Nuuskommentaar: Word grondwetlike demokrasie nou gedekoloniseer?

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Elke poging om Zuma se politieke raklewe te verleng werp ’n donker skadu oor wat met die dekolonisasie van die samelewing beskou word. Hoe is dit moontlik dat hy ook die jongste mosie van wantroue binne die NUK kon oorleef, terwyl die valbyl steeds oor Helen Zille hang – wie se “sonde” immers nie teen Zuma se wavrag sondes kan opweeg nie?

Onlangs, en so gereeld soos die geringste kansie opduik, het die ANC onder Helen Zille, Wes-Kaapse premier, ingeklim en haar van allerlei slegte dinge beskuldig oor sy skynbaar in ’n twiet sekere elemente van die nalatenskap van kolonialisme as voordelig vir die land sou beskryf het. Dié verklarings is, ironies, in een van die mees prominente nalatenskappe van kolonialisme, naamlik die Engelse taal, gedoen. Die oordeel aldus die ANC was sonder uitsondering dat dit wat sy gedoen het, so erg is dat sy afgedank moet word as sy nie self loop nie.

’n Deel van die hele SA voel dieselfde as die ANC en verskeie ander partye.

Maar watter voorbeeld stel die ANC? Pas het die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee weer ’n mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma afgewys, al was die skuldbelading op hom waarskynlik nog nooit so groot soos nou nie.

Tot dusver het hierdie rubriekskrywer geoordeel dit sou waarskynlik juridies onsuiwer wees om van Zuma en sy kornuite te praat as sou hulle beslis skuldig wees aan staatskaping, die vestiging van ’n mafiastaat, en so meer. Wanneer woorde soos “skurk(e)” en erger ingespan was, was dit aan die hand van ’n bron wat genoem is.

Die afgelope week of so het sake egter ’n wending geneem met eers ’n verdoemende verslag oor staatskaping wat die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke die lig laat sien het. Toe kom ’n gesamentlike verslag van akademici van die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad, Wits en Johannesburg, wat die SARK se verslag na kinderspeletjies laat lyk het.

En toe, terwyl die NUK reeds vir die naweek se vergadering saamgetrek het, plaas twee naweekkoerante gelekte e-posse wat die leemtes, of beweerde leemtes in bestaande verslae, veral die verslag van die openbare beskermer oor staatskaping, netjies opvul. Enige moontlike wollerigheid oor die Guptas se betrokkenheid word skynbaar weggeveeg.

Die Guptas se reaksie, by monde van hul prokureur, was vinnig om die nuus wat die familie in die gedrang bring as “fopnuus” af te maak.

Maar dis lank nie al “sondes” waaraan Zuma hom skuldig gemaak het nie. Die Nkandla-sage is ou nuus, en so ook dat die openbare beskermer bevind het dat hy (en die parlement) die Grondwet geminag het. Zuma maak voortdurend opmerkings wat hom klagtes van haatspraak en rassisme op die lyf laat loop. Hy het twee keer met kabinetskommelings die land se ekonomie erg geknou.

Trouens, die land het by twee graderingsagentskappe rommelstatus gekry.

Hy minag sy ampseed wanneer dit by minderheidsregte kom.

(En toe die “tweede huis” vir die Zuma-familie in Dubai ter sprake gekom het – wat was die gedagtegang oor wie daarvoor gaan betaal? Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler?)

As hierdie lys, en ander wat weens die herhalende aard daarvan nie nou weer genoem word nie, bymekaargetel word; wie verdien die meeste om die trekpas te kry? Zuma of Zille?

Oor Zille se kop hang steeds ’n swaard. Oor Zuma se kop hang wat die ANC formeel betref, niks behalwe ’n stralekrans nie (hoewel interne verdeeldheid bly toeneem). Die grootste aanslag van diegene wat in plaas van ’n stralekrans ’n stortkop gewaar, en druk uitoefen vir sy ontslag, kom van die opposisiepartye en burgerlike bewegings.

Op Hemelvaartdag het Suid-Afrika verkies om eerder Afrikadag te vier, nadat Unesco se internasionale diversiteitsdag dieselfde week min of meer geïgnoreer is. Die boodskappe was oor die algemeen nie inklusief nie.

Rondom Afrikadag is ’n baie ou lied deur die evangelis/komponis, John Knox Bokwe, “Plea for Africa”, egter plek-plek herontdek en oor radiostasies gespeel.

Dit staan in die konteks van die tyd (Bokwe het van 15 Maart 1855 – 22 Februarie 1922 geleef). Veral die volgende woorde tref:

Breathe a prayer for Africa.
God the Father’s love
Can reach down and bless all hearts
From His Heav’n above.
And when lips are moved by grace,
They so sweetly sing.
Pray for peace in Africa
From our living God.
Tell the love of Jesus
By her hills and waters.
God bless Africa
And her sons and daughters

(Die hele lied kan hier geluister word: https://www.youtube.com/watch?v=XCnpirfF6nU)

(Musikaal is dit ’n besonderse stuk, met wonderlike opnames en die besonderse aanwending van ’n mesosopraan as solis.)

Maar hoe ver staan die gesindheid van hierdie lied van dit wat ons nou beleef?

Met elke poging om Zuma se raklewe te verleng, word ’n baie negatiewe boodskap aan minderhede in die land uitgestuur, maar ’n konsep oor wat dekolonisasie behels, word terselfdertyd met ’n baie slegte klankie toegerus.

Daar word sommer ook ’n baie verkeerde beeld uitgestraal oor wat as ’n gedekoloniseerde samelewing beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

al ·

Dis nie net minderheidsgroepe wat deurloop onder sy bewind nie. Ñ Swart joernalis het ook tereg opgemerk gister dat Zuma ñ hele generasie van jong swart mense se geleenthede gesteel het – dat die jeug uitgespoeg word op straat sonder werk.
Hy het ons ALMAL verraai.

humor ·

En steeds tref dit ons dat ons die heersende regering se gebrek aan morelewaardes byverre onderskat. Nie net hul morelewaardes nie maar hul vurige benepenheid om hu uiteindelike doel met SA te bereik.

Beket ·

Wat my verstand te bowe gaan , is dat hy , met bewyse , skuldig is aan ten minste bedrog. Almal weet dit , die feite is daar vir almal om te sien.

Wat my nog meer verstom , is die feit dat niemand niks kan doen nie. Was dit enige ander mens , was hy of sy al toegesluit. Ek weet die NVG beskerm hom en weier / of weet nie hoe nie / of kan nie ? hom te vervolg nie. Maar liewe ouers man!!

So die res van die land word geskroef , almal sê wag vir regstelling in 2019. Teen 2019 gaan daar niks oor wees om reg te stel nie.

Ek wonder net , kan hy nie internasionaal vir iets , soos geldwassery aangekla word nie.

Dan kan hy dit ten minste nie beinvloed nie.

Maar iemand moet iets doen! Die ANC gaan niks doen nie.

Vir die slim mense wat baie meer weet as ek –
Wat kan gedoen word ?

Hoe gaan ons Suid-Afrika van ondergang red van die skelm kabaal?

Ps. Miskien moet ons hulle net begin seermaak daar waar dit tel. $$ dan sal mens miskien iets sien gebeur?

JWM ·

Verlede week het iemand die opmerking gemaak dat Zuma inderdaad die Guptas gekaap het. Inderdaad dan ook die ANC? Uiters kommerwekkend.

Ouma ·

Wat Helen Zille gesê het is buite proporsie opgeblaas.,Hoekom? Omdat sy wit is. En die DA leier het daarvoor geval. Vee alles wat Zille gesê het asb onder die tafel in, want sy het die waarheid gepraat en niks van niemand gesteel nie soos onse Nr 1 nie. En hy gaan rustig voort, want hy vlug Dubai toe as dinge te erg raak hierdie kant. Dié dat hy so graag sy eie straler wou hê.

al ·

Daar word druk op politieke leiers geplaas om politiek korrek op te tree teen witmense wat uitlatings maak wat soos ñ Sondagskool versie klink in vergelyking met ander rasse se skryende menseregtingskending uitlating teenoor die wit ras. Hierdie relatiewe jong kultuur moet nek omgedraai word.

Rynhardt ·

Ek glo dat Zuma beplan n ontsnapping (dinge gaan nie so uitwerk nie, al glo hy dit), en om ekstra aan die veilige kant te wees,beplan hy en sy trawante saam met Guptas, dat sy eks(sy is mal oor Guptas), die volgende president moet word.

Moeg ·

Stem saam almal maak n groot bohaai oor Helen Zille wat niks verkeerd gesê het nie maar wat van die korupte zuma en sy maters. As hy wit was was hy lankal weg.

Dev Theron ·

Ons dink verskillend. Julle sal verbaas wees hoe eenvoudig die oplossing is. Al wat julle sien is julle eie hartseer. Julle vergeet van die pyn van teleurstelling van die ANC.

Johannes Meintjes ·

Intussen lei die man, vrou en kind op grondvlak die meeste skade a.g.v. onstabiliteit, onluste, optogte wat paaie versper, onverpoosde misdaad, verhoogde pryse vir dienste en verbruikersgoedere en verarming. Slaag gesonde leierskap wel nog iewers in die Nuwe SA om gesonde leiding en gesonde samelewings te bewaar?

SARIE VAN HEERDEN ·

Die woord dekoloniseer klink vir my so naby aan die woord wat aanleiding gegee het tot die chaos waarin Zille haarself laat beland het. Net soos wat ek bang is om kommentaar te lewer op die gemors wat ons in Margate moet opruim na publieke naweke, net so bang is ek vir die woord kolonisasie of woorde naby dit. Skeur sommer die blaai uit jou woordeboek waar dit geskryf staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.