Nuuskommentaar: Word die “green, green hills o’ home” weer werklik?

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

ʼn Byna voltal van 97% van Skotland se potensiële kiesers het vir vandag se referendum geregistreer. Ongeag of die veral jonger Skotte se “ja” of die ouer Skotte se “nee” die doedelsak gaan blaas, niks sal weer dieselfde wees nie. Brittanje het reeds groter selfbestuur beloof sou die Skotte “nee” stem.

Die Skotse Nasionale Party wat die onafhanklikheid dryf, het te kampe met ’n verskynsel wat ten beste as “laaste hekkie-sindroom” beskryf kan word. Onafhanklikheidsgesinde partye wen dikwels die meerderheidstem in verkiesings, maar kom dit by die uiteindelike referendum, dan trek die kiesers kleinkoppie. Veral Quebec is ’n netjiese voorbeeld, waar die jongste ja-stem ’n redelike loesing op die lyf geloop het. Voorheen was die uitslag egter naelskraap.

In België vaar die pro-onafhanklikheidsparty, die NV-A, goed, en is nou só sterk dat dit nie net in die Vlaamse politiek ’n baie sterk rol speel nie, maar ook in die hele België. Toe dit egter onlangs konfederalisme as beleidsopsie vir die land op die tafel plaas, is dit oor ’n breë front swak ontvang. Wat dan van die land, België?

In Venesië en omringende streke waar ’n nie-amptelike konsultatiewe referendum oor afskeiding van Italië gehou is, is oorweldigend ten gunste van onafhanklikheid gestem. Sou die uitslag so gelyk het as dit ’n werklike finale referendum was, en sake, soos hulle in hoë Afrikaans sê, “op die push kom” nog dieselfde gewees het?

In Skotland het dit tot onlangs in peilings gelyk of die Skotte ook so sou maak – stem vir die Skotse Nasionale Party, maar peilings het tot ’n 20%-voorsprong vir die “nee”-stemmers gegee – iets wat nie sin gemaak het nie. Intussen het die gaping so vernou dat niemand die uitslag met sekerheid voorspel nie. Uiteindelik kan dit letterlik van die weer afhang. Is die weer sleg, sal heelwat van die ouer mense, wat teen onafhanklikheid gaan stem, waarskynlik nie stembus toe gaan nie. Die verkiesing vind juis in die oorgangstyd tussen somer en winter plaas.

Histories is die Skotte trots onafhanklik. Toe die Romeine Engeland lank in die tyd van Christus beset het, kon hulle die Skotse stamme nie onder die knie kry nie, en is ’n muur, bekend as die muur van Hadrianus, gebou om die Romeinse gebied teen die moeilike Skotse stamme te beskerm. Later kon die Skotte egter nie die Vikings uithou nie, en onlangs is die oorblyfsels van ʼn 1 000 jaar oue Viking-“parlement” in die Skotse dorp Dingwall gevind.

Sou die Skotte “ja” stem, verwag baie waarnemers dat dit ’n kettingreaksie aan die gang kan sit. Vreemd genoeg is dit dalk nie die Walliesers wat die toon sal aangee in Brittanje nie, maar hul suidelike bure in Cornwallis. Dit kan bepaald separatiste in Katalonië, Baskeland, die Vlaminge, en ja, selfs die separatiste in Oos-Oekraïne, inspireer om ook hul lande op die wêreldkaart te laat verskyn. Al het ’n mens soms ʼn vergrootglas nodig om dit te kan sien.

Maar wat sê die Suid-Afrikaanse grondwet oor ʼn soortgelyke opsie hier?

Artikel 235 maak vir selfbeskikking voorsiening, maar duidelik nie vir volkome sesessie nie. Wat wel belangrik is, is dat hierdie selfbeskikking nie noodwendig geografies hoef te wees nie.

Nie-geografiese selfbeskikking staan as korporatiewe selfbeskikking bekend. Dit beteken ʼn regerende liggaam wat oor mense met ’n gedeelde volksverband, eerder as oor grondgebied regeer. As voorbeelde word dikwels vreedsame Amerikaanse Rooihuidstamme gebruik wat groot stukke oorvleuelende grondgebied bewoon het, maar elke dorpie se jurisdiksie is deur die inwoners se volksverwantskap bepaal.

Dit is egter in moderne tye nie so ’n vreemde verskynsel nie, en word dikwels gebruik vir die “eerste nasie”-inwoners van ’n land wat nou minderhede vorm in die lande van hul voorvaders. Die bekendste voorbeeld is seker die Maori-kongres, ’n “parlement” vir Maori’s in Nieu-Seeland.

Nog ʼn voorbeeld het onlangs dikwels in die nuus gekom, naamlik die regeerliggaam vir die Krim-Tartare in die Krim, bekend as die Meilis. Die Krim-Tartare is deur Stalin na Siberië verskuif om die skiereiland behoorlik te kon ver-russies. Hulle is eers onlangs toegelaat om terug te keer, en hoewel baie dit gedoen het, kon hulle met hul hervestiging nêrens meer beduidende meerderheidsbesetting verkry nie. Hulle sou dus in elke sfeer van regering as minderheid oorheers word.

ʼn Kopkrapper wat telkemale by korporatiewe selfbeskikking opduik, is wat die inhoudelike daarvan sal wees. Kan so ʼn liggaam byvoorbeeld sy eie skole en universiteite bedryf en op ʼn hap uit die sentrale fiskus aanspraak maak? Kan dit munisipale gebiede waar sy burgers die meerderhede uitmaak onder sy jurisdiksie plaas en sorg dat minstens daardie dele behoorlik funksioneer? Dikwels word dit egter verstaan dat dit beperk is tot kulturele regte wat godsdiens en taal insluit. Die volkereg neig egter om opvoedkunde – tot op universiteitsvlak – baie sterk onder minderheidsregte in te lees.

In Suid-Afrika manifesteer die onsekerheid byvoorbeeld duidelik in die verstaan van die funksies van die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens en Kulturele gemeenskappe. Die regering maak dit in uitsprake dikwels duidelik dat hy daardeur verstaan dat hierdie gemeenskappe slegs taal-, godsdiens- en kulturele regte het. Maar het Pansat dan bestaansreg? Ander wys daarop dat die naam juis aandui dat sulke gemeenskappe meer regte het as net dit wat met taal-, godsdiens en kultuur verband hou.

Dit word byvoorbeeld goed gedemonstreer deur die tipe sake wat deur burgerlike instellings soos Agri SA, TLU SA, AfriForum en Solidariteit hof toe geneem word, en selfs geïnternasionaliseer word. Die Renate Barnard-saak het min betrekking gehad op haar taal, kultuur of godsdiens, maar nogtans was daar genoeg gronde om weens haar “andersheid” teen haar te diskrimineer. Die DKD-saak is net so ’n geval. Soms handel dit wél oor hierdie kwessies, soos die saak oor amptelike tale wat gister in die gelykheidshof beslis is.

Soms word die probleem oorkom deur gereserveerde setels. Naas die Maori-kongres, het die Maori’s ook gereserveerde setels in die land se parlement, wat namate die Maori’s se getalle toeneem, ook meer setels beteken het. Dieselfde geskied met die oorspronklike inwoners van Indië.

Ook wanneer geografiese selfbeskikking ter sprake kom, is daar verskillende modelle. Spanje is ’n goeie voorbeeld van variërende streekoutonomie waar die Baske en Kataloniërs meer selfregeringsmagte het as die res van die land. Selfs Brittanje is so ’n voorbeeld waar die selfbeskikkingsmagte van die Skotte, die Noord-Iere, die Walliesers en die Cornies van mekaar verskil.

Stem die Skotte “nee” is daar steeds sekere kwessies wat opgeklaar moet word. Veral op die sportveld funksioneer Engeland, Skotland en Wallis dikwels as verskillende lande. Nie alle sportkodes stem hiermee saam nie, en erken slegs Brittanje. Met oorkoepelende sportbyeenkomste waar die beheerliggaam slegs Brittanje erken, moet besluit word watter unie se span gaan die ganse Brittanje verteenwoordig. Dit is gewoonlik Engeland. Maar moet Skotse en Walliese sterre dan as “ere-Engelse” ingesluit word, of neem hulle eenvoudig nie deel nie? Meestal besluit die Skotte hulle neem dan nie deel nie.

Kortom, om kleinkoppie teen onafhanklikheid te trek, los nie alle probleme op nie.

Vandag is die Skotte op die hoofbaan van ʼn “toernooi” wat deurlopend plaasvind, en waarvan die spelreëls ook ʼn dinamika het.

Binnekort sal ons weet of Skotse Whisky ’n Britse nasmakie sal hê – al is dit dan nou ook net in die drinker se kop.

Maar ongeag die uitslag, die wêreld gaan dit voel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Hanno Visagie ·

“…soos hulle in hoë Afrikaans sê, “op die push kom”” – nee wat, Herman Toerien en Maroela Media, julle kan sekerlik beter doen!

Sjert ·

Waarom vertel jy nie vir ons waar en hoe daar beter gedoen kan word nie?

Ester le Roux ·

Wat ‘n wonderlike voorreg wat die Skotse volk het! Ek verlang na hierdie geleentheid vir ons jong Afrikanervolk. En ja, ek weet van al die redes hoekom dit nie kan gebeur nie en ek weet van al die redes hoekom dit kán gebeur. Ek wéét ook: ons dien ‘n genadige God.

Gert ·

Hoop maar die Skotte hou kop en druk deur. Dit sal egter net die begin wees van ‘hef aan’. Die referendum is slegs ‘n voorloper van ‘n tipe Kodessa waar op al die voorwaardes, toegewings en beperkings onderhandel moet word – die Skotte moet versigtig wees dat die Engelse nie daar ‘n ANC op hulle trek nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.