Nuuskommentaar: Woordestryd oor AfriForum duur voort

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Reint Dykema

Teen dié tyd lyk die stapeltjies briewe wat in koerante geplaas word waarin AfriForum die kop gewas word oor sy besluit om Julius Malema privaat te vervolg sou die NVG versuim, bietjie kunsmatig. So al asof iemand ’n laaste druppel uit ’n reeds leë emmer wil win.

Die briewe staan egter nie in isolasie nie. Pas het Max du Preez se onderrok oor AfriForum (en vennote) weer in ’n rubriek uitgehang, of die beleërde direkteur van nasionale vervolging, Shaun Abrahams, beskuldig AfriForum voor ’n parlementêre komitee onder meer van opportunisme.

Abrahams is besig met ’n hofstryd om die onwettigverklaring van sy aanstelling te probeer omkeer, en sedert Jacob Zuma bedank het, skyn dit dat hy ’n nuwe blaadjie omgeslaan het. Voorheen is Abrahams op besprekingsprogramme blatant deur geleerde paneellede as pateties beskryf. Nou wil dit al hoe meer lyk of hy dalk nie so swak in sy vakgebied is nie, maar die pos ter wille van Zuma se belange beklee het, en daarom kort-kort van die wa afgeval het.

Sy kritiek op AfriForum oor ’n besluit om ook Duduzane, seun van Zuma, privaat te vervolg oor strafbare manslag, versterk net die persepsie. Nadat AfriForum aangedui het dat dié organisasie gaan toetree, het die NVG baie skielik besluit (na agt maande) om wel te vervolg. Duduzane kry egter nog twee maande tyd om ’n voorlegging te doen, waarna opnuut oor die kwessie besin sal word.

Tyd, tyd, tyd, terwyl die land brand te midde van ’n persepsie dat sommiges die land stroop, maar bo die reg verhewe staan.

Dit is bloot raaiwerk om te weet of AfriForum die Malema-saak anders sou aanpak sou hulle die luukse van terugskoue gehad het. Malema is bykans deurgaans besig om iets opspraakwekkends uit te broei, en sou wel ’n kapstok gevind het, selfs al het AfriForum nie bestaan nie.

Dit is egter te betwyfel of die NVG weer sal voete sleep as adv. Gerrie Nel en sy private vervolgingseenheid oor ’n saak navraag doen – nie met die swaard van afdanking wat oor Abrahams se kop hang nie.

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Abrahams kon nou in die parlement half verkleinerend na AfriForum verwys, maar AfriForum is geen Dinky Toy in die openbare lewe nie. Kundigheid is oor ’n lang tyd te midde van taai Suid-Afrikaanse toestande gebou, en sedertdien met die hand uitgesoek om ’n baie sterk organisasie daar te stel. Iemand soos Ernst Roets, AfriForum-bestuurslid, wat ’n meestersgraad in die regte met lof verwerf het, staan immers nie terug vir die regskwalifikasies van NVG-amptenare nie. En niemand twyfel oor die kennis en vermoëns van adv. Nel nie.

Moet ’n mens jou veel steur aan die kritiek wat Max du Preez uitspreek? Soos gebruiklik loop hy erg in die kommentaar-kolomme deur, hoewel AfriForum tereg sal kan vra of dié organisasie met “vriende” soos sommige van dié wat vir hom in die bresse probeer tree, nog vyande ook nodig het. Dit lyk darem na ’n kleinerige groepie wat hul menings, ook oor ander kwessies, mildelik “hersirkuleer”.

Wat Max betref is dit jammer dat hy sy perspektiewe wat hy oor AfriForum (en eintlik die hele spektrum van die Solidariteit Beweging) koester, sterk grond op persoonlike ontmoetings met individue lank gelede. So asof die inbinding binne AfriForum geen invloed sou hê nie, maar dat AfriForum eintlik kwalik heimlik hierdie individue se standpunte van lank gelede sou onderskryf.

En ja, wat minderheidsregte betref, is Max eintlik pole verwyder van dit wat AfriForum in gedagte het, maar dit sal help as hy sy beoordeling vernuwe aan die hand van die huidige werklikheid.

Wat AfriForum nié kan bekostig nie, is om die leisels te verslap (ook oorsee) oor wat moontlik, en hieroor is allermins konsensus, ’n fout in die taktiese uitrol was. Die aanslag teen Afrikaans duur onverbiddelik voort, ook danksy bevoorregte vyfdekolonners wat meen hulle selfgevormde insigte weeg swaarder as hoofstukke uit lywige studies oor die voordele van moedertaalonderrig.

Daar moet ook onthou word dat die land onder pres. Cyril Ramaphosa in werklikheid ’n nuwe regering het. Dit het onder meer tot ’n kabinetskommeling gelei, en hoewel nie naastenby ingrypend genoeg nie, tog tot ’n verlies aan institusionele geheue. Baie sake wat al verskeie kere baie ver gevorder was, soos grondhervorming, plaasaanvalle en vele meer, beland dan in situasies waar dit eenvoudig deur populistiese sienings verdring word, en van nuuts af deur kundiges herstel moet word. AfriForum en ander nie-regeringsorganisasies dien darem as ’n soort rem dat alles wat bereik was, nie met elke herskikking herbou moet word nie.

Wat Max se advies betref dat AfriForum liefs ’n politieke party moet word, is dit genoegsaam om te sê dat die bestaan van nie-regeringsorganisasies, soos byvoorbeeld Outa, kenmerke van ’n volwasse grondwetlike demokrasie is, net soos ’n vrye media.

Intussen lyk dit darem of die NVG bietjie wakker geskud is, en dit was een van die werklike probleme van die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ek vermoed as Afriforum se naam “The Foundation for the Protection of the Rights of the Individual” was en gesetel was in die Suidelike voorstede van Kaapstad en slegs Engelssprekend was, het Max nie ‘n enkele keer sy mond teenoor so ‘n organisasie uitgespoel nie. Maar die verband met Afrikaans en Afrikaners aan ‘n organisasie wat burgerregte bevorder veroorsaak ‘n kringloop waar swart organisasies dadelik daarteen sal reageer en Max dan onmiddelik ook op sy perdjie spring om self “die boere by te kom.”

Henry ·

Teleurstellend om die ou bekende gifpenne se produkte te verteer, is dit andersinds ‘n bemoedigende teken dat Afriforum en vennote ‘n alhoe groterwordende klip-innie-skoen word vir die gemene tipes en politiek korrektes.
Viva Afriforum!

Krimpvarkietjie van Toekomstige Skoon Suid-Afrika ·

Ek verwelkom vrydenkers soos Max du Preez, Herman Toerien, dr. Leopold Scholtz, die leierskap van Solidariteit, ondersoekende joernaliste en andere se sienswyses oor die pad vorentoe al verskil ons oor HOE om by welke eindbestemming te kom – solank daar vrede en geregtigheid sal wees. Hulle het almal ‘n plek onder die Suid-Afrikaanse son. Hierdeur word my eie denke getreiter en is dit verrykend. MAAR ons moet almal mekaar wedersyds respekteer. Moet nie aan andere doen wat ju verlang hulle nie aan jou moet doen nie.
Onthou: Naasteliefde = Geduld + Verdraagsaamheid, hoe moeilik ookal. Zap.
Intussen kan ons almal volhoudend strooirommel in die Zibidromme te gooi.

Joh. 3:16 ·

@Krimpvarkietjie: Jou verdraagsaamheid maak my onrustig. Maar ek weet hoekom. Jy lees die wêreld uit ‘n liberale hoek, want jy lees jou Bybel uit ‘n liberale hoek. Jy lees, dat Naasteliefde = Geduld + Verdraagsaamheid. Dit is eenvoudig nie die volledige somtotaal van Liefde nie. In 1 Kor. 13:6 sê: “Liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie.” Die liefdevolle mens kan nie berus as hy onreg sien nie. Die liefdevolle mens is ook nie ‘n passifis wat sit en niks doen nie – m.a.w. wat wegkruip agter “verdraagsaamheid” nie. Want ware liefde staan saam met geloof en hoop. Jak.2:26: “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.” 1 Pet. 4:19: “So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.”
Dankie AfriForum dat julle die liefde prakties in dade omsit…

Hendrik ·

Afriforum doen regtig groot werk vir ons gemeenskap. Daar moet nou egter nog ‘n organisasie gestig word wat die konsentrasie van Afrikaners in ‘n gebied ontwikkel : bv. Afriland met die konstruksie gedeelte Afribou. Ons het nou genoeg gepraat en moet nou begin bou.

JC ·

Wonderlik !

Dankie Hendrik, ek is baie trots op Orania, mag ons konsentrasie en eise vir selfbeskikking in die Oos en Wes Suidelike deel van die Noord-Kaap met rasseskrede vooruitgaan.

Ek dink binne die volgende 10 tot 15 jaar gaan ons, ons eie soewereine Afrikanerstaat aldaar he.

Ons moet ook outonome gebiede in die Vrystaat rondom Bloem he, asook in Pretoria, die Wes-Kaap en in die Noordelike Provinsie naby die Kruger Wildtuin aan die grens met Mosambiek.

Mielie ·

MAX en kie gee die rooispan te veel aandag en idees en lugtyd. As die NVG sy sout werd was, was die Zumas, Guptas, Malema en baie meer korrupte mense al voor die hof gedaag. Hoekom kry hulle geleentheid om te se hoekom hulle nie vervolg moet word nie, maar ander wat voor die hof gedaag word kry nie dieselfde geleenthede nie, is daar dan wette vir verskillende mense? Hoekom het Max niks te se gehad oor Malema se korrupsieklag wat in die lug hang terwyl hy so gereeld oor Zuma berig het. Is hy ook bang vir Malema? Een ding is seker wat die twee in gemeen het en dit is hul haat vir Afrikaners veral die met n ligter vel kleur. As daar niks is om weg te steek nie behoort Mnr Anti Korrupsie die aanklag te verwelkom om uiteindelik sy onskuld te kan bewys. Lee blikke maak die grootste lawaai

s

Aggenee ·

Afriforum gaan net aan met julle goeie werk. Ons kan nie sonder julle nie

Lou ·

Dit wil vir my lyk of Max du Preez nou kliphard vry na ‘n lêplek by die EFF nadat die ANC hom ‘n koue skouer gegee het, ten spyte van jare se probeer om ‘n goeie indruk op hulle te maak. Die realiteit is egter met ‘n Afrikaanse van en ‘n wit vel is sy moeilikheid net so groot soos die res van ons wat ook in daardie kategorie val al probeer hy om homself te distansieer van Afrikaners.

JC ·

Dankie Herman,

Afriforum is tops ! “Die hoogste bome vang die meeste wind.”

Ek is bitter trots daarop om ‘n Afrikaner te wees, en trots op my wonderlike taal, erfenis, gekiedenis en Afriforum, en trots op wat ons wonderlike volkie alreeds; te midde van toestande wat ander volke laaaaaaaaaaaaaank reeds onder sou kry; vermag het !
Ons is onbuigbaar.
#WEES STERK

Jerry ·

Selfs die slimste van die slimmes maak foute en solank dit nie fataal is en reggestel word sal die hoop hom nie beskaam. Terwyl die gematigdes aan bewind is kan ons lekker diknek skiet en slim wees en baie praat van waar ons eintlik alreeds moes gewees het om n toekomstige anargiefase die hoof te kan bied. Die realiteit egter is dat ons huidige inisiatiewe geskoei is op alles behalwe om lede daadwerklik voor te berei op die worst case scenario. Die Zupta lojaliste en die EFF is baie kwaad vir die gematigdes en hulle raak ook elke dag meer boos teenoor die forum en indien hulle weer aan bewind kom gaan hulle nie skroom om te probeer om die demokrasie en die Afrikaner deur anargie te vernietig. Die forum moes eers georganiseerd gewees het vir so n dag voordat hulle skoorsoekende inisiatiewe geloods het. Sou daai dag more kom, dan sit die forum en hulle lede met hulle broeke om die enkels en dan ontplof hulle politieke agenda in hulle gesigte. Doen nou eers die belangrikste soos om die Afrikaner so onafhanklik as moontlik en paraat as moontlik te maak en te beveilig sodat Afrikaners nie vermoor kan word nie en dan kan al hierdie ander niksseggende en skoorsoekende inisiatiewe plaasvind. Julle moet besin en begin luister!

Paul ·

My testament is aan Akademia bemaak, wat kan jy wys? OK, hopelik is hulle nie te gulsig nie en sal nog so ‘n tydjie moet wag.

christa ·

Die hele spul is saam met Malema korrup. Al se die ANC wat, hulle staan vierkantig agter Malema. Die ANC is in elkgeval 99 % korrup.

Christiaan Jooste ·

By die lees van gister se opiniestuk van Max Du Preez oor wat Afriforum te doen staan kan jy net jou kop skud. Eerstens, het Afriforum werklik sy advies nodig oor hoe om voort te gaan? Wat laat hom dink dat Afriforum enigsins in die knyp is om linkse, sosialisties-kommunistiese advies nodig het. Tweedens, jy kan darem ook nie lieg en dink jy gaan daarmee wegkom nie. Afriforum doen meer in terme van gemeenskapsbeveiliging in landelike gebiede (waarby plaaswerkers ook baat) as die weermag en polisie saam. Derdens, dit is maklik om Afriforum as ‘n geldgierige nasionalisyte en rassiste uit te kryt, maar nie een bewysplaas daarvoor te gee nie. Die slotsom is dus dat hy sy opninie tot feite verhef tewrwyl dit eintlik maar net sy en Pietertjie (van HuffPost) se eie geite is.

humor ·

Joh 3: 16 en Hendrik ek hou baie van dit wat julle se. Dit is nie onuitvoerbaar nie. Max. Net so min as wat jy jou eie ore kan sien net so min kan n dwaas sy dwaasheid insien.

Paul ·

Man, het ek nou lekker gelag vir jou wysheid aan Max. Nobelprys vir jou!

Alle lede van die Varkerasie-Genootskap van SA ·

Geagte Kommentatore,
Wat dink u wat dink anders denkendes en lede van ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika indien hulle die kommentare op Maroela Media lees?
Lewer assebllief opbouende kommentaar.
Ontspan en geniet die bietjie tyd van u kortstondige lewe wat u nog oor het. Sela.

Werner ·

Wanneer mense soos Max, Melanie nieVerwoed en Shaun Abrahams uit een mond ‘n organisasie aanval, dan gee ek nie om wie daardie organisasie is nie, ek hou onmiddelik van daardie organisasie! Wanneer mens aan jou vyande geken word, is Afriforum in goeie geselskap.

Piet Snot ·

Werner, nou spreek jy ‘n waar woord.
Afriforum, doe zo voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.