Nuuskommentaar: Word die demokrasie gesteel?

nuwe SA-vlag“Daar is ‘n fundamentele verskil tussen ‘n demokrasie en ‘n totalitêre diktatuur. By eersgenoemde is die regsapparaat – die polisie, nasionale vervolgingsgesag en regters/landdroste – betreffende hul werk heeltemal los en onafhanklik van die wetgewende en uitvoerende gesag. Die amptenare tree professioneel op deur die reg toe te pas ongeag politieke oorwegings en sonder om mense se politieke oortuigings of status in ag te neem.”

So skryf Die Burger in ‘n opiniestuk deur die redaksie, veral verwysende na onthullings oor hoe die destydse waarnemende direkteur van nasionale vervolging, Mokotedi Mpshe, eers vertragings toegepas het met die vervolging van pres. Jacob Zuma, en toe na die Polokwane-kongres teen senior regsadvies in die vervolging opgeskort het.

Die Burger vra die vraag hoe die publiek onder sulke omstandighede vertroue in die nasionale vervolgingsgesag het?

Die eintlike angel is egter in die inleidende stelling: “Daar is ‘n fundamentele verskil tussen ‘n demokrasie en ‘n totalitêre diktatuur.”

Op RSG se program Kommentaar was van die paneellede bekommerd oor die implikasies van wat Suid-Afrikaners as Zumafikasie ken. Trouens, daar is kommer dat die land, grondwet en al, (die vernaamste kenmerke van ‘n grondwetlike demokrasie), ervaar hoe die demokrasie, of dan minstens die vryhede wat daarmee gepaard gaan, aan die uitloog is.

Daar word nou selfs, oor ‘n wye spektrum in die media, na ‘n uiters politiek inkorrekte kwessie verwys waarop Maroela Media reeds meer as ‘n week gelede gewys het – die herlewing van “tribalism” in die sin van selfs ‘n redelike openlike Zoeloefikasie van die land se topposte.

Maar is die kommer oor die stand van grondwetlike demokrasie bloot deel van ‘n breë opposisie se wolf – wolf-skreëry voor aanstaande jaar se verkiesing?

Die Burger raak aan ‘n sensitiewe kwessie oor die onafhanklikheid – ‘n vereiste vir grondwetlike demokrasie – van die regbank. Die gevaarligte hieroor flikker al lank, en ook Zuma het al, soos verskeie senior ANC-lede, hul frustrasie uitgespreek daaroor dat die howe in die posisie is om die meerderheidswil te frustreer. (Daar word natuurlik verswyg dat die grondwet keer dat meerderheidswil in ‘n diktatuur van die meerderheid ontaard). Daar word aktief gewerk om die howe te transformeer om ook “getransformeerde” uitsprake te lewer. Hierin word die ANC nagepraat deur die hoofregter, Mogoeng Mogoeng, wat weens ‘n leemte in die grondwet nie deur dieselfde keuring as die ander regters deur die president aangestel kan word.

‘n Saak wat onlangs voor die Grondwetlike Hof beland het was die kwessie van die opposisie se reg om ‘n mosie van wantroue te kan stel. Die ANC het sy gesag in die parlement gebruik om die stel van so ‘n mosie te verhinder, terwyl hierdie soort mosies volgens internasionale konvensie eenvoudig deel van parlementêre demokrasie is. Die Grondwetlike Hof het bevind dat die parlement se ordereëls binne ses maande aangepas moet word om daarvoor voorsiening te maak. Mogoeng was deel van die minderheidsuitspraak, wat ook ernstige vrae laat ontstaan het.

Persvryheid word as nog ‘n integrale deel van die demokrasie beskou, terwyl die land al verder op die internasionale persvryheidsindeks terugsak. Onthullings die naweek oor hoe Zuma na bewering self betrokke is om te verseker dat die Guptas se 24-uur “nuuskanaal,” ANN7 pro-Zuma ern pro-ANC sal wees, is ernstig. Soos sake voor die “lansering” van die kanaal gestaan het, is die SAUK, en veral die TV-nuus, wyd van “His Master’s Voice” wese beskuldig, maar dit was klaarblyklik nie genoeg nie. Mugabe se effektiewe beheer oor Zimbabwe se media voor die algemene verkiesing word as een van die hoofredes aangevoer oor waarom dit so ontsettend moeilik is om te bevind dat die speelveld gelyk was dat van ‘n regverdige verkiesing gepraat kan word. Die Suid-Afrikaanse regering en sy SAOG-vennote het gevolglik gerieflik die “regverdig” uit die kot geslinger en op sterkte van bevindings van “vry en vreedsaam” die uitslag van die verkiesing erken.

Die blote feit dat verkiesings plaasvind en lande oor parlemente beskik, is geen waarborg van demokrasie nie. Zimbabwe is ‘n voorbeeld, maar so ook die Sirië van Assad, die Egipte van Mubarak, en selfs Gaddafi het ‘n soort parlement gehad.

Op Zuma se wagbeurt tree ‘n verandering in die beskouing van al hoe meer meningsvormers in. Waar instansies wat enkele jare gelede na die kruipende totalitarisme as tekens van ‘n statutêre staatsgreep verwys het, as laf afgemaak is, word dieselfde waarskuwings nou oor ‘n wyer front gerig, hoewel ander terminologie ingespan word en ander voorbeelde ook geopper word.

Die komende verkiesing word al hoe belangriker, nie net omdat daar vir die eerste keer beduidende krake in die ANC begin vertoon nie, maar omdat die grondwetlike demokrasie soos dit onderhandel is, al feller ter slagting gesleep word.

Argumente dat die leemtes in die grondwet self vir die toedrag van sake verantwoordelik is, is deels geldig, maar om nou die onderhandelaars te straf deur weg te bly van die stembus,  is nie die oplossing nie.

Maar om burgerlike instansies te steun wat nie skroom om die howe in te span om wal te gooi nie, is ook baie belangrik.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae