Nuuskommentaar: Word Knysna en Zille geknyp deur gees van Afrika-liberalisme?

Brande woed in Knysna in die Wes-Kaap (Junie 2017) Foto: Koos Britz/WVS Wildfires/Twitter

Die beskuldigings oor rassisme weens mense se oop harte en hande vir die slagoffers van die Knysna-ramp kom lê soos ’n klip in die maag. Dit, saam met die hele Zille-kwessie, lê die kloof tussen wit en swart persepsies bloot. Tot tyd en wyl persepsies en werklikheid nie in pas met mekaar is nie (en dit moet as onafwendbaar beskou word om nie herhalend moeilikheid te maak nie), is ’n wag voor die mond nodig sonder dat beginsels oorboord gegooi word. Dit is ’n ongelooflike moeilike taak.

 Die spontane gees van (om)gee wat in ’n ommesientjie deur die land gespoel het ná die Suid- en Oos-Kaapse brande wat veral Knysna hard getref het – hulp wat ten bate van wit, swart en bruin aangewend word en veral die nodigste aan armes voorsien, het volgens kommentators wat die sosiale media volg, ’n swart kol gekry. Net soos in die Zille-saga het ’n spook van rassisme hom kom tuismaak. In weerwil van die beskuldigings van die kommentators se oordele, is dit nie so ’n eenvoudige kwessie om vas te stel wie nou eintlik die rassisme dryf nie.

Die kern van die probleem is in die volgende geleë: Volgens die hoofstroom van kritiek is daar nou so ’n enorme reaksie, onder meer van ’n bank wat ’n groot bedrag geskenk het, omdat ook rykes en wittes onder die brande deurgeloop het. Maar, sê hulle, as dieselfde soort lot feitlik jaarliks plakkerskampe in die Wes-Kaap tref, bly die landswye gemeenskap se harte en hande toe.

Die geheues is maar selektief kort. Met die gereelde plakkerskampbrande is boumateriaal en komberse, asook noodvoorraadkos baie gou op die toneel. Die kommentators wys daarop dat dit gewoonlik van die owerhede afkomstig is, maar daar was immers berigte oor privaat organisasies wat ook betrokke geraak het. Nadat die Kaapse fietswedren wat voorheen as die Argus bekend gestaan het, onlangs gekanselleer is, is geborgde en geskenkte kos en ander voorraad aan mense wat haweloos is weens die Houtbaaibrand geskenk – om maar een voorbeeld te noem. Dat daar nie landswye spontane reaksies is nie, staan in ’n bepaalde politieke en sosiale konteks wat verder aan onder die loep geneem word.

Brande woed in Knysna in die Wes-Kaap (Junie 2017) Foto: Koos Britz/WVS Wildfires/Twitter

Met die Suid-Kaapse oorstromings enkele jare gelede was hulp in die vorm van onder meer sopkombuise gou aan die gang. By Kleinbrakrivier naby Mosselbaai is wit inwoners wat saam met hul swart mede-bewoners van die Power City-plakkerskamp in ’n tou gestaan het egter uit die wagtende tou by ’n sopkombuis wat deur ’n supermark-kettingwinkel geborg is, verwyder – om geen ander rede nie as dat hulle wit is. Dit het, sover bekend, nie die media gehaal nie.

Aan die ander kant van die munt veroorsaak die plundery (die skaal daarvan is nog onbekend) wat op die brande gevolg het ook ’n siedende gevoel onder mense wat hul frustrasie daarmee op die sosiale media uitstort. Ook berigte, juis in die sosiale media, oor hoe daar gesien is dat mense met petrolkannetjies brande stig (wat effektief ontken word), word as fopnuus afgemaak en veroordeel weens die ras-aanslag wat dikwels daaraan kleef.

Saam met die Zille-kwessie het ons inderdaad rede tot kommer oor die ras-element daaraan verbonde, en hoe dit beoordeel word. Rapport beklemtoon in sy mees onlangse hoofartikel dat die DA te kampe het met ’n geval van Helen Zille wat tegelyk “korrek en polities toondoof” is.  “Sy word wel deur die party se verkose leiers daarvoor verkwalik dat haar gedrag op Twitter doodgewone swart kiesers wat om historiese redes nog ongeneë is om die DA met hul stemme te vertrou, laat met ’n indruk dat sy hul weersin nie regtig verstaan in enige pogings om genuanseerd te praat oor ’n stelsel wat hul voorgeslagte slegs as wreed onthou nie.”

Prof. Amanda Gouws, hoogleraar in politieke wetenskap aan die US, beskryf Zille se optrede as onvanpas (op RSG se program Kommentaar Sondagaand).

‘n Skermskoot van een van Helen Zille se twiets wat uiteindelik daartoe gelei het dat sy van alle DA-aktiwiteite geskors is.

Alvorens die vraag beantwoord (probeer) word of dit aanvaarbaar kan wees dat ’n algemene toestand bestaan waar “korrek” dan “onaanvaarbaar” is, word die wortels van hierdie rasgetinte sienings baie kortliks nagespeur. (‘n Volledige studie sal ’n meestersverhandeling werd wees.)

Prof. Christie van der Westhuizen, politieke sosioloog en akademikus van die UP, skryf onlangs in ’n artikel, “Staan Zillle in pad van Afrika se nuwe liberalisme?”, redelik uitgebreid oor die impak van Afrika-liberalisme. In die proses is sy redelik skerp teenoor “gewone” liberalisme, en skryf onder meer: “Liberalisme het ’n moeilike geskiedenis van kop-in-een-mus-wees met kolonialisme en ’n problematiese en steeds onuitgesorteerde verhouding met ras.” (Dit dan tot sover met Christi se beskouing.)

Met baie kortpaaie spring ons nou na die sendeling dr. John Philip. In die literatuur word die tyd tussen ongeveer die 1770’s en die 1780’s beskryf as die “era of Negrophilia.” (Die Afrikaanse woord hiervoor het ’n soortgelyke negatiewe woord as die “k”-woord geword, en word dus nie gebruik nie). Omdat ’n omskrywing baie omslagtig is, word twee van die Engelse definisies verskaf om die konteks deur te trek.

Die English Dictionary beskryf dit so:

  • “An affection for, or interest in things related to the black race.”
  • “The word negrophilia is derived from the French négrophilie that means love of the negro. It was a term that avant-garde artists used amongst themselves to describe their passion for black culture.”

In die literatuur word dr. Philip dikwels as die vader hiervan, asook van liberalisme, beskryf.

Dat daar ’n verdeling tussen klassieke liberalisme in Suid-Afrika (en elders soos die VSA) ontstaan het, is duidelik. Max du Preez skryf in 2015 soos volg: “I think the post-Zille DA leadership needs to make peace with the fact that they will never be able to please the liberal puritans.”  Dit was voor die huidige saga, en hy beskryf die huidige DA-leier soos volg: “The new DA leader, Mmusi Maimane, is seen as foremost among those betraying the DA’s liberal tradition. They didn’t, for instance, like his statement that if people didn’t see that he was black, they didn’t see him at all. His careful defence so far has been that he’s in favour of ‘progressive liberalism’. Some of his followers have referred to ‘African liberalism’.”

Om ’n behoorlike definisie van Afrika-liberalisme te kry is nie so maklik nie. Hoe ver sou dit byvoorbeeld staan van pres. Jacob Zuma se nou reeds baie berugte stelling dat korrupsie ’n westerse konsep is? Die stelling het wel waarde in dié sin dat geïmpliseer word dat almal nie dieselfde persepsie oor ’n saak het nie, en dat dié persepsie dikwels langs rasselyne loop.

Brande woed in Knysna in die Wes-Kaap (Junie 2017). Foto: Koos Britz/WVS Wildfires/Twitter

Christi se beskrywing van hoe sy meen Zille van Afrika-liberalisme wegstaan, bied miskien die duidelikste beeld van wat Afrika-liberalisme is: “Verstrik in liberalisme se dekontekstualisering en dehistorisering, is sy oënskynlik blind vir die werklike verhouding tussen modernisering en kolonialisme. Die vraag is altyd: Wat is die effek van ’n argument? In dié geval is dit die regverdiging van kolonialisme, ’n stelsel wat gepaardgegaan het met grootskaalse, barbaarse slagtings van dermiljoene mense – ’n holocaust uit eie reg – en die vernietiging van unieke filosofiese en estetiese wêreldbeelde en onvervangbare ekologiese stelsels. Dit is hier waar die blindheid ’n rassedimensie aanneem.” Hieruit blyk dit dat haar denke sterk langs die lyne loop wat Philip en ander sendelinge definisies soos hierbo laat haal het.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit se Helpende Hand, plaas die kwessie van rassisme en die Knysna-brande in ’n artikel op Maroela Media onder die opskrif “Die Knysna-brande vra: ‘Is jy ’n rassis?’”  klinies op die ondersoektafel.  Hy verwys onder meer na die onewehandigheid waarmee wit en swart hanteer word wanneer die kwessie van rassisme te berde kom. Hy skryf onder meer: “Ek en my vriende is nie rassiste nie, maar die regering en die media laat ons dink iewers in die land is daar baie mense soos ons wat rassiste is.”

Wat Brink se standpunt oor die regering betref, hoef ’n mens maar net na Zuma se herhaalde verwysing na blankes as “white supremacists” te verwys, om te weet dis in die kol. Ook ’n navorsingsverslag deur Solidariteit se navorsingsinstituut laat geen twyfel nie.  Oor die media se rol was daar inderdaad ’n taai verbetenheid by sommige senior joernaliste om rassisme as ’n wit verskynsel teenoor swart te sien, en dat dié toedrag van sake na die apartheidsverlede terug te voer is.

Soos vroeër in hierdie rubriek aangedui, word oor die kwessie van korrektheid/waarheid teenoor persepsie besin.

Die opkoms van fundamentalistiese godsdiens word beskryf as ’n natuurlike verset by baie om in te val en vrede te maak met die konsep dat daar nie iets soos reg en verkeerd is nie. “Reg” het altyd ’n element van verkeerd in, en “verkeerd” altyd ’n element van reg. Dieselfde geld vir “waarheid” en “valsheid”. Alles word dus in relatiewe lig beskou. So is daar ’n ingeboude weerstandigheid teen die “rasionele denke” om van iemand te verwag om nie “politiek” toondoof ten koste van “korrektheid” te wees nie. Let wel dat die feitelike korrektheid van die saak ter tafel nie betwis of weerlê word nie (behalwe in artikels soos dié van Christi van der Westhuizen), maar dat die uitspreek daarvan “onvanpas” is, aldus prof. Gouws.

Lê die uitdaging nie juis daarin om werklikheid en persepsies nader aan mekaar te bring nie? Die land beleef nou rommelstatus en ’n resessie, onder meer as gevolg van die werklikheid wat vir persepsies moet plek maak. Dié realiteit bied boonop die geleentheid vir moedswillige versteurings wat doelbewus as persepsies opgedis word, soos Zuma se opmerking oor korrupsie wat ’n westerse konsep sou wees, die “probleem” van wit monopolistiese kapitaal en ander wat kleingeld maak van Zuma se ampseed.

Daar is “altyd” aanvaar dat dit gedoen is, en dit was sedert die presidentskap van veral Thabo Mbeki seker geldig, om swart sentimente te koester om ’n wegsypeling van ANC-stemme op rassellyne om te keer. Met die #GuptaLeaks stel al hoe meer kommentators dit as feit dat ongerymdhede tussen die Guptas en ’n al groter wordende kring regeringslui ’n geval van weerligafleiding, ongeag die gevolge vir die land en inwoners is.

Om persepsies en korrektheid/waarheid in pas met mekaar te kry, gaan ’n reuse taak wees. Ja, daar is reeds skoolboeke wat deur swart mense geskryf is wat die positiewe aspekte van kolonialisme erken. En ja, ’n verteenwoordiger van Ethiopië het wel by die mees onlangse Pan-Afrika-parlementsitting in Midrand gekla dat haar land se agterstand aan infrastruktuur teenoor sommige ander Afrikalande te wyte is daaraan dat haar land nooit gekolonialiseer is nie.

Maar dié stemme haal nie die paal teenoor die oorheersende persepsies nie.

Helen Zille. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam/ANA

Tot tyd en wyl persepsie en feite mekaar rugsteun, is ’n wag voor die mond en omsigtigheid belangrik. Dat die waarheid en persepsies mekaar uiteindelik moet rugsteun, kan nie betwis word nie. Indien nie, gaan die situasie hom bly herhaal waar die ANC feitlik op sy knieë vir ’n uitklophou wag, en dan ’n ontsnaproete kry wanneer ’n leier aan die “ander kant” uitsprake maak wat ’n reddingsboei in die kryt werp.

Vanuit ’n regsoogpunt (’n Westers-gebaseerde regstelsel), is dit baie moeilik om te sien hoe Zille aan iets skuldig bevind kan word as sy sorg dat haar feite waarheidgebaseer en korrek is. Vriend en vyand besef egter dat die op die spits dryf hiervan se gevolge gaan wees dat die ANC, en moontlik die EFF, aan swart kant baie sal baat, en dat die baie, baie moeilike proses om nie-rassige politiek in die land op dreef te kry, hard in die gesig gaan ontplof.

Verskeie pogings om nie-rassige politiek op die been te kry gluur onvervuld vanuit die geskiedenis, en wys hoe moeilik dit is. Wie onthou nog die ideale en samestelling van die UDM met Bantu Holomisa en Roelf Meyer as mede-leiers – die entoesiastiese uitgelatenheid wat gestraal het uit wit ondersteuners se briewe aan die media?

Later het dieselfde ideaal van die Shikota Express gesneuwel. Terwyl baie wit mense Cope-ondersteuners geword het weens ’n lojaliteit teenoor Mosiuoa Lekota, is wit mense gou deur Shilowa-ondersteuners laat verstaan Cope is bestem om ’n swartgerigte party te wees. Shilowa en sy ondersteuners is uit, maar die skade is gedaan.

En dieselfde ideaal is vernietig met Agang se uiters kortstondige huwelik met die DA, en hierin het harde anti-wit sentimente wat reeds binne Agang gevestig was, geen geringe rol gespeel nie. Die stigter, dr. Mamphela Ramphele is nie net uitgedryf nie, maar ook ander gematigdes, en die party het onlangs ook ten gunste van onteiening sonder kompensasie gestem.

Soos sake nou staan, kan amper outomaties verwag word dat ’n groot politieke kutuurverskil in ’n politieke party intree sodra die samestelling ’n sekere kantelpunt bereik. Dit gebeur hier byvoorbeeld met koshuise, en het in die VSA daartoe gelei dat verskeie Amerikaanse universiteite koshuise vir swart studente begin reserveer het – teen die openbare mening in. Om hierdie kantelpunt te bestuur is besonder moeilik, en om dit te ignoreer of verkeerd te hanteer uiters gevaarlik.

Nie-rassigheid is al hoe die ANC by die stembus verslaan gaan word in ’n proses waar die minderheidsgroepe van die land nie vreemdelinge in hul eie land gaan wees nie. Juis daarom is Afrika-liberalisme soos geskets deur Christi van der Westhuizen geen opsie nie, en moet die DA dringend besin oor ’n filosofiese grondslag. Wegkruippolitiek soos om die term te verdoesel met ’n term soos ontwikkelingsgerigte liberalisme, is maar pleistertjies op die wond.

Hierdie rubriekskrywer het nou reeds die raskwessie en hoe dit byvoorbeeld met die situasie in die VSA ooreenkomste toon, reeds verskeie kere onder die loep geneem. Mag daar (weer) ’n tyd kom waar die onderwerp nie werd is om ’n nuuskommentaar te regverdig nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
sug

Ek het gelees tot ek by Zille gekom het toe begin ek stadiger lees, want ek dink die DA stink. Toe ek by polities korrek kom, en prof gouws se naam sien en sy sê Helen Zille se uitlating was onvanpas het ek ophou lees. Politieke korrektheid kan NOOIT die waarheid wees nie. Daar is altyd ‘n verontregte wat gesus moet word met ‘n klomp str0nt, maar solank ons net politiek korrek is. Leuns is leuns, jy kan nie ‘n geurtjie daaraan sit nie. Of die leun wit of swart is, dit bly ‘n leun

humor

Dankie Herman vir die wetenskaplike – wysgerige uitpluis van die hele rasseprobleem. In ons eie eenvoud boeretaal kon jou skrywe baie korter en meer verstaanbaar wees. Dankie dat daar ook slim mens onder ons boere is. Ek praat nou geensins van Max nie.

Anti Filantroop

Wel ek vir een ly aan uitputting van gee-gee-gee, terwyl die reaksie so voorspelbaar ondankbaar is.

Gerrit Swanepoel

Wat `n plesier is dit nie om Herman Toerien se rubrieke te lees nie !!

Wanneer ek sien dat hy weer iets geskryf het, kyk ek eerste daarna en dan eers na ander artikels.

Dit is regtig lekker om rubrieke van `n persoon te lees wat weet waarvan hy praat en ook in staat is om dit uitsonderlik te verwoord.

DANKIE Mnr. Toerien !

ME

Terwyl ek toe nou sien hier kom moles – toe stuur ek maar die woord CARE per sms na 38018 om die NSPCA te ondersteun om diere te help in Knysna.