Nuuskommentaar: Word ons al hoe meer bekommerd?

Argieffoto

Oor ’n bietjie meer as ’n maand ruk miljoene Suid-Afrikaners op na die stembus. ’n Duisternis partye neem deel en elkeen probeer minstens een aspek van die samelewing benut om ’n beduidende deel van die kieserskorps te verteenwoordig.

Met hierdie verkiesing – en waarskynlik ook alle vorige verkiesings, weeg een aspek egter baie swaar – naamlik kommer.

Kommer word oor verskeie sake gekoester en gevoed. Wat sake bemoeilik is dat die mens eerder op sy persepsie van die werklikheid as die werklikheid self reageer. Verkiesingspropaganda is dikwels juis daarop ingestel om persepsies te voed. So maak die ANC se “goeie storie” met elke verkiesing ’n belangrike deel van sy verkiesingstrategie uit. Kritici wonder verkiesing ná verkiesing wat die ANC dié keer as “goeie storie” gaan opdis terwyl die party in werklikheid op die puin van sy mislukkings eerder as die stewige molshoop staan en uitbasuin.

Dit sweep nie net eie ondersteuners op nie, dit verlam ander se ondersteuners met kommer en pessimisme. Hoeveel keer moet ons nie lees van mense wat verkondig dat hulle nie gaan stem nie, want wat help dit in elk geval? Argumente en voorbeelde tot die teendeel help nie om hierdie mense anders te oortuig nie.

Suid-Afrika is in vele opsigte ’n unieke land, en ’n party wat hom blind staar teen buitelandse voorbeelde om hul eie strategieë te ontwikkel om doeltreffend met die kiesers se koppe te smokkel, gaan hul eie stembriefies by wyse van spreke verbrand. Die spreekwoord lui egter, gaan na die mier en word wys. Miskien nie letterlik miere nie, maar na volke wat weet hoe om te werk en groot suksesse te behaal, en selekteer die bruikbare.

Pas is die jongste kwartaalverslag van die Nederlandse Sociaal en Cultureel Planbureau (SCP), wat die perspektiewe van die burgers meet, bekend gemaak. Dit verklaar die bykans ongelooflike opkoms in die onlangse plaaslike verkiesings deur die Forum voor Democratie (FvD). “In de jongste grafiek over het vertrouwen in de samenleving gaan werkelijk alle lijnen scherp naar beneden.”

Thierry Baudet van die Forum vir Demokrasie by die bekendmaking van die verkiesingsuitslae in Amsterdam in Maart 2018. (Foto: Reuters/ Cris Toala Olivares)

Opsommend het pessimisme toegeneem en bykans sestig persent van die bevolking is nou pessimisties. Slegs ’n derde is meer optimisties. Die vorige kwartaal het nog net 48% gemeen dinge loop verkeerd, en 42% het gemeen dinge gaan klopdisselboom. (Lees gerus Heinrich Matthee se ontleding, Nederlandse stemuitslae dui op polarisasie op Maroela Media hier).

Hoewel die Planbureau meen as mense vooraf geweet het van die swaai na pessimisme, sou hulle nie so verbaas oor die FvD se opkoms gewees het nie, lui die opskrif van Trouw se artikel oor die bevindings dat vrees vir polarisasie onnodig is, “omdat die meeste mense neig om in die redelike middel te staan”.

Neem die meeste Suid-Afrikaners die “redelike middelgrond” op? Moontlik, maar dit is nie die indruk wat iemand sommer sal kry as hy nie peilingsdata onder oë het wat dit staaf nie.

Die internet, sosiale media, gesprekke om die braaivleisvure, ondernemings se jaarverslae, konvensionele mediaberigte, leserskommentare en vele meer skep eerder die indruk dat die land in sy kanon in is, en dat die regering sy bes doen om die proses te verhaas.

Dan is daar nog ’n instansie soos die Menseregtekommissie wat sake na die verderf nog mateloos verhaas soos sy abortiewe bevinding dat duidelike haatspraak deur Julius Malema en Kie. nie op haatspraak neerkom nie, al klink dit so. Gelukkig raak die lys van instansies wat dié polariserende bevinding in die howe wil gaan toets vinnig al hoe langer. In dié stadium het AfriForum reeds sy voorneme aangekondig, die Vryheidsfront Plus oorweeg dit, en die FW de Klerkstigting maak ook planne. Te veel maak egter skande deur nie die polariserende onreg nek te wil omdraai nie.

Die EFF-leier, Julius Malema. Foto: ANA

Polarisasie het ook in ’n ander artikel in Trouw ter sprake gekom, wat die terreuraanval in Utrecht onder die loep geneem het. Die volgende aanhaling spreek boekdele: “Mensen met psychologische problematiek zijn er natuurlijk altijd geweest, maar de laatste jaren neemt de sociale polarisatie toe”, aldus Liesbeth van der Heide, terrorismekenner van die Universiteiten Leiden. (“Mense met sielkundige probleme was nog altyd daar gewees, maar sosiale polarisasie het die afgelope jaar toegeneem.”)

“En online propaganda is de laatste jaren veel toegankelijker en mainstream geworden. Voor mensen met problemen wordt het steeds makkelijker om een heersend discours te ontdekken en zich daaraan vast te grijpen.” (En aanlynpropoganda is die afgelope paar jare baie meer toeganklik en het hoofstroom geword. Dit word toenemend makliker vir mense met probleme om die dominante diskoers te identifiseer en te begryp.”)

In hoe ’n mate daar ook ander ooreenkomste tussen Suid-Afrikaanse werklikhede en ander lande is, blyk uit ’n onlangse artikel in die Vlaamse dagblad, De Standaard. De Standaard dra ’n opiniestuk, “Meer diversiteit bereik je niet met quota alleen”, waaruit baie argumente teen die regering se onderwysbeleid aangevoer kan word.

Ten slotte:

Lukas 12:25: En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andreas

In dié deurmekaar en agterstevoor wêreld, waar mens daagliks voel dat die mense die kluts heeltemal kwyt is, waarvan baie die leiers is, die opportuniste wat dit aangryp en dat Suid-Afrika in sy kanon is, is daar tog baie soos die rubriekskrywer hier bo, waarvan die barometer reg aangeskroef is, met insig die daaglikse gebeure kan evalueer en dit op ‘n gereelde basis met ons deel.

Gert Marais

Baie van ons raak net al meer sinies, ander is al afgestomp, nog ander onttrek hulle en besluit om aan te gaan met hul lewe, hulle kan nie meer ‘n duit omgee nie.

Peer

Nee wat, ek worry nie myself oor kabouters nie, leë blikke boys, leë blikke.

Hendrik

Natuurlik is ons baie meer bekommerd en daar is redes omdat ons bekommerd is. Doen ons iets daaromtrent? Ja ons doen iets en ons vorder goed. Ons wag nog net vir die ouens in die stede en dorpe om wakker te word.

Penellope Jones

Ons sal dalk weer tot normaal toe terugkeer as ALLE skokke nou tevoorskyn gekom het, en dinge HOPELIK, kan terugkeer na meer aanvaarbare en werkbare omstandighede. Mens kan nie altyd help om bietjie ontstig te voel nie, ons is net mens. As mens kinders het wat nog die lewe moet in, styg die angstigheid seker bietjie en as mens kinders het wat oorsee moet gaan werk (waar dit ook nie altyd so lekker gaan nie) voeg dit hartseer by die angstigheid. Ons beskik egter oor die vermoe om met baie genade en seeninge, deur te druk, aan te gaan en… Lees meer »