee, en Afrika ontvang. Obama het beloof dat die AGOA-wetgewing uitgebrei en verleng gaan word.

Het die VSA se doelwitte met Afrika verander?

Die antwoord is ‘n eenvoudige nee. Die VSA beklemtoon steeds openlik die verstewiging van demokrasie, die handhawing van menseregte en grondwetlikheid. Dit het Obama onder meer aan joernaliste bevestig.

Sy aanslag verskil miskien van vorige Wit Huis-administrasies. Of eintlik verskil dit van sy eie benadering tydens sy eerste termyn, toe sy enigste ampsbesoek aan Afrika suid van die Sahara na Ghana was, wat toe die Afrikaland met die beste plasing op die persvryheidsindeks was. Ghana, wat intussen met een plek teruggesak het tot die dertigste posisie, vaar steeds beter as die VSA op hierdie indeks, naamlik die 32ste, maar Namibië het intussen tot die 19de plek verbeter en klop nou nie net die VSA nie, maar ook Kanada, België, Australië en Brittanje.

Bygesê, dit is Verslaggewers sonder Grense (VsG) se indeks – die Amerikaanse Freedom House gebruik ander norme wat Westerse lande hoog stel, en waar Namibië en Suid-Afrika se pers as net gedeeltelik vry geklassifiseer word.

Die feit bly egter dat Suid-Afrika nou nie net ‘n swakkerige 52ste posie op VsG se indeks beklee nie, maar soos op die Korrupsie-persepsie-indeks en die meeste ander saakmakende indekse flink agteruit boer.

Hoekom dan juis nou Suid-Afrika vir besoek uitsonder?

Dat Obama steeds Kenia, die geboorteland van sy pa, die koue skouer gee stuur steeds die boodskap uit daar is perke aan die VSA se bereidheid om skiet te gee. Beide die nuutverkose president en sy adjunk moet weens beweerde misdade teen die mensdom voor die Internasionale strafhof verskyn.

Die kort antwoord is dat Obama die statuur (en dalk siekte) van oud-pres. Nelson Mandela gebruik om steeds dieselfde waardes te verkondig. Hy laat geen geleentheid verbygaan om Mandela se uitsprake oor demokrasie, menseregte en grondwetlikheid aan te prys nie.

Zuma se adviseurs het dié ene sien kom, en ook die geleentheid probeer aangryp. Weliswaar lomp, en waarskynlik in terme van internasionale konvensie en protokol beledigend teenoor Obama en die Amerikaanse nasie. Waar Obama as staatshoof amptelike besoek gebring het, het Zuma dit tot partypolitiek gereduseer deur in Obama se teenwoordigheid teenoor die media te sê Mandela het aan hom, Zuma, gesê hy is tevrede oor die wyse waarop Zuma en die ANC die land regeer, en selfs opgewonde is daaroor.

Zuma weet Mandela kan hom nie weerspreek nie, maar die probleem is dat emeritus aartsbiskop Tutu ‘n jaar gelede reeds gesê het Mandela sou baie hartseer wees oor wat aangaan sou hy nog genoegsaam by sy positiewe gewees het.

Sake soos Nkandlagate het ook Zuma se geloofwaardigheid aangetas.

Dit gaan lank neem om al Obama se boodskappe tussen die lyne ontleed te kry. In  dié stadium is die algemene vertolkings van Suid-Afrikaans media oor Obama se boodskap nogal ingrypend anders as dié van die VSA. Die verskille blyk onder meer duidelik uit News 24 se berig  oor Obama se toespraak by Ikey’s, en gehalte-artikels in die Christian Science Monitor. Hulle kan hier en hier gelees word.

Obama was ook deeglik bewus daarvan dat sy besoek erg deur die siekte van Mandela oorheers sou wees, en dat wat hy sê waarskynlik nie die nodige aandag hier sou kry nie. Daardie boodskappe sal wel deeglik deur die voortspruitende diplomatieke en tegniese spanne wat die beloftes moet laat realiseer oorgedra word.

Dan moet Afrika ook behoorlik kennis neem van die konsep waarvoor die kontinent se leiers  horende doof is, en wat in Engels as “beneficial exploitation” bekend staan. Die grens tussen gewone uitbuiting, en uitbuiting waardeur die uitgebuite uiteindelik ook wen, is dikwels ragfyn. Baat Afrika byvoorbeeld meer deur reuse Chinese betrokkenheid in Afrika, of is daar meer nadele as voordele aan verbonde?

Obama het ontken dat sy besoek ‘n teenreaksie hierop was maar tog gereeld in algemene term gewaarsku teen lande wat op die oog af met goeie voorneme kom en dan die kontinent uitbuit. Hy het onder meer verwys na dié lande se indiensnemingsbeleide – bring hulle hul eie werkers saam of lei hulle plaaslike mense op en neem hulle in diens? Dit behoef geen profeet om te weet hy het China bedoel nie.

En ja, voordele vir die kontinent word nie gemeet aan die hand van die hoeveelheid omkoopgeld wat in staatsleiers se sakke beland nie. Obama het nou vir Afrika die geleenthede gebring. Die kontinent kan daarvan gebruik maak deur hom tot, in die woorde van Obama, Mandela se waardes na te streef.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Die regering wat tans in die kussings is, ken ongelukkig nie die woord waardes nie. So ‘n woord bestaan ongelukkig nie in hul woordeskat nie. Hulle ken korrupsie, omkopery, roof, diefstal, moord en diesmeer en dit is ongelukkig nie genoeg om Mandela se waardes mee na te streef nie. Obama het net sy tyd kom mors en aan Zuma weereens ‘n platform gegee om ons land se naam bollie te maak met sy uitdagende toespraak van Nelson Mandela is baie tevrede met die wyse waarop ek en die ANC die land regeer. Hy weet die arme Mandela kan hom nie weespreek nie want die le aan masjiene gekoppel in die hospitaal

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.